Bladsye / Pages

Wednesday, October 28, 2015

Joan Hambidge - Die Afrikaanse leser


I
Hoe lyk die Afrikaanse leser? Ons praat alte dikwels van die leser asof ons weet hoe hy/sy daar uitsien.

Kan ons empiries bepaal of ‘n boek deur ‘n leser gelees word? Is dit biblioteekstempels voorin ‘n boek of verkope wat ‘n boek se sukses bepaal? Leeskringe koop boeke aan wat deur meer lesers gelees word as die aankope getuig, omdat dit onder mekaar gesirkuleer word.

Soos skrywers verdwyn, verdwyn lesers ook. Skep die mark die leser of werk dit andersom? Met ander woorde, word die leser se behoeftes "geskep" deur die mark en die bemarkingstrategieë rondom 'n boek?

Die Afrikaanse mark het die suksesverhaal van ‘n Deon Meyer. En Deon Meyer het al vele avatare en afskynsels opgelewer soos Chris Karsten en Rudi van Rensburg. 

En Komplot (H&R) van André Krüger staan beslis nie terug vir die ander in hierdie sub-genre nie. Die twee lewens van Dieter Ondracek (bekroon met die UJ-debuutprys) het hom gevestig as 'n skrywer wat die sowel die historiese dimensie as speurkodes goed kan saamsnoer. Hierdie jongste roman getuig weer eens van nougesette navorsing.

En verder is dit opvallend hoe die tendens ook oorgeskuif het na ernstige romans waarin skrywers die gegewe van die speurverhaal gebruik soos in Etienne van Heerden se Klimtol en in Ingrid Winterbach se pas verskene Vlakwater.

Op sy beste in Deon Meyer in sy kortverhale besig met misdaad. In die slotverhaal met die gelyknamige titel van die bundel Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale (H&R) klim hy in die DNS van die reeksmoordenaar in. Hy word bemark as die gewildste skrywer in Afrikaans; en dit is hy bepaald, want gewone en ernstige lesers, lees Deon Meyer. Hy word geresenseer deur 'n afgetrede regter en literatore. En selfs pogings om sy gewildheid af te maak as populisme, stuit nie die gewildheid nie. Sukses nie net op ander speur- en misdaadskrywers nie, want die invloed is alreeds besig om geregistreer te word op ernstige skrywers se werk wat (on)bewustelik reageer op hierdie ongekende suksesverhaal.

Is daar iets soos Die Afrikaanse Leser? As gereelde en aktiewe boekeresensent is die bemarking van boeke uiters opvallend. Anchien Troskie word as ‘n blakerstem gebruik op sowel Paula Marais se Skaduself (H&R) as op Debbie Loots se Split (Queillerie). Soos wat Deon Meyer internasionale verkope en aansien simboliseer, dui die naam van Anchien Troskie (die skrywer van Dis ek, Anna) op die oopskryf van die ongenoemde, die transgressiewe – en: die gedagte dat jou verhaal dalk ‘n suksesvolle film kan word.

II
Stanley Fish het die konsep “community of readers” geskep, wat ek vrylik vertaal as ‘n gemeenskap van lesers wat sekere norme en standaarde impliseer.

Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog wat sopas by Tafelberg verskyn het, is vir hierdie leser 'n besonderse studie oor aspekte van Marais se lewe wat nog nie voorheen onder die loep geneem is nie. Die fokus val op die komplekse persoon van Marais.

Teenoor hierdie boek met sy voetnote en fokus op vele aspekte van Marais se lewe soos sy kritiek op Oom Paul, regstudent in Londen en lid van die geheime ekspedisie wat tydens die ABO probeer het om wapens en geneesmiddels te smokkel na die Boeremagte, ofskoon hy terselfdertyd ook kritiek gelewer het op die Boere se futiele stryd teen die Britte. 

Van der Merwe wys ook op die besondere vriendskap met Milner en die gedig - in Engels - wat hy oor hom geskryf het (360). 'n Imposante studie gewis - en ironies genoeg, 'n akademiese speurverhaal! Albert Grundlingh verwys tereg op die buiteblad na "nougesette historiese speurwerk".

III
Hartstories: Huis toe met 'n ligter tred (Tafelberg) is 'n versameling van beste saamrystories van die gewilde Amore Bekker se radioprogram. Dana Snyman, 'n ander volksfiguur en gewilde skrywer, skryf die blakerteks: "Eg menslik ... laat jou met genadige oë kyk na die mense rondom jou". Nou onlangs het Jens Friis berig in BY oor die troostelose monument vir die Helderberg op Mauritius: sonder blomme ...(24 Oktober).

Hierdie leser lees toe die verhaal oor die Helderberg raak van Ronel Eckhard Venter, 'n lugwaardin op bystand, wat die vlug na die ramp moes neem, 'n vlug vol persmense, belanghebbendes, familielede ... Hoe lees jy die veiligheidsmaatreëls voor as dit op die vorige vlug niks gebaat het nie?

Sy skryf in hierdie aangrypende verslag die volgende:"Ek het gesorg dat ek met niemand oogkontak maak nie."

So klink "Droogte", 145:
(Gedurende die erge droogte einde 2013 in Noordwes ontvang ek die volgende SMS:)
'n Plaaswerker van jare gelede bel gisteraand om te sê hy het van die droogte op die plaas gehoor en het intussen bietjie lusern byemkaargemaak - wanneer kan hy dit bring?
Mariaan - Kuruman

Hierdie bestes uit Bekker se Tjailatyd is nie groot verhale nie. Dit is eerder skerwe of vinjette, maar boeiende stories wat bevestig dat ons almal 'n storie het om te vertel. En waarskynlik sal van hierdie mense met aanmoediging skrywers kan word. En dit wys hoe wyd ons gemeenskap van lesers strek.

IV
Hoe lyk my interpretasie-model? In Reader-response criticism (Jane B. Tompkins, red. Johns Hopkins University Press, 1980) verwys Wolfgang Iser in sy artikel ("The reading process") na die skrywer wat die leser se gemoed beset: "Text and reader no longer confront each other as object and subject, but instead the 'division' takes place within the reader himself" (67).

Twee lesers lees: die "alien me" en "the real, virtual me". En hierdie twee lesers is in kommunikasie met mekaar en kan dus sodoende die onbekende begryp. En Iser wys tereg daarop dat die leesaksie ons toelaat om ons self te herformuleer en iets te begryp wat voorheen ons bewussyn ontglip het. "To formulate the unformulated".

So gesien, was hierdie leser op 'n speurtog. En vermoedelik is haar liefde vir speurverhale hoogs gepas om hierdie tekste te waardeer.

© Joan Hambidge