Bladsye / Pages

Thursday, June 5, 2014

Trits: Psigoanalise en fiksie

Carl Jung en Sigmund Freud in A Dangerous Method (2011)


Is psigoanalitiese kritiek (Jung en Freud) nog relevant? Nou onlangs was daar 'n polemiek op die Versindaba oor Jung.

Miskien kan ons dit illustreer aan die hand van drie uiteenlopende, dog boeiende, en op ’n manier ooreenstemmende, tekste wat sig besighou met die ondergrond van die bestaan:

Tirza Arnon Grunberg
Vertaal deur Lina Spies
Protea
ISBN 978 1 86919 824 4
Sagteband 
507 bladsye













The white hotel D.M. Thomas
Penguin
ISBN 0 14 00 6088X
Sagteband 
240 bladsye














Die aanspraak van lewende wesens Ingrid Winterbach
Human en Rousseau, 2012.
ISBN 978 0 7981 5706 3
Sagteband
355 bladsye













I

Arnon Grunberg se roman Tirza en D.M. Thomas se The white hotel is twee tekste wat op verskillende wyses die psige van die versteurde person aanspreek. Tirza, ‘n besonder lywige roman, moes ek resenseer en The white hotel het weer toevallig by my begin spook toe ek moes nadink oor die verhouding tussen Freud en Jung, wat in hierdie roman ter sprake kom. Hoe benader ‘n mens Freud en Jung vandag? En pas jy hul teorieë toe op letterkundige tekste? En hoe reageer ‘n mens op die voortslepende misverstande róndom hierdie belangrike figure wat deur sielkundiges as passé afgemaak word en deur wetenskaplikes as onbetroubaar en wetenskaplik verdag verdoem word? Sowel Freud as Jung lewer belangrike bydraes tot die literatuurteorie en tot die begrip van transgressiewe of normdeurbrekende tekste.

II

Arnon Grunberg se roman Tirza (2006/2014), sy agtste roman, is in Afrikaans deur Lina Spies vertaal. En die toets van ‘n goeie vertaling – veral as dit kom by ‘n lang roman – is dat die teks vlot moet lees. Hierin slaag Spies bepaald. ‘n Mens voel deurgaans dat die storie in vlot Afrikaans vertel word en nêrens is daar die haakplekke so bekend aan vele vertalings nie. Geen moeilike woorde of verkeerde vertalings nie. Miskien behalwe nou vir rondjie (339) wat ek eerder as rondetjie sou vertaal? En op bladsy 267 moet ky kyk wees.

Dit is my eerste kennismaking met die werk van hierdie romanskrywer wat skynbaar in Nederlands ‘n bekende en omstrede figuur is.  Op die buiteflap word die boek aangeprys deur J.M. Coetzee. Hy prys die skrywer vir sy “wit and sardonic intelligence”. Ek het hierdie roman begin lees en onmiddellik roep die obsessionele Jörgen ‘n vergelyking op met Vladimir Nabokof se Lolita, daardie briljante roman van 1955 wat tereg al uitgesonder is as een van die grootste romans van die twintigste-eeu. Waar Nabokof se roman met verskeie verwysings en rame werk (ook die voortreflike film van Stanley Kubrick uit 1962 presteer dit) is Grunberg se roman “oper”. Hiermee is uiteraard niks verkeerd nie. Miskien verraai dit eerder hoe moderne lesers na romans kyk en dat die oper, vlotter struktuur verkieslik is bó die ingewikkelde verwysings van ‘n Nabokof-roman.

