Bladsye / Pages

Sunday, August 24, 2014

Henry Jack Cloete - Draalnoot vir 'n Janfiskaal (2014)



Henry Jack Cloete, Draalnoot vir 'n Janfiskaal. Quellerie, 2014. ISBN 978 0 7958 0083 2
Resensent: Joan Hambidge 

I

Vir die gebruikers van die webwerf Fermata.com is selfmoordvideo’s iets om gedeel en gevier te word – die mees egte ervaring wat hulle kan beleef, en ook wat hulle kan skep. Daniël Roberts, eienaar en bestuurder van dié besonder gewilde webwerf, verkoop dit ook so aan sy gebruikers, maar wanneer hy vir die eerste maal in die openbaar oor Fermata.com praat op ’n televisiekletsprogram, gee dit aanleiding tot ’n reeks verstommende gebeure wat sy en ander se lewens onherroeplik verander.

So word hierdie debuutroman van Henry Cloete, musiekresensent en lid van die Skynmaagde – bemark. Op die voorblad is daar 'n kursor of pyltjie en die impak van e-posse en die internet word in hierdie roman ondersoek. Fermata word op bladsy 49 as volg beskryf: “’n Noot wat langer aanhou as wat die gewone notasie sou aandui. Die lengte van die volhoude noot word oorgelaat aan die diskresie van die dirigent of die kunstenaar wat dit uitvoer.”

Deesdae verwys ons eerder na selfdood as selfmoord en nou onlangs is die wêreld geraak deur die selfdood van die komediant en akteur Robin Williams. (Versindaba » Blog Archive » Joan Hambidge. Robin Williams. Besoek 21 Augustus 2014)

(In 'n endnota verduidelik die outeur waarom hy selfmoord bó selfdood verkies; waarskynlik omdat in die gemoed van die karakters die begrip selfmoord duideliker resoneer. Daar word selfs 'n noodlyn verskaf vir diegene wat dit oorweeg om so te gaan. Die skrywer ontken ook dat dit die hooftema van die roman is ...)

Wanneer mense aan hul eie hand sterf, laat dit vrae nie net oor die sin van die lewe nie, maar ook vrae oor waarom het mense na aan hierdie persoon nie die tekens raakgesien nie. Nou onlangs is daar op Beeld se voorblad twee selfdode van jong skoolmeisies wat hul self geskiet het met die vader se wapen, aangemeld. Hoe kom dit? Wat gaan in die jong mens se gemoed aan om so dramaties op te tree?

In hierdie roman word daar op die grieselige en die makabere gelet. 'n Oog wat uitgesteek word asof jy na 'n grufilm kyk en dink dit is tog nie werklik nie; 'n beskrywing van 'n mesaanval. ‘n Mens dink onder andere aan die verskillende rekenaarspeletjies waarin uitwissing die botoon voer. Al Alvarez se handleiding The savage god karteer die verskillende interpretasies van selfdood in die geskiedenis en hoe verskillende kulture daarop reageer. Hy begin ook sy studie met 'n verslag oor sy vriendskap met die digter Sylvia Plath en sy vriendskap met die egpaar Hughes.

II
Hierdie roman ondersoek die impak van die virtuele wêreld op die werklikheid en hoe mense dikwels iets aanpak op 'n webwerf wat die lewe dramaties kan verander.  Daniël Roberts se kletskamer word binnegedring met ontoelaatbare besoeke en sy fisiese adres word verskaf sodat mense hom wat die "record and upload"-funksie geskep het op die webwerf waar jy jou selfmoord kan registreer, dit dan in die werklikheid kom uitspeel. (Hieroor wil ek nie te veel verklap nie, want die spanning hieromheen, dra die verhaal.) Die vyf minute wat die selfoon of video-opname toelaat van die geregistreerde lid van die webwerf, word in die werklikheid iets langer: inderdaad 'n draalnoot!

Die verhouding met Megan Oosthuizen - as teenspeler - skep eweneens 'n ander belangrike teenpool, naamlik die rol van die pers en die etiek van so 'n proses.

Die roman lewer skerp kommentaar op die rol van moderne tegnologie en ons vind ook talle ikone in die teks - wat 'n mens terugneem na Thomas Pynchon se roman The crying of lot 49. [1]

Die Van Stadensbrug, die Aokigahara-woud in Japan, die Golden Gate, die George Washington Memorial Bridge, en ander selfmoordruimtes, word geaktiveer rondom die kultuur van selfdood. [2] Bladsy 174 bevat die sentrale moment van die roman wat handel oor die "swaard van vergelding" en hoe hy 'n gevangene geword het van die pyltjie op sy skerm: "Dan skree hy. 'n Primordiale, enkele, diep uitgerekte A-vokaal. Hy skree teen sy eie, allesomvattende impotensie. Hy skree teen sy selwe wat mekaar kniehalter ..."

Dit is 'n belowende debuut met 'n goeie sin vir komposisie en struktuur. Dit vra belangrike en tersaaklike vrae oor die impak van sosiale media op ons lewens, en les bes, hoe  ons werklike self van 'n internet-konstruksie kan verskil.

