Bladsye / Pages

Friday, May 16, 2014

Twee kwatrynbundels: Skulp (2014) & Weerlig van die ongeloof (2011)



Hennie Aucamp, Skulp.  Protea Boekehuis, 2014. ISBN 978-1-4853-0069-4 / ISBN 978-1-4853-0070-0 (e-boek)
Resensent: Joan Hambidge

I
Digter, kortverhaalskrywer, kabarettis, teoretikus, bloemleser, lyfleser, kunskenner, flâneur, resensent, essayis, ego-dokumenteerder, aforis, mentor... noem maar op! Een van die mees invloedryke skrywers in Afrikaans wat sowel die kortverhaal as die digkuns verruim en verrym het: dis nou Hennie Aucamp.

Sy laaste bundel heet dan Skulp, 'n bundel met kwatryne wat die volgende motto dra:

Am I indifferent, then, to my own death?
No, it’s not a matter of indifference, but
rather a kind of distance, a sort of
screen which is very difficult to
describe in words.
– Amos Oz, Late Love

Aucamp het die Afrikaanse digkuns verryk met sy bundels met sonnette en hierdie laaste kwatrynbundel dui op 'n meestershand. Die skulp-vers (wat op die mooi voorblad voorkom) klink so:

Nautilus pompilius

Dié skulp, soos ’n S op homself ingekrul,
berg binne hom, ongesiens, ’n wenteltrap
wat matematies klim, stap vir stap;
en net die fynste deursnit kan dit onthul.

Hierdie matematiek is van toepassing op die gedigte. Alles is presies uitgewerk sodat die ryme en herhalings nie steur nie. Ons sien dus hier hoe krul/onthul die gegewe omsluit.

Dagboek

Hy vleg ervarings by sy dae in
en so ontstaan ’n wrong, en dit maak sin.
Maar ag, was sy lewe net afwisselend vaal,
kon jy straks ’n storietjie daaruit haal.

Hier vertel die rympatroon 'n ander storie: in / sin versus vaal / haal ondersteun die spanning tussen die skryfproses en die lewe wat ervaar word.

Drieankerbaai

Herfs ruik op sy frankste
by ’n Maartse see
waar jodium aan alles
’n vroeër skerpte gee.

Hier is die kruisrym weer 'n voorbeeld van die behendige spel met die vorm. Die ruimte is ook die plek van die dood: dit is immers waar Ingrid Jonker gesterf het. Die bundel staan in die teken van afskeid en die dood. Hy neem ten slotte so afskeid:

Bliksemsnel

Gister, eergister was hy heel en gesond
en stal hom nakend ten toon;
maar toe slaan toe die Groot Onpartydige,
en nou is hy weg, onverskoon.

Die "Groot Onpartydige" dui hier natuurlik op die dood.

Die kwatryne benut verskeie rympatrone, onder meer kruisrym, omarmende rym, paar- en slagrym, en gebroke rym. Hierdie bundel sluit goed aan by Johann de Lange se Weerlig van die ongeloof waar die kwatryn en vierreëlige vers eweneens onder die loep geneem word. Dit is Aucamp se vierde bundel waarin kwatryne opgeneem word.  

In die mini-lykdig vir Gerrit Komrij, skryf hy ten slotte ook oor homself:

Gerrit Komrij †

’n Prins uit die Lae Lande
het ons land gereeld kom besoek
en sonder omhaal ou Dietse bande
gefynkam en bevestig in ’n boek.

Hennie Aucamp het die Afrikaanse letterkunde vir etlike dekades bestendig met sy belletrie. Sy woordbeheer en kennis van digterlike tegnieke mag nooit onvermeld gelaat word nie. Miskien is hy as digter nooit na waarde getakseer nie, omdat die letterkundige sisteem nie weet hoé om skrywers te hanteer wat in meer as een genre presteer nie.

Protea het die boek besonder mooi uitgegee.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas]


II


Daar bestaan vele handleidings oor die kwatryn se spesifieke aard. In The anatomy of poetry wat in 1953 by Routledge & Kegan Paul verskyn het, verwys Marjorie Boulton soos volg na hierdie digvorm:

"any metre with lines rhyming in sets of four. The possible rhyme schemes are obviously: abab, abcb, aaaa, abba, aaab, aaba." (144)

Sy onderskei ook verder tussen die volgende soorte:

(a) "common measure": hier het elke reël agt en ses sillabes met die rymskema abab of abcb. Coleridge se "The Ancient Mariner" is hiervan 'n voorbeeld;
(b) "long measure": hier vind ons agt sillabes in elke reël met die rymskema ababa of abcb. Verskeie ballades en Tennyson se "In Memoriam" is bekende voorbeelde;
(c) "short measure": kwatryne met 6.6.8 en ses sillabes met die rymskema abab of abcb;
(d) "the 'Omar Khayyam'-quatrain": hier vind ons die jambiese pentameter met die rymskema aaba;
(e) "the 'Gondibert'" oftewel 'Elegiese' stansa waarvan Gray se "Elegy" 'n voorbeeld is.