Jörgen Hofmeester is inderdaad ‘n boeiende figuur. Die begin van die roman beloof reeds iets: die oopsny van die tunavis wat die latere tragedie eggo. Obsessioneel is hy inderdaad in sy waarneming. Die verhouding met Ibi - wat elke maand die huurgeld by die huurders op die boonste verdieping gaan afhaal - is 'n belangrike vinjet vir die begryp van hierdie streng en krenterige karakter. Die geld word belê in 'n verskansingsskema en uiteraard verloor hy dit. Die teks is kennelik satiries in aanbod. Ons beleef alles vanuit Hofmeester se perspektief en sy verhouding met sy twee eiesinnige kinders, en sy vrou wat hom verlaat het en onverwags opdaag by die party wat hy vir Tirza gee. Tirza gaan hierna op reis na Afrika met haar vriend. Ibi bedryf 'n gastehuis in Frankryk en leef met 'n blas man. Hy sien Tirza se vriend aan vir die 9/11-terroris, waarmee die implisiete outeur die paranoïa en kleinburgerlike bestaan van die hoofkarakter verder wil beklemtoon. Hy is ontslaan as fiksieredakteur van buitelandse tekste en sy gevoel van nutteloosheid maak hom waarskynlik ontoerekeningsvatbaar. Maar sy obsessionele gedrag word goed voorberei in sy verhoudings met sy kinders, wat in die intieme gesprekke oor hul seksualiteit en 'n eetversteuring, grensoorskrydend is. Daar is oorgenoeg beskrywings van aanraking  en gesprekke wat beslis transgressief is. Sy reaksie op Ibi se seksuele avontuur dui dit aan; nes die seksuele aanraking by die party met 'n klasmaat van Tirza. Die metafoor van eet/kook is besonder behendig ingebed met binnegedagtes dat hy nie weet hoe 'n mens se vel lyk wanneer jy dit braai nie (242) wat onheil voorspel. Sy beheer in die kosmaakproses dui ook daarop: die leser word uitgebreid voorgestel aan hoé hy kosmaak en wat hy dink van die politiek en die lewe in die algemeen.

Die roman val in drie dele uit: Die huur, die offer, die woestyn.  Die laaste gedeelte beskryf ‘n Nederlandse landskap en ‘n besoek aan Namibië in sy soektog na Tirza en haar vriend. Hierdie laaste gedeelte het eggo’s uit die filmmaker Antonioni se The passenger (1975) met die besoek aan ‘n warm landskap.

Tirza het ‘n Marokkaanse vriend, en Hofmeester se reisgenoot is Kaisa, ‘n swart meisie. Dus word daar dus subtiele politieke kommentaar gelewer. Hofmeester is ‘n afgedankte fiksie-redakteur -moet ons die moorde as fantasie of werklikheid beleef?

Al sy beperkinge en teleurstellings (sy afdanking, sy benarde finansiële posisie, sy vrou wat hom verlaat het) word geprojekteer op Tirza se vriend, die Ander. Hy heet Choukri, maar vir Hofmeester is hy Mohammed Atta …

Boonop is Tirza anoreksies en haar vader lees vir haar voor uit Madame Bovary en Don Quichot. En Dostojefski se Notas uit die ondergrond. Die insestueuse verhouding tussen vader en dogter word op verskillende vlakke uitgewerk. Sy is sy sonkoningin …

Ook in hierdie naam draal daar al prospeksies van wat die leser te wagte kan wees. Op uiters subtiele wyses plant die implisiete outeur sleutels vir die leser: hoe 'n tunavis oopgesny word resoneer met die uiteindelik skokkende onthulling, al mag dit 'n verwronge fantasie wees. Die besoeke aan Schiphol-lughawe beklemtoon eweneens sy obsessionele aard.

III

Die drie afdelings (Die huur, die offer, die woestyn) aktiveer alreeds 'n triadiese verbintenis so bekend aan die psigoanalise. Freud se id, ego, superego en Lacan se verbeelde, simboliese, Reële dimensies kan dus betrek word. Die triadiese verbintenisse skep immers die persoonlikheid by Freud en by Lacan dui die drie dimensies op die konstituering van taal. Die verbeelde is dit wat voor betekenis bestaan en die simboliese orde dui op die tekensisteem met die Reële wat nooit bereik kan word nie.  Hoe ironies dan dat hy Tirza dus nie in die woestyn kan vind nie.

In Freudiaanse terme dui die slottoneel op die superego of die Orde: hy moet verantwoording doen vir sy dade. Die "bees in hom" (die dier) is nou tot orde geroep. Hy bel egter Tirza se selfoon om vir laas haar stem te hoor: 'n blote representasie van iemand wat egter nie meer bestaan nie. Die roman lewer genoegsame bewyse dat so 'n psigoanalitiese lesing gestaaf kan word. Dit bevat notas uit die "ondergrond" met siniese kommentaar op die Freudiaanse familie-romanse. Die vaderfiguur oortree grense van intimiteit (o.a. ook in sy seksuele optrede teenoor 'n jong skoolmaat) en is by twee geleenthede aanskouer, dus voyeur, van sy dogters se seksuele aktiwiteite. In beide gevalle tree hy gewelddadig op. Die eerste optrede met Ibi se minnaar is dan 'n prospeksie vir die latere toneel waar hy Ibi en haar vriend sien. In Jungiaanse terme projekteer hy sy skadu op ander (sy dogter en haar Minnaar) en die jong, swart meisie is in wese sy alter ego wat hy aanspreek om tot klaarte te kom.

