Bladsye / Pages

Monday, July 4, 2016

Michelle van der Spuy in gesprek met Joan Hambidge (Eikestadnuus, 2016)


1. Waarom het jy besluit om jouself vierkiesbaar vir die raad te stel?

Ek is ‘n oud-Matie (dus alumna, vroulik!) van Stellenbosch. Ek is ‘n professor aan die UK en beleef as lid van die Skool vir Tale hoe tale al hoe meer uitgerangeer geraak het die afgelope dekade. Ons beleef tans ‘n vloedgolf van anti-intellektualisme wêreldwyd. Facebook en sosiale media het aan almal stem gegee en die demokratisering van Jan en Alleman se mening is die konsekwensie van die postmodernisme. My mening is gelyk aan joune. Wat uiteraard nie so is nie. Wat taalsake betref, moet taalbeplaning en –politiek oorgelaat word aan kundiges en nie aan bestuurslui wat universiteite as semi-besighede (probeer) bestuur nie. Universiteite behoort akademiese en intellektuele ruimtes te wees. Die sogenaamde hutsmerk-generasie is die kollektief van opstand. ‘n Woede wat ons terugneem na die 1968 met die studente-opstande in Parys. Tans is owerhede bang vir studenteonlus en hierdie subliminale vrese het dikwels krisisbesluitneming tot gevolg. John Searle se The campus war lees ‘n mens asof alles nou, sopas gebeur het.

Universiteit – nie mono nie!


2. Is daar spesifieke doelwitte wat jy hoop om by die raad te bereik?

Bepaald. Ten minste ‘n gelyke kans vir Afrikaans en Engels. Sowel Afrikaans as Engelse onderrig. Nicol Stassen (van Protea-boekwinkel) het nou onlangs op Facebook daarop gewys dat studente aan die UP steeds Afrikaanse handboeke koop. So is die gedagte dat studente Engels verkies met vraelyste getoets? Of is dit bloot persepsies en aannames?


3. Wat beskou jy as die US-raad se grootste uitdagings?

Om kongruent en eerlik te wees.

Die dubbelpratery (of dan die ervaring daarvan in die Afrikaanse pers ) moet beter bestuur en geartikuleer word.


4. Wat verwag jy gaan jou grootste uitdaging as raadslid wees?

Om samewerking te gee tussen die verskillende partye. Op komitees moet ‘n mens altyd luister – goed luister – na wat jou opponent sê. Dit help dikwels om jou standpunt te verander. As Afrikaanse skrywer behoort ek tot ‘n minderheidsgroep, ook weens my genderidentiteit; so ek weet hoe om die standpunt van die minderheid te verwoord. En dit is in hierdie geval: Afrikaans, soos 2000 ander klein tale op die kontinent, word gepraat deur mense van alle skakeringe en oortuigings. Met een groot verskil: Afrikaans, soos Hebreeus, onder andere, het ontwikkel binne ‘n kort bestek tot wetenskapstaal. Kyk onder meer na die digter Olga Kirsch wie se Afrikaanse gedigte sterker as haar Engelse verse is.

Hoekom moet ‘n taal wat hier ontstaan het – en gegroei het met Bybelvertalings, verseboeke, woordeboeke, stylhandleidings, uitgewershuise, koerante, die internet en wat nog – trustaan vir ‘n patois-Engels of selfs taxi-Engels? As Afrikaans dui op uitsluiting, hoor ek bepaald iets anders in die Wes-Kaap en selfs aan die UK wat ‘n Engels-medium universiteit is.


5. Jy betree die US-raad aan die begin van wat sekere raadslede die begin van die taalstryd noem. Gaan jy saam veg vir Afrikaans se saak by die US?

My standpunt oor die toekoms van Afrikaans is bekend. Afrikaans as spreektaal is veilig. ‘n Mens moet egter die hoër funksies van ‘n taal beskerm. As voormalige Direkteur aan die Skool vir Tale het ek álle tale beskerm, want inheemse en vreemde tale is verbind aan mekaar. Afrika-tale – so sal linguiste uitwys – kan leer by Afrikaans. Ons is al oor die twintig jaar in ‘n demokrasie en dit is pynlik dat ons regering nie juis iets gedoen het vir die ontwikkeling van Afrika-tale nie. Ek moes egter toekyk hoe Latyn (en Afrikaans!) afgeskaf is by die opleiding van regstudente. Aan die UK het ons ‘n kursus ontwikkel (“Becoming a Doctor”) waarin die jong dokter sowel Xhosa as Afrikaans leer sodat hy sy pasiënt se kwaal reg kan interpreteer. Vra advokate wat gebeur wanneer iemand nie in sy moedertaal kan getuig nie! En hierdie kursus is al langer as tien jaar met ons.

Hoekom moet ons in ‘n land waar diversiteit ‘n modefrase geword het in ‘n eentalige land leef.  Met Engels, wat terloops, op sekere plekke op aarde nie gepraat word nie. Reis na Chili en Engels is in sekere areas niks werd nie. In Brasilië word kolleges begin vir klein dialekte …
Hoekom ‘n taaluitwis wat archi-ideologies benader moet word, aldus Slavoj Žiżek?


6. Die vroue akademici en -studente by die US het die afgelope tyd hul stem dik gemaak sekere kwessies. Wat dink jy is vroue by die US se grootste uitdaging? Is daar spesifieke kwessies wat jy hoop aangespreek sal word tydens jou termyn?

Ek is ‘n genderteoretikus. Uiteraard is genderkwessies iets waaroor ek my dikwels uitlaat. Ek dink ons moet versigtig wees om te praat van ‘n “verkragtingskultuur” aan die US. Dit ontneem vroue van hul agentskap.


7. Is die verteenwoordiging van vroue se belange by die US-raad vir jou belangrik?

As genderteoretikus is die belange van álle minderheidsgroepe vir my van belang: gay, transgender, vroue, mense wat wil Afrikaans praat en vertel word dit is nie polities-korrek nie, ensomeer.