Bladsye / Pages

Tuesday, July 5, 2016

Joan Hambidge - Oscar en Reeva



 Reeva Steenkamp & Oscar Pistorius, fatale ontmoeting

Toe die Oscar Pistorius-saak gebeeldsaai is, het ek elke dag daarna gekyk om 'n student wat 'n doktorsgraad hieroor skryf, te begelei. Soos alle kykers was hierdie toeskouer emosioneel meegesleur. 'n Mens se besluit oor skuld/onskuld, simpatie/vergelding is telkens rondgeskommel.

Foto's van 'n huilende en selfs opgooiende Oscar. Beeld het ook TV-analises gemaak en met regsgeleerdes gepraat oor elke dag se aflewering.

Die tragedie is ook verwoord in twee gedigte oor sowel Oscar as Reeva in Matriks (Human & Rousseau, 2015). Die pynlike verlies van haar ouers versus die moderne tragedie van die gevalle held. George Steiner se The death of tragedy (Faber and Faber, 1961) kom ook in die visier. Is daar werklik sprake van tragedie na die sewentiende-eeu? Die media-verhoor het soos 'n sepie afgespeel, ook met metakommentaar en analises. Selfs boeke wat kort na die hofsaak te lese was.
Na die uitspraak - waar dolus eventualis deur elke leek bespreek en gekritiseer is - het die appèl-saak gevolg.

Nou is ons by die verhoor met moord en nie meer strafbare manslag nie. Nog 'n hoofstuk waarin ons nogmaals geskok word.

Hierdie keer met Oscar wat op sy stompies moet loop om sy weerloosheid te bewys (op versoek van Adv Barrie Roux) en Reeva se lyk wat vir die wêreld gewys moet word (op versoek van Adv Gerrie Nel).

Dat laasgenoemde met die toestemming van die ouers gedoen word, vind hierdie kommentator skokkend. Ons dink aan die onlangse verlede waar ouers geprotesteer het oor die lyk van 'n kind op die voorblad, omdat dit teen die Joodse geloof indruis (in die Goldin/Bloom-saak) en ouers wat Carte Blanche by die persraad aangegee het oor die onregmatige publikasie, juis omdat hulle die hof verlaat het toe dit gewys is (in die Inge Lotz-saak).

Nou is daar media-besluite oor of Reeva se foto's gebruik mag word. Vir my gaan dit nie om die konsep van die gesinskoerant nie. Jong kinders het waarskynlik alreeds haar foto op die internet raakgeboor, wetend hoe bedrewe hulle is met hierdie ekstensie van ons bestaan.

Dead Marilyn, by Marlene Dumas

Dit gaan eerder om respek vir die afgestorwene. Daar is in hierdie wêreld ook foto's van Marilyn Monroe beskibaar op die internet en ja, digters het ook al hieroor geskryf en Marlene Dumas het 'n skildery hiervan gemaak. Maar die verskil tussen 'n gedig oor iemand en 'n brutale, realiteitsfoto is hemelsbreed.

Is dit twee regsgeleerdes wat nou alles in hul vermoë doen om hul kliënt te verdedig? Die een wat 'n familie se verlies wil vergeld; die ander wat Oscar Pistorius uit die tronk wil hou en pleit vir korrektiewe toesig?

Gert Coetzee, redakteur van Beeld se Vrystaatse susterkoerant, Volksblad, sê “ja vir Oscar se stompies, maar nee vir Reeva se lyk".

In 1957 het Roland Barthes in Mythologies (Jonathan Cape, 1972) die volgende woorde geskryf:"What I claim is to live to the full the contradiction of my time, which may well make sarcasm the condition of truth" (12).

Hy verwys ook na die ideologiese misgrype van koerante wat in sy tyd nie die epiese afmetings van die moderne media enigsins kon verdiskonteer of voorspel nie.

In ons tyd met die internet en Facebook is die grense só verskuif dat die kyker/leser telkemale verbyster staan voor nog 'n krisis/hofsaak. In die beroemde essay oor stoei verwys Barthes na die "spectacle of excess" (15) en dit is hoe 'n mens die jongste aflewering van ons eie The bold and the beautiful moet interpreteer. 'n Samesnoering van Griekse drama, bulgeveg en spektakel.

Maar mites leeggemaak van hul oorspronklike inhoude of geloof soos Steiner klinkend argumenteer in sy studie (37)

*

Reeva

Kon jy weet
daardie laaste keer
by die hekke van die Silwer Huis
en Rooi Badkamer
'n sekuriteitsbeampte
sou Heilige Petrus vir jou speel?
Was daar 'n geel gloed óm
jou gehul, soos Jung beweer,
wanneer ons wetend-onwetend dié oorgang
in volledige eensaamheid, dus solo, maak?
Sou jy kon raai dat die beroemdheid
waarna jy smag jou 'n ereplek sou gee
in die galery langs JFK en Marilyn Monroe?
Jou oë gesluit soos Marilyn s'n
in die Brentwood-lykshuis in Los Angeles;
jou kop oopgeklief nes Jack s'n.
Kon jy dink realiteitstv was net 'n voorspel
tot 'n hofsaak met jou as die aanwesige-Afwesige?
Foto's geneem, selfs uit 'n lykshuis geskaai,
verkoop, vervleg, verpand, versend
met opgeswelde oë asof jy jou verweer
teen die ongerymde, die vervorming;
ja, selfs teen hierdie gedig,
'n vérdere openbare skending.

*

Oscar Pistorius

George Steiner had gelyk
in The Death of Tragedy
hoé onmoontlik dit blyk
te wees om ná Nietzsche
te praat van iets soos tragedie.
The Blade Runner
word The Blade Gunner:
in ’n wenkslag begryp
ons “he could turn on a tickey”.
Soos ’n koeël uit ’n geweer,
’n moderne Achilles,
met voete van plastiek.
Hubris? Hamartia?
Straf die gode die ongehoorsames?
Of moet ons volstaan
soos Pier Paolo Pasolini
in sy film oor Oedipus Rex:
in ons verwonding lê
ons krag
én ondergang?
© Joan Hambidge