Hierom die ikoon waarmee die roman eindig: 'n draalnoot, omdat jy lank gaan nadink oor die implikasies van hierdie roman. Musiekkenners sou eweneens relevante temas kon inlees, maar hierdie leser is dit so in navolging van die Latynse aanhaling ("Sapiens vivit quantum debet, non quantum potest", 241), 'n roman wat soos 'n playstation-speletjie sy eie reëls neerlê.

Die boek het my weer geneem na Jeanne Els se As die stroom jou vat oor depressie en selfdood wat in 2011 by Tafelberg verskyn het en die raaisel van selfdood ondersoek.

Endnote:
[1]. Oor Kerneels Breytenbach se Piekniek by hangklip het ek in Stilet uitgebreid hieroor geskryf. Stilet 2012 (2) 1.

[2]. Aokigahara - Wikipedia, the free encyclopedia.  Besoek 24 Augustus 2014:

The site's popularity has been attributed to the 1960 novel Kuroi Jukai (Black Sea of Trees) by Seichō Matsumoto. However, the history of suicide in Aokigahara predates the novel's publication, and the place has long been associated with death: ubasute may have been practiced there into the nineteenth century, and the forest is reputedly haunted by the Yūrei (angry spirits) of those left to die.

[3]. Die gesprek met Thomas Pynchon

Thomas Pynchon se The crying of Lot 49 (1966) word beskou as ‘n baanbrekende teks binne die Amerikaanse postmodernisme. Die verhaal handel oor Oedipa Maas se hantering van die stryd tussen twee posdienste, te wete Thurn & Taxis en die Trystero. Vanaf die agtiende eeu is hierdie twee posdienste in ‘n stryd gewikkel en daar bestaan ‘n stel vervalste seëls as “bewysstuk” van hierdie stryd wat Oedipa probeer oplos in die sestigerjare in San Francisco Bay Area. Oedipa is dus die speurder wat orals tekens sien van hierdie stryd.

Die briewebokse word verdoesel as vuilgoedblikke waarop W.A.S.T.E. gegraveer is:  We await silent Tristero’s empire met ‘n ikoon wat beskryf word as ‘n “loop, triangle and trapezoid” (1982:34).

Vir ‘n duidelike aanwysing van  al die karakters in hierdie komplekse roman, is die wikipedia handig (The Crying of Lot 49 - Wikipedia, the free encyclopedia. Afgetrek 19/1/2012).
Trystero is ‘n kreatiewe skepping van Pynchon. Wanneer Oedipa se voormalige geliefde, Pierce Inverarity, sterf, word sy die ergenaam en ontdek as ‘n soort speurder dat alles nie pluis is met Trystero nie.

Sy is getroud met Wendell "Muncho" Maas, ‘n platejoggie in Kinneret en ‘n LSD-verslaafde. Hy is gaande oor die musiek van Sick Dick o.a. Sy het ‘n verhouding met Metzger, ‘n prokureur wat haar help met die testament. Sy regsfirma heet “Warpe, Wistfull, Kubitschek and McMingus”. Daar is ‘n “band”, The Paranoids en deur hierdie name lewer Pynchon satiriese kommentaar. Oedipa se shrink heet Dr. Hilarius en in aansluiting by Nabokov, wie se minagting vir psigoanalise bekend was, skryf hy LSD aan haar voor. 4. Verder blyk dit dat hy ‘n Nazi-dokter in Buchenwald was. Hier het hy deelgeneem aan ‘n program om Jode tot waansin te dryf. John Nefastis en Stanley Koteks is twee wetenskaplikes wat iets weet oor die Trystero, wat Oedipa probeer ontfutsel. Randolph Driblette is die regisseur van die drama The courier's tragedy, die drama wat Oedipa meemaak, omdat sy weet dat Driblette haar van inligting kan voorsien. Hy pleeg egter selfmoord. Mike Fallopian wat sy in ‘n kroeg ontmoet, blyk wel oor inligting te beskik oor die Peter Pinquid-vereniging. Genghis Cohen, ‘n filatelis, verskaf leidrade oor die ontslapene se seëlversameling. Dit is ‘n belangrike kode, omdat in die gesprekke tussen hom en Oedipa die kwessie van vervalsing na vore kom, wat die roman plaas binne die postmodernisme as ‘n vervalsing van die werklikheid. Professor Emory Bortz, is ‘n dosent aan San Narciso (‘n samestelling van San Francisco en narcisme), wat ‘n kenner is van Wharfinger se werk, die drama wat Oedipa sien. Hy blyk ook iets te weet oor Trystero, wat verdere onsekerheid oor die misterie in die hand werk.