IV

Op bladsy 376 word daar verwys na die oorlog in die boekbedryf. Die stryd om die leser. Die boekeoorlog. En dit is dan ook waarop Tirza sydelings kommentaar lewer: die behoefte van die leser. Hofmeester onthul sy dade aan die jong kind in Namibië. Is dit waar of gewoon 'n verdere verbeeldingsvlug? Dit is eweneens ironies: sy toehoorder is nege en nie in staat om die gevolge te interpreteer nie. Die e-pos aan Tirza waar hy inbreek op haar stelsel, bewys egter die ergste vir die speurende leser wat uitgelewer is aan 'n "spel met gevolge" (494). Vir hierdie kind laat hy dan Tirza se iPod en die manuskrip van die outeur uit Azerbeidjan, wat hy op sy desperate reis en soektog na Tirza met hom saamdra.

Die slot knoop alles vas en die fantasie waarvoor 'n mens sou hoop, dui op iets anders. Die dier is nie oorwin nie. En al het hy die irrasionele verafsku (20), het dit hóm oorwin. Die roman lewer satiriese kommentaar op die moderne Nederlandse samelewing nes die geslag na-oorlogse literatuur dit gedoen het.

V

D.M. Thomas se The white hotel het in 1981 verskyn, dus geruime tyd voor Grunberg se roman in 2006.  Dit is die verhaal van Lisa Erdman, 'n geskeide operasangeres wat erge psigosomatiese pyn en hallusinasies ervaar. Sy vertel in 'n lang gedig en joernaal van 'n fantasie waarin sy met Freud se seun seksueel verkeer. Alles vind plaas op 'n trein en in 'n wit hotel wat deur erge rampe geteister word. Vir Freud word sy 'n geval, te wete Frau Anna G. en in sy analise ontdek hy dat haar toestand verduidelik kan word deur die verhouding wat haar moeder had met haar oom. Thomas gebruik dus die Dora-saak as 'n spieëlteks om hierdie verhaal te vertel. Na terapie trou sy weer en sy skenk geboorte aan 'n Joodse seun in Rusland na die Tweede Wêreldoorlog. [Foto: D.M. Thomas © Mac Dunlop]

Hierdie roman het sewe afdelings: Prologue, I Don Giovanni, II The Gastein Journal, III Frau Anna G., IV The Health Resort, V The Sleeping Carriage, VI The Camp. 

Die proloog bevat gefiksionaliseerde briewe (o.a. Sandor Ferenczi en Freud), 'n lang erotiese gedig van die Erdman en haar joernaal (dit behels afdelings II en III) en in die derde afdeling kom Freud aan die woord: "In the autumn of 1919 I was asked by a doctor ..." (83).
Epstein, 'n manlike resensent, konsentreer op die volgende verhaalelemente: sy was eers 'n danseres, gebore in Odessa en word as kind bewus van die buite-egtelike verhouding van haar moeder wat later saam met haar minnaar verbrand. Haar vader verwerp haar (ook hier hoor ons die Dora-saak, j.h. ) en sy begin 'n verhouding met 'n anargis in St Petersburg. Sy raak swanger en tydens 'n dans verloor sy die kind. In Wenen begin sy 'n tweede lewe as operasangeres en sy tree kortstondig in die huwelik met 'n anti-Semitiese Oostenryker. Lisa tree uiteindelik op as operasangeres in Milaan wanneer 'n ander operasangeres - wat ook 'n kind verloor  het - en laat dus al haar ellende agter haar. Maar dit is van korte duur, want in Kiev word al die Jode van die tyd na Palestina verban ...

In die slotafdeling fantaseer Lisa dat sy Freud in die strafkamp gewaar.

