Bladsye / Pages

Sunday, August 16, 2015

Gilbert Gibson - Vry- (2015)


Gilbert Gibson - Vry-Human & Rousseau, 2015. ISBN 978-0-7981-7053-6 | ISBN 978-0-7981-7054-3 (epub) | ISBN 978-0-7981-7055-0 (mobi)

Resensent: Joan Hambidge

Gilbert Gibson se gedigte bevat kenmerke van e.e. cummings en gert vlok nel. Dit is gedigte wat die skryfproses vooropstel en die leser lei in die proses van skryf: hierom vind ons aandagstrepe (//), ons vind verbrokkelde reëls, gedronge sintaksis, semantiese eilande en vele ander opsetlike speletjies wat die gedig verklaar tot halfklaar artefak. Die leser word uitgenooi om mede-skrywer (mede-speler) te wees. Soms is die geheimenisse obskuur; ander kere kan jy die gedig se sluiting vind in jou aweregse assosiasies.

Dis moeilik om hierdie bundel op te som. Vry – soos in Vrystaat, vryval, vry-wees, liefhê, en al die ander assosiasies soos vrye versvorm, word opgeroep in hierdie bundel.

Die gedig as gedig word in ‘n komplekse talige wêreld aan die leser voorgestel: soms huiwer dit in die droombestaan; ander kere voel dit vir (hierdie) leser asof ‘n mens in die studeerkamer staan van die digtende dokter wat sy eie siening gee van hermeneutiese poësie.

Hierom die vreemde belydenis, waarskynlik in komputertaal: dit neem ‘n tyd om tot verhaal te kom …

Die digter self is in ‘n droom bibliotekaris en salmvanger (“in my slaap is ek ‘n bibliotekaris”, 44) wat alreeds die komplekse toespelings verduidelik.

In “ek droom van jou ‘n laaste keer”, die slotgedig word daar verwys na ‘n vorige bundel wat Kaplyn heet. Hiermee word die leser dus teruggeneem na daardie bundel met die leesproses as ‘n kaplyn: die leser word spoorsnyer in die oorlogteisterde gebied waar die spore van die vyand presies verraai waarheen hulle op pad is, nes hierdie resensie wat my spore as leser verraai.

En spore (traces) aktiveer Jacques Derrida se siening van afwesigheid/aanwesigheid. Die programgedig is "sous rature", letterlik uitgewis. Hierdie gedig is dan 'n duidelike kode: moenie woorde op hul woord neem. Hulle kan verdwyn, uitgewis word of in ander vorme weer te voorskyn kom. Ook die poskaart-gedagte van Derrida word geaktiveer deur die voorblad met sy (Vrystaatse) seëls: die digter pos immers sy gedigte aan die leser wat met elke gedig besluite moet neem oor die tipografie.

'n Voorbeeld van hoe die digter werk: 

die vry-

die vry-
staat het ’n horison
waarvoor ek oor die stoep kan kyk
die horison is ’n verknoopte skoenveter
wat ’n mens deursny met ’n rooi knipmes
die horison is jou tong
die horison staan in die lug voor ’n fluitspeler,
maak jou vir slange bang
die horison is subtiel soos ’n sweempie
stof op ’n baadjie se skouer
dit herroep die droogskoonmaker
die horison lê soos ’n gevalle mas
wanneer die anker lig
lê bedaard soos ’n galg
en jy is die dood   (9)

Vele kere word die ervarings van iets as vertekend ervaar. Die onmag van woorde om die verlede te besweer of korrek weer te gee, kom telkemale aan bod. Die ouer digter wat die jeugjare herroep soos in'n Halley se komeet of reise na die Uvongo. Drome is telkens ruimtes wat die digter na vore bring om herinneringe neer te skryf, nes foto's eweneens merkers van die geskiedenis is.

'n Religieus-fundamentalistiese jeug word beskryf en vuur (lees ook die hel) word telkens gebruik om daardie wêreld te karteer. Hierom is "die skakerings van vuur is meer as wat ’n mens onthou" (18)

Gibson se gedigte is nie maklik nie. Hy skryf gekodeerde gedigte. In hierdie bundel tree hy in gesprek met die kanon: dikwels is daar net die voorletters van die digter (DJO of VWL of Sheila Cussons of GVN) wat aansluit by hul werk. Hy is immers soos gert vlok nel by uitstek 'n digter wat on-poëtiese gedigte skryf en die leser uitdaag om sy eie betekenis by te sit.

In hierdie bundel word daar ook 'n terugkyk na vorige bundels waarin die "oog" 'n sentrale plek inneem. Die gedig dus as "oogensiklopedie" met sy aandagstrepe, onvoltooide uitinge, enjambemente en kriptiek. Hy tree waarskynlik ook in gesprek met John Kinsella, die Australiese digter waarin die "skeleton weed" ook beklemtoon word (Skeleton weed/generative grammar - John Kinsella - Poem - Australian Poetry Library).

Dis 'n bundel vir die speurende leser. Dit is gedigte wat nie dadelik hul geheime prysgee nie, maar wanneer jy dit ontrafel, is dit 'n genoeglike ervaring.

By die Vrystaatse Kunstefees het die digter voorgelees. Hy ontgin die digterlike en die emosionele aspekte wanneer hy lees.

Dit handel oor die jeug en verlede en hoe 'n mens deur jou verlede geskep word. En deur ander digters gevorm word.

Ander bundels van die digter is:

Boomplaats (2005)
Kaplyn (2007)
Oogensiklopedie (2009)
[vii] (2013)

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)