Bladsye / Pages

Sunday, April 27, 2014

Woody Allen: Blue Jasmine en A street car named desire


Cate Blanchett is bekroon met 'n Oscar en Bafta vir haar uitstaande spel in Blue Jasmine. Haar voortreflike vertolking van die verloopte Jasmine French, vernoem na die blom wat na middernag blom, is een van Woody Allen se allerbeste films. Dit vertel die verhaal van Jasmine wat na die dood (en bankrotskap) van haar man, San Francisco toe vertrek om by haar suster Ginger (vertolk deur Sally Hawkins) tydelik oor te staan. Hier ontvou haar grimmige verlede: haar man, Hal (vertolk deur Alec Baldwin) is weens bedrog tronk toe en die bestaan in Park Avenue, New York word verruil vir 'n troostelose bestaan in San Francisco. Sy is verslaaf aan pille, alkohol en praat met haarself. Dit blyk dat sy 'n senu-ineenstorting beleef het na die tuimeling van haar man, wat in die tronk selfmoord pleeg. In 'n briljante toneel verduidelik sy hoe hy dood is: en dat hy homself opgehang het in die tronk en dat sy nek gebreek het. Sy ken die grusame besonderhede van sy selfdood.

Met Woody Allen se bekende satiriese aanslag is daar baie snaakse momente: 'n toneel waar die tandarts haar teister (en vertel dat 'n mens se tande jou persoonlikheid verraai) en Ginger se nuwe "loser boyfriend", soos sy hom beskryf, vertel vir Jasmine presies wie sy is. Sy ontmoet op 'n party 'n nuwe man, 'n diplomaat (Peter Sarsgaard), wie se vrou oorlede is en in sy nuutgevonde liefling 'n toekoms sien. Alles sou uitgewerk het vir Jasmine, wat nie eintlik heeltemal lieg nie, maar net halwe waarhede vertel. Sy word ontmasker deur Ginger se eksman, Augie (Andrew Dice Clay) wat haar voor die diplomaat beskuldig dat sy hom en sy eksvrou beroof het van die geld wat hulle met 'n lotery gewen het. Jasmine se toekoms is daarmee heen en die kyker beleef 'n pynlike toneel met haar stiefseun (eens trots op sy vader en aan Harvard studeer) wat haar kwalik neem vir sy vader se dood. Inderdaad so. Sy het in jaloerse woede die FBI gekontak en van sy bedrogskemas ingelig. Hy word dan op straat in hegtenis geneem en die hele kaartehuis tuimel inmekaar.

Die verlede word in terugflitse vertel en die "down and out" Jasmine werk by 'n tandarts, maar wil graag 'n "interior decorator" word. Die film lewer skerp kommentaar op die leegheid van 'n rykmansbestaan.

Haar selfverloëning duur egter voort. Sy erken nie aan Ginger dat die verhouding met die diplomaat verby is nie. Sy vertel dat sy op pad Wenen toe is en dat haar tasse gehaal sal word, terwyl Ginger (dronk en giggelend) met die "grease monkey" op die rusbank sit en vry.

Jonathan Rhys Meyers in Match Point. Die film se eksplorasie van die noodlot word hier suggereer deur Dostojwski.

In 'n navrante slot sien ons  'n troostelose Jasmine - sonder grimering - wat met haarself eers met 'n vrou praat, wat wegstap en dan met haarself. Uiteindelik spreek sy ons, die kykers toe. Ons is die getuies van hierdie drama soos in Matchpoint waar Allen selfs Sofokles byhaal oor die menslike lot, om die moord te verduidelik.

Die film se briljantheid is egter geleë in ander intertekste of dan buite-tekste, te wete Blanchett se vertolking van Blance DuBois uit A streetcar named desire in Sydney (in 2008) en die toespelings op Tennessee Williams se gelyknamige voortreflike drama. Baldwin het in 1992 die rol van Stanley Kowalski op Broadway vertolk. Sy rol in hierdie film word eweneens gelaai met sy slopende egskeidingsdrama met Kim Bassinger en 'n vreemde insident van teistering deur 'n Kanadese aktrise, Genevieve Sabourin.

Vivien Leigh (Blanche DuBois) en Marlon Brandon (Stanley Kowalski)

In die Elia Kazan-film, met Marlon Brandon as Blanche se anatagonis, word die kyker meegesleur in die stadige ontknoping en verwoesting van Blanche, vertolk deur Vivien Leigh. Hierdie film was vir 12 Oscars benoem indertyd en bly steeds 'n uitstaande film, 'n film wat Williams as uitmuntende dramaturg gevestig het.