Tanner wys daarop in sy studie oor Pynchon (1982: 56) dat hierdie verhaal die speurverhaal ómkeer. Die verhaal se misterie vermeerder hoe vérder dit ontwikkel, terwyl die leser juis ‘n oplossing verwag. Die naam Oedipa Maas aktiveer die eerste speurverhaal in die Westerse literatuur, te wete die Oedipus-verhaal met die oplossing van die raaisel en ondermyn dit terselfdertyd, want Maas beteken ook “my ass” en kan gelees word as ‘n bekende karakteriseringstegniek by Pynchon:“The relationship between individual and name is deliberately problematized – and caricatured –in Pynchon’s texts” (1982: 60). Elkeen wat ‘n leidraad het, wil dit nie bekend maak nie of sterf. Die speurverhaal beweeg tot sekerheid; iets wat Pynchon deliberaat omkeer: alles word juis al hoe meer duister en ingewikkeld.
In die derde hoofstuk staan daar:”Things did not delay in turning curious”(1982: 29) en daar etlike semiotiese aanwysings en leidrade gegee vir die leser, onder andere ook ‘n ikoon (1982: 34).

Hierdie ikoon (die sogenaamde “muted post horn”) word beskou as ‘n wyse van kommunikasie met diegene met onortodokse seksuele begeertes (1982: 75), die sogenaamde Inamorati Anonymous (IA). Hier skeer Pynchon die gek met geheime organisasies en kentekens wat lede van so ‘n groep kenbaar maak, soos ‘n geheime handdruk.
Die teks lewer kommentaar op die leesproses:

“Behind the initials was a metaphor, a delirium tremens, a trembling unfurrowing of the mind’s ploughshare. The saint whose water can light lamps, the clairvoyant whose lapse in recall is the breath of God, the true paranoid for whom all is organized in spheres joyful or threatening about the central pulse of himself, the dreamer whose puns probe ancient foetid shafts and tunnels of truth all act in the same special relevance to the word, or whatever it is the word is there, buffering, to protect us from” (1982: 89).

Die metafoor word gesien as iets wat sowel die leuen as die waarheid ontbloot; afhangend van jou posisie (“inside, safe, or outside, lost”).  ‘n Pornografiese eksemplaar van die drama blyk in die Vatikaan beskikbaar te wees (1982: 105). Daar is eweneens ‘n speelse verwysing na Nabokov op bladsy 101.

Die roman wentel rondom misverstande en opsetlike foute. REPORT ALL OBSCENE MAIL TO YOUR POTSMASTER, sic. (1982: 30) aktiveer die onbestendigheid van alles. Selfs die poskantoor maak ‘n fout, seëls word vervals en daar is telkens verwysings na hiërogliewe wat die leser (en karakters) moet ontsyfer. Die Trystero kan nie vertrou word nie (“trust”) (1982: 70) Verder word absurde insidente gebruik om die gegewe te ontluister soos ‘n snotgooi-kompetisie en sarkastiese opmerkings word gemaak oor homoseksualiteit (1982: 50) en psigoanalise wat politiek korrektheid ondermyn. In die slot van die roman is Loren Passerine ‘n poppemeester; die verteller in hierdie roman en by Breytenbach, is eweneens ‘n soort poppemeester.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)


Monday, August 11, 2014

Harry Kalmer - 'n Duisend stories oor Johannesburg (2014)



Harry Kalmer : 'n Duisend stories oor Johannesburg. Queillerie, 2014. ISBN 978 0 7958 0080 1
Resensent: Joan Hambidge

I

Wat kom na postmodernisme?, is die vraag by vele literatuurteoretici. Nie dat modernisme en postmodernisme so eenvoudig geskei kan word nie, maar ek is van mening dat Harry Kalmer se jongste roman, 'n Duisend stories oor Johannesburg hierdie vraag ten dele beantwoord. Daar kom 'n terugbeweeg  na die belangrikheid van die storie.

Hierdie roman is 'n simfoniese roman wat die leser aanspoor om die teks in enige volgorde te lees, soos Julio Cortázar se Hopscotch (1963/1966). Hiermee wil die teks dus die chronologie van die roman met opset ondermyn. Hierdie leser het inderdaad die boek begin by Deel sewe wat heet Die digbundel. Bosman Hiemstra se blik-op-sake.

Maar die roman begin letterlik by die Anglo-Boereoorlog en die belangrike interteks van hierdie roman wat tipeer word as stadsroman, is Totius se Trekkerswee. Daardie belangrike e-pos in Afrikaans wat deur D.J. Opperman herdig word in sy voortreflike gedig "Ballade van die grysland" en waar Opperman Totius as motto gebruik:

Die vroegre boere-paradijs
is nou één molshoop, groot en grijs.
Totius (Trekkerswee)

Die leser kan die teks van Totius se gedig Trekkerswee op die Gutenberg.org-webwerf aflaai. Met die Pierneef-etse daarby.

Die titel aktiveer uiteraard die beroemde 1001-en-een-Nagte met die vertel van stories wat die dood uitstel. Hierdie stadsroman bekyk die invloed van Le Corbusier en die veranderende argitektuur van Johannesburg / Egoli / Jozi, wat in hierdie roman 'n skiso-stad beskryf word, met ander woorde, wat sowel die oue as die nuwe berg. Die roman lewer ook kommentaar op die periode van tagtig toe Kalmer op die toneel verskyn het, die invloed van Stet, Koos Prinsloo, grensliteratuur en hoe almal in hierdie tydperk deur die postmodernisme beïnvloed is. Daar is tersydes - in die mond van 'n karakter, uiteraard - oor Prinsloo se onoorsponklikheid en hoe mense in hierdie tydperk deur aanhalings en geykte tekste gevorm is. (Kalmer was weer op sy beurt dalk 'n karakter in 'n Koos Prinsloo-verhaal in Jonkmanskas.) 

