Bladsye / Pages

Thursday, July 17, 2014

Heilna du Plooy - Die stilte opgeskort (2014)


Heilna du Plooy - Die stilte opgeskort. Protea, 2014. ISBN:978-1-4853- (gedrukte boek)   978-1-4853- (e-boek)
Resensent: Joan Hambidge

Dit is die derde digbundel van die akademikus Heilna du Plooy, 'n kenner van die digkuns van TT Cloete en 'n vooraanstaande narratoloog. Wanneer 'n akademikus dig, word die akademiese en kritiese werk onvermydelik deel van die leser se leestrategie, al is dit dan onbewustelik. Du Plooy gee immers blyke van hoe fyn sy lees en in haar lesings van die invloed van Dante en die ikonisiteit van gedigte in Cloete se oeuvre, word die leser deurgaans bewus gemaak van haar fyn sintuig vir die ewewig, die balans tussen vorm en inhoud, of die sogenaamde tegelykertydsaspek van die digkuns.

Daar is dan ook 'n ars poëtiese vers wat heet "Ewewig":

Ewewig

Die vlakte drink die afstromende lig
en kaats dit in die glinsterende grassaad terug.
Die rivier stoot sy loop waar die landskap vou
oop sodat bedding en oewers die water vashou.

Is ek iets verskuldig of is iets verskuldig aan my
as die vloed beddings oopkerf en oewers oorskry,
met die gras aan die brand en die rooi en die rook
wat uitsig en insig verwoed teen mekaar opstook?

Die punt van die pen
lê swaar op die blad
om in die opstuwende lyn

die las te versprei
tussen my
en die grein.

(7)

In hierdie bundel word daar 'n vrou of "sy" aangetref. Die digter distansieer haarself van die belydende ek en hiermee aktiveer sy ook Eybers se gedagte van "die vrou wat stil geword het". Tog word die stilte op verskillende maniere opgehef of opgeskort. Gedigte aktiveer magswanbalanse in ons samelewing en die beeld- of ekfrastiese gedig "Die jag" wat in gesprek tree met Maureen Quin se beeldreeks. Die afdrukke van die beelde maak van hierdie gedigte 'n opwindende gesprek.

Die digter neem ook reis in oënskou, maar duidelik het die reis hier 'n sterk metafsiese inslag:

Om lig te reis

Van ’n reis het sy telkens ’n klip saamgebring,
van die kus van Amerika of van Vesuvius: In ’n klip
sit onthou van gans alles vooraf, maar ook
die gang van haar voete gister en nou oor die aarde.

Tussendeur die bitter klippe, mensgemaak, stapels
rampe, galverhale, te veel om te onthou, aanhoudend
opgedis. En sy begryp sy moenie meer gewig
versamel nie. Sy gooi die klippe uit en kies vir lug.

Dan word haar oë wind, en sy word lig.
Haar nek rank op, haar hande word slap blare.
Sy drink van die son en sluk aan die gloed:
al haar nuwe leegtes word warm en vol.

Soos vergete bloekoms langs ’n vergeleë pad
bondels sonlig stiekem in hulle arms rondrol.

(24)

In die gedig "Die pornografie van oordaad" (54) word skerp kommentaar gelewer op die politieke en sosiale geweld in ons land, die verloedering van standaarde en die soeke na dít wat steeds waarde het:

Uiteindelik wens ek vir my en my huis
dat ons spoelklippe sal pak
langs mekaar tot ’n kring, uit die aarde self, hier
en vir hier, tot ’n gebedestring (...)

Daar word eweneens gekyk na die verhouding met taal - soos in "Leidse dagboek", 16 - met sy toespelings op Eybers en Van Wyk Louw:

II
Nog in die vreemde winter vasgevang
kon hulle in die vroeë lente nie
soos die knoppe swel en pols nie.

Daar was al bloeisels, maar die nagelate
koue het nog diep gevloei soos somber
gragte in ’n Nederlandse stad.

Daar sou nog swart ryp kom
en wind, wit stof en rooi
in storms uit die weste.

Die ou bekende koestering,
die saamsmelt in deurgloeide somers,
sou nog tyd verg. En smeking. En wag.

Daar is eweneens gedigte oor die landskap wat sowel 'n binne- as buitereis aktiveer.