Blue Jasmine begin met 'n jazz-deuntjie wat al klaar 'n duidelike kode is dat Allen inspeel op 'n klassieke teks. A streetcar named desire se musiek aan die begin is bykans bedreigend.  Jasmine (eintlik Jeanette) is vernoem na 'n blom en in San Francisco is daar kleurryke blomme in die diplomaat, Dwight, se huis. (Blanche noem haarself ‘n lenteboord…) So word haar troostelose bestaan by haar suster in opposisie geplaas met die lewe waarvoor hy staan. Hy beloof haar 'n nuwe lewe in Wenen met sjokoladekoek en weelde. Blanche hou van operettes.  In Allen se film is die mans van Jasmine se suster "losers": sowel Augie as Chili vertel Jasmine haar fortuin. Augie vervul die funksie van Kowalski wanneer hy haar ontmasker voor 'n juwelierswinkel waar sy 'n verloofring uitsoek met haar nuutgevonde geliefde.  In beide films is die verhouding tussen die susters van sentrale belang: Stella verlaat Kowalski nadat hy Blanche ontmasker en vernietig het en Jasmine se suster vergeef haar vir die ellendes wat hulle deurgemaak het ná die verlies aan geld. Boonop vertel sy nie haar suster van haar man se ontrouheid nie; 'n vriendin is die een wat dit doen en sy eie nalatigheid laat hom in die pekel beland. Hy vergeet sy Rolex in 'n hotelkamer in Parys en die hotel bel terug en so vind sy vrou uit van sy ontrouheid.

Sy is Jasmine French: hoe ironies dat haar man haar in Frankryk verneuk het met 'n au père en tipies in Allen se dekonstruktiewe aard is daar 'n liedjie waarin besondere vrot Frans gesing word. A good man is hard to find.

In 'n stadium bely sy teen die einde van die rolprent het sy die woorde van Blue moon geken, die liedjie waarmee Hal haar oorrompel het. Haar lot sal uiteindelik dieselfde wees as Blanche DuBois s'n: "I've always depended on the kindness of strangers".

Allen se film lewer skerp kommentaar op materialisme, maar veral op selfbedrog.  Dalk dat gierigheid lei tot selfbedrog? Stanley Kowalski se aftakeling van Blanche het juis te make met sy woedebui, omdat hy vermoed Blanche het haar suster uit die familie-erfporsie verneuk, en die helfte volgens hom as haar eggenoot in New Orleans, kom hóm toe.

Die tragedie in Matchpoint het ook te make met gierigheid: Chris wil nie die nuutgevonde rykmanslewe versaak nie en hierom vermoor hy sy swanger geliefde wat in sy pad na sukses staan. Streetcar en Blue Jasmine lewer felle sosiale kommentaar op mense se posisies in 'n samelewing.

Beide films werk met Franse pretensie. Die verlore huis in Streetcar heet Belle Reve en met elke herkyk doen vele intertekste op soos die Dame van die Kamelias. Albei vrouens se lewens ontaard in nagmerries. Allen gebruik musiek wat inspeel op Kazan se film.

*


Blue Jasmine het eweneens kritiek ontlok, om 'n verdere buite-teks aan te stip,  van Mia Farrow se dogter wat akteurs die verwyt gemaak het dat hulle in 'n rolprent van Allen optree, 'n persoon wat transgressief is en van molestering aangekla is.  Blanchett het haarself goed verdedig. Sy het die hoop uitgespreek dat die familie, wat al soveel ellende beleef het, hul verskille sal uitsorteer.

Woody Allen se film is gelaai met sub-tekste: Baldwin se komplekse geskiedenis met sy eksvrou en natuurlik sy eie troebel verhouding met Mia Farrow speel 'n rol in ons vertolking van hierdie film wat ek al vier keer gekyk het. (Matchpoint al ses keer. Dit bly waarskynlik se Allen allerbeste in jare.) Van 1947 (toe dit as teaterstuk opgevoer is) tot nou beleef ons ‘n boeiende gesprek tussen die tekste. Eweneens is daar Pedro Almodóvar se All about my mother (1999) wat ook praat met Blanche, die verloopte Southern Belle, wat verlief was op ‘n jong seun en haar waansin en alkoholisme probeer besweer in die Elisian Avenue in New Orleans.

Daar is geen buite-teks, het Derrida opgemerk. Daar is nét buite-tekste, illustreer Woody Allen.

wit ink: Hélène Cixous skryf die lyf

Hélène Cixous

I made war, because war was made on me. - white ink, 2008, 63.