Die implisiete outeur in hierdie roman haal eweneens uit vele bronne aan - en Italo Calvino se epogmakende Invisible cities (1972) - wat weer 'n bepalende invloed gehad op Opperman tydens die skryf van Komas uit 'n bamboesstok - is 'n ander sleutel tot die leesaksie. Boonop is daar in 'n skrywersnota belangrike erkennings na invloede en wat op 'n karakter se boekrak staan! (Vide bladsy 315 en 316). Die boek moet ook as 'n pendant gelees word van Ivan Vladislavic se Portrait with keys - 'n boek met 138 genommerde verhale oor Johannesburg wat in 2006 verskyn het. Ons verneem ook dat stories opgeteken word en dat mense nie die waarheid vertel in Kalmer se roman (139). Hierdie roman is 'n storie-projek met verwysings na Ferris Malouf, die drag queen, wat opdress en verskillende historiese karakters vertolk.

En 'n roman mag die waarheid buig of verdraai, merk 'n ander karakter op. Hayden White sou hierdie roman as besonders ervaar en die optrede van 'n amateur-digter sorg vir humor. Net soos die grappies dat iets "semioties diep" is (187). 'n Bloedskendige verhouding sorg vir onrustigheid en die roman beweeg tussen grap en erns en die Vlieger-rubrieke indertyd in Rapport was goeie vingeroefeninge vir hierdie roman. Clive Chipkin, David Goldblatt en Charles van Onselen se werk as biograwe word ook vermeld in die nawoord, soos ander jonger stemme.

II

Die roman maak van jou as leser 'n stadsbeplanner. Wat jy saamplaas, verraai hoe jy hierdie boek lees en waardeer. Vir my handel dit o.a. oor die betekenis van taal, die oplet van taalfoute en die hou van 'n joernaal om trauma te verwerk (33). Die hantering van 'n traumatiese dood van 'n geliefde en die terapeut se aanwysing om alles in die hede op te teken, is op die roman van toepassing: alles word nou beleef, selfs die dood van sy grootouers, en dus ook, die geskiedenis van sy land.

Zweig wat die seun van 'n boekhandelaar is wat boeke moet neem vir Bram Fischer. Die ander belangrike aspek van hierdie roman is die politieke verloop (ABO, die struggle, die bevryding, die nuwe Suid-Afrika en slopende geweld) wat soos myntonnels gevolg kan word. 

Moby Dick, Waiting for the barbarians, die toespelings op Jeanette Winterson, die uitmuntende hanteerder van die simfoniese teks, is stutte wanneer jy in hierdie boek se myntonnels ingaan. Elke leser sal 'n ander storie "foreground". Daar is Jakob se verhaal, Cherie s'n; dié van Richard, Bosman, Dubček, e.a. Daar is "in"-grappies: 'n digbundel word genoem Die irritasie van simboliek in 'n roman vol simbole.

Le Corbusier speel 'n uiters belangrike rol, nes Ovidius se Metamorfoses en hoe ironies dat Le Corbusier ook sý naam verander het!

Daar is 'n sirkelgang te bespeur en die verwysings na die Arabiese wêreld word slim geaktiveer met 'n ikoon (die teken as teiken!) wat die vertellings opbreek. Dalk 'n ewigheidsteken ten slotte?

Soos Le Corbusier se Oop Hand-monument, moet hierdie boek gelees word as 'n teks wat sý hand oophou vir verskillende betekenisse en interpretasies.

Dalk te veel slimmighede? Te veel verwysings? Uiteindelik werk dit vir hierdie leser.

Is Johannesburg 'n nuwe Ninevé? En so is ons terug by Totius en Opperman.

Johannesburg jy's waarlik ja
die glorie van Suid-Afrika  (Trekkerswee).

Bronne:



MARTIENSSEN was the leader of what LE CORBUSIER dubbed 'le Groupe Transvaal', the so-called Transvaal Group on receipt of a copy of zerohour in 1933 from MARTIENSSEN who was again in Europe, where in Paris he visited LE CORBUSIER. LE CORBUSIER introduced MARTIENSSEN to the work of Leger which influenced MARTIENSSEN's attitude to modern European art. In December 1937 MARTIENSSEN married Heather Bush, a talented student at the School of Architecture. Together they spent about six months in Europe, enjoying further meetings with LE CORBUSIER and with Leger. In 1936/1937 FASSLER visited Europe and met LE CORBUSIER in Paris in 1937, where he acquired one of his paintings. LE CORBUSIER dedicated the second volume of the Ouevre Complet to the Transvaal Group. The sketch book, "LE CORBUSIER" of Ken BIRCH lodged at the UNISA Library, contains a sketch made by the architect when they met for the first time in Paris, 1936.

