Bladsye / Pages

Monday, October 10, 2016

Anna Enquist - Arsenaal van klank (2016)


Anna Enquist - Arsenaal van klank. (Vertaal deur Zandra Bezuidenhout). Protea Boekhuis, 2016.  ISBN:  978-1-4853-0604-7

Resensent: Joan Hambidge

Ofskoon Nederlands of Vlaams na aan Afrikaans lê, is dit vir die meeste lesers moeilik om te begryp.

In Afrikaans het Daniel Hugo, Lina Spies en Zandra Bezuidenhout, om ’n paar name te noem, geweldig belangrike werk gelewer om tekste in hierdie tale vir die gewone leser oop te maak. En dan is daar Alfred Schaffer wat weer Afrikaans na Nederlands transporteer.

Anna Enquist se Arsenaal van klank, vertaal deur Zandra Bezuidenhout, bevat benewens die Afrikaanse vertaling ook die oorspronklike Nederlands.

Die leser kan dus vergelykend lees of gewoon net die Afrikaanse weergawes ­geniet. Vertaalde gedigte moet immers op hul eie terme getakseer word.

En as dit gewoon as Afrikaanse gedigte getakseer en beoordeel word, is dit ’n wonderlike bundel. Kom ons val met die deur in die huis.

So dig Anna Enquist in “Habanera”:

Die verse is so woes uit die bodem
getrek dat hulle nog lank na-gekraak het.
Toe het die letters soos as in die sneeu ­gelê
en nie meer beweeg nie. As iemand hulle
aanblaas het hulle effens opgevlam: ou vuur.
Daar was ’n kind. Met haar het ek
deur die kamer gedans, ons het van hoek
tot kant galop, ons het luidkeels ’n lied gesing.
Sy het ’n warm gesig gehad. Sy was my dogter.
As ek asemhaal, vonk sy na in die gedig.

Onmiddellik is die leser binne die ruimte van die gedig wat verlies navigeer.

Die dood van haar dogter in ’n motorongeluk is algemeen bekend, ofskoon die gedigte uiteraard ook ander verliese aanroer.

Anna Enquist is die skrywersnaam van die Nederlandse digter en prosaskrywer Christa Widlund-Broer, opgelei in sowel die psigoanalise as die musiek.

Haar gedigte het ’n nugterheid wat herinner aan die gedigte van Elisabeth Eybers.

Wanneer die leser begin torring aan spesifieke woorde in die gedigte en sinonieme of antonieme soek, word die gedig met nuwe betekenisse gelaai.

So klink die eerste strofe van “Smaak”:

Die gedig wat spreek van goeie smaak
kies woorde met ’n dubbele bodem,
beskeie binnerym, beeldspraak
binne perke. Maak hom groot
op ’n regime van stylfiguur
en stukrag, dan groei hy
met oorleg, slank van bestek.
Dan skryf sy verder:
My gedig vreet hom vol
aan rommel. Moenie, sê ek,
daardie bitter oorskiet, daardie armsalige
rantsoen verorber nie. Maar die vers
bars uit die stywe gordel
van die reëls en smyt hom
op die bladsy, voor my oë.

Hierdie ironiese spel met die reëls van die digkuns maak die verse besonder interessant vir hierdie leser. Die digter dekonstrueer daardie voorskrifte en die regime van stylvoorskrifte, maar uiteraard is haar verse nooit onbehendig of bereik dit rommelstatus nie. Inteendeel.

Alles word netjies saamgevoeg en bymekaargehou, soos dit van hierdie dubbelspel vereis word.

En daar is inderdaad ’n “arsenaal van klanke” wat die vertaler goed oordig na Afrikaans.

En hierdie “dubbelspel” is so bekend in Eybers. En die stiltemotief loop soos ’n swart draad deur veral vrouedigters se werk: ’n Mens dink aan Heilna du Plooy wat probeer om daardie stilte op te skort.

Klank en stilte. ’n Mens kan deurgaans hierdie opposisie raaksien in hierdie bundel wat met ’n besondere balans tussen emosie en suggestie voor jou op die bladspieël afspeel.

Die digter is ’n fyn waarnemer van die huwelik, van vrouwees en skete.

Soms is sy ’n pretbederwer soos sy in “Sprokie” dig:

Ek, pretbederwer, pessimis, vreemdeling,
skryf snags met my geheime ink:
storms dryf my voort, die pad loop dood.

Ook gendersake en die spanninge tussen man/vrouwees, word uitstekend verwoord.

Boonop is daar lieflike beelde in hierdie bundel (“Mis vly neer soos ’n laken / die frambose is so groot soos kabouterkoppies”).

’n Arsenaal – soos ’n wapenopslagplek – word hier gebruik op ’n interessante manier. Taal en klank as iets waarmee jy jou verset, stelling- of standpuntinname teen pyn, desillusie, veroudering . . .

In “Julie” word hierdie subtiele spel met o- en y-klanke uitgespeel; met die spreker wat in ’n ysvlakte vasgevang is.

Dank aan Protea wat telkens ’n belang­rike vertaling aan die Afrikaanse leser ­bekendstel.


Dit is ’n bundel wat op elke digkunsliefhebber se rak hoort.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)