I

Die Algeryns-gebore Hélène Cixous se white ink - interviews on sex, text and politics (Acumen, 2008) neem standpunt in teen die manlike orde of fallogosentrisme. (Hierom is die titel op die buiteblad waarskynlik dan opsetlik in kleinletters.) As briljante feministiese teoretikus/filosoof, digter, dramaturg en professor neem sy sterk posisies in en sy vertolk veelvuldige rolle. Sy het ook die term "nostalgeria" gemunt: die verlange terug na die Algerië van haar jeug waar sy as Jodin opgegroei het. Derrida het haar by geleentheid tipeer as die grootste Franse skrywer. In 2001 publiseer sy 'n portret oor Derrida as 'n jong, Joodse heilige. Le Rire de la Méduse, oftewel Die lag van Medusa verskyn in 1975 en is waarskynlik haar bekendste werk vir die meeste lesers.

Die Medusa-figuur is enersyds vreesaanjaend met haar kop vol slange en as jy direk na haar kyk, verander jy in klip; andersyds bevrydend: nadat haar kop afgekap is, word haar kop as 'n amulet op Athene se skild geplaas. En dit is hierdie ambivalente posisie van vrouwees wat Cixous beskryf: die inskryf teen die manlike orde. Sy verwerp die  fallologosentriese orde en haar werk is 'n komplekse analise van genderposisies. Mans moet hul eie manlikheid bevraagteken, en Joyce, oor wie sy 'n doktorale tesis geskryf het, is volgens haar in wese bekend met die wese van vrouwees, ofskoon hy nie 'n feminis was nie ("My text is written in white and black, in 'milk and night'"). In hierdie onderhoud - gevoer deur Christiane Makward - wys sy hoe seksualiteit, wat in wese 'n biseksuele posisie is, deur die gemeenskap beheer en getransformeer word deur 'n keuse. Haar siening is 'n herdefiniëring van man-wees/vrou-wees. Die vroulike onbewuste, argumenteer sy verder, is 'n ruimte waarna vroue moet beweeg; juis omdat dit nie stereotipies of "downtrodden" is nie.

"She must dare herself, she must dare to be herself" (64).

In Sorties / Uitgange  (1975) ondersoek sy die binariteite wat ons denke beheer - met 'n implisiete soektog na 'n ander struktuur. Dalk 'n tegelykertyd-beginsel of belewenis? In Die lag van die Medusa argumenteer sy, kan jy vasgevang bly in manlike taal of jy kan dit deur jou liggaamlikheid ontglip.

Haar siening van die écriture féminine is inspirerend. Sy munt die begrip écrivantes / writresses.


II

Die vreesaanjaende Medusa word iets anders vir Cixous. Perseus het Medusa se kop afgekap en dit vir Athene gegee, wat dit op haar skild geplaas het. Die Medusa-figuur is ook iemand wat die bose afweer, as 'n mens die mitologiese tekste lees. As 'n mens dus na die mitologiese gegewe kyk, is die vrou vreesaanjaend. Haar kop word afgekap (sy word stilgemaak binne die manlike orde) en kan alleen verlossing vind binne 'n Nuwe Vroulike Orde - dit waarvoor Athene staan. Vroulike seksualiteit word as bedreigend ervaar; net soos intiem-vroulike skryfwerk dikwels as té openbarend of onthullend gesien word. Oor hierdie problematiek het ek my uitgelaat in my bundel Interne verhuising (Perskor, 1995).

Writing as fucking

Om ‘n lesbiese vers te skryf
skuins voor middernag
lei tot vele probleme
(die ‘wrede matesis’ dáárgelaat…)
om ‘n nie-aweregse beeld te vind
vir ons sames(k)yn:
die pen is magtiger as die swaard;
deug helaas nie; té fallies, seksisties,
klink na penisnyd…
wanneer twee lippe saampraat;
sê nie veel van ons sagtheid/neutraliteit.
rubyfruit jungle:
is valse vrug-telose erotiek.
donker labirint: te wanhopig-literêr.
bitterlemoene:
fraaie cunnilingus op Afrikaans.

Om ‘n (liefdes)vers
soos dié te skryf,
bring kilte/logika/skuld
oor dit wat gewoon is.


Soixante-neuf

Die tong ‘n smal swaard
en blink beweeg ritmies
in en uit twee skilpaadjies se kop uitsteek
in die sagte oewers van die lyf vasslik
heerlik   begeerlik    vleeslik

want die tong is te geheim
om  vreugde nie te smaak
in en uit    in en uit
indruk invoel insteek
totdat die skaam oewers van die lyf vrééslik
heer-heer-heerlikste

ekstase van ‘n omgekeerde
inmekaar orgasme

         proe
6 en 9 wieliewalie
tot ‘n dop se plotse sluit.

(Uit: Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995.)