Ottone M. Riccio in The Intimate Art of Writing Poetry, wat in 1980 by Prentice-Hall verskyn het, sien dit so: die verskil tussen die "hymnal stanza" en "envelope stanza" (66, 67). Hy wys ook op die gewildheid van die jambiese pentameter. 

A.P. Grové se Woord en wonder (Nasou, 1984, 128) betrek Opperman se siening oor hierdie digvorm betrek Opperman se siening van hierdie vorm. Opperman noem dit klein stukkies dinamiek van die gees. As kort gedig, voer hy verder aan, staan dit onder beheer van kritiese werksaamheid en as gevolg hiervan kry ons 'n sentensieuse en epigrammatiese trekkie met 'n spaarse gebruik van die woord. In wese, besluit hy, is die kwatryn eintlik waarneming en kommentaar. 

So het ek indertyd geskryf oor De Lange se kwatrynbundel:

Weerlig van die ongeloof word tereg opgedra aan die semantikus Henning Snyman wat met sy essays oor die digkuns (soos Teodoliet, Mirakel en muse) verhelderende bydraes gelewer het. Die eiesoortige werking van die digterlike beeld en die fyn balans tussen abstraksie en konkrete vergestalting met die uitwys van hoe litotes, satire en die metafoor o.a. funksioneer, bly standaardwerke in die letterkunde. Die bundel bevat ‘n kunswerk van Judith Mason: Die oog van die storm wat die titel goed verduidelik. (Op Litnet se nuusbrief destyds is die digterlike oog saam met die kunswerk geplaas.) Die digterlike beeld moet immers gesien kan word.

Hierdie kort verse verraai kenmerke van die kwatryne, maar is dikwels eerder kort, vierreëlige verse. Die titel aktiveer die De Lange-paradoks: dat geloof bestaan of tot uiting kom ten spyte van ongeloof of twyfel. 

Die drie verse versterk die siening:

Die weerlig van die ongeloof

Die weerlig van die ongeloof
verhelder soos die apostroof
grys telegramme van die reën
uitgestippel op die steen.

(49)


Bede

Uit my duister hoor my lied
& laat u wil oor my gebied.
Nie langer in die woesteny,
maar langs U in die galery.

(49)


Die paramour
na Rainer Maria Rilke

Gedenk die nonne & vroueheiliges
vir wie Christus ’n kamerjonge is,
’n soet ersatz vir passie, die teerste
paramour wat nog besitbaar is.

(50)

In “Skietgebedjie” (51) is daar ‘n verlange na die geloof sonder twyfel. De Lange was nog altyd die digter van die paradoks: dus in die ongeloof is daar soeke na geloof. Of die agnostiese digter is dikwels verlangend na die troos van ‘n beskermde God.

Bekende temas van De Lange word hier op nuwe wyses geaktiveer en in kompakte vorm aangebied: soos ‘n weerligstraal is die verse blitsig, vinnig en die insigte vir die digter onthutsend, maar ook snel afgehandel of oënskynlik verby. Die leser, bekend met die oeuvre, meet die verse veral aan ‘n bundel soos Vleiswond waarin die sterk religieuse dimensie na vore kom.

Die verse is epigrammaties en selfs in telegram-styl geskryf, soos die motto aandui:

In such a book as this,
The poet Martial says,
Some of the epigrams
Shall have seen better days,
And some are hit-or-miss;
But some – like telegrams –
Deliver intelligence
With such a sudden blaze
The shine can make us wince.

Fred Chappell

Die openingsgedig verwys na Marais se bekende siening dat alle bewussyn pyn is en die selfmoord van Marais lui dan ook die aflegging van ou selwe in of vroeër sienings van die digkuns. Op ‘n kompakte wyse word sieninge verpak om tot helderheid te kom. Hierdie bundel is ‘n oorgangsbundel: een waarin die skrywer wegbeweeg na iets groters en waarskynlik meer dwingend in die self in-beweeg. Liefde eis groter waagmoed, die ouer self is meer blootgestel as die jonger, cruising digter wat hom kon oopstel vir gevaarlike terreine op sowel fisiese as geestelike vlak.

Hierdie soort gedig se belangrikste kenmerke vind ons: die woordspel, die pun, die toespeling op bekende gedigte van Van Wyk Louw, Boerneef, Cussons.

Die terugkeer na die jeug – bekend aan individuasie-tekste – is gelade:

Lyfband

My naam is net ’n kepie in die lengte van jou lyfband
Jou naam is ’n wond, ’n haakspeld deur my mond
Ek het jou op ’n skoolbank geteken, al jou trekke uitgekerf
Jou lyfband op die bed se blink gespe-oog het ek uitgeverf

(15)

Die naam van die mede-skolier is egter nou ‘n wond in die herinnering, iets wat ander ervarings sal bepaal. Dit kom dan na vore in:

Na Anaekreon I
Fragment 360

Seun met die lonk-oog blik,
ek kies jou uit, maar jy merk niks,
onbewus jy is die menner
van my siel & my geluk.

