Bladsye / Pages

Monday, October 19, 2015

Carel van der Merwe – Donker Stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog (2015)


Carel van der Merwe – Donker Stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog. Tafelberg Uitgewers, 2015. ISBN 978 0 624 07342 0

Resensent: Joan Hambidge

Deel I

I

Op die skutblad word Joseph Chamberlain (1901), die Britse minister van kolonies tydens die Anglo-Boereoorlog se siening van Marais aangehaal: “Since I wrote last I have seen Mr Marais. He is a very intelligent man & made a considerable impression upon me”. Hierdie mitiese figuur het al etlike reaksies ontlok, onder andere van digters binne die Afrikaanse letterkunde. [1] Leon Rousseau se Die groot verlange bly ‘n baken waarop ander skrywers oor Marais kon bly werk; ook Van der Merwe wat verwys na die “aangrypende verhaal” wat in 1974 verskyn het en die saad geplant het vir sy studie.

Die soektog na leidrade in Londen in 1964 het vir Rousseau niks opgelewer nie; dit was asof iemand al die spore doodgevee het, of anders was die leidrade vals. [2]

Wat egter in daardie vyf jare gebeur het, word Carel van der Merwe se verslag.

Dit is ‘n uitstekende genuanseerde blik op die komplekse figuur Marais. Hy skroom nie op dubbelpratery uit te wys nie en veral verminder hy nie die bydrae van Leon Rousseau se eerste biografie. Trouens, alle studies daarna bou voort op hierdie baanbrekende werk en dit is jammer dat sommige navorsers nalaat om in te sien in watter tyd die eerste biografie geskryf en gepubliseer is: ‘n tyd lank voor gesofistikeerde elektronika.

Carel van der Merwe wys ook na die impak van die morfienverslawing.


II

In hierdie uitgebreide studie vol endnote word die leser veel wys oor die komplekse verhouding met Paul Kruger en Milner. Op bladsy 384 word die volgende brokkie meegedeel, wat vir hierdie leser belangrik is. Leserskring, RSG en BY het in 2011 en 2012 ‘n landswye kompetisie uitgeloof om die gewildste Afrikaanse gedigte uit te soek. Ofskoon die meeste digters gevoel het dat dit outydse refleksie was van die Afrikaanse digkuns en beslis nie verteenwoordigend van die jongste strominge nie, maak Van der Merwe ons attent op die volgende belangrike aspek van hierdie versameling. Uit die byna 1300 gedigte wat genomineer is, het “Winternag” die eerste plek behaal. En, beklemtoon Van der Merwe, vyf van sy gedigte is opgeneem in hierdie seleksie, merkwaardig veral as ‘n mens in gedagte hou hoe “relatief karig” sy oeuvre is. In die endnoot 306 noem hy die ander gedigte:

“Die dans van die reën”, “Mabalêl”, “Skoppensboer” en “Diep rivier”.

Met die 100-jarige viering het Johann Lodewyk Marais ‘n bloemlesing saamgestel met reaksies en palinodes op “Winternag”. Dit het by Praag verskyn in 2006. (HONDERD JAAR LATER – Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905Besoek 19 Oktober 2015)

Vir my bly “Skoppensboer” en “Diep rivier” twee gedigte wat my inspireer.
0, Diep Rivier, 0 Donker Stroom,
Hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,
Die lem van liefde wroegend in my hart?
In jou omhelsing eindig al my smart;
Blus uit, 0 Diep Rivier, die vlam van haat,
Die groot verlange wat my nooit verlaat.
Ek sien van ver die glans van staal en goud,
Ek hoor die sag’ gedruis van waters diep en koud;
Ek hoor jou stem as fluistering in ‘n droom,
Kom snel, 0 Diep Rivier, 0 Donker Stroom.
En albei belangrike studies vind hul titels in hierdie gedig. Jeanne Els se studie oor selfmoord noem sy As die stroom jou vat: Die raaisel van selfmoord (Tafelberg, 2011).

 

Endnote:

[1] Johann de Lange uit Wat sag is vergaan (Human & Rousseau, 1995).

Eugène N. Marais (1871-1936)
To-morrow, and to-morrow, and to-morrow,
Creeps in this petty pace from day to day . . .
William Shakespeare

Skraal man met die spierwit pak & skoene,
wit panamahoed,
met jou grys
oë, effens geboë
wasbleek neus, ek dink aan jou
in die reën & nat
suurgras met jou honger soos ‘n pyn
waar jy die raar

twaalfboor rig op jou bors, & jou hart skrams
tref, nóg dieper kwes.
Die tweede
loop diep in jou mond
trek jy sonder aarseling
af, & die eggo
sprei deur die triestige bosveldreën,
die druipende

blare van die karee bokant jou lyk.

Alle bewussyn is pyn, wis jy seer
bewus, swewend aan
die silwer
punt van ‘n spuitnaald,
jou panasee teen die syn;
die groot verlange
na ‘n blyplek sewe hemels bo
die sewende.