Hierdie gedigte is geskryf voordat ek bewus geword het van Cixous se "dedans". In my navorsing oor Johann de Lange identifiseer ek dieselfde proses: die digter kom eweneens in opstand teen die Orde van vader en maak die gay-subjek stemhebbend. Ook die gay-digter worstel met dieselfde problematiek as die vroulike digter. Die manlike orde hou hom ook buite en die homo-erotiese liefde is 'n plek van geheimenis - 'n kluis van die liefde. Die plesier is kortstondig en "agterbaks", wat dui op die verraad wat ervaar sal word deur die heteroseksuele man se vrou - en ook deur hetero-lesers, wat afwysend sal staan teenoor hierdie liefde.

Tongnaai I

Roekelose gevleuelde wilde man
op jou rasendmooi snelrooi motorfiets:
jy het jou lyf een nag vir my oop-
gemaak, ‘n fyn senuagtige roos,
‘n nuutgevonde herontdekte pyn.

Boude wit en rond soos eierdoppe,
sterk geheime kluis van die liefde.
Ek weet nie dat ek jou liefhet nie,
net dat jy oopvurk vir die woord
wat my reënende tong wil plant

teen ons dood. My heupe stamel.
Jou nat voorkop, bruin bene wat span
terwyl jy swetend spook en buitel
om te kom. Ek lê langs jou, krom
soos ‘n hand, luister na jou asem

wat gejaagd ‘n ander beeld wil oproep
agter jou saamgeperste oë:
‘n paar huise weg jou vrou en kinders
soos liefdesbriewe in ‘n laai vergeet,
afgesluit van ons agterbakse plesier.


Tongnaai II

Op jou maag, met een been hoog opgetrek,
kan ek sien tot waar jou blonde beenhare
strek, verdonker en verdig, en die dik rif
van jou horing tussen harde boude in verdwyn.

Judasoog wat vir ‘n tongnaai oper plooi,
geurige kreukel met ‘n vag bruin krulle,
ring wat ritmies knel as die eerste fel spasmas
die skoot diep uit my swaar balle boontoe bring

en stoot tot by die rooi geswolle knop wat klop
en taai wit wiele oor jou rug uitrol.
Jou lyf maak my jags vir growwe taal
– hol en horing, pielkop, fok en tos –

want in my mond is sulke soepel woorde
dik en vlesig en vrank soos jy.

(Uit: Nagsweet. Taurus, Johannesburg. 1991.)

Die gay-digter oortree die dekorum op 'n taalvlak deur growwe en plat woorde in sy gedig te gebruik:

– hol en horing, pielkop, fok en tos –

Maar dit is tussen parenteses. Weggesteek dus op ikoniese vlak, maar ook oopgemaak op papier. Hier beweeg hy weg van die aanvaarbare, poëtiese taal na die ruimte van Oortreding. Ons, die lesers, kyk deur die judasoog.

Wit ink is immers 'n beeld vir die onmoontlike taak van die skrywer wat teen die Orde moet inskryf.

“Writing is a passageway, the entrance, the exit, the dwelling place of the other in me–the other that I am and am not, that I don’t know how to be, but that I feel passing, that makes me live–that tears me apart, disturbs me, changes me, who?–a feminine one, a masculine one, some?–several, some unknown, which is indeed what gives me the desire to know and from which all life soars. This peopling gives neither rest nor security, always disturbs the relationship to “reality,” produces an uncertainty that gets in the way of the subject’s socialization. It is distressing, it wears you out; and for men, this permeability, this nonexclusion is a threat, something intolerable” ("Sorties" in The Newly Born Woman, 86).

Vir 'n gay-man is dit nie bedreigend nie: daar word standpunt ingeneem teen dieselfde Verdrukkende Orde. Cixous het hierdie woorde in 1975 geskryf en dit bly steeds relevant vir almal wat buite of teen die Orde inskryf. Hierom my aanklank by De Lange.


III

'n Geselekteerde bibliografie verduidelik hoé belangrik Cixous se bydrae oor vier dekades is.

