Resensie. Hennie
Aucamp – Die laaste wals (Johann de
Lange, samest.). Tafelberg, 2017. ISBN 978-0-6240-8240-8
Resensent: Joan
Hambidge
Die
versameling is ‘n keuse uit Hennie Aucamp se
verhaalkuns saamgestel deur Johann de Lange. ‘n Jaar voor die bekende
kortverhaalskrywer se dood, gee hy ‘n notaboekie persent aan sy vriend, die
skilder Jan du Toit. Hierin is daar ‘n lysie opgeteken van sy persoonlike keuse
uit ‘n imposante oeuvre. De Lange as literêre eksekuteur het toegesien dat sy
wens uitgevoer word. En omdat die meeste van hierdie bundels alreeds uit druk
was, kon hy hierdie taak dus verwesenlik.
En
wat ‘n wonderbaarlike bundel is dit nie! Wanneer verhale in bloemlesings
saamgesnoer word, kry hulle ander en nuwe betekenisse. Verder word die leser
ook gedwing om verhale, klassiek of “ouderwets”, opnuut te besoek. Elize
Botha het dit immers al in Een kraal saamgeplaas in 1983. Nou
is dit ‘n laaste wals en die dansbeeld (vanaf die eerste verhaal en “Die
Caledonner” tot by “Vir vier stemme”) aktiveer immers passies, beheer, drif …
Aucamp
se taalgebruik en styl is al by herhaling geloof. Met hierdie lees word die
lees voortdurend blootgestel aan ouderwetse woorde (“verbolgenheid” vir woede;
mals, bogte, onbesuisde …).
En
sy mensekennis is opvallend. Hy kan gewoon ‘n verhaal vertel, omdat hy die la
condition humaine ken. Verhale wat ‘n mens bybly om die lewenswaarhede
wat weergegee word.
“In
die hartseerwals” (uit die gelyknamige bundel van 1965) is dit die potsierlike,
vet, dom Hetta (destyds magistraal verfilm) wie se ellende nie verwoord kan
word nie wanneer die wewenaar haar oorsien:
Sy wens sy het net treurige plate gehad, maar nou het sy net één treurige plaat en hy is nie treurig genoeg nie. (15)
In
“Die baadjie sonder einde” uit Dalk gaan niks verlore nie, 1992 –
‘n verhaal wat so Tsjekofiaans is as wat kan kom – word die geskiedenis en
lewensloop van ‘n baadjie beskryf.
Of
die wraak van ‘n jongeling in “’n Piazetta in privaatbesit” opgeneem in Gewis
is alles net ‘n grap, 1994. Hier ondersoek Aucamp die
mentor-student-verhouding op ‘n pynlik-eerlike wyse en hoe die jongman eintlik
wil wraak neem oor die lewe wat hy nie kon uitleef nie. Hy het wel ‘n vrou en
twee kindertjies; maar dít wat hy begeer het, is hom nie beskore nie. Hierom is
die slot ironies: Karel is nie die werklike wenner nie, ofskoon hy oënskynlik
die ouer, gay-man troef met sy gelukkige gesinnetjie.
Dit
is waarskynlik alreeds ‘n cliché om Aucamp se “Vir vier stemme” (Volmink,
1986) as magistraal te beskryf. Hierdie komplekse “boeregrap” waarin ‘n
straight man, Beimen Botes, om die bos gelei raak deur ‘n “vrou”, is vintage
Pedro Almódovar-materiaal soos sy jongste rolprent Julieta (gebaseer
op ‘n Alice Munro-verhaal, maar verplaas na ‘n Spaanse landskap) bewys.
En
om Munro te vermeld, is tersaaklik. Aucamp se verhale dra ‘n kwaliteit van háár
bestes: mense vasgevang in ‘n lewenslot of uitgelewer aan fata met die landskap
as ‘n broeiende mede-verteller. ‘n Mens dink hier aan die Stormberge, ‘n ruimte
van uiterstes: die “backdrop” waarteen menslike drama gekaats word.
Daar
word dikwels geskryf dat kortverhaalskrywers soos digters dink en struktureer.
Dit sien ‘n mens ten beste in die verhaal “Portret van ‘n ouma” (Spitsuur,
1967) met sy herhalende beelde en skerp metaforiek en simboliek:
Die nag voor die einde het sy in desperate pyn of ’n bedwelming teen die bedtafeltjie geval en haar oog gestamp. Die volgende dag was dit pers en blou en groen, en ek onthou dat ek die gevoel gekry het: die Alsiende Oog lyk só.
God het sedertdien uit baie oë na my gekyk, maar nooit weer so streng soos toe nie. (34)
Die
verhale wat Aucamp sélf geskies het, word vir die leser met 'n ikoon aangedui.
HA met ‘n veertjie asof dit ‘n inkpotjie is. Aucamp, terloops het met die hand
geskryf. Al sy tekste is deur ‘n ander persoon oorgetik en hierom vind ‘n mens
nooit ‘n oorhaastige woord of ‘n beduimelde sin nie.
Aucamp
het die Afrikaanse letterkunde op verskeie maniere verryk en verruim. Ook sy
teoretiese werke verdien vermelding (soos Kort voor lank) of sy
essays oor die kabaret (Koffer in Berlyn).
Maar
dit is verhaal sy verhale oor gay-sensibiliteit en die oorspryf van die “annerster
soort” wat jonger skrywers geïnspireer het. Die triadiese verhouding tussen
Prinsloo, Aucamp en De Lange word in die kortverhaalbundel Vreemder as
fiksie (1996) deur De Lange onder die loep geneem.
Die
kortverhaalbundel van Johan en Ria Smuts wat Die helder oomblik (2016)
heet, tree duidelik ook met Aucamp in gesprek.
Ek
is ‘n liefhebber van die kortverhaal as genre. En hoe jammer dat dit as ‘n
“vingeroefening” gesien word deur sekere kommentators hier te lande.
Borges
is in die tagtigerjare vertaal deur Sheila Cussons in die verruklike Die
vorm van die swaard en ander verhale.
Ek
verwys opsetlik Na Borges, omdat Aucamp se verhale, soos Borges se stories,
boere-stories oorvertel en met klassieke modelle in gesprek tree. Aucamp se
kortverhale bewys die hibriede aard van hierdie genre.
En
Aucamp laat ons ook kyk na die werk van Dave Eggers of die kortste kortverhaal
geskryf deur Ernst Hemingway:
For sale: Baby shoes. Never worn.
Tans
word daar 'n debat op Litnet oor Toon van den Heever se "Werkstaking by
die kleigat". 'n Mens wonder hoe Aucamp op hierdie bydraes sou reageer met
die wete dat 'n teks binne sy tyd en konteks gelees moet word.
Alex
Emsley se omslagontwerp vang Aucamp goed vas: die kenner van die
opposisie tussen die volmaakte en die verminkte: die Volmink.