Bladsye / Pages

Wednesday, July 16, 2014

Karina M. Szczurek - Invisible others (2014)


Karina M. Szczurek - Invisible othersProtea, 2014. ISBN 978 1 4853 0017 5.
Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad word hierdie roman begelei met die woorde: "Don't we all carry scars which remain invisible to others?" Hierdie roman ondersoek die impak van die Ander in die gedaante van die liefde en skryfwerk op die menslike bestaan. Die storie speel af in Parys, die primordiale stad van Lig, maar ook die stad van romantiese liefde, begoëling - besonder goed opgesom in die rolprent Paris, je t'aime, waarin verskillende filmmakers in klein vinjette die stad interpreteer vir die kyker. Op die binneflap word die roman onder meer aangeprys deur Emma van der Vliet, wat self 'n roman oor hierdie stad geskryf het.
Die roman sit vol netwerke: die skrywer is immers die eggenote van die skrywer André P. Brink, wat self hierdie stad in sowel fiksie ('n mens dink aan Die ambassadeur) as reisverhale onder die loep geneem het.

Die vrou aan die woord is intelligent, 'n skrywer op vlug, en die roman is self-bewus. Daar is verwysings na die gewete van skrywers - soos verwoord deur J.M. Coetzee en Nadine Gordimer - en die ingeboude eensaamheid of isolasie, wat die skryproses inhou.

In dié roman word Triangle, 'n roman deur die skrywende karakter, Cara, 'n vooruitwysing na haar liefdesverhouding wat in 'n werklike tragedie eindig. Cara se roman het tot gevolg dat haar minnaar, die kunstenaar Lucas Stutterheim, se vrou selfdood pleeg.

Ongenuanseerde reaksies het tot gevolg dat sy die skuld dra vir die vrou se dood en dit lei dan tot haar ballingskap in Parys, waar sy 'n Poolse navorser, Konrad ontmoet en weer herontmoet met Lucas, die kunstenaar.

Driehoeksverhoudings (triangles) is 'n belangrike kode in hierdie roman: die rol van die skrywer, teks, leser word geproblematiseer: ons kom immers as lesers ook met ons verwondings na 'n teks wat deur 'n teks oopgemaak word. Hierdie roman lewer kommentaar op liefdesverhoudings as 'n tekstuele ervaring: Žižek wat aan die begin van The pervert's guide to the cinema beweer dat begeerte iets is wat ons uit films leer ...

Konrad is 'n rustige geliefde, terwyl Lucas 'n meer aggressiewe kunstenaar is - en sy dra immers die letsels van die verhouding met hom. In hoofstuk sewentien masturbeer Cara ook voor 'n skildery van die kunstenaar, 'n portret van háár. Sy bely dit dan ook aan die kunstenaar wat dit as 'n enorme kompliment ervaar (125).

Hierdie kunswerk het sy egter verwoes toe sy gehoor het van Dagmar se selfdood, tot stomme verbasing van die kunstenaar. Hierdie is 'n belangrike vinjet vir die begryp van Cara se ervaring van intimiteit én kuns. Sy het ook swanger geraak, maar Lucas was onbewus hiervan. Sy het net 'n sonarfoto om dit te bewys.

Die roman beweeg tussen hede en verlede en die verhouding met die twee mans word afwisselend vertel. Die outeur gebruik onder andere Louis Malle se skitterende rolprent Damage (1992) as 'n interteks om die destruksie van die liefde weer te gee. Verwonde of beskadigde mense is gevaarlik - is die refrein van die film - want hulle oorleef ten spyte van die destruksie wat hulle saai. Jeremy Irons (die kabinetminister, Stephen Fleming) se lewe word verwoes deur die verleidster, Juliette Binoche (Anna) en die tragiese gevolge van hul verhouding is sy seun se dood. Soos in die roman is daar eweneens 'n media-reaksie wat striem en oordeel.


Soms lewer die implisiete outeur te veel kommentaar soos o.a. oor die tyd wat slawe in Suid-Afrika vrygelaat is of oor die figuur Mickiewicz

Ons lees ook oor wat die begrip Franschhoek beteken, usw. Dit het waarskynlik te make met die teikenleser, te wete 'n internasionale leser wat nie so bekend is met die verwysings. 'n Addendum of voetnoot sou waarskynlik 'n beter oplossing gewees het vir die soms steurende tersydes wat die verhaalgang belemmer het vir hierdie leser.

Die roman is sowel moderne liefdesverhaal as 'n analise van die impak van kuns en letterkunde op ons lewens. Beslis onthoubaar is die man wat 'n boekwinkel besoek en telkens wil kyk of vertalings korrek is en dan beweer dit is nie. Wat is sy funksie? Wat probeer hy oordra? Probeer hy sy vrou as vertaler eer? Binne die roman signifieer dit iets van die onvertaalbaarheid van ons binnespraak.

Op 'n besondere wyse word vroulike intimiteit en seksualiteit beskryf teen die fallokratiese gesag soos Hélène Cixous dit noem. Die vroue gee die leiding in die tango-toneel.

Jammer genoeg is daar sekere geykte uitdrukkings (soos "hungry lips") of te soet beskrywings van sekstonele. Maar soos Konrad dink op bladsy 203 oor Freud, wil hierdie roman ook diep insink.

Die roman is 'n metateks en die leser besef teen die slot hoe beleefde en vertelde passasies inmekaar speel: die teks eindig in Berlyn.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)