Fiksie

Le Prénom de Dieu, Grasset, 1967.
Dedans, Grasset, 1969.
Le Troisième Corps, Grasset, 1970.
Les Commencements, Grasset, 1970.
Un vrai jardin, L'Herne, 1971.
Neutre, Grasset, 1972.
Tombe, Le Seuil, 1973.
Portrait du Soleil, Denoël, 1973.
Révolutions pour plus d'un Faust, Le Seuil, 1975.
Souffles, Des femmes, 1975.
La, Gallimard, 1976.
Partie, Des femmes, 1976.
Angst, Des femmes, 1977.
Préparatifs de noces au-delà de l'abîme, Des femmes, 1978.
Vivre l'orange, Des femmes, 1979.
Ananké, Des femmes, 1979.
Illa, Des femmes, 1980.
With ou l'Art de l'innocence, Des femmes, 1981.
Limonade tout était si infini, Des femmes, 1982.
Le Livre de Promethea, Gallimard, 1983.
La Bataille d'Arcachon, Laval, Québec, 1986.
Manne, Des femmes, 1988.
Jours de l'an, Des femmes, 1990.
L'Ange au secret, Des femmes, 1991.
Déluge, Des femmes, 1992.
Beethoven à jamais, ou l'éxistence de Dieu, Des femmes, 1993.
La Fiancée juive, Des femmes, 1997.
OR. Les lettres de mon père, Des femmes, 1997.
Voiles (with Jacques Derrida), Galilée, 1998.
Osnabrück, Des femmes, 1999.
Les Rêveries de la femme sauvage. Scènes primitives, Galilée, 2000.
Le Jour où je n'étais pas là, Galilée, 2000.
Benjamin à Montaigne. Il ne faut pas le dire, Galilée, 2001.
Manhattan. Lettres de la préhistoire, Galilée, 2002.
Rêve je te dis, Galilée, 2003.
L'Amour du loup et autres remords, Galilée, 2003.
Tours promises, Galilée, 2004.
L'amour même dans la boîte aux lettres, Galilée, 2005.
Hyperrêve, Galilée, 2006.
Si près, Galilée, 2007.
Cigüe : vieilles femmes en fleurs, Galilée, 2008.
Philippines : prédelles, Galilée, 2009.
Ève s'évade : la ruine et la vie, Galilée, 2009.
Double Oubli de l'Orang-Outang, Galilée, 2010

Teater

La Pupulle, Cahiers Renaud-Barrault, Gallimard, 1971.
Portrait de Dora, Des femmes, 1976.
Le Nom d'Oedipe. Chant du corps interdit, Des femmes, 1978.
La Prise de l'école de Madhubaï, Avant-scène du Théâtre, 1984.
L'Histoire terrible mais inachevée de Norodom Sihanouk, roi du Cambodge, Théâtre du Soleil, 1985.
Théâtre, Des femmes, 1986.
L'Indiade, ou l'Inde de leurs rêves, Théâtre du Soleil, 1987.
On ne part pas, on ne revient pas, Des femmes, 1991.
Les Euménides d'Eschyle (traduction), Théâtre du Soleil, 1992.
L'Histoire (qu'on ne connaîtra jamais), Des femmes, 1994.
"Voile Noire Voile Blanche / Black Sail White Sail", bilingual, trad. Catherine A.F. MacGillivray, New Literary History 25, 2 (Spring), Minnesota University Press, 1994.
La Ville parjure ou le Réveil des Érinyes, Théâtre du Soleil, 1994.
Tambours sur la digue, Théâtre du Soleil, 1999.
Rouen, la Trentième Nuit de Mai '31, Galilée, 2001.
Le Dernier Caravansérail, Théâtre du Soleil, 2003.
Les Naufragés du Fol Espoir, Théâtre du Soleil, 2010.

Essays

L'Exil de James Joyce ou l'Art du remplacement (doktorale tesis), Grasset, 1969.
Prénoms de personne, Le Seuil, 1974.
The Exile of James Joyce or the Art of Replacement (Vertaling: Sally Purcell of L'exil de James Joyce ou l'Art du remplacement). New York: David Lewis, 1980.
Un K. Incompréhensible : Pierre Goldman, Christian Bourgois, 1975.
La Jeune Née, met Catherine Clément, 10/18, 1975.
La Venue à l'écriture, met Madeleine Gagnon en Annie Leclerc, 10/18, 1977.
Entre l'écriture, Des femmes, 1986.
L'Heure de Clarice Lispector, Des femmes, 1989.
Photos de racines, met Mireille Calle-Gruber, Des femmes, 1994.
Portrait de Jacques Derrida en Jeune Saint Juif, Galilée, 2001.
Rencontre terrestre, met Frédéric-Yves Jeannet, Galilée, 2005.
Le Tablier de Simon Hantaï, 2005.
Insister. À Jacques Derrida, Galilée, 2006.
Le Voisin de zéro : Sam Beckett, Galilée, 2007


© H.R. Giger

Sunday, April 13, 2014

D.J. Opperman: Man met flits

 D.J. Opperman, Foto deur Paul Alberts

Man met flits

In die klein wit kol
van my wete stol

bruin en skerp ’n klip
soos ’n bok wat skrik,

staan, vinnig weghol
uit die klein wit kol.

Aan ’n takkie hang
twee ogies wat bang

uit die klein wit skyn
van my flits verdwyn.