In 1939 le Corbusier wrote to MARTIENSSEN from a threatened Paris enquiring about possible work for him in Johannesburg and Martienssen had to discourage him from any such hopes, proposing instead a three week lecture tour by Le Corbusier in South Africa, sponsored by subscription in South Africa. Nothing was to come of this proposal, partly due to the outbreak of the Second World War.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)

Saturday, August 9, 2014

Irvine Welsh - The sex lives of Siamese twins (2014)


Irvine Welsh - The sex lives of Siamese twinsJonathan Cape / Jonathan Ball, 2014. ISBN 978 0 224 08789 6
Resensent: Joan Hambidge

Daar is twee skrywers wat morele grense uitdaag, te wete Irvine Welsh en Michel Houellebecq. Beide laat jou ril en maak jou dikwels uiters onrustig, maar is terselfdertyd meesleurende storievertellers en uitdagende stiliste. Die een Skots, die ander Frans. Toe Welsh gedebuteer het met Trainspotting (1993) kon niemand voorsien dat hy die pas sou volhou nie en met Filth (1998) - wat nes sy debuut verfilm is - het hy hom as die meester van die transgressiewe gevestig, dit wat ons waarskynlik kon beskryf as "hiper-realisme" of selfs "dirty realism".

Met sy jongste roman klim hy kaalvuis in onder die Amerikaanse obsessie met die lyf en voorkoms. Die verhaal begin - en hier is die satiriese Welsh natuurlik aan die werk - wanneer Lucy Brennan, 'n "personal trainer", vir Lena Sorensen, 'n "small fat chick" ontmoet. In Miami. Toevallig. In 'n geweldstoneel wat Lena afneem. Reeds in hierdie kort gegewe maak Welsh 'n skerp analise van die moderne Amerikaanse samelewing: lyfobsessie, geweld, die oralaanwesige, priemende, kliekende moderne media ...

En dan besluit Lena om gewig te verloor en Lucy word haar "trainer". En presies die teenoorgestelde gebeur, tipies Irvine Welsh, wanneer Lucy meer besete raak met Lena as wat die leser sou verwag. Welsh laat hom nooit deur "lesersverwagtinge" voorskryf nie. Hy fnuik dit van ammelee se dae. En presies dít maak hom so 'n goeie skrywer. Jy onthou die dooie babatjie in die kot na 'n nag van dwelmroesemoes en hoe hy uitstel oor die gevolge hiervan in Trainspotting?

In sy jongste roman is Lena van Boston en Lucy van Minnesota en hulle ontmoet in Miami. Sadomasochisme is onderliggend aan hierdie verhouding, wat teen die meeste lesers se morele grein sal ingaan. Gemorskos en "fast food sex" word in jou keel afgedruk. Reeds die titel aktiveer die fantasie van die ongerymde: hoe sou 'n siamese tweeling se sekslewe daar uitsien? Dis 'n roman so reg in die Jerry Springer-kraal: 'n verheerliking van die afwykende en grillige. Trouens, as jy oorgewig is in die sonvelde van Miami word jy hanteer as 'n melaatse, vertel hierdie roman. En ja, die vetste mense het ek in die VSA gesien.

Welsh is tans woonagtig in Chicago en hy verstaan dus die verpletterde Amerikaanse droom ten volle. Hierom dat terme soos Amerika, demokrasie, Vryheid en God vandag alleen spottend en ironies gebruik word, mymer ‘n verteller. Die slot is skokkend en sinies oor die rol van kuns en letterkunde in ons samelewing. Uiteraard sou die kritiese leser ook die uitsprake op Welsh se skryfwerk van toepassing kon maak; of dalk dink hy die uitsprake oor “crappy novels” en “fake asses”  is nie op hóm van toepassing nie?

Die boek is veelstemmig: notaboeke, oggendmeditasies, e-posse, vertellings in kursief aangebied. Hierdie tegnieke is eweneens aanwesig in Sarah Lotz se onlangs verskene roman The three en hierom lyk dit bykans na ‘n nuwe modegier binne die moderne  romankuns. Dalk kommentaar dat daar soveel stemme is dat geen styl meer baas speel oor ‘n ander nie? Dat selfs skyfsels op Facebook deesdae paradeer as skryfwerk?

Op 'n keer het Houellebecq opgemerk: "I admit that invective is one of my pleasures. This only brings me problems in life, but that's it. I attack, I insult. I have a gift for that, for insults, for provocation. So I am tempted to use it."  'n Mens kan hierdie opmerking eweneens van toepassing maak op Irvine Welsh.

Welsh, soos sy Franse skryfvennoot, hou jou aandag; bykans soos by 'n motorongeluk waar jy teen wil en dank kyk na die lyke. Beide weet watter knoppies om te druk sodat jy verder lees aan 'n mistroostige, opgefoeste bestaan

Maar skryf kan hy skryf. Dis nou maar wors. Ek moet bely ek is reeds besig met Porno (2002), terwyl Lars von Trier se Antichrist knor in die dvd-speler. Moreel staan dit my egter nie aan; ek bewonder wel hierdie uitinge as siniese kunswerke.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld.)