IV
Ou geboue

Vandag se weemoed gaan oor ou geboue
wat van geweld getuig en kon weerstaan.
Oor die luglyn van ’n stad soos Budapest
wat van ’n té lang herkoms bly vertel.
Oor skilderye en klein beeldjies
in galerye en kasteeltjies
wat wonderbaarlik! – wonderbaarlik
ongeskonde deur die eeue kom.

Ontroer oor klip en stene
wat kon uithou onder menslike gewig,
hang ek vandag – een dag
‘n duisend jaar, ’n duisend jaar een dag –
in die breukdeel van die oomblik
vóór die steengelaat van tyd
weer óópkraak en breek
in nog 'n gilgesig.

Hierdie afdeling staan in "Stadgesigte" (23) word die betekenis van stede beskryf: stede in verskillende vorme wat deur geweld en hongersnood bedreig word, maar dan 'n stad soos Budapest wat nietemin "ongeskonde deur die eeue kom". Hierdie vers - geskryf in weemoed - aktiveer iets van die digterlike aanslag: die leser bespeur 'n melancholiese aanslag van mens wat bewus bly van die geweld in verskillende vorme wat die menslike bestaan bedreig.

"In die streke van die wind" (74) word Elize Botha, die literator, se invloed op die digter se lewe gekarteer. 'n Vriendskap oor boeke en 'n wedersydse begrip word helder verwoord:

In die streke van die wind
Vir Elize

Ons sewentig of tagtig is bloot ’n fragment,
’n partikeltjie tyd en ’n spikkeltjie plek
in ’n omvang wat ons nooit kan ken nie.

“Ek dink so baie oor die wind,”
sê jy dikwels in die laaste gesprekke,
soos altyd oor idees, oor stories en oor boeke.

Oor die uiteindelike hiërargieë en die groot
patrone. Nogtans het ons net vermoedens;
die oorkoepelende ordeninge bly onbegryplik.

“Dit is belangrik om wind te verstaan,
te probeer verstaan. Waar lug is, is wind.
Waar lug roer, roer wind.”

Ons praat oor dit wat agter woorde lê,
oor die belang van vaagheid, oor die ryklike
dink wat glip en gly, syig soos asem.

In ’n vriendskap sonder eise, onafhanklik
én verbonde kón ons praat selfs oor onsienlike wind:
ons was mekaar hartgrondig goed gesind.

As ons ’n sentrum of ’n enkelheid
nie kan bedink, omvat of voorstel nie,
is daar onteenseglik nog die oral en die alles:

Deurentyd in voel en weet is daar invulling
en aanwesigheid, soos lug, soos wind
vly iets voortdurend teen ons aan.

Die metgesel, konkreet en wit en asemloos
– “human kind cannot bear very much reality” −
hou jy weg, van hom weerhou jy die bewussyn.

Lewe en begeerte is beweging en net dit wat leef,
kan sterf − “the bitter apple, and the bite in the apple” −
en waar jy was, sal lug en wind en oopte wees.

Nogtans, nogtans, nogtans:

Die groot duif tref die motor voluit, slaan gat
oor kop, sy vlerke uitgesprei en spat dan op,
sy vere verstrooi in die vlugstroom agter die kar.

Op die voorruit lê sy vorm, onderstebo
in fyn poeier geëts, ’n geboë hoof
en vlerke wat afwaarts bly duik.

Wat asem was, kan ook lug wees.
As jy lug is, kan jy ook wind wees:
stormwind, dwarrelwind, aandwind.

Daar is drie dinge wat ek nie kan verduur nie,
nee, vier wat ek met ontroering onthou,
jou stem, jou oë, jou stem en jy,

met wie ek steeds in gesprek wil tree.

Hierdie gesprek word tans na 'n ander dimensie verplaas: die digter is besig met 'n biografie oor die mens se "lewe in woorde". Ook Elize Botha se altstem word deur hierdie gedig opgeroep en so word die stilte nogmaals opgeskort ...

In 'n aangrypende lykdig oor die vader ("Vierluik") wat indertyd baie kommentare op  Versindaba ontlok het, word die ewewig-dimensie aan bod gebring. Om die vader se doodsworsteling te begryp, word die verhouding met die brose moeder ook aangespreek:

Vierluik

I
In ’n stewige ou gebou
- die kamer liggroen
onder ’n hoë plafon
en almal om sy bed –
het hy gesterf.
Dit was ’n grootse worsteling
asof die dood iets was
wat hy moes verwerf.

