Bladsye / Pages

Friday, October 7, 2016

Bus Stop, Marilyn Monroe: 'n Ander invalshoek


Marilyn Monroe, in Bus Stop © Milton Greene, 1956
I

Met 'n herbesoek aan Marilyn Monroe in die film Bus Stop (1956) word Monroe meteens 'n interpretasie-probleem. Jacques Derrida se Il n'ya pas de hors-texte (daar is geen buite-teks) beteken daar is 'n oneindige aantal tekste wat inspeel op die teks voor jou.

Die verhaal is eenvoudig. Dit is 'n liefdesverhaal met 'n cowboy (en rodeo-ryer) wat verlief raak op die meisie. Hy heet Beau (Don Murray); sy Chérie. Hy spreek haar naam verkeerd uit as Cherry. Op pad na 'n rodeo-wedstryd sien hy sy donna angelicata ...


Die naïewe plaasjapie verstaan nie hoe verkeersligte werk nie. Nog minder begryp hy dat die mooi engel wat hy sien nie 'n engel is nie. Sy is immers 'n danseres en bied mans drankies aan. (Ons as kykers weet wat hier aangaan.)

Hy sien haar, raak dolverlief en neem nie nee vir 'n antwoord nie. Sy vlug op die bus waarop hy en sy maat ook is. Die busbestuurder het sy hande vol en uiteindelik wanneer hulle aankom by Grace se busstop is daar 'n woeste vuisgeveg tussen die busbestuurder en Beau. Met Beau wat in die sneeu byt.

Hy vra verskoning die volgende dag en die jong vrou, Chérie, gee dan vir hom in. Haar aanvanklike renons, gaan oor in ambivalensie en uiteindelik oorgawe. (Nie 'n goeie beeld van die vrou wat uiteindelik maar ingee nie ... of het ons hier iets van Jacques Lacan se sydelingse opmerking dat 'n vrou (en seksuele fantasie) maar net die simptoom is vir die man? Hy merk dit op in sy Seminaar gelewer op 21 Januarie 1975.)

Die gesprek tussen Beau (die onskuldige man) en Chérie (die ingewyde) was waarskynlik in die tyd as komedie bedoel; nou is dit skrynend.

II


Die kyker ervaar ook twee oomblikke wanneer die film buite die grense van die film beweeg.

By die rodeo-wedstryd - waar Beau kaatjie van die baan is - is daar twee Life Magazine-fotograwe wat die beeldskone Chérie afneem. Maar hulle neem eintlik vir MM af.

Op die bus, vlugtend van die lastige Beau, bely Chérie aan 'n jong meisie dat sy eintlik net wil trou en kinders hê. 'n Gesprek wat 'n mens teruglei na die biografiese studies oor Monroe waarin sy telkemale die behoefte uitgespreek het om binne die veilige hawe van die huwelik te wees. En 'n moeder te wees. Dit is egter iets wat haar nie beskore was nie, weens haar sterstatus.

III

Die bus beweeg van Montana tot in Arizona. Ons beleef die lieflike landskap waar die jonge Beau op pad is na sy rodeo-wedstryd en in 'n ander stryd gewikkel geraak, naamlik die liefde.

Chérie, die talentlose sangeres, begeer aanvanklik om 'n Hollywood-ster te word. (In hierdie stadium weet die kyker dat Monroe dit reeds is.) Haar vertolking van "That Old Black Magic" bekoor Beau in so 'n mate dat hy dadelik met haar wil trou. (Monroe, terloops sing wél hier.)

Hy "ontvoer" haar dan later, maar by Grace se busstop, gee sy in vir hom. Sy maat, Virgil (simboliese naam), bly agter.

IV


"There is no fabric without a weave," (Mitchell en Rose, 163) is hier ter sake. Ons kan vandag nie meer op 'n "onskuldige" manier na Marilyn Monroe kyk nie. Sy is die simptoom van ons begeerte en ons ervaring van 'n simbool.

God and the Jouissance of The Woman. A Love Letter. Die vrou bestaan nie; sy is net 'n simptoom van ons fantasie.

En die diskordante onbewuste ervaar jouissance as dit wat plesierig en vreesaanjaend is.


Bronne:

Feminine Sexuality: Jacques Lacan and the école friedienne. redd. Juliet Mitchell en Jacqueline Rose. W.W. Norton and Pantheon Books, 1985.

Marilyn. Norman Mailer. Alskog Inc., 1967.

Vir inligting oor Bus Stop is IMDb - Movies, TV and Celebrities geraadpleeg.

© Joan Hambidge