Oor waters wat glip
soek ek klip na klip

maar ’n duister land
bedreig my alkant.

D. J. Opperman

*

Hierdie gedig, opgeneem in Negester oor Ninevé (1947) is 'n uiters boeiende vers. Waaroor handel die gedig? Oor 'n man met 'n flits wat in die donker 'n bang diertjie sien en bedreig voel deur die donkerte (en die diertjie)?

Die gedig is egter meer as dit. Dit begin met "wete", met ander woorde, denke, wat vergelyk word met 'n bruin, skerp klip en 'n bok wat skrik en dan weghol.

Die denke is dus sowel 'n klip (stolling) as 'n vlugtende bok (beweging). Met die dieper blik van die flits is daar dan ook vrees. Met ander woorde: die denke stol en beweeg, maar daar is ook vrees ingebed in hierdie proses van waarneming. Die onbewuste ("oor waters wat glip") lei tot 'n soektog buite die kyker wat vastigheid behoef ("soek ek klip na klip"), maar bedreig word deur "'n duister land alkant". Hierdie bedreiging is dus die onbewuste (of droom of inspirasie) wat in die gedig vergestalt word.

In die gedig "Nagwaak by die ou man" staan daar in die slotreël:

die streke van die gees bly ongekaart.

'n Mens kan beide hierdie verse psigoanalities vertolk. In "Nagwaak by die ou man" word daar verwys na die "drif / wat deur die eeue veg".

Watter soort dier se twee ogies sien ons? Dalk 'n uil?

En die duister land? Dalk die politieke werklikheid wat die digter bedreig? Die onseker toekoms?

*
In C.G. Jung se On the nature of the psyche (Bollingen Series, Princeton University Press 1960) skryf hierdie psigoanalis boeiend oor die aard van die psige. Jung beweer: "If the unconscious can contain everything that is known to be a function of consciousness, then we are faced with the possibility that it too, like consciousness, possesses a subject, a sort of ego" (87).

Met hierdie uitspraak, kan 'n mens die gedig benader as 'n representasie van Opperman se onbewuste. Hy is die man met ('n) flits wat sy digterlike proses so blootlê. Jung skryf dan ook verder dat as ons die waarnemings wat in die onbewuste opgesluit lê, sou verdiskonteer, sou dit ons waarneming van die wêreld verander (en verbeter).

Die steuringe wat uit die onbewuste kom wat sig manifesteer in drome, fantasieë en komplekse, kan dan suksesvol geïntegreer word in ons bewuste.

Hierdie boeiende gesprek van (voor)wete en wete word aangrypend in hierdie gedig weergegee.

*

Frank Kermode in sy biblioteek

Frank Kermode sluit by hierdie gedagte aan in die hoofstuk "Divination" in sy An appetite for poetry - Essays in literary interpretation (Fontana Press, 1989). In die verskillende weergawes van tekste, skryf hy, kan 'n mens dikwels sien hoe die skrywer se intuïsie verander of hoe dit ontdek word (155). Tog, waarsku hy, hierdie proses van "waarsegging" moet ook as gevaarlik gesien word. Dit is 'n moeilike proses en niemand het die waarheid in pag nie.

Kermode wys ook op foute in tekste en hoe dit deur die jare nie reggestel word nie en lesers bly dan hul interpretasies op 'n verkeerde woord of weergawe baseer.

En, skryf hy, ons is "slow to pursue occulted senses, evidences of what is not immediately accessible. It is the mark of what I call a classic text that it will provide such evidence; if it were not so the action of time and the accumulation of interpretations would exhaust it or make it redundant" (171). Juis omdat daar altyd iets agterbly, kan ons bly lees en divineer. In 'n proses wat vir ewig duur.

Sonder wetenskap (lees: literatuurwetenskap) kan daar geen voorspelling wees nie; sonder hierdie intuitiewe lesings word die (literatuur)wetenskap vervelig...


En hierdie soort lesing is, as ek Kermode aanpas, 'n gawe. So gelees, dra Opperman se gedig verwysings na Jung en Kermode. En 'n ander leser mag uiteraard iets anders raaklees met sy of haar flits.

Friday, April 11, 2014

Isabel Allende - Ripper (2014)



Isabel Allende. Ripper. Jonathan Ball, 2014. ISBN13: 9780062291400 
Resensent: Joan Hambidge

Isabel Allende is ’n legendariese skrywer en haar The House of the Spirits (1982) beklee ’n ereplek op my boekrak.

Haar jongste heet Ripper.

Die hoofkarakter, Amanda Martín, se webwerf werk met die bekende gegewe van Jack the Ripper.

Die Victoriaanse tyd word in die moderne tyd van die rekenaar nuwe lewe gegee.