Ofskoon hierdie gedeelte gelees moet word as ‘n uitgebreide fantasie – sy versoen immers met die dooies – lewer die roman dus sodoende skerp kommentaar op die funksie van psigoanalise in ‘n wêreld geteister deur politieke onreg. Volgens Leslie Epstein in die New York Times (A novel of neurosis and historyBesoek 2 Junie 2014) is dit die swakste gedeelte van die roman. Hy beweer:

“But Mr. Thomas runs into more serious problems when he tries to duplicate an actual case history. What is so compelling about the real Freud's cases, apart from his brilliance in interpreting them and his great skills as a writer, is that we always know that the dream fragments and the experiences are authentic.”

Hiermee moet ek verskil van hierdie deurwinterde resensent, want juis as jy Freud se tekste weer lees, kan jy die uitsonderlike prestasie van Thomas, ‘n uitstekende vertaler van Achmatova se digkuns, bewonder. Hy “vertaal” en transporteer Freud dus van die wetenskap na die ruimte van fiksie. Die afdeling “Frau Anna G.” word ook voorsien van voetnote so bekend aan Freud se werkswyse. Daar word soms vreemde woorde vertaal (soos “niederkommen”) wat hierdie gedeelte ook die allure van ‘n redigeerder of redakteur gee. ‘n Duidelike mîse-en-abyme. Dat Freud se mees seminale teks, Die interpretasie van drome (1900) hier ter sprake kom, is eweneens duidelik. Treinreise – so verduidelik die karakter Freud op bladsy 95 – is dikwels aanduidings van ‘n naderende dood. Bekend aan Freud se werkswyse, is die gebruik van metafore. Hy waarsku haar teen die terugkeer van simptome, maar “that we are moving closer to the light at the end of the tunnel” (109).  Charcot word ook betrek” “La théorie c’est bon, mais ca n’empêche pas d’exister” (111).

Dit is 'n komplekse roman wat my waarskynlik voorberei het op die volgende baken in die Afrikaanse letterkunde. Dit is 'n baken omdat dit op 'n gesofistikeerde wyse, soos die twee voorafgaande tekste, in gesprek tree met komplekse psigoanalitiese teorie.

Hierdie resensie staan opgeteken in my blog: Woorde wat weeg.

VI

Die aanspraak van lewende wesens van Ingrid Winterbach is bekroon met NB-uitgewers se eerste prys in Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012. Die roman word tipeer as “komies, hartroerend, meditatief, verruimend”. En ‘n mens sou kon byvoeg: melancholies. Die roman is aangrypend geskryf en speel terug op ‘n vroeëre besinning, naamlik Klaaglied vir Koos. Winterbach vertel twee stories, te wete die verhaal van Karl Hofmeyr, wat moet raad vind vir sy broer Iggy se geestesongesteldheid. Hierteenoor het ons die besinning van Maria Volschenk oor haar lewenslot en hantering van haar suster se dood. Die karakters se paaie kruis op ‘n plaas, surrealisties beskryf, in Kaapstad waarin die outeur dus sydelingse en ironiese kommentaar lewer op die tradisie van die plaasroman in Afrikaans. Ene Josias Brandt, ‘n soort katalisator in hierdie roman, is in ‘n stryd met Iggy (Ignatius) gewikkel.

Winterbach se romans interesseer hierdie leser nie om die verhaallyne nie. Dit intrigeer eerder om die digte verwysingsveld en die sterk metaforiek. Die jongste roman is ‘n lament en die titel “die aanspraak van lewende wesens” aktiveer ook die ander kant van die munt, te wete die aanspraak van gestorwenes. Soos in vele romans, roep die teks ‘n sterk psigoanalitiese verwysingsisteem op. Hierdie teks vra vir ‘n saamlees met Freud se “Rou en Melancholie” (1917).

Die “vroeë verwonding en verdriet” (40) van Maria word ondersoek. Die verteller neem ons terug na die skooljare as ‘n sleutel tot die intense ervaring van leegheid en die familie is ‘n ruimte van verwonding. Dit is ‘n verhaal wat psigiese kennis ondersoek en die verwysing na die Id aktiveer die kelder van die onbewuste. Taboes (soos kinders wat ‘n kaal lyk sien) en ‘n DVD (waarna Maria en Vera kyk) waarin psigiaters meen skaamte en vrees lotsbepalend is, neem ons na verdere betekenislae. Soos in vroeëre tekste is die “dierlike impulse” en die mens se lot verbind aan groter patrone. Dit is ‘n roman vol selfverwysings: die “frostbite” aktiveer Die benederyk en Klaaglied vir Koos se ondersoek na evolusie kom aan bod. Dit wat buite die rasionele lê, word ‘n fokus. Die Sitra Achra, die Sheddim, Stabat Mater, Heavy Metal, films (soos The Big Lebowski, o.a.), Wagner, eis ‘n Barthesiaanse benadering op soos beskryf in S/Z (1970) van kulturele en persoonlike kodes. Met die leser as die waarsêer.