Van Tierra del Fuego tot aan die ys-
vlaktes van Groenland,
van die Kaap
tot Wladiwostok
hoor pelgrim & Bedoeïen
die smeekkreet wat jou
dag ná dag in geil nagmerries lok:
“Morfien! Morfien!”


[2] My gedig is ‘n palinode op die skitterende vers van De Lange. Joan Hambidge uit Lykdigte (Human & Rousseau, 2000):

Eugène N. Marais (1871 - 1936)
Daar is niks wat jy liefhet wat nie van jou weggeneem sal word nie.
Dorothy Parker
                                                       
I

Hoe durf ek skryf oor jou: ‘n onbekende?              
Gereduseer tot ‘geval’, morfinis, afwykende...
Boonop in ‘n onbekende tyd...
Hoe kan  ons ooit in ‘n gedig regstel
dit wat jou ontneem is (soos ‘n ongeskryfde gedig)
en aan jou toegedig word: ‘n lewe in ‘n verkeerde tyd,
ruimte, dimensie - jou tyd vér vooruit?

II

Die vers broei wekelank in my.
Jy is meer as ‘n ‘groot verlange’;
gestol in die agterruimte van ‘n kleinlike tyd
sien jy alreeds die onbewuste in ‘n miernes;
weet die enkeling is ontersaaklik
vir die groter geheel.
Iets onsigbaars, onsêbaars (noodlot het geen dekorum)
bly talm: hesperiese flitse van verdriet.

III

Daar word beweer die jongste van dertien
‘n Vervloekte met ‘n Kaïnsmerk:
Onsigbare, tastende Derdeoog.
Doodsbalju, kroonprins van die hel
besef as klein kind die wonderwerk van vooraf
weet: ‘n kooltjie vuur stig ‘n bosbrand aan.
(N)iemand kon die lyne in jou palm lees:
die selfmoordenaar, ‘n swart forel, beur stroomop.
Wis van jongs af sy verdoemende lot:
stuur af op ‘n swak gerepeteerde slot.

IV

Iewers vertel die heldersiendes kan ons vervloektes red:
bevry al die visse in die see...
Alles begin oënskynlik met ‘n spel: die smokkel
met sinne eers ‘n heling teen insomnia;
later ‘n nuttelose panacee teen senu-uitputting,
Die dobbelsteen bly verkeerd val;
die kaarte wys ‘n ómgekeerde Skoppensboer.

V

Dit staan geskryf teen die tempels
in moeilik-ontsyferbare hiërogliewe
teen die graf van Ramses II
dat vrede vir die vervloekte wél bestaan.
“Daar sou ek vrede weer besef
waar Tebes in die stil woestyn”...
Die gedig skryf sigself; vang die boodskappe
uit die ander oord onbevange op.
Laasnag droom ek van jou - met jou panamahoed
en dandy-pak in Egipte: 

VI

“O Diep Rivier, O Donker Stroom,
Hoé lank het ek gewag, hoe lank gedroom
Die lem van liefde wroegend in my hart?”
Vir jare sou die koors van berou, verwyt
om jou hang en elke geliefde of flirtasie
weer daardie eerste verlies uitspeel:
‘n droewe deuntjie op ‘n outydse pianola..
En toe jou moeder sterf, in in teen die Groot Niet
kon sy jou ook nie vertroos; net verder ontstig
met haar doodswoorde: “Daar’s niks.”

VII

Ses dekades later in die wagkamer
tussen hier en die on-sienlike Daar
wonder ek: hoe kan ‘n mens jou verlos?
Spiritiste meen mens bly gevange:
herhaal die skoot oor en oor
soos ‘n teisterende droom
sonder logiese begin of einde
maar met die flitsende boodskap:
“O, Diep Rivier, O Donker Stroom...”

VIII

Met drif het jy jou somberheid uitgeleef:
jou pennehouer ‘n skedel...
Die verlies van die verswygde liefde:
soos die pik van ‘n slang.
‘n Wond wat sweer word kouevuur.
Verswelg in koorsdrome ont-
glip jy tydelik: ‘n kobra in deurskynende glas.
Was dit swak-geskommelde kaarte?
‘n Kruis en munt?
Opsluit moes jy dobbel, die dobbelstene skud
in teen die donker dieptes van die stroom:
‘n Walvis sluk jou heelhuids in.

L’envoi

IX

Van gesoignéerde, strydvaardige joernalis
gedemoveer tot bedremmelde, behoeftige boemelaar.
Is daar nog trane vir poësie?
Of leef jy nog in die selfgeskepte hel
van sinsbedrog, ‘n noodlotsroep?
Vanaand swem al die visse
van die Tierra del Fuego tot Groenland,
van die Kaap tot Wladiwostok
en roep: “Hy’s bevry, hy’s bevry!”

© Joan Hambidge