Die werklikheid word egter gemanipuleer deur die rekenaarspel. Met die werklike dood van Ed Staton, en ander, ruk sake handuit.

Die roman is opgedra aan ­Allende se eggenoot, William C. Gordon, “my partner in love and crime” en self ’n bekende speurverhaalskrywer.

Op bladsy 106 laat ’n karakter een van Gordon se romans agter en ’n karakter tel dit op. Op bladsy 317 lees die karakter waarskynlik Isabel Allende. Hierdie in-verwysings maak die roman uiters plesierig.

Hugh Grant se avontuur met ’n prostituut word ook gesatiriseer en Umberto Eco se bekende studies oor die speurverhaal en fiksionele karakters se ervaring van die werklikheid word eweneens geaktiveer.

Die domein van die speurverhaal is al lankal nie meer ’n manlike terrein nie. Ons weet dit al sedert Agatha Christie, P.D. James en Ruth Rendell, en in Afrikaans is daar Karin ­Brynard. Op die buiteflap word Allende beskryf as “mistress storyteller”.

Die roman val met die deur in die huis. Ons verneem die moeder van Amanda, ene Indi­ana Jackson, gaan om middernag op Goeie Vrydag vermoor word.

Vyf tieners en ’n ouer man span saam om ’n oplossing te vind. Op 11 Oktober 2011 om 08:00 word ’n lyk ontdek by ’n skool in San Francisco.

Met besonder noukeurige forensiese presisie word ons vertel hoe die persoon vermoor is en hoe die toneel daar uitsien.

Ed Staton, toevallig ook ’n veiligheidswag, is die vermoorde. En tipies van ons tyd is daar grensoorskrydende lekkasies aan die media en transgressiewe vrae.

In hierdie dae van die Oscar Pistorius-saak weet almal hoe die media se interpretasies en menings ’n “spin” aan ’n moordsaak kan gee.

Die toespelings op die gay-gemeenskap en wat met Ed se lyk alles gebeur het, is nogal ontstigtend.

Amanda se pa, Indiana se eks, is boonop die adjunkpolisiehoof. Op ’n werklike en kubervlak word daar na die moordenaar gesoek.

Verskillende identiteite word geskep. Een van die spelers is Sherlock Holmes – die mistige Londen van 1888 geplaas teenoor San Francisco in 2011.

Diegene wat hierdie teks as “minder” of “swak” afgemaak het, kyk die besondere snelle vertelpas mis, die briljante speurkodes en die kommentaar op die moderne elektronika.

Allende se karakters is onder meer psigies. Een is ’n masseuse wat mense se chakras manipuleer.

Die jonge Amanda is op pad na die Massachusetts-instituut van tegnologie (MIT) en sy is briljant.

Van haar medespelers is haar oupa, ’n parapleeg uit Nieu-Seeland en ’n Kanadese meisie met ’n eetversteuring. Dus, almal wat so ’n bietjie buite die “normale” sfeer beweeg.

Speurverhale aktiveer immers die liminaliteit of grensbestaan. Dit is waarom die moderne Sherlock Holmes-reeks kykers so boei.

Allende betrek ook hipnose en die paranormale by haar roman.

Speurverhale word dikwels afgemaak as “populisties”, maar Eco se The Name of the Rose (1980) het immers gewys dit hoef nie so te wees nie.

Kerneels Breytenbach het met sy Piekniek by Hangklip (2011) self die kodes van populistiese en ernstige literatuur vermeng.

Die roman is goed gekonstrueer en gee vals leidrade wat die leser volg om dan uiteindelik by die oplossing uit te kom.

Daar is vele “inferential walks”, in Eco se terme – Tosca, Jeffrey Dahmer, Susanna en die ouderlinge, Woody Allen se flieks, O.J. Simpson, ensomeer – wat die teks ook vir die letterkundige speurder ’n feesmaal maak.

Daar is soms ook te lang uitgebreide passasies, soos besoeke aan Alkoholiste Anoniem, wat die verhaalgang vertraag.

As jy Steppenwolf ken en boonop sir Arthur Conan ­Doyle, besef jy watter (kuber-) spore jy moet volg . . .

Dis ’n wonderlike boek wat ’n mens opnuut laat besef hoe goed Agatha Christie is met vals leidrade.