Saturday, August 2, 2014

Francois Smith – Kamphoer (2014)



Francois Smith – Kamphoer. Tafelberg, 2014. ISBN 978 0 624 06551 7
Resensent: Joan Hambidge

I
Kamphoer is die romandebuut van die redakteur, Francois Smith. Dit vertel die verhaal van Susan Nell, 'n vrou wat wreedaardig verkrag is tydens die Anglo-Boereoorlog en jare later gekonfronteer word met haar boosdoeners. Die eerste ontmoeting vind plaas tydens die Eerste Wêreldoorlog in 'n Britse militêre hospitaal waar sy trauma-begeleiding doen. Die tweede ontmoeting vind plaas ná 'n verhoor van die Tweede Wêreldoorlog.

Dit is bepaald 'n pakkende roman op verskillende vlakke. Dit is egter jammer dat die buiteflap met die volgende taal die boek bemark: "En in die proses word sy teruggestamp in 'n bomkrater wat sy geglo het lank reeds toegegroei het en veilig bedek was". Ons sien verder op dat 'n "warrelwind" deur haar ruk. En die roman hou jou in 'n "yskoue greep".

In die eerste instansie word die gegewe van die ABO-oorlog op 'n nuwe wyse bekyk, en meer spesifiek, deur die oë van 'n vrou as slagoffer aan die hande van die Britse mag. Die hoogs emosionele onderwerp van verkragting word besonder goed hanteer.

In die tweede instansie het ons 'n manlike skrywer wat hom índink in die ervaringe van 'n vroulike subjek en die verhaal goed vertel. Vir genderteoretici is dit dan 'n belangrike blikhoek en veral Hélène Cixous se bekende essay Sorties (Exits) opgeneem in The newly born woman (1975) is hier relevant oor die konkaaf/konveks-spanninge in skryfwerk. Die feministiese leser sou dus bedag wees op 'n manlike blik of dalk 'n onvermoë om oor intiem-vroulike emosies en liggaamlikheid te skryf. Smith verbeeld die emosionaliteit van die vroulike spreker en háár ervaring van liggaamlikheid op 'n oortuigende wyse. Veral die gevoel dat sy verminder is deur die verkragting, word uiters simpatiek beskryf (64):

"Die swartes sing, maar dit maak niks nie, dit vat niks weg nie. Hulle kan maar met my maak wat hulle wil. Ek is nikswerd. Die Here sal my uit sy mond spoeg. Hoer is my naam! En uit sy mond kom 'n tweesnydende swaard en zijn aangezicht was gelijk de zon schijnt in haar kracht, gelijk de zon schijnt in haar kracht".

In die derde instansie erken die skrywer in 'n nawoord dat die gegewe gebaseer is op die werklikheid. Nico Moolman se The Boer Whore is die interteks wat die outeur Smith herskryf het in 'n fantasieryke verhaal. Die verhaal van Susan Nell, 'n bywonersdogter, wat op 1 Januarie 1902 in die Winburgse konsentrasiekamp deur twee Britse offisiere en 'n joiner verkrag is, kom in hierdie roman aan bod. Sy word gered deur 'n Sotho-man toe sy van die kamp se lykswa afval. In Kaapstad word sy versorg deur mevrou Marie Koopmans-De Wet en gaan uiteindelik na Nederland waar sy in die psigiatrie opgelei word. Francois Smith vertel nie haar volle lewensverhaal nie. Pynlik om te verneem dat haar naam nie vermeld word in die Winburgse konsentrasiekamp nie. Ons weet almal dat vele mense wat gesterf het in hierdie oorlog onbekend gebly het. Die ongemerkte graf in Winburg, langs
haar vriendin Alice Draper, behoort aan haar. En hierdie boek ontruk haar aan die vergetelheid, gee aan daardie graf 'n naam. Die graf dra ook die naam van Ntauleng ...

In die vierde instansie is hierdie teks vir die psigoanalitiese leser 'n belangrike teks. Die spanning tussen ego/alterego (Jung), die verhouding met Tiisetso (en die voorvadergeeste) en die verhouding tussen dood en lewe word vernuftig hier uitgebou. Op bladsy 95 is daar eweneens 'n subtiele toespeling op DJ Opperman se "Sprokie van die spikkelkoei", 'n gedig wat handel (o.a.) oor die spanning tussen fabel en die bo-natuurlike:

"Die spikkelkoei, die een met kolletjies soos 'n tarentaal, die bont ene, dít is die koei".

Die hele teks sit vol kodes vir die leser wat die chora (fuik) van hierdie teks wil opvolg (88), net soos die gebruik van die begrip "deurwurm" (70) waar die indrukke van beelde en herinneringe en die impak op die hoofkarakter se binnespraak beskryf word, dikwels in poëtiese taal. ('n Hoogtepunt is hoofstuk tien.) Sy is immers opgelei as verpleegster in die psigiatrie (69) en in hierdie tyd het Freud al van sy belangrikste werk gelewer oor die onbewuste. Daar is verwysings na Reymaker Psichiatrie. En die semantiese verskille tussen "bomskok" en oorlogskok word eweneens verduidelik. Freud is in die teks. Op bladsy 232 word daar verwys na die belangrike teks: Oor die psigopatologie van die alledaagse lewe.