(17)

Die spreker is nie meer selfversekerd nie. Daar word gekyk na die self as ‘n bouval:

Bouval

Jy meen ek is taai, dat ek jou aanslae kan verduur
maar in der waarheid is ek: ’n krummelende kou,
’n haglike harmonie van suile & ruimtes
waarin jy soms jou vergane glorie nog onthou.

(18)

In vele gedigte is daar ‘n herinnering na die jeug, na die uitbundige omgang met die liefde, veral die liggaamlikheid daarvan, wat nou verstar het in ‘n “vergane glorie”.

Ook die verslawing (letterlik en aan die digkuns) kom aan bod wat die vorige bundel Die algebra van nood in herinnering roep. ‘n Vers soos “Trade” aktiveer weer Nagsweet se cruise-verse:

Trade

Sy lyf straal teen die wit-van-die-muur,
’n swetende blom van die middaguur.
Wie hom wil hê moet hom net daar pluk;
teen sesuur bring hy ongeluk

(28)

Elke vers het ‘n pendant in die oeuvre wat van hierdie bundel ‘n soort selfgesprek maak. Soms ironies, soms afwysend. Drome word kwelgeeste, iets wat die spreker teister in die herinnering. Hierom dan ook ‘n gesprek met die digterlike vader Van Wyk Louw:

Heildronk

Ek eet my toast
& drink my dooswyn
& in my hart
word alles boos rein.

(30)

Portrette van ander digters word telkens selfportrette of selfherkennings:

Emily Dickinson
’n Selfportret

Ek besit nóú geen portret, maar is soos die bruin
langstertjie klein, & my hare soos ’n kastaiingkwas
’n astrante klos – & my oë die kleur
van sjerrie wat die laaste gas los in ’n eenkantglas.

(33)

Klankspel is eweneens opvallend in die verse:

Hadida

Die hadida dida-dida die skemer in.
Sy vlerke van ou skutmetaal
is bestand teen die lig & roes,
& sy drieklank sny deur taal & tin.

(38)

Met “Inkvis” word vorige natuurverse geparodieer:

Inkvis

Die inkvis is ’n geisja
wat ligvoets dans oor koraal,
verwissel vlug kimono’s
in ’n ondersese taal.

(39)

Uiteindelik die digkuns die plek van oplossing vir die digter wat tot klaarheid moet kom:

By in amber

Tyd het ’n by gevang in amber
wat honderd miljoen jaar of so al
bo een taai suikerdenblom bly hang:
vir jou eendagshals ’n sonkristal.

(44)


droomreën

die reëls val onreënmatig
die beeld sal sy blom behou
maatslag nóg los, nóg statig
in die gedig se weerligblou

(55)


Abracadabra
’n optelvers

deesdae is die fyn estetiese
afstand tussen ’n objet trouvé
& ’n objet d’art inderdaad klein –
die frisson wat ’n kortsluiting gee

(57)

In hierdie bundel is daar verwysings na klassieke tekste: van Vergilius tot Lorca, Auden, Stockenström, en vele ander digters en kunstenaars soos Michelangelo, Rembrandt, Van Gogh, ensomeer wat die gedigte ryk en geskakeerd maak.

Die selfinsig is eerlik en op die man af:

Dwars

Hy is geheel dwars
met die heelal, kêns,
van meet af aan ’n dwars,
opgefokte entjie mens.

(67)


Digter op 50

Laatnag draai hy om, afgeslote
tussen fantome en penumbras,
& pluk ’n paar vermoeide note
uit ‘n ontstemde springveermatras.

(68)

Opperman word aangespreek en Van Wyk Louw bring helderheid in hierdie bundel wat op die oog af net na lopers lyk, maar op ‘n vernuftige wyse epigramme van die gees word.

Die middag het as geword

Die middag het as geword
met ’n son wat stadig smeul.
Die lug het soos wyn gestort
& niks word ooit weer heel.

(74)

Die bundel sluit met die sterk vertaling van Luuk Gruwez waarin die gevoel dat die gedigte iets kan oplos, sal voortstu in ‘n volgende bundel, juis omdat daar nooit heling in die digkuns, finaal, gevind kan word nie:

Niks
Luuk Gruwez

Niks eindig soos dit hoort. Nie
die dankwoord & nie die lusmoord,
nie die rusoord of die slotakkoord.
G’n enkel rymwoord. Niks soos dit hoort.

Konvensionele kwatryne is dit nie, omdat die rym- en metriese patrone dikwels nie nagevolg word nie. Maar die digter skep sy eie unieke De Lange-kwatryn. In die Persiese kwatryn is dit aaba, selfs aaaa. Oorspronklik is die ruba’i in die Islamse wêreld ‘n muntstuk en De Lange se kort gedigte is soos munte. Handig vir die oorvaart oor die Styx.

Ek volstaan met:

Abracadabra
’n optelvers

deesdae is die fyn estetiese
afstand tussen ’n objet trouvé
& ’n objet d’art inderdaad klein –
die frisson wat ’n kortsluiting gee

(57)

Dit is hierdie "kortsluitings" wat die kwatryne kenmerk, en waardeur 'n bundel uit 2011 oor generasies heen kan kommunikeer met een uit 2014. 

Beide is gepubliseer deur Protea Boekehuis.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]