Bladsye / Pages

Tuesday, January 6, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel V


DEEL V

Apilado

Nou is dit maar eenmaal so dat reis te make het met tyd. Betyds wees. Tyd van vertrek en aankoms. Uitgelewer wees aan tyd. Tydverskille. Hier en daar. Horlosies. Jy kan 'n vlug verpas as jy laat is.

Maar reis het ook veel te make met wágtyd. Wag op lughawens, wag om afgehaal te word vir die volgende ekskursie. Dit is wat reis so vermoeiend maak, hierdie lang stukke tyd waarin jy niks kan doen as om net te wag nie. Wag om te land, wag om te vertrek.

Wag op lughawens; wag in die hotel se voorportaal. Wag, wag.

In die voorportaal van die hotel in Mendoza kook my bloed. Ek wag nou al langer as 'n uur om twee beroemde wynlandgoedere te besoek. Nou probeer ek kalm bly en die koel verbeelde glas skink. Ek lees 'n grammatika-boek sodat ek nie moet dink aan die tyd wat verlore gegaan het. Ek kon in hierdie tyd die stad bewandel het, of geswem het, of aan iets gepeusel het.

Uiteindelik kom die gids. Skouerophalend. Ek was ongelukkig die laaste hotel en daarom moes ek wag en basta.

Wag soos Humphrey Bogart in Casablanca vir sy geliefde wat nie opdaag nie toe hulle saam op die trein moes vertrek.

Gelukkig is die wynbesoeke uit die boonste rakke. Malbec en by 'n klein boetiekhotel beleef ek 'n Reserva uit die boonste rakke. Dit heet:

2011 Bodegas Vistandes Cabernet Sauvignon Reserve


Ons stap by beide wynplekke deur die kelders, modern en gemeganiseer. Sewe dae by die Silbersteins kom sterk in die herinnering na vore.

Vistandes, 'n klein boetieklandgoed, het die wonderlikste wit en rooi wyne. Torrentos heet 'n vrugtige wit wyn.

Hierna gaan ons na 'n olyfplaas. Die hele proses van olyfolie maak word verduidelik. Stap-vir-stap.  Op die gras buidel 'n jong kolliehond ten spyte van die hitte. Die gids en ek sit onder die afdak en gesels oor die blou dollar in Argentinië.

Die aand eet ek 'n steak in die La Lucia restaurant langs die hotel. Argentynse steaks is oorgewig en sappig. En ingesmeer met sout sodat die vetlagie heerlik knetter in jou mond in die naproe se vuur.

Ek dink drink aan my reis tot hier. Die opwinding, die spanning, die nuwe ervarings, die vreemde oomblikke (soos 'n kroeg wat Jackie O. heet in Mendoza) en verspeelde kanse ...

Waarom het ek nie die vy opgetel langs die vyeboom by die Iguasso-valle nie?

                                                     *

Ek volg steeds die Dakar-tydren. Onse Giniel is in die tweede plek en Nasser Al-Attiyah het weer die voortou geneem ná die tweede skof in die Dakar-tydren van Villa Carlos Paz na San Juan, weliswaar in 'n MINI.

Vandag betree ek die Andes-gebergtes van naderby. Ek kon 'n reis om seweuur vanoggend meemaak en eers laatnag tuiskom. Ek besluit om eie ding te doen en self 'n trip te organiseer. Die behulpsame hotelbestuurder reël vir my 'n bestuurder. Ons besluit op 'n prys. Ek wissel 'n stelletjie dollars by die Casino vir die reis. Die bestuurder lyk nes my vriend Mervin en dadelik is ek gerus. Hy gaan goed na my omsien.

Sy Engels is skraps, maar ek volg sy Spaans wat meestal uit blote uitroepe bestaan oor die wonderskone Andes-gebergtes: beeldskoon, die beste, die grootste ...

En ek gaan akkoord. Die dorpie rus veilig teen hierdie magtige gebergte waaragter Chile lê, die land van Pablo Neruda.

My vele reiservarings het my geleer om geen geld te ontsien om iets te beleef nie. Agterna is 'n mens altyd spyt indien jy nie iets meegemaak het nie. Al is dit hoe uitputtend en opdraande vir die oomblik - agterna bly dit 'n wonderlike herinnering.

Vir my is hierdie besoek aan die Andes só 'n ervaring. So het ek indertyd oor hierdie berg gedig:

Jouissance

Suid-Amerika is ‘n wispelturige vrou:
vol teëspraak, hartstog én ontrou.
Sy nooi jou uit met haar Brasiliaanse borste
 - net om jou af te weer met haar Chileense arms.
Mens onthou veral haar Boliviaanse oë
en min mense raak uitgepraat oor haar Andes-neus.
As jy gelukkig is, laat sy jou selfs toe in haar vuurheuwel.
Vir my is sy uitsonderlik weens haar kop
vol drome: haar fantasmagoriese, ongetemde Amasone,
al het sy my nou heeltemal vergeet
en ons liefde lyk na die ruïnes by Macchu Picchu.

Manaus

Hoe sal ek nou hieroor dig?

Drie maniere om die Andes te beleef

In voorstellings en kaarte en gedigte
was hierdie gebergte bekend aan my;
in my verbeelding voor ek die Andes betree
die skeidslyn tussen Chile en Argentinië
op grinterige, uitskotpapier nagetrek.
En nou uiteindelik, neem 'n gids, Enrique,
my die gebergte op: oop en bloot
toeristies uitgestal, 'n besienswaardigheid,
dog kil, afsydig teenoor vreemdelinge.
Die Andes-gebergte nou die skeidslyn
vir dit wat heers in my gemoed:
eens die najaag van liefde se belewing;
nou die sobere, soeke na heling.
En eendag ja eendag sal ons dit só sien:
dit was alles 'n kwessie van neerskryf.
Die lewe nou niks meer as boetedoening.

Na die uitputtende dag is dit eers swem om af te koel. En vanaand die kos in die Peruviaanse restaurant beproef.

Joan Hambidge