Die verwysings na skaak neem ons terug na Nabokof.

Die suster, Sofie, se ongewone blik word ‘n belangrike sleutel vir die emosionele ruimte waarin Maria haar begeef. Deur haar nalatenskap word Maria bewus gemaak van die spirituele domein. Die suster, ‘n digter, wil haar hande nalaat aan haar suster; ‘n slim troop vir hoe die suster se lewe uiteindelik Maria se lot bepaal. Karl se pakkie bevat eweneens inligting oor sy broer wat ‘n deur ‘n spirituele hel gefolter word en glo dat hy ook fisies transformeer. Twee parallelle verhale dus; ‘n parallaks, in Žižek se terme. Die roman aktiveer ook die Gnostiek: Maria word deur haar suster bewus gemaak van die tien hekke van spirituele wysheid (125). Iggy se brief aan sy broer aktiveer eweneens hierdie gegewe en dit sal die leser loon om die Ofiet-diagramme en die Boek Esegiël saam te lees. Die voorblad aktiveer immers sowel die Bybel as die wetenskap. Syfers speel ‘n belangrike rol in die roman: Maria is ‘n syfermens en Karl is obsessioneel oor getalle. ‘n Sielkundige torring aan Maria: watter geheim het die moeder van haar weerhou? Hierdie aspek neem ons weer terug na die moeder in Die benederyk.

(Nes die verwysing na Louise Bourgeois). ‘n Terugkeer na Stellenbosch word bykans intratekstuele kommentaar op die skrywer se eerste werke. Daar is min passasies wat so vindingryk geskryf is in enige letterkunde as die ontmoeting met twee bergies (die vrou ‘n palmleser) in ‘n begraafplaas. Daar is die optekening van die natuur: sprinkane, spinnekoppe, ensomeer, as ‘n beswering van depressie.

Daar is vele verwysings na beeldende kunstenaars wat eweneens die teks (onbewustelik) laat voortstu. Die natuurbeskrywings is digterlik en ‘n mens kan hier die hand van die beeldende kunstenaar sien in haar konkrete beskrywings van die ruimte. Psigiese inhoude word nie blote abstraksies of ‘n intellektuele getjommel nie; die leser beleef dit in die krisisoomblikke van ‘n karakter wat onverwags geskiet word of ‘n kind wat meen sy lewe is in gevaar. Die dialoog is vindingryk en snaaks. Die verskillende hoofstukke impliseer ‘n ouktoriale vertellershand wat te midde van chaos tog orden. Die oog vir détail imponeer: van ‘n karakter se bo-lip tot ‘n vrou se oog kan jy sién.

Die roman het ‘n sterk verhaallyn met ingewikkelde kodes en toespelings: wetenskap teenoor spiritualiteit; vooruitgang teenoor kataklisme. Weemoed wissel humor en aksie af. Klein tersydes word ‘n kulturele kode.

Binne ‘n bestek van bykans drie dekades het Winterbach haar gevestig as een van die belangrikste romanskrywers van ons tyd. Dit is loflik dat sy telkens binne ‘n kort bestek ‘n nuwe roman skryf sonder om gehalte in te boet. 

Dit is is ‘n briljante roman. Sedert publikasie het ek dit driemaal gelees. En elke keer iets nuuts raak gelees. Daar is min slotte in enige roman wat ek ken wat my tot sulke weemoed gedryf het as die einde van hierdie boek.

Met stilte as die grootste ellende wat ‘n mens kan tref; nie skaamte en vrees soos die Nederlandse psigiaters in die roman meen nie. Dit is opgedra aan wyle Paul Cilliers, die filosoof.