II
Aanvanklik net ’n kleinerige aar:
nogtans genoeg om haar
half agter te laat.
Sonder een arm en een been
het sy bladsye halfvol geskryf:      
’n lewe net      
van die middel       
af éénkant toe.
Eers toe die groot aar bars
was sy weer volledig
in haarself verenig.

III
Op die oomblik van sy val
was hy  alleen:
sy brein onmiddellik
’n donker sampioen.
Drie dae lank gelê
met ’n al hoe gladder gesig
soos foto’s uit sy jeug.
Toe was dit of die wind
’n deur sag toegestoot het;
ferm en finaal,
en ons allenig daar.

IV
Sy is nou al wat ons nog ma kan noem.
Tussen geliefdes sit sy al hoe stiller
asof sy reeds weet van vertrek.
Die dae raak toenemend ligloos
oor die borduurwerk en die porselein;
en sy wat al hoe meer deurskyn.

(75)

Wat 'n mens veral bybly van hierdie derde bundel is die delikate aanslag van die beste verse, gedigte wat in hul ewewig tref.

By 'n verdere lees van hierdie bundel, tref die verskillende wyses waarop stilte na vore kom. Is stilte, wonder hierdie leser, 'n eg-vroulike tema? 'n Mens dink hier onder andere aan Sylvia Plath se beroemde reël uit the "Munich Mannequins":

Voicelessness. The snow has no voice.

Hierdie kwessie van stilte vind ons by Elisabeth Eybers, Petra Müller en Miriam van hee, om drie vrouedigters uit te sonder.

Die digkuns gee aan die vrou 'n stem en verlos haar van die fallokratiese orde waar haar tong dikwels uitgesny word of waar sy gewoon nie 'n stem het nie.

"In die leegtes setel verweer" (9) konstateer Du Plooy en hierdie bundel gee stem aan die dwingende stiltes van vrouwees. Hier is dan dikwels 'n misterie rondom die ervaring van die gedig se ontstaan. Die hele bundel lewer verslag van hierdie balans.

Dog daar is soms ook woede, 'n skreeu teen die ontkenning die negering van die vrou se posisie, soos verbeeld in "Vervreemding" (12).

Die verwysings na die Koragiete uit die Bybel gee 'n besonder komplekse toespeling op die rol van die vrou. Vrouwees word geassosieer met stilte in hierdie bundel en die manlike orde met oorlog (en dus skreeu) soos uitgewerk in "Die jag" (35).

In die digter se woorde:

Ons is die tyd,
die wonde van die ewigheid.

Ten slotte op bladsy 69:

Identiteit

Tussen elke vier mure
is haar rol vooraf bepaal.
Selfs tussen allernaastes
is die sitkamer – beskaafde
jas – ’n hoflike vertrek.
In die eetkamer is sy
by die tafel gasvrou en ma
wat – met die nodige weerstand –
opskep en aanbied, opreg
na elkeen se welstand vra.
Die woonkamer en kombuis
is elkeen ’n gesellige plek,
van – gewraakte voorskoot –
vrolik bak en brou, die nes
van omkrap, koerantlees
en les bes, van tee en beskuit.
Gangaf die kinders se kamers
vir help en gesels, raas – kners –
en preek. Hier maak sy ook elke
aand elke rug liefdevol toe.
Dan is daar die kamer van boeke,
diggepak, opgestapel; veelhanteerde
en altyd nuwe vergesigte uit rakke
vol poorte na nuwe domeine.
Maar in die groot slaapkamer stroop
sy af, al die maskers, vertolkings,
lae en lae klere en gewade.
Daar bly sý oor, in haar eie vel
voor haar geliefde bloot en broos
voor haar – absolute – self.
Sy staan voor die venster. Binne die ruit
bly worstel ’n klein vaal mot wanhopig
gevang in die kantgordyn. Sy duik
deur die glas na ’n streek sonder lyne.
Saam met bont vlinders wil sy
roekeloos stoei tussen rose:
op ’n teug wind, in ’n flits son
uiteindelik lustig omkom.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)