Bladsye / Pages

Saturday, August 2, 2014

Clinton V. du Plessis – Rangeer (2014)


Clinton V. du Plessis – Rangeer. Ama-Coloured Slowguns, 2014. ISBN 978 062055604 0
Resensent: Joan Hambidge

Clinton V. du Plessis hou hom buite die kanon. Hy het onder meer pertinent geweier om deel te wees van Groot verseboek en hiermee ’n literêr-politieke stelling gemaak. Een wat ’n mens kan begryp, maar tog is dit jammer dat die digter homself buite die bloemlesing hou. En die mag van bloemlesings is nou onlangs bewys met Die gewildste Afrikaanse gedigte: Afrikaanse lesers hou by bekende verse – dit wat reeds in die ou verseboeke staan.

Nou onlangs het Luc Renders, ’n gesiene Vlaamse kritikus, by die ALV-kongres gewys op die unieke posisie van Du Plessis binne die Afrikaanse letterkunde. Rangeer is ’n selfpublikasie, met ander woorde, dit is nie deel van die bemarkingsproses van hoofstroomuitgewers nie. Sulke digters kan dikwels buite in die koue bly. Of tog relevante kontrastemme wees. Bykans soos sommige filmmakers – ek dink hier aan Jim Jarmusch, wat waarskynlik sy beste werk as selfvervaardiger gelewer het.

Die voorblad is van twee treine (tussen stasies?) met ’n verweerde geboutjie in die agtergrond. Dit blyk die Hilton-spoorwegstasie in KwaZulu-Natal te wees. Op die agterblad word die bundel aangeprys deur Fanie Olivier, self ’n digter wat hom verkeerdelik buite die kanon bevind, weens ’n lang verblyf in Pole. Olivier word onderskat.

Du Plessis se sewende bundel word opgedra aan sy vader. In die tyd van stoom, steenkool, stasies en stories. Met ander woorde, daardie tyd vóór die internet, Facebook, sms’e – toe mense nog in lewende lywe kontak met mekaar gehad het.

Dit is gedigte van onvervuldheid en nostalgie, na ’n verlange om soos ’n losskakel “knap vir die kantlyn (te) kon skop” (21).

Die verse is grinterig en rou. Dikwels handel die gedigte oor ’n persoon wat terugkyk na die onregte van apartheid en die daarmee gepaardgaande ellendes. In “Surplus” (77) word die lotgevalle van die swart migrasiewerker ondersoek, met die leuens van vakbonde en mynbase wat net die helfte van ’n salaris inbetaal:

’n man sonder ’n werk
is ’n arend sonder ’n vlerk

hierdie keer is hy
deur die skerpkant van die lewe besny. (78)

Hierteenoor gaan “Heelal in my tuin” (79) oor die misterie in die eenvoud van die natuur:

Die tuinslak gaan, sonder verset, sy gang.

Die verse werk in die algemeen met ’n beeld-en-toepassing-konstruksie.

Sommige verse sou waarskynlik met ’n tweede en derde snoeiingsproses meer vaartbelyn kon wees. Maar ’n handvol verse, soos “Smeul” (wat volledig aangehaal word), vergoed hiervoor:

Smeul

Arm is soms net ’n gebrek aan oorvloed
niks minder, niks meer,
met elke spoorweghuis
kom die stoof, ’n Welcome Dover
swart, op vier pote, kom katstaan hy met
rug geboggel
die kaggel vol,
wyd was hy, met plek vir vier potte,
’n ketel vir koffie- en waswater,
’n oond vir bakbrood,
gemaak vir gesinne,
winters kon ons maklik vier-vyf
voor hom inskuif
op die lang bank,
dit was voor televisie
ek kon fabels in die vlamme lees
sien hoe die kole rooi gloei
om later tot as dood te bloei
soms het ek só gebrand om
weg en uit te kom,
baie kere was daar net brood
en moerkoffie, gebakte kerrie-uie, of brood
met uitgebraaide skaapvet
maar altyd-altyd was daar iets, al was dit net-net,
eendag het ma die grammofoon verkoop
met die hele hoop
plate waarna ek so graag geluister het,
dit het my hart gebreek,
fyn, soos antrasiet,
ek het maande lank daaroor getreur
eers ’n leeftyd later het ek dit verstaan:
hulle móés net oorleef,
soos daardie vasberade vuur, in die kaggel
elke uitputtende dag,
aanhou brand,
aanhou smeul,
vir ons.

Die digter ondervang waarskynlik baie van die struktuur-besware van ’n kritikus soos die uwe. Hy noem homself “die minor poet met geen major literary ambitions” (“Aan die gatkant van die maan”, 44).