In die vierde instansie word die verwysings- en beleweniswêreld van Sotho-mense oortuigend verhaal. Die vertelperspektief word afwisselend van buite én binne vertel. Die roman val ook met die deur in die huis met die konfrontasie met 'n boosdoener wanneer sy die merk op sy oor sien (8). 

Dit is jammer van die flapteks - wat die roman te populisties laat klink - en die deurslaan van die implisiete outeur se stem op bladsy 58 waar Susan dink die vrou is 'n parodie van die tipiese streng matrone. Ek is van mening dit sou nie pas in die tyd nie. Hierdie roman is inderdaad 'n tweesnydende swaard. Dit vertel meer as 'n verhaal van konfrontasie met diegene wat jou skade berokken het.  Hurst, ook, word goed geteken. Dit is eweneens 'n analise van die geskiedenis, maar veral 'n komplekse teks waar die duiwels onder draai. Dit neem sy plek in langs tekste oor die boereoorlog en trauma-letterkunde in die algemeen.

Dit is geskryf met 'n onuitwisbare pen. Vir my aangrypend, veral oor die slim hantering van Freud, et al.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)

Clinton V. du Plessis – Rangeer (2014)


Clinton V. du Plessis – Rangeer. Ama-Coloured Slowguns, 2014. ISBN 978 062055604 0
Resensent: Joan Hambidge

Clinton V. du Plessis hou hom buite die kanon. Hy het onder meer pertinent geweier om deel te wees van Groot verseboek en hiermee ’n literêr-politieke stelling gemaak. Een wat ’n mens kan begryp, maar tog is dit jammer dat die digter homself buite die bloemlesing hou. En die mag van bloemlesings is nou onlangs bewys met Die gewildste Afrikaanse gedigte: Afrikaanse lesers hou by bekende verse – dit wat reeds in die ou verseboeke staan.

Nou onlangs het Luc Renders, ’n gesiene Vlaamse kritikus, by die ALV-kongres gewys op die unieke posisie van Du Plessis binne die Afrikaanse letterkunde. Rangeer is ’n selfpublikasie, met ander woorde, dit is nie deel van die bemarkingsproses van hoofstroomuitgewers nie. Sulke digters kan dikwels buite in die koue bly. Of tog relevante kontrastemme wees. Bykans soos sommige filmmakers – ek dink hier aan Jim Jarmusch, wat waarskynlik sy beste werk as selfvervaardiger gelewer het.

Die voorblad is van twee treine (tussen stasies?) met ’n verweerde geboutjie in die agtergrond. Dit blyk die Hilton-spoorwegstasie in KwaZulu-Natal te wees. Op die agterblad word die bundel aangeprys deur Fanie Olivier, self ’n digter wat hom verkeerdelik buite die kanon bevind, weens ’n lang verblyf in Pole. Olivier word onderskat.

Du Plessis se sewende bundel word opgedra aan sy vader. In die tyd van stoom, steenkool, stasies en stories. Met ander woorde, daardie tyd vóór die internet, Facebook, sms’e – toe mense nog in lewende lywe kontak met mekaar gehad het.

Dit is gedigte van onvervuldheid en nostalgie, na ’n verlange om soos ’n losskakel “knap vir die kantlyn (te) kon skop” (21).

Die verse is grinterig en rou. Dikwels handel die gedigte oor ’n persoon wat terugkyk na die onregte van apartheid en die daarmee gepaardgaande ellendes. In “Surplus” (77) word die lotgevalle van die swart migrasiewerker ondersoek, met die leuens van vakbonde en mynbase wat net die helfte van ’n salaris inbetaal:

’n man sonder ’n werk
is ’n arend sonder ’n vlerk

hierdie keer is hy
deur die skerpkant van die lewe besny. (78)

Hierteenoor gaan “Heelal in my tuin” (79) oor die misterie in die eenvoud van die natuur:

Die tuinslak gaan, sonder verset, sy gang.

Die verse werk in die algemeen met ’n beeld-en-toepassing-konstruksie.

Sommige verse sou waarskynlik met ’n tweede en derde snoeiingsproses meer vaartbelyn kon wees. Maar ’n handvol verse, soos “Smeul” (wat volledig aangehaal word), vergoed hiervoor:

Smeul

Arm is soms net ’n gebrek aan oorvloed
niks minder, niks meer,
met elke spoorweghuis
kom die stoof, ’n Welcome Dover
swart, op vier pote, kom katstaan hy met
rug geboggel
die kaggel vol,
wyd was hy, met plek vir vier potte,
’n ketel vir koffie- en waswater,
’n oond vir bakbrood,
gemaak vir gesinne,
winters kon ons maklik vier-vyf
voor hom inskuif
op die lang bank,
dit was voor televisie
ek kon fabels in die vlamme lees
sien hoe die kole rooi gloei
om later tot as dood te bloei
soms het ek só gebrand om
weg en uit te kom,
baie kere was daar net brood
en moerkoffie, gebakte kerrie-uie, of brood
met uitgebraaide skaapvet
maar altyd-altyd was daar iets, al was dit net-net,
eendag het ma die grammofoon verkoop
met die hele hoop
plate waarna ek so graag geluister het,
dit het my hart gebreek,
fyn, soos antrasiet,
ek het maande lank daaroor getreur
eers ’n leeftyd later het ek dit verstaan:
hulle móés net oorleef,
soos daardie vasberade vuur, in die kaggel
elke uitputtende dag,
aanhou brand,
aanhou smeul,
vir ons.

