Bladsye / Pages

Tuesday, April 4, 2017

Nicole Jaekel Strauss – As in die mond (2017)




Nicole Jaekel Strauss – As in die mond. Queillerie, 2017. ISBN: 9780795801358

Resensent: Joan Hambidge

Met haar debuut Maal in 2010 het Nicole Jaekel Strauss die aandag getrek. Sy is bekroon met die UJ-prys en die Eugène Marais vir ‘n eersteling. Die jongste is uitgegee deur Queillerie en word bemark as ‘n eenheidsbundel.

In Afrikaans het Henriette Grové (Jaarringe), Chris Barnard (Duiwel-in-die-bos) en Hennie Aucamp (Volmink) – om drie voorbeelde uit te sonder - eenheidsbundels geskryf.

Hierdie soort bundel gee dus kodes in ‘n verhaal wat in ‘n volgende opgevolg word – soos in die Duisend-en-een-Nagte. Daar is sprake van weefwerk of ‘n tapisserie.

As liefhebber van hierdie stiefkind van die Afrikaanse letterkunde, is 'n mens dankbaar dat NB hierdie bundel gepubliseer het. Alice Munro het die Nobelprys verower en min skrywers kan Borges se Ficciones troef.

“Veral indrukwekkend is Jaekel Strauss se fyn waarnemingsvermoë en aandag aan détail. ’n Mens sou inderdaad, soos De Vries, daarna kon verwys as ’n pointillistiese verteltegniek op grond waarvan groter patrone weldra uit die ‘magdom klein besonderhede’ groei”, was die waarneming van Thys Human oor die debuut. (LitNet| ’n Bundel waarin jy jou tande kan slaan/ Jaekel Strauss se kortverhaaldebuutbied véél om te geniet. Besoek 29 Maart 2017).

Hiermee word akkoord gegaan. Die leser onthou sekere vinjette, soos 'n pienk baadjie wat aangetrek word na 'n brand. Oë wat vloekwoorde verklap …

Die bundel word in ‘n sirkelgang vertel. Die verhaal “Kleinood” (met sy ironiese titel) maak eers volledig sin wanneer jy ‘n verhaal soos “Marika se reis” saamlees. Wat is werklik? Wat is fantasie? Hierdie verhaal is so sterk gevestig in die psige van ‘n getraumatiseerde figuur dat die leser saam met haar die pad van fantasie loop.

‘n Verhaal wat gekanoniseer sal word, is die grieselige “Kleinood”, vanuit die perspektief van die jong kind, en meer spesifiek, ‘n getraumatiseerde kind wat by die ouma tuisgaan. (Later in die bundel verneem ons die verdere besonderhede.) Die redes waarom sy pienk haat, word later verder geamplifiseer en die streng religieuse orde word subtiel geteken. Op ‘n Sondag eet hulle Weet-bix met warm melk, omdat die ouma haat om potte te skuur. 

Die wreedheid van kinders word uitstekend beskryf wanneer hierdie kind, wat hare in ‘n boksie versamel, op ‘n oorslaap-aand ‘n maatjie se hare afsny. Omdat die skêr stomp is, sny sy dan per ongeluk meer af as wat sy bedoel het. Die histeriese reaksie van die maatjies (en Leanie) op haar daad, word gelykgestel aan die kerkklokke op ‘n Sondag – iets wat haar steur. Die subtiele beskrywing van die vriendskap tussen Leanie en Adelia word met implikasie gelaai.

Die kind word uitgeskel vir ‘n dief en freak, wat sy is. Sy het immers haar broer se hare gevat uit die ouma se Bybel en sy is ‘n grens-kind. Sy is eweneens op die grens van seksuele ontwaking (“die molletjies stoot”, 54) en in Alice Miller se terme, ‘n verwonde kind.

Dit is ‘n verhaal wat vra om saamgelees te word met Henriette Grové se klassieke “Liesbet slaap uit”.

Dit is ‘n pynlik-onthutsende boek. Dit gaan op die plekke van die psige wat mense – in Freudiaanse terme – represseer. In ‘n motto op bladsy 218 staan daar uit Freud: “Unexpressed emotions will never die. They are buried alive and will come forth later in uglier ways”.

Die titel aktiveer die kwessie van as (as is verbrande hout), van uitgebrand wees, van die as (indien) waarop verhale inspeel (wat ás ek nie hierdie verhaal reg begryp het nie?) en die asse of koōrdinate van lees …

Die bundel neem ‘n mens ook na Clarissa Pinkola Estés se sieninge van vuur as argetipe, en haar werk: The creative fire. En die soektog na die la chispa. Vir Jung is vuur gelyk aan transformasie en verandering. Die alchemiste moes immers vuur gebruik om metale te probeer verander.

“Fluctuat nec mergitur / getref maar nie gekelder nie” oor Jeanne d’Arc / Johanna van Arkel / La Pucelle d'Orléans (1455) is ‘n pynlike analise van ‘n moeder wie se kind op 19 verdoem is tot die brandstapel, en haar poging om haar kind kwyt te skeld van die verbanning tot heksery.

Is die vinkie ‘n gereïnkarneerde Jeanne?

Die skrywer skep besondere sub-teks in die katedraal waar die genadelose ondersoekspan die moeder se ellende nie wil begryp nie. Eers later word sy vrygespreek (en in 1456 verklaar tot martelaar en in 1920 gekanoniseer). Haar rol in die 100 jarige oorlog is oorbekend en hoé sy uitgelewer is weens ‘n politieke spel en die rol van Pierre Cauchon.

Napoleon het haar in 1803 tot nasionale simbool verklaar.

Jeanne het ook visioene gesien, o.a. van engele en wat in verdere verhale gesinkopeer word met mense wat in trauma ‘n greep op die werklikheid verloor. Hierdie verhaal wil dan ook die wispelturigheid van die geskiedenis uitwys …

Vuur en suiwering. Om skoon gebrand te word. Dit staan opgeteken in die digkuns van Sheila Cussons.

Die bundel ondersoek die aard van liminaliteit (of grense) soos Van Gennep dit formuleer: ongelukke, brand, seksuele ontwaking, leuens, fantasie, trauma …

“Delivery” (107) oor ‘n transseksuele persoon ondersoek die outcast se lot, eweneens ‘n toestand van oorgang; nes die verhaal “Souk” (131) waar twee kulture teen mekaar te stane kom.

Dit is ‘n bundel wat al die applous verdien wat dit mag ontvang.



(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)