Die skryfproses word deur die digter gesien as ’n dobbel met 26 letters (34) en die liefde word dikwels vanuit ’n siniese posisie besigtig.

Die digter het ook ’n sterk satiriese blik op die “nuwe tye” waarbinne ons leef, soos beskryf in “Durban” (36):

ons land is ’n bomgeskokte troepie
met post-traumatic stress disorder.

In “Spare parts”, ’n ars poëtiese vers, voel ’n mens dat die digter waarskynlik self die beperkinge van sy digterskap insien?

maar die digter bly die ewige appy
en die volmaakte vers luier onhoorbaar ver
bly buite bereik, soos die verruklike vy-ryp Miss November
teen die muur, op Pirelli-tyres se kaalbaskalender. (87)

’n Mens moet die spore in die bundel noukeurig volg. Treinspoor en die spore van herinnering word teenoor mekaar geplaas.

’n Hoogs vermaaklike vers is die satiriese gedig oor Antjie Krog se voorlesing op Stellenbosch en hoe haar gebruik van kragwoorde die toehoorders ontstig het. Krog die dramatiese performer word hier vanuit ’n buiteblik beskou en raak opgesom:

jy vergeet dat jy nog geraak en geroer kan word,
sy het unlady anne like, voortgefok
soos ’n (k)aktivis van formaat
voortgevers, die moer
op daardie kampus tot in sy fondamente geroer
met woorde, soos met kak,
die taalbulle ontstig, verloopte dogmas oopgebeitel:
kuns & kultuur
(…) (111)

“Nuwe alfabet” (128) praat terug met Antjie Krog en Dan Roodt se aftelverse, en die praatvers “Korporatiewe Joernaal(Inskrywings)” (134) gee ’n blik op die impak van kapitalisme op die psige – en eindig:

die hemel is ’n maatskappy sonder winsbejag.

En in “E-pos aan Ulrike Meinhof & Andreas Baader” (139) word hierdie twee figure ’n ikoon vir die spreker:

kapitaal is ’n belegger sonder ’n gewete
kom laat die bomme blom! (139)

Daar is ’n aweregse gesprek met Koos Kombuis wat heet: “(Nie) almal wil ’n huisie by die see hê (nie)” (132) en op romantiese versugting dui:

& elke serious digter wil tussen alles net nog ’n laaste stunning
gedig skryf
wat sal bly voortbestaan lank na die onafwendbare aftakeling
van hierdie lyf.

Romantiek bruis onder nihilisties-siniese verse. Ingrid Jonker se “Die kind” word herdig in “Die taal” (119) en “’n Nag in die winter” (112) is ’n pastiche van “Winternag”.

Daar is eweneens ’n speelse aanslag:

Klein kwatryn

daddy is op cat
mammie dink sy is hopeloos te vet

sussie is op die pil
& boetie wys braaf op mxit sy tril. (122)

In “Oor gedigte” (120) word die invloed van die digkuns debunk en bevestig. Koos Kombuis en Bukowski is kennelik twee ghoeroes vir die digter (“Digter incorporated”, 105). Nes Bruce Springsteen. In die nawoord, “Gedigte, talk show hosts & reality shows”, karteer hy die digkuns vanuit die postmodernisme.

Soos dit ongelukkig dikwels gebeur in selfpublikasies, is daar ’n paar hinderlike foute wat uitgestryk kon gewees het:

Hempde in plaas van hemde (17)
’n spasie voor die komma (81)
Kulturatti in plaas van kulturati (115)
Brummer in plaas van Brümmer (131).

Wanneer die digter wél “windgat sy sê met ’n spin en dice (te) kan sê” (87), soos in ’n handvol verse hier bo uitgesonder, raak hy ’n mens. Party verse kon gebaat het by nog ’n afwerking of herdigting.


Eindnota


Kort biografie afgetrek van Versindaba

Clinton V. du Plessis publiseer verskeie dig- en kortverhaalbundels, waaronder geloofsbelydenis van ’n kluisenaar, curriculum vitae, in god’s country: no 2–21, Tussentydse verslag, Kort van draad en Brunch met twee.

Van sy werk is ook in ’n hele aantal plaaslike en oorsese bloemlesings opgeneem en hy lees gedigte voor by kunstefeeste, insluitende die Twee tot Twaalf-fees in Nijmegen, Nederland.

Nadat hy drie en ’n half jaar as rekenmeester in Johannesburg gewerk het, is hy terug op Cradock, waar hy voltyds skryf en ook optree as rubriekskrywer vir Rapport en LitNet.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Litnet.)