Die digter ondervang waarskynlik baie van die struktuur-besware van ’n kritikus soos die uwe. Hy noem homself “die minor poet met geen major literary ambitions” (“Aan die gatkant van die maan”, 44).

Die skryfproses word deur die digter gesien as ’n dobbel met 26 letters (34) en die liefde word dikwels vanuit ’n siniese posisie besigtig.

Die digter het ook ’n sterk satiriese blik op die “nuwe tye” waarbinne ons leef, soos beskryf in “Durban” (36):

ons land is ’n bomgeskokte troepie
met post-traumatic stress disorder.

In “Spare parts”, ’n ars poëtiese vers, voel ’n mens dat die digter waarskynlik self die beperkinge van sy digterskap insien?

maar die digter bly die ewige appy
en die volmaakte vers luier onhoorbaar ver
bly buite bereik, soos die verruklike vy-ryp Miss November
teen die muur, op Pirelli-tyres se kaalbaskalender. (87)

’n Mens moet die spore in die bundel noukeurig volg. Treinspoor en die spore van herinnering word teenoor mekaar geplaas.

’n Hoogs vermaaklike vers is die satiriese gedig oor Antjie Krog se voorlesing op Stellenbosch en hoe haar gebruik van kragwoorde die toehoorders ontstig het. Krog die dramatiese performer word hier vanuit ’n buiteblik beskou en raak opgesom:

jy vergeet dat jy nog geraak en geroer kan word,
sy het unlady anne like, voortgefok
soos ’n (k)aktivis van formaat
voortgevers, die moer
op daardie kampus tot in sy fondamente geroer
met woorde, soos met kak,
die taalbulle ontstig, verloopte dogmas oopgebeitel:
kuns & kultuur
(…) (111)

“Nuwe alfabet” (128) praat terug met Antjie Krog en Dan Roodt se aftelverse, en die praatvers “Korporatiewe Joernaal(Inskrywings)” (134) gee ’n blik op die impak van kapitalisme op die psige – en eindig:

die hemel is ’n maatskappy sonder winsbejag.

En in “E-pos aan Ulrike Meinhof & Andreas Baader” (139) word hierdie twee figure ’n ikoon vir die spreker:

kapitaal is ’n belegger sonder ’n gewete
kom laat die bomme blom! (139)

Daar is ’n aweregse gesprek met Koos Kombuis wat heet: “(Nie) almal wil ’n huisie by die see hê (nie)” (132) en op romantiese versugting dui:

& elke serious digter wil tussen alles net nog ’n laaste stunning
gedig skryf
wat sal bly voortbestaan lank na die onafwendbare aftakeling
van hierdie lyf.

Romantiek bruis onder nihilisties-siniese verse. Ingrid Jonker se “Die kind” word herdig in “Die taal” (119) en “’n Nag in die winter” (112) is ’n pastiche van “Winternag”.

Daar is eweneens ’n speelse aanslag:

Klein kwatryn

daddy is op cat
mammie dink sy is hopeloos te vet

sussie is op die pil
& boetie wys braaf op mxit sy tril. (122)

In “Oor gedigte” (120) word die invloed van die digkuns debunk en bevestig. Koos Kombuis en Bukowski is kennelik twee ghoeroes vir die digter (“Digter incorporated”, 105). Nes Bruce Springsteen. In die nawoord, “Gedigte, talk show hosts & reality shows”, karteer hy die digkuns vanuit die postmodernisme.

Soos dit ongelukkig dikwels gebeur in selfpublikasies, is daar ’n paar hinderlike foute wat uitgestryk kon gewees het:

Hempde in plaas van hemde (17)
’n spasie voor die komma (81)
Kulturatti in plaas van kulturati (115)
Brummer in plaas van Brümmer (131).

Wanneer die digter wél “windgat sy sê met ’n spin en dice (te) kan sê” (87), soos in ’n handvol verse hier bo uitgesonder, raak hy ’n mens. Party verse kon gebaat het by nog ’n afwerking of herdigting.


Eindnota


Kort biografie afgetrek van Versindaba

Clinton V. du Plessis publiseer verskeie dig- en kortverhaalbundels, waaronder geloofsbelydenis van ’n kluisenaar, curriculum vitae, in god’s country: no 2–21, Tussentydse verslag, Kort van draad en Brunch met twee.

Van sy werk is ook in ’n hele aantal plaaslike en oorsese bloemlesings opgeneem en hy lees gedigte voor by kunstefeeste, insluitende die Twee tot Twaalf-fees in Nijmegen, Nederland.

Nadat hy drie en ’n half jaar as rekenmeester in Johannesburg gewerk het, is hy terug op Cradock, waar hy voltyds skryf en ook optree as rubriekskrywer vir Rapport en LitNet.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Litnet.)