Nicky Stubbs - For Friends & Family. Human & Rousseau, 2016. ISBN 9780798171250
Resensent: Joan Hambidge
I
‘n Kulinêre liefdeslied. So word hierdie pragboek
bemark.
Kookboeke is nie net resepteboeke nie. Dit
is in wese geskiedenisboeke. Dit vertel die verhaal van ‘n samelewing se
siening van kos. Ek, terloops wantrou mense wat nie van eet hou nie.
Peter Veldsman se opdatering in 2010 van
Leipoldt se kosboek (van 1933) bly ‘n belangrike argief. Daar word vertel hoe Leipoldt as dokter van huis
tot huis gegaan het en resepte opgeskryf het. Veldsman noem hierdie boek: “‘n
prikkel tot die wonderwêreld van plaaslike kos sowel as die kookmetodes van
Europese en ander kosghoeroes. Dit bly ‘n droomboek waaruit jy ongedroomde
kosdrome kan droom”.
Die oudste kookboek is die Chinese Hong
Ts.
Gaan lees gerus verder oor hierdie boek (Woorde Wat Weeg/ C. Louis Leipoldt - Kos vir die kenner/ ‘n Kookboek met meer as duisend goeie resepte (2010). Besoek 8 April 2017).
In sy inleiding skryf Leipoldt dat die
kookkuns so oud soos die mensdom self is. Vir hom is die kookkuns
internasionaal. Ons manier van kook en kosbereiding verskil nie van ander lande
nie. Elke land het wel sy eie skottels. Dit wat ons as eg Afrikaans ervaar, is
geregte onder ‘n ander naam. Tog het ons wel unieke veldkos soos wateruintjies,
veldkool, jakkalskos, ensomeer. Hy spreek eweneens die kwessie aan dat ons hier
‘n man vind wat resepte byeenbring; in daardie tyd was dit immers die terrein
van die vrou.
My moeder was ‘n begenadigde kok wat kon
eksperimenteer met wildsvleis met groot stukke knoffel daarin. Een van my
gunsteling-geregte uit my jeugjare is haar gerolde beesvleis met toutjies
opgebind. Of daardie varktjoppies wat sy sag laat stowe het in die oond met rys
en appelmoes. Of haar beetslaai met uie in. Haar aartappelslaai met fyn gekapte
ui, pietersielie en gekookte eiers. Met tuisgemaakte mayonnaise.
Een van my geliefde boeke – op my
kombuisrak – is die Biba’s Italy (New
York, 2006) se resepteboek oor Italië.
Die Fegato
alla Veneziana het ek al getraai. Lieflik.
II
Nicky Stubbs se boek is ‘n glansryke
antwoord op Kook en geniet, daardie
treffer wat Huisgenoot se wenresepte
nooit kon troef nie. Sy het ‘n Cordon
Bleu-kookkursus voltooi en in sowel Londen as in Frankryk gekook. Verder
het sy in restaurante gewerk, kooklesse gegee en vir tydskrifte geskryf. Sy ken
dus die bedryf van binne en buite. Skrywer én resensent, as jy wil!
Die toets glo om te besluit of ‘n
resepteboek werk, is om van die resepte in jou kombuis te beproef. Kook is nie
my forté nie, maar my bedrewe
buurvrou het ‘n paar resepte op die proef gestel en sy is beslis beïndruk.
Trouens, ek moes pleit om my boek terug te kry om die resensie te voltooi met
die allerpragtigste foto’s. Ek mog wel proe aan die baksels!
Sy haal Elizabeth Luard aan wat in Family Life ons attent maak op die
genesing van kos. “Take a short view of life. Look no further than dinner or
tea.”
Toe my oorlede moeder se Kook en geniet met ‘n trek na die
aftreehuis verlore geraak het, kon ek onmiddellik haar troos met ‘n
tweedehandse een. En Peter Blum se vrou het, toe Koos Human haar na jare in
Londen raakgeloop het, gevra vir hierdie einste boek toe meneer Human wou weet
wat hy vir haar kon stuur.
Nicky Stubbs praat dus met ‘n meer moderne gourmande en kok. Sy gee vir ons foto’s
van haarself (en familie) wat hierdie resepteboek dan persoonlik maak. Die
grootouers - woonagtig buite Kokstad - waar die kinders vrugte en groente gaan
pluk het.
Dis dus enersyds ‘n nostalgiese reis die
verlede in, maar andersyds ‘n uiters praktiese boek vol wenke. Sy vertel jou wat
jy behoef om te kan kook. Ook wat jy in die spens benodig. Byvoorbeeld die
soorte mosterd wat sy aanhou.
Tussen al die “grênd” resepte, is daar ook ‘n
afdeling wat heet “Simple meals”. Soos
Hamburgers & Chips. En Makaroni & kaas, ‘n dis uit my jeug wat my nog
steeds bekoor. Om my te nooi vir boerekos (dit weet my buurvrou), is die
grootste treat denkbaar, omdat ek
bykans elke aand van my lewe uiteet. Dit is my plek van sosialisering, maar met
die voordeel: die volgende dag smul ek aan ‘n “doggie bag” en vermy slegte
kafeteria-kos soos die pes. (Dit was immers Susan Sontag wat beweer het dat die
slegste kos op aarde by universiteite te vinde is. # Badfoodmustfall, dink ek.)
En kyk watter gelukkige man lag uitbundig
op bladsy 72!
Die kos is mooi gefotografeer; die “roast
potatoes” (88) laat die mond behoorlik water. Haar raad: “keep it simple and as
unfussy as possible”. In die afdeling oor “Beef & Lamb” – ek is nie
vegetaries nie, maar lesbitaries – het my mond gewater. Dis amper weer tyd vir
oxtail (osstert klink vir my terloops, obseen), en Saigon in Kaapstad is onoortroffe met ‘n Oosterse glimmer daarby.
En die afdeling “Pork” – na Philida
met my as romankarakter – is dit welige, wulpse, woeste hamboude vir die
stadige kookproses.
‘n Soettand het ek nie, maar ‘n mens kan hier
onder andere duidelik die Franse invloed sien.
Dis ‘n lieflike boek wat ‘n mens inspireer.
Miskien gaan ek tog iewers in hierdie dae ‘n kookkursus aanpak. Vleis kan ek
braai en jare gelede beman ek en vriende ‘n gastehuis op Swellendam. Ek braai
die fillet en vra vir die gaste of alles wel is. Weke later besoek mense weer
die plek en die man vra: “What happened to your excellent chef, the rather
large lady?”
Lees en geniet. Dis nadat jy ook gekook
het.
(Hierdie resensie word geplaas met
vriendelike vergunning van Fine Music
Radio)