Bladsye / Pages

Monday, July 11, 2016

Werner Herzog: Aguirre, the Wrath of God


Werner Herzog se veelgeroemde Aguirre, the Wrath of God (Aguirre, der Zorn Gottes) van 1972 is waarskynlik ‘n film wat net so onthoubaar is vir wat agter die skerms gebeur het as vir die film self (Aguirre, the Wrath of God - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 11 Julie 2016).

1. Daar bestaan ‘n stadslegende (urban legend) dat Klaus Kinski so roekeloos en onbeheerbaar was, dat een van die plaaslike inwoners aangebied het om hom dood te maak. Ander meen dit was met die vervaardiging van Fitzcarraldo (1982);

2. daar word ook vertel dat sekere tonele voltooi is, met ‘n vuurwapen op Kinski gerig. Herzog het dit nog altyd ontken;

3. Herzog het apies nodig gehad vir die laaste waansin-toneel op die vlot. Vierhonderd apies is deur die inheemse mense gevang, maar hulle het op hul beurt besluit om die apies aan entrepreneurs in Miami of Los Angeles te verkoop. Herzog het hom egter na die lughawe gehaas, en onder die voorwendsel dat hy ‘n veearts is en dat die apies inentings behoef, hulle op sy bakkie gelaai en weggejaag. Na die voltooiing van die film is die apies in hul natuurlike habitat vrygelaat!

4. die kamera wat gebruik is in hierdie laekosteprent was glo gesteel uit die München-filmskool. Hierop was Herzog se reaksie:
It was a very simple 35mm camera, one I used on many other films, so I do not consider it a theft. For me, it was truly a necessity. I wanted to make films and needed a camera. I had some sort of natural right to this tool. If you need air to breathe, and you are locked in a room, you have to take a chisel and hammer and break down a wall. It is your absolute right.
5. omdat die film met min fondse vervaardig is, moes die akteurs alles sélf doen. Ook die vlotte waarop hulle stadig op die rivier afbeweeg, is deur hulle gebou. Tydens die verfilming het 'n riviervloed van die vlotte verwoes, maar Herzog het terstond die storm in sy film ingewerk!

6. wat sou diere-aktiviste onder meer dink van die toneel waar die perd in die water gestamp is? Sou dit vandag toegelaat word?

7. die geskiedkundige feite is met ‘n betreklik losse hand geskryf deur Werner Herzog self. Die film speel af in 1560 toe die Spaanse veroweraars en hul slawe teen die Andes-gebergtes afgestap het ná die oorwinning van die Inkas. Die film handel oor die soeke na El Dorado en goud. Onder die bevel van Gonzalo Pizarro (en die film begin met ‘n kort narratief in skrif) beweeg hulle in hierdie gevaarlike ruimte in. Die film werk ook met ‘n agtergrondstem  (agterna-perspektief, dus); Pizarro kies Don Pedro de Ursúa (Ruy Guerra) as die bevelvoerder, Don Lope de Aguirre (Klaus Kinski) as tweede bevelvoerder, en die vet edelman, Don Fernando de Guzmán (Peter Berling) om die tye van die Spaanse koningshuis te verteenwoordig. Gaspar de Carvajal (Del Negro) is die priester wat deurentyd glo dat hulle die Indiane kan bekeer.

Ursúa se minnares, Doña Inés (Helena Rojo) en Aguirre's se jong dogter, Florés (Cecilia Rivera) is die twee vroulike teenspelers. Eersgenoemde lewer politieke kommentaar wanneer haar geliefde gekritiseer word dat die slawe betaling moet ontvang. Sy wys daarop dat waar sy vandaan kom, word mense vir dienste vergoed. Die jong meisie – Aguirre se dogter – het ‘n vreemde, bloedskendige verhouding met haar vader wat uiters subtiel oorgedra word. Aan die einde skel Aguirre dat hy met sy dogter sal trou en ‘n suiwer ras sal oplewer.

In sy laaste maniese woorde:
I, the Wrath of God, will marry my own daughter and with her I will found the purest dynasty the world has ever seen. Together, we shall rule this entire continent. We shall endure. I am the Wrath of God! Who else is with me?
8. Herzog se film kan ook uit die perspektief van die abjekte benader word. Ons sien die skytende edelman op sy grastoilet en hoe hy broek vas- en losmaak; ‘n onthoofde kop bly tel na die onthoofding; ons sien kannibalistiese tonele met koppe in potte gekook en lyke wat opgestop word;

9. daar is ook humor: ‘n swart man word uitgestuur om die Indiane bang te maak;
10. die film lewer kommentaar op die arrogansie van die Christendom en hoe Indiane tereggestel word omdat hulle “blasfemies” is; ‘n edelman, ‘n priester, ‘n veroweraar: verskillende rolspelers wat mag verteenwoordig;

11. daar is min films waarin waansin en die hallusinasie in minder as twee ure so helder verbeeld word. Elke skoot is presies en die dialoog aktiveer waansin en megalomanie: die orde van die Oorheerser wat die Inheemse mense verminder en onderskat.


© Joan Hambidge