Bladsye / Pages

Saturday, May 24, 2014

Douglas Reid Skinner – Heaven: New & Selected Poems (2014)



Douglas Reid Skinner – Heaven: New & Selected Poems. Left Field Poetry, 2014. ISBN 0 620 60116 0
Resensent: Joan Hambidge

I

In die openingsvers van hierdie bundel staan die gedig “A cup of tea” (9), tradisioneel die sogenaamde programgedig. Die gewone, alledaagse ritueel moet die spreker wat homself as ‘n “hy” situeer, beskerm teen siekte en ‘n druppende geut:

… A faulty gutter
drips outside, keeping time.

Hierdie klein moment word gekoppel aan die waarneming van die maan wat wegkruipertjie speel met die spreker wat wonder hoe lank dit nog sal neem alvorens hy tot die insig sal kom om die lewe te bemeester:

the skill of living devoid of fear
of being gone, no longer here.

Hierdie sterk gedig kry verdere draagwydte waanneer “The visitor” (19), ‘n lykdig ter herinnering van Stephen Watson, ‘n digterlike tydgenoot, saamgelees word. Die spreker is bewus van die kortstondigheid van die lewe en hoé die digter ‘n vreemdeling word:

to find a stranger standing in
the mirror hanging in the hall.

‘n Soort selfkonfrontasie? Of dalk ‘n waarneming van ‘n digterlike portret of representasie wat nooit die werklike mens kan opvang of weergee nie. Watson het reeds die obool in sy hand en oor die Styx-vertrek en die navrante slot wil die mede-digter aanpor om die oorgang te maak:

You run your fingers through your hair
and smile apologetically,
the coins you finger in your pocket
heavier than they were before.
You know because, he has arrived,
You have to go; you have to go.

In hierdie bundel word die leser deurentyd getref deur die spreker se ervaring van kortstondigheid en futiliteit. “Not looking back” (18), met sy motto van Franz Kafka, verwoord dit treffend. ‘n Mens sou hierdie gedig ook as ‘n soort ars poetica kon lees met die digter wat vasgevang is in vele labirinte en hoe die digter oorweldig word deur stilte se ondraaglike gewig:

What words are there
can ever describe
this blank, unbearable weight?

En dis hierdie komplekse dubbel-aard van die gedigte wat inspireer en dit vir die liefhebber van die digkuns ‘n besondere uitdaging maak. Dit is nie “maklike” verse nie. Juis hierom is dit so boeiend.

Daar is 17 nuwe verse en ‘n handvol bekende geselekteerde gedigte. Die gedigte word ook voorsien van endnote vir die speurende leser. Die digter gebruik ook filosowe om ‘n lewenssiening oor te dra, soos Marthinus Versfeld se dictum: “It can go everywhere because it is satisfied to be where it is” (Food for thought). Eugenio Montale is kennelik ‘n belangrike rigtingwyser vir die digter – soos Borges: “Transmute the outrage of the years / Into a music…”. Klinkend ook Montale se siening oor herinnering:”Memory, I objected, doesn’t anticipate, it follows”. Dit is dan van die belangrikste sleutels vir hierdie bundel, ragfyn afgewerk, wat die sogenaamde “life of the mind” ondersoek en op helder, konkrete maniere ver-beeld. Die digkuns dan ook as ‘n “vertaling” van die ondreurdringbare, teenstrydige werklikheid word “a postcard from the other side”.

Wat besonder opval in hierdie bloemlesing is die draagwydte van klank en die toespelings op musiek (“Morning Raga”, 32) en die gesprek met ander digters en bekende figure. Een so 'n digter is dan Don Maclennan (1929 - 2009) en die gedig heet “Intermezzo” (92):

        Everything requires remaking and renewal.
That the centre doesn't hold doesn't matter – it never did.

Die navrante toespeling op Yeats in die slot word verder gedra met verwysings na Seferis en Bashõ. Die gedig word 'n kommentaar, soos vele ander verse, op die kortstondigheid van alles en hoe ons voortdurend na ankers of ruspunte soek. “The view” (89) sluit met die besef:

Words don't stop what is going on.
They are what has gone wrong.

Terselfdertyd kan woorde tóg die tussen-oomblikke opvang en die geluid van reën naboots (“The message”, 93).

II

As daar gepraat word van verse van die laat-fase (aldus Edward Said se definisie hiervan), kan daar verwys word na hierdie 17 nuwe verse as gedigte van die middelfase. Die digter kyk terug op 'n jeug, 'n Suid-Afrikaanse verlede en die gedigte verbeeld twee wêrelde:  Engeland versus Suid-Afrika. Woorde se verraad, die funksie van die digkuns, reise na vreemde landskappe (soos “Rome, again”, 20), verlies aan onskuld, die onsekerheid van dit wat ons die “werklikheid” noem en selfgesprekke is van die belangrikste temas wat die leser hier aantref.

In die gedig “Case report WGS/44” (11) beskryf die digter 'n moordsaak en hoe ook dit nooit in sy volledigheid kan sluit nie. Daar is dus nooit “closure” nie; alles word ervaar met 'n Janus-blik.

Die essensie van die digter se lewensfilosofie word opgesom in die slot van “Morning clinic” (13):

Sunlight and shadows slow-slide along the floor,
and you wonder how it feels when time's gone so awry;
when words jumble in heaps and you never know why;
when sleep doesn't arrive and you're utterly marooned
in that worlds-away, other side of a locked door?

III

Douglas Reid Skinner het hom al geruime tyd gelede gevestig as 'n Engels-Suid-Afrikaanse digter met wie daar rekening gehou moet word. Vir my is die aangrypendste verse gedigte waarin hy iets van die lewe se “displacement” verwoord, soos sy verruklike “Japannese garden” (33):

Amongst all these subtle shades of hell
one self-contained bright piece of sky
attest with defiance to an old syllogism -
not presence, but absence, determines the scene.

Die subtitel is dan ook Mt Tamailpais, California

Die soeke na sekerheid (“certainty”) is die sub-teks van hierdie bundel. En die digter aktiveer met die presence/absence-gedagte ook die filosoof Jacques Derrida se siening van hierdie komplekse proses waar die teken staan vir dit wat afwesig of verlore is. Dit is gedigte wat intellektuele eise stel, maar terselfdertyd ontroer. Dit bevat vele epifaniese oomblikke waar die gedig oopwaaier in 'n ander dimensie in, te wete die ruimte van die chora of die pre-simboliese orde, soos Julia Kristeva dit verwoord.

Dalk dan juis hierom 'n gedig wat heet “An essay on the fundamental connectedness of everything” (36) - opgedra aan Robert Brooks - waar die “unheard music of a man fast asleep” weergegee word.

Eugenio Montale is eweneens 'n belangrike sleutel vir die begryp van hierdie bundel. Net soos by Johann de Lange se Stil punt van die aarde vind ons Jungiaanse sinchronisiteit in 'n ander gesprek met Montale. En onthou, soos J. Hillis Miller opgemerk het, al weet die digters nie van mekaar nie, wéét die gedigte van mekaar.

“A postcard from the other side” (94) is uiteindelik een van die sentrale gedigte in hierdie bundel waar die spreker “off-key” sing en tob oor die ónmoontlikheid om die lewe in sy volledigheid vas te vang. Dit bly altyd maar:

                                                           A
lifetime looked back on can only reveal
that understanding's approximation.


Hierdie bundel is beskikbaar by Clarke's Bookshop en by die Book Lounge.