Bladsye / Pages

Monday, January 26, 2015

Johann Lodewyk Marais – Nomade (2014)


Johann Lodewyk Marais – Nomade. Cordis Trust publikasies, 2014. ISBN 978 0 9870397 8 1
Resensent: Joan Hambidge

Johann Lodewyk Marais verken in sy negende bundel Nomade die landskap van Afrika. Dit lees soos ‘n reisverslag of aantekeningboek van ‘n digter wat deur Afrika reis en plekke aandoen soos Nairobi, Lamu, Kaïro, Timboektoe, ensomeer. Die reisende digter het ‘n dubbelblik: elke ervaring word afgespeel of teruggekaats teen die bekende land van herkoms. Maar sonder hierdie bekende leefwêreld kan die nuwe nie ervaar of deurgrond word nie. ‘n Mens dink hier aan Bernardo Bertolucci se sublieme rolprent The sheltering sky – gebaseer op ‘n verhaal van Paul Bowles – en die verskil tussen reisiger en toeris; en, uiteraard, hoe die nuwe belewenisse die reisiger se lewe verander.

Marais sou ‘n mens kon beskryf as ‘n digter van temas en eenheidsbundels. Sy vorige bundel het gehandel oor die see (In die bloute, 2012) en die digter werk nou aan ‘n bundel oor insekte. Nomade bevat sketse van Lynette ten Krooden wat ‘n spel tussen lynskets en gedig tot gevolg het.

Die reisgedig veronderstel ‘n nomaad, ‘n waarnemer en die gedig word ‘n soort kartografie van die digter se belewenisse. Die digter verduidelik aan ons in “Oorlees” (90) dat hierdie geslote boek sy lewe is. Hoe vérder die digter reis en nuwe belewenisse opteken, des te meer word hy gekonfronteer met die self en beperkinge. In die ryk vers “‘n Lewe” (91) sien die leser dat die jong kind alreeds ‘n skerp waarnemer was. In hierdie gedig met sy Pablo Neruda-aanslag is daar ‘n terugkeer na sy jeug om hieruit te beweeg na nuwe trekroetes.

‘n Mens sou ook hierdie bundel kan lees teen die agtergrond van ander bundels en gesprekke tussen gedigte uitwys in sy digterlike diaroma.

Daar is ‘n handvol sterk verse in die bundel. Soms mindere lynskets-vers, optekeninge, kladboeknotas – soos te verwagte van die reisende digter. Op sy sterkste is daar verse soos “Sonnewende”, “n Lewe”, “Dhow-wedvaart”, “Timboektoe”, “Heilige skrif”, “Nelson Mandela”, “Ibn Battuta”, “Arabierperd”, verse waarin die spanning tussen vorm en inhoud volgehou word en die gedig met elke lees iets nuuts ontsluit.

Die astrolabe is ‘n belangrike kode in hierdie bundel. Die gebruik van minder bekende Arabiese of Afrika-woorde verleen iets eksoties aan die bundel. Daar is ‘n voortdurende spel tussen die ou koloniale wêreld en die nuwe wat steeds vol geheime en vreemde tradisies en gebruike bestaan. En hieruit word die gedig geskep: tussen wat was en wat nooit kan wees nie.

Daar is ook politieke kommentaar in die bundel soos onder andere in die kort vers oor Kaïro en in ‘n gedig oor FW de Klerk word die “wye en droewe land” betrek. Afrika in al sy kompleksiteite – misterieus, religieus, rewolusionêr, polities-onrustig, driftig – kom aan bod. Die “politieke onbewuste” rig vele verse; ons bly bewus van skeepskanonne, vlae, bloed en mense wat vir ‘n stryd gestry het.  Daar is gidse en die digter self is ‘n sterk waarnemer:

Heilige skrif
                      
Die vrou wat onder die tamarinde
die Koran sit en lees, keer my vierspoor
wanneer ek buk en met my wysvinger
aan die mooi karakters voor haar wil raak.
Sy gru en hou haar hande beskermend
oor die letters wat vir haar heilig is.
“Elke ayat is wonders en tekens
en het net so uit die hemel gekom,”
sê sy en prewel Mohammed se gebod.
Deur die boomtakke en -blare teken
die son die arabeskpatrone na.
(56)

Van die verse het al op die Versindaba se webruimte verskyn en dit is opvallend hoe verse verander en verbeter is: van reisindruk tot gedig wat met sy “vuurtonge na die hemel reik”.

Hierdie gedigte het die 'le bapteme de solitude'; veral in die verse oor die Sahara en die savannes. En soos Paul Bowles waarsku: nadat ‘n mens die Sahara ervaar het, is jy nooit weer dieselfde nie ...

Hierdie bundel is gepubliseer met die hulp van die Cordis Trust en word opgedra aan ons ander uitstaande digter, Johann de Lange.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)