Bladsye / Pages

Thursday, April 13, 2017

Pirow Bekker — Voor ek my kom kry (2017)



Pirow Bekker — Voor ek my kom kry. Protea Boekhuis, 2017. ISBN: 978-1-4853- 0648-1 (gedrukte boek), 978-1-4853-0743-3 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

Jy

Jy is die vol leegte voor my,
niks is vol sonder jou
en niks is leeg met jou nie
jy is die laagte vol voor my.

Moenie weggaan nie, nooit nie,
anders sal die leegte leeg wees
en die volheid laer as leeg. (76).

Hierdie mooie vers is uit Stillerlewe (2002).

Sopas verskyn Voor ek my kom kry wat al die bekende handgrepe en temas van Bekker bevestig: die spel met ouer tekste, gedigte oor die siekte en naderende dood, die verganklikheid van alles, sosiale kommentaar.

In Rasuur (1993) parodieer hy Leipoldt se “Boggom en Voertsek” en maak daarvan die spel met kanker en genesing.

En hierdie bundel is ‘n belangrike publikasie, omdat dit die eis van vernuwing die nek inslaan. ‘n Digter hoef nie nuwe temas te ondersoek nie; of dramaties te vernuut nie. Solank daar bestendigheid is, behoort die digkuns-leser tevrede te wees. ‘n Mens dink hier aan Eybers wat dieselfde temas bly ondersoek het: met groter en selfs met minder drif – maar altyd goed. Veral die kritikus Neil Cochrane hou die eis van vernuwing voor asof dit ‘n geel kaart is vir die digter as dit nie presteer word nie!

So klink ‘n vers uit die bundel:

3. Weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie
(N.a.v. ‘n uitspraak van Randall Jarrell)

Om as geniaal in die literêre annale op te gaan
sal ‘n hoopvolle digter hom in ‘n storm maak staan,
maar om seker te wees, sal daar onder sy boom,
die weerlig hom vyf of ses keer raak moet slaan. (47)

Vir my was die grootste leesplesier die verse oor die digterskap: die gesprekke met Leipoldt, Totius, Marais: “Vergete is die aarde nie” (16) wat vra vir ‘n saamlees met Totius se klassieke “Die wêreld is ons woning nie”; “Erd-af mens” (28) wat Leipoldt onder die loep neem; en die “suinige digter” Marais wat deur vele verse trek.

Omdat die bundel is van ‘n ouerwordende digter, moet dit gelees word as ‘n bestekopname.

“Mededingerding” (33) wys op hierdie “anxiety of influence” (in Bloom se terme uit die gelyknamige bundel van 1973) waar die digter soek na ‘n plek in die kanon. In sy oorsig in die jongste Perspektief& Profiel (2015) wys Phil van Schalkwyk hoe moeilik dit is om ‘n oorsig te skryf oor so ‘n veelkantige skrywer, en dat die relatief min kritiese reaksies op sy werk hom genoop het tot ‘n nuwe inskatting. Moontlik, meen Van Schalkwyk, is die gevarieerdheid en ingewikkeldheid van sy werk iets wat ‘n rol speel om navorsers te ontmoedig? Of dalk ook sy rol as iemand wat buite modes of klieks staan? In sy besinning gee Van Schalkwyk ‘n komplekse en geïntegreerde lesing van die oeuvre en tree hy so in gesprek met ander kanoniseringspraktyke wat eerder chronologies of genre-gebaseer is.

En dit is bepaald so. Daar is die ouerwordende digter wat terugkyk na sy “precursors” of voorlopers in Afrikaans – en hulle steeds as belangrik ag.

As digter is Pirow Bekker se satiries-ironiese gedigte uitstekend. ‘n Mens dink hier aan die gedig “Nuutskepping” (39) waar die woord “selfmoord” nou “selfdood” geword het, maar die ellende is helaas steeds met ons. Die lagie suiker kan die galpil nie versoet nie, meen die digter.

Die digter besin oor die funksie van taal in “Diachronie van ‘n rymelaar” (63):

sinnigheid vir woorde
sterf in hul diaspora
met betekenisse smokkel
swerf hul na oorde
waar net die eggo’s koggel
wyd en wyer lê die spore
tot ook dié in kieselbrak verbrokkel

wat inskuif op die vers “Sinsbou” (68) met sy pynlike slot:

en hier te beaam hoe tiek ‘n sin, hoe
lewe ‘n gedig nog lank ná die “ame” sê.

In “Boedel” (61) is daar ‘n belydenis oor wat kritiese of gewone lesers met die digter se tekste maak. Dit beland in “onbekende kontekste, in ontnugterende verbande, Babeltale” en die digter besef:

….
ek raak by die dag kaler,
uitgewis uit die geheue van manuskripte,
tussen die velle met donkie-ore,
my geboorte net die dun skreeu
van ‘n luginhalige.

Benewens my leesreaksie wat die gedigte oor die digterskap uitstekend vind, is daar liefdesgedigte soos “Teen die weerloosheid” (76) wat hopelik in Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte opgeneem sal word:

….
My lank vertroude jas,
As verliefde dubbelgroot gekoop,
nou jare ouer en verslete,
vind ek het makliker geword
vir my om jou, beminde,
in hom, by my
teen wind en weer
nog vas te knoop.

En dit word weer opgetel deur die klein “As jy” (82), ‘n erkenning van die liefde se rol in ons lewe.

Dit is ‘n ryk-geskakeerde bundel: soveel temas, soveel besinnings. Oor die natuur, oor die politiek, oor die dood, oor siekte, oorlog  – en ‘n briljante een “Wie is Bart Nel?” (55)

Inderdaad ‘n skrywer en digter wat sy eie padkaart volg en oor die aarde en ekologie skryf; terugkyk tot sover as die Voortrekkers en in sogenaamde “stormvorme” kyk na ‘n biopsie of ‘n blokhuis. Die slot vers is die titel – amper ‘n soort (gemaakte?) verbasing oor wat hy meegemaak het. In “Gentlemen’s wars” (93) palinodeer hy Toon van den Heever met ‘n wrang-ironiese slot.
Veral die digter se punt-digte of sy korter verse is uitstekend.

Hierdie digter het in 1965 gedebuteer met Die klip sing. Daarna volg Toekomstige betrekkinge, Definisies deur die bloed, Eskarp, Rasuur, Stillerlewe,  Van roes en amarant in 2008. Atlas teen die vergeetrivier verskyn in 2013.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)