W. H. Auden, Photo: Cecil Beaton
About suffering they were never wrong,
The old Masters: how well they understood
Its human position:
W. H. Auden
Vroegdag in 'n gastehuis langs die see,
Auberge Burgundy te Hermanus,
na Vers & Klank luister ek
met verse vir die digter
van die jukstaposisie
en eiesoortige idiolek.
Teen die muur 'n skildery
so reg uit MirĂ³, na links 'n skynsel
uit 'n modieuse lamp. Jy vra my
of ek die see kan hoor?
Bo die oseaan, magtig en onmeetlik
bo die gedruis by die hawemuur
net buite sig klink die kreet op
van ’n jong seun wat gly en
val. Het enigeen gehoor?
Sy naam word dalk verewig op 'n plaket.
Die voordragstem verduidelik wat 'n troop
behels in die donker nag. Gedigte stap
vir hierdie digter jambies deur die vertrek,
vir hom van die baie ryk ure en allotroop,
enkele weke voor sy dood.
'n Ongeleefde lewe, onvervuld
laat onvermydelik 'n merk.
Hierdie gedig 'n letsel, yk
van diegene wat ongevraag,
te vroeg vertrek en net deur slapeloses
aan die vergetelheid ontruk kan word.
Ook vir hulle wat daardie dag
die "forsaken cry" moes aanhoor.
Onvertaalbaar hierdie ellende.
Ek beroep my in onmag op Auden.