En die vraag bly: Wat sou ­Samuel Hamilton of Hercule Poirot hiervan gemaak het?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Sunday, April 6, 2014

Paul de Man en die Allegorie van lees

David Plunkert for The Chronicle Review

I

The Double Life of Paul de Man 
by Evelyn Barish
Liveright, 534 pp., $35.00

The Many Betrayals of Paul de Man deur Tom Bartlett (Besoek 25 Maart 2014)

Lank na Derrida se verdediging van Paul de Man, die Yale-dekonstruksie-kritikus, verskyn daar ‘n biografie wat verdere aspekte van ‘n donker psige openbaar. Nie alleen was De Man ‘n kolloborateur in sy jeug nie, maar hy het ook sy wettige vrou in die steek gelaat. Hy het ‘n ander vrou ontmoet, met haar getrou, sonder om sy vrou te skei. Die wettige vrou is verder nie onderhoud betaal nie en insinuasies van diefstal, onbetaalde rekeninge, leuens en wat nog, word vertel. Boonop – so word daar beweer – het hy aan Harvard studeer sonder ‘n regte graad. Hy het dokumente vervals en almal wol oor die oë getrek.  ‘n Mens word by die lees van hierdie biografie bewus van ‘n pre- en post-bestaan en ‘n intellektueel wat homself letterlik “oorgemaak” het. Die insinuasies – met bewyse van sy pro-Nazi-koerantartikels gevind deur Ortwin de Graef – het sy intellektuele vriende geskok en verskeie teoretici het hom probeer verdedig, o.a. Derrida, Hillis Miller, en vele meer. 

"The people that love de Man and continue to support him fundamentally say that there is no necessary connection between what a person does or says in his or her private life and what his or her ideas are," said Barish. "I'm not of that position."

Van die belangrikste reaksies is:

Peter Brooks: The strange case of Paul de Man, (besoek 25 Maart 2014)

Reaksies op Derrida se verdediging “Like the Sound of the Sea deep within a Shell: Paul de Man’s  War” opgeneem in Critical Inquiry 14 (Spring 1988: 590 – 652) is relevant.

Dieter Freundlieb: Derrida's Defence of Paul de Man's Wartime Writings: A Deconstructionist Dilemma, (besoek 27 Maart 2014)

Jon Wiener: On Jacques Derrida's "Paul de Man's War" Vs The Responsibilities of Friendship: Jacques Derrida on Paul de Man's Collaboration, (besoek 27 maart 2014)

II


Blindness and Insight (1971) en Allegories of reading (1979) is twee belangrike tekste binne die literêre teorie. De Man is in 1983 oorlede.

Hoe benader ons die kontroversie van goedskiks 200 anti-semitiese artikels? Of akademiese bedrog? Aantygings van “chicanerie”? Bigamis?

Die volgende inskrywing oor sy lewe staan op die Wikipedia (besoek 25 Maart 2014):
Born: Antwerp, Belgium 
Died: December 21, 1983 (1983-12-21) (aged 64)
New Haven, Connecticut, U.S.A. 
School: Deconstruction

Paul de Man (born Paul Adolph Michel Deman: December 6, 1919, Antwerp – December 21, 1983, New Haven, Connecticut) was a Belgian-born literary critic and literary theorist. At the time of his death, de Man was one of the best-known literary critics in the United States – known particularly for his importation of German and French philosophical approaches into Anglo-American literary studies and critical theory. Along with Jacques Derrida, he was part of the an influential critical movement that went beyond traditional interpretation of literary texts to reflect on the epistemological difficulties inherent in any textual, literary, or critical activity. This approach aroused considerable opposition, which de Man attributed to "resistance" inherent in the difficult enterprise of literary interpretation itself.

De Man began his teaching career at Bard College. In the late 1950s he completed his Ph.D. at Harvard University, then taught at Cornell University, Johns Hopkins University, and the University of Zurich, ending up on the faculty in French and Comparative Literature at Yale University, where he was considered part of the Yale School of Deconstruction. At the time of his death from cancer, he was Sterling Professor of the Humanities and chairman of the Department of Comparative Literature at Yale. De Man oversaw the dissertations of Gayatri Spivak (at Cornell), Barbara Johnson (at Yale), Samuel Weber (at Cornell), and many other noted scholars.

After his death, a researcher uncovered some two hundred previously unknown articles de Man had written in his early twenties for Belgian collaborationist newspapers during World War II, five of them implicitly and one explicitly anti-Semitic. These, in combination with explosive revelations about his domestic life and financial history, caused a scandal and provoked a reconsideration of his life and work.

III

De Man se belangrikste bydrae as teoretikus is die gedagte van “blindness and insight”, te wete die paradoksale teenstrydigheid tussen wat ‘n leser maak van (die) letterkunde en die uiteindelike interpretasie of afleiding wat daar ten slotte gemaak word. Die sogenaamde aporia van die teks is eweneens ‘n belangrike bydrae nes sy siening dat insig net vergestalt of “gevind” kan word wanneer die betekenis op sigself