En in navolging van Charcot: teorie is goed, maar dit verhoed nie dinge/sake om te bestaan nie. En hierom (waarskynlik) is Jung die afgelope paar dekades uit literatuurkompendiums geweer, omdat die Franse Strukturaliste en post-strukturaliste met die groter aanspraak op “wetenskaplikheid” die literatuurbedryf binnegedring het. Maar dit is jin en jang. Die verskillende benaderings hoef mekaar nie uit te sluit nie.


Bibliografie:

Cain, William, E. 1964. The crisis in criticism - Theory, literature, and reform in English Studies.  Baltimore: The Johns Hopkins University.

Die volledige Freud is uitgegee deur die Pelican library.

Jung, C.G. 1962. Memories, dreams, reflections. Londen, Collins.


Endnoot:

Die volgende is 'n reaksie op 'n polemiek op Versindaba:

Freud en Jung is relevant vir die literatuurteorie en lankal nie meer vir die empiriese wetenskappe nie waar albei aanvanklik aspirasies gehad het. Om ‘n denker of skrywer nadoods uit te vang as anti-Semities gebeur al om die hawerklap. Die geval Paul de Man is bekend. En Derrida se verdediging van hom. ‘n Mens kan egter nooit die belangrikheid van Blindness and insight of Allegories of reading ignoreer nie. Trouens, ek is die mening toegedaan dat De Man juis vanweë sy ingewikkelde persoonlikheid in staat was om Rilke se ellendes te begryp. Terloops, ‘n digter wat geweier het om psigoanalise te ondergaan en die digkuns as self-terapie gesien het.

Jung is ‘n komplekse intellektueel en ek het die afgelope semester indringend oor hom klasgegee. Waarom is hy onder meer die afgelope paar dekades uit literatuurteoretiese kompendiums gehaal? Ten spyte van navolgers soos Maud Bodkin en Northrop Frye.
Sy siening van argetipes – wat dui op primordialiteit – kan wel van toepassing gemaak word op ‘n skrywer soos Etienne Leroux. Wanneer jy ‘n teks analiseer met begrippe soos argetipe, skadukant, projeksie, mandala (ons onthou immers Patrick White se The solid mandala) aanvaar jy sy teoretiese raamwerk vir die eise wat ‘n bepaalde teks stel. Net soos Jungiane – en ek het al van die lesings van besoekende geleerdes bygewoon in Kaapstad – kwessies mag ontsluit. Dieselfde geld D.M. Thomas se The white hotel, ‘n puik roman, wat ‘n fantasie róndom psigoanalise uitwerk. Ons vind hier ‘n gefiksionaliseerde Sigmund Freud en indien ‘n mens die geskiedenis van Freud se lewe teenoor die roman plaas, word dit ‘n fassinerende kommentaar op Freud se denke, erotiek en tekste soos Die wolfman en die Dora-saak. 

Waar Dominique Botha se roman Valsrivier eindig met ‘n gedig, begin hierdie roman met ‘n gedig na ‘n briefwisseling. Botha se roman is ‘n Bildungsroman en ek dink The white hotel (my kopie val al uitmekaar) sou ‘n mens as ‘n briefroman kon beskryf met ‘n dosis historisisme. Botha se teks fiksionaliseer eweneens haar lewe; trouens, dit is meer as haar lewe en die “valsrivier” is die onbewuste … 

In sy voorwoord tot sy roman skryf Thomas dat ‘n mens nie die terrein van histerie kan besoek sonder om van Freud kennis te neem nie. Hy skryf: “Freud becomes one of the dramatis personae, in fact, as discoverer of the great and beautiful myth of psychoanalysis. By myth, I mean a poetic, dramatic expression of a hidden truth …” Hy verwys ons verder na volumes 3, 8 & 9 van die Pelican Freud library. Oor die “scietific validity” verskil ek van hom. Die roman handel ook oor die holocaust en die vraag is: waarom die soektog na die “hidden”, dit wat weggesteek is. Die film Caché (Hidden) van Michael Haneke gee waarskynlik weer ander sleutels oor dit wat ons represseer of berg, net om iewers uit te spring … (Hieroor gesels Haneke uiters insiggewend in ‘n onderhoud.)

Kommentators binne die moderne sielkunde is geregtig op hul afwysing van Freud en Jung. Sy relevansie lê in die transportasie van en na die letterkunde en filmkuns. 

© Joan Hambidge