Bladsye / Pages

Monday, January 5, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel IV

DEEL IV

Abrazo abierto

Vroegoggend begin my volgende skof. Eers is dit ontbyt met vars vrugte; dan uittjekkereer en die rekening betaal vir die ekstras in die hotel. Nou vlieg ons van Iguasso na Cordoba (waar ons twee ure moet wag) vir die vlug na Mendoza, die wynlandstreek in die Andes wat ek nog altyd wou besoek.

By my aankoms in Buenos Aires was daar vele mans op die lughawe op pad na die Dakar in BA. Dakar in Buenos Aires? Die internet verduidelik waarom dit geskuif het uit die gevaarlike Senegal na Suid-Amerika. Mense het glo weggeraak in die woestyn. En die politieke onrus was 'n bykomende gevaar, verduidelik 'n klong uit Springs vir my.


Op die lughawe in Cordoba kyk ek na die Dakar op televisie en hoop om Giniel te sien. Ek drink 'n Quilmes-bier, eet 'n hamburger om die tyd om te kry. Op die lang vlug bestudeer ek 'n Spaanse en Franse grammatikaboek. Om die verveling te stuit en omdat 'n mens wanneer jy 'n nuwe taal se dieptestruktuur bestudeer altyd afkom op iets wat in jou taal op 'n ander manier gesê word. Om te dig is soos om 'n grammatikaboek te bestudeer. Jy moet die reëls ken om dit te breek. Maar daar is altyd reëls ...

Lief,
om jou dieptestruktuur te begryp
leer ek die grammatika van opsê aan.
'n Liefdesgedig oor die reëls van liefhê
soos waak teen die versending van 'n sms
na 'n ander tydsone waar jy in 'n tangkonstruksie
wag op my boodskap, wyl jou minnaar
(onbewus van my en jou) naderstap
met 'n liefielief wil jy vanaand langue of parole?
Of wil jy dalk fiekiefok?
En ek,  die groot cambrioleur breek die wette
van hul saamwees; maak die le 'n la,
die lul 'n les. Ek verbeel my in dié ruimte in,
stel my voor hoe dit moet wees met hulle
soos wanneer jy 'n nuwe taal aanleer
en al die trieks onder die knie moet kry.
Hierom draai die gedig dan weg
en word meer afstandelik
soos ek die grammatika van afsê verwerk.
Il faut changer.

Ek gaan in Mendoza tuis in die Esplendor-hotel. Hier is 'n casino. Die Argentyne is lief vir dobbel. In Brasilië word dit glo verbied.



Die hotel is hipermodern, glo net driejaar oud, en alles is besonder modern.

'n Ligte somergriep weer ek af met medikasie. Dit is al die ervarings wat nou begin inwerk op die psige en op die lyf wys. En reis is gelyk aan spanning, omdat 'n mens die hele tyd op jou hoede moet wees. Ook die transportasie van een ruimte na 'n ander laat sy merk.

By die brekfistafel waag ek my hand aan 'n kort-kortverhaal:

Andes  
Op pad na die Andes ontvang ek onverwags 'n sms van jou. Diep in die nag. Ek lees jou boodskap in die donker en wonder hoe het ons gemaak voor tegnologie ons so onmiddellik bymekaar kon uitbring? 
Jou sms verklap nie veel nie. Miskien wis jy nie dat ek vyf ure agter jou lê nie. Miskien was jy al besig met oggendkoffie, 'n vinnige sessie met hom, die oggendkoerant gelees, beplan waar en hoe jy die Sondag sou deurbring? 
Jy sou nie weet dat ek op pad is na die Andes nie. Dat dit na gister se humiditeit nou koeler gaan wees nie. En dat ek om elke hoek en draai my vorige reis in hierdie landskap onthou. 
Wat sou jy tog weet van haar? Die een voor jou?  
Puerto Montt  
Ek dink vanoggend aan jou eens lieflike mond:
‘n diep grot met jou tong ‘n vuurspuwende berg.
‘n openbare saal wat té veel vreemde besoekers toelaat.
‘n Middeleeuse kasteel met jou tong die valhek.
‘n lughawe in ‘n onbekende stad waaruit ek moet vertrek.
‘n vol bespreekte hotel met geen slaapplek.
‘n eiland soos Chiloé waarheen ek weens die weer nie kon gaan.
‘n land soos Venezuela wat geen visas toestaan.
Waarom dink ek tog vanoggend aan jou mond
in ‘n ver afgeleë plek soos Puerto Montt?

Puerto Montt
En sy? 
As ons in daardie tyd kon kontak maak, sou sy dalk 'n ongevraagde sms wou ontvang het van my uit die verre landskap? Daardie geliefde verewig in Verdraaide raaisels. Of sou sy, soos jy, oggendkoffie skink, besig wees met haar, die oggendkoerant lees en beplan oor hoe en waar hulle die Sondag sou beleef? 
Tegnologie soos e-pos en sms het miskien kommunikasie vinniger gemaak, maar la condition humaine bly presies dieselfde. Hoe meen die Franse nou weer? Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde ...
*



Nou is dit lafenistyd in die swembad voor die wynproe vanmiddag in Mendoza.

Here's looking at you kid!

Joan Hambidge