Bladsye / Pages

Sunday, July 17, 2016

Ilse van Staden - Waar die oog van stil word (2016)


Ilse van Staden - Waar die oog van stil word. Protea Boekhuis, 2016. ISBN 9781485306054
Resensent: Joan Hambidge

Ilse van Staden se digbundel Waar die oog van stil word is daardie soort bundel wat lank ná die lees bly nawerk in die leser se gemoed. Die gedigte lyk oënskynlik eenvoudig, maar met elke herlees, aktiveer dit die woord karapaks wat die digter gebruik.

Hierdie woord beteken skulp (soos by ’n skilpad), maar volgens die tesourus dui dit ook op abnormaliteite soos geskep deur trauma, infeksies, tremore, en so meer. Daar was al ’n digkunstydskrif met hierdie titel. Gaan kyk gerus in L.G. de Stadler se Groot tesourus van Afrikaans watter woordassosiasies daarmee verbind word.

Die digter sinspeel op albei begrippe. Die gedig wat toegesluit is agter ander gedigte of die gedig geskep uit menslike ontsteltenisse of onrustigheid.

Eersgenoemde soort gedig vind ons in haar antwoord op Wallace Stevens se beroemde werk “Thirteen ways of looking at a blackbird” wat sy “Dertien kraaie” noem:

1.
’n noot op die dwarsbalk van bome
’n enkele kras en krakende
kraai

2.
twee kraaikuikens
uit ’n boom
gewaai
ewe dood

Hierdie palinodie (of teenstem) is egter in die minderheid. Die meeste gedigte in die bundel is liries en eenvoudig.

Bloekoms
die bloekoms ontklee van bo af
skil uit hul skedes
skilferend
bietjies-bietjies blaai hul uit die bas
en keer satyngeskilderde lywe
skaam teen die wind.

Die bekoring van hierdie oënskynlik eenvoudige vers kan nie genoeg vermeld word nie. ’n Mens sal nooit weer na bloekoms kan kyk sonder om te onthou hoe sy dit beskryf nie. Die skede, die karapaks wat oopgemaak en afgehaal word, is deel van die digterlike proses. Party noem dit die dromende denke; ander praat van die akwarelle van die dors. Vir sommige is dit weer ’n hipnoties betowerende proses. Vir ander dinkwerk.

Die een is nie beter as die ander nie. Dit is om in dáárdie manier van dig, jou merk te maak. Jy kan nie ’n alt met ’n sopraan vergelyk nie. Of ’n tenoor met ’n bas nie. Maar wel soprane met mekaar. In die liriese digkuns het ons uitstaande digters soos Olga Kirsch en die onderskatte Annette Snyman. G.A. Watermeyer.

Hierdie Ilse van Staden kelk ook die sonlig in haar keel.

Soms moet sy ’n winterbaadjie aantrek (soos in “woestuin”) om haar teen pyn te beskerm. Die digkuns kan beskerm, maar die digter ervaar ook soms die pekel van haar woorde (“opgedis”).
Daar is uiteraard dan ook verwysings na ’n slak, die selakant (wat ’n beeld word vir die digterlike proses en slim inspeel op Antjie Krog se gebruik van visbeelde in Lady Anne, 1989). Verder dan: gerugte van eenhorings, fenikse en selakant / drake en dinosourusse, basilisk en narwaltand (“bou jou skip”).

Hier is ’n skerp blik op die oorlewingstryd as mens. Die digter het verhuis na die buiteland (Australië) en hiermee word sy dan deel van ’n ekspatgenerasie. Daardie digters wat van buite na binne gekyk het (soos Elisabeth Eybers, Olga Kirsch, Barend J. Toerien, Julian de Wette, Casper Schmidt, onder andere) verstaan die “patrone van stilte” anders as die digters wat té na aan mekaar skuur in die tuisland.

Kort ná haar verdienstelike roman Goeie dood wat saggies byt, is dié mooie bundel met ons. Oog en stilte. Die digter wat kyk en patrone waarneem. Verliese karteer. En gekonfronteer word met ’n stil gevriesde stilte. Dis hoe ’n mens hierdie bundel kan opsom. Haar vorige bundel is deur ’n resensent verniel. Met hierdie bundel maak sy daardie besware ongedaan.