Bladsye / Pages

Sunday, October 18, 2015

D.J. Opperman - Versamelde poësie (2015)

D.J. Opperman - Versamelde poësie. Tafelberg Uitgewers, 2015. ISBN 9780624075868

Resensent: Joan Hambidge

Nou onlangs is daar by die Tuin van digters in Wellington gepraat oor Opperman se letterkundige laboratorium en die invloed wat hy op digters gehad het as mentor.
Vir elke bydraer was die inwerking van Opperman uniek en bepalend. Oor sy omstrede siening (wat dikwels buite konteks aangehaal word) dat digters nie filosofie moet bestudeer nie, terwyl hy sélf filosofiese vraagstukke aangeroer het (soos in die gedig “Vuurbees” uit Dolosse, 1963), is weer eens bespreek.

Vir Opperman is die sintuie “werktuie” en die soeke na die konkrete beeld dit wat die (jong) digter eerder moet nastreef as ’n vae, filosofiese beeld. Met ander woorde, dit is ’n tegniese uitspraak eerder as tematiese voorskrif.

Sy digkuns resoneer steeds in vele gemoedere en jong studente vind sy werk interessant.

Die pas verskene Versamelde poësie – met ’n foto van ’n jong Opperman op die buiteblad – en met ’n 1987-inleiding van A.P. Grové is ’n belangrike publikasie. Opperman, NP van Wyk Louw, Sheila Cussons en Elisabeth Eybers bly belangrike klassieke bakens in ons digkuns.

Die enorme invloed van Opperman as kanoniseerder met sy verseboeke en die groot getal studies oor sy werk – waarvan die mees beduidende A.P. Grové, T.T. Cloete, Merwe Scholtz, J.C. Kannemeyer, H.J. Snyman, Lina Spies, Helize van Vuu­ren en Daniel Hugo is – bevestig sy posisie binne die kanon. Die vele gesprekke en antwoorde op sy digkuns deur ’n jonger generasie is ’n verdere bewys van sy groot aanwesigheid vanaf sy debuut Heilige beeste (1945) tot en met Komas uit ’n bamboesstok (1979).

’n Gemeenskap van lesers (soos Stanley Fish dit tereg noem) het Opperman se werk deur die jare deeglik en besinnend deurskou. Hierom is daar tereg ’n Opperman-gedenklesing aan die Universiteit Stellenbosch met stewige lesings oor sy werk.

Hoe hy in sy laaste bundel homself herskryf in ’n “woord en wederwoord”, bly een van die kragtigste selfbeskouings in enige digkuns. Met sy verstommende vermoë om ’n gedig uit ’n koerantberig te skep (“Klara Majola” uit Engel uit die klip, 1950) of skerp metafories te dig, is sy kenteken. Sy heerlike parodieë van ander digters se stylhebbelikhede waar die Weduwee Viljee al stappend met haar kolliehonde tart en terg, bly ’n postmodernistiese baken. Antwoorde hierop, soos Ernst van Heerden en Johann Johl se pastiches, bewys net hoe goed Opperman s’n was. Daniel Hugo roep ’n bundel Takelwerk, met erkenning aan DJO. Johann de Lange herskryf ’n ars poetica in gay terme.

Trouens, Opperman was die eerste postmodernis in Afrikaans met Kuns-mis (1964) en in sy Komas werk hy met intertekste soos Marco Polo en Italo Calvino op oortuigende wyse.

Sy streng selfkritiek kom duidelik oor in hierdie bloemlesing waar die leser onder die indruk kom van sy digterlike tug. Hy het die landskap van die digkuns verander met sy debuut en elke bundel daarna gee sy ontwikkeling weer.

Kannemeyer karteer ook sy lewe in ’n biografie (Kroniek van klip en ster) waar die leser onder die indruk kom van sy enorme werkvermoë en belesenheid. Dit word geregistreer in sy ryk oeuvre, in “ ’n duisend spikkelvlinders”.

Die ars poetica, die gebruik van die raaisel, die speurverhaal, lykdigte, transfigurasies (soos in “Kroniek van Kristien”), ingebedde Middeleeuse tekste, die teodoliet, satires, parodieë, optelverse, speelse verse, beeldverse en so meer, bly alles deel van ’n indrukwekkende Edms. Bpk.


Hy was ’n Dirk der Duisende.
Hy hou van heilige herhalings,
hy wat van drie mense tril,
hy raak begoël,
bedryf die hiperbool,
alliterasies, enumerasies,
’n wisseling van lywe,
van deugde en van euwels . . . (p. 384)

Inderdaad voed sy woord duisende lesers, soos dit hoort.

“By die dood van Roy Campbell” , “Dennebol”, waaroor Henning Snyman die mees oortuigende analise geskryf het, “Vuurbees”, “Klara Majola”, “Sondag van ’n kind”, “Gereedskapgesels lei tot omhels”, “Te klip om te boom” is gedigte wat ek in my psige saamdra. Oor “Blom van die baaierd” kan ’n mens lank en besinnend nadink.
In hierdie tyd van digterlike angstigheid en onsekerheid – soos Harold Bloom dit tipeer in The Western Canon van 1994 – is dit goed om daaraan herinner te word dat ons ’n digter van hierdie formaat kon beleef. Sy opstelle oor die digkuns moet eweneens weer gebundel word.

Die klip of “disseldons” van die vorige weergawe word vervang met ’n foto van ’n jong Opperman. Agterop is daar ’n ouer, beleë man. Hierdie twee foto’s praat weer op hul beurt met die foto van die vernielde man op Komas uit ’n bamboesstok.
’n Bloemlesing wat hoort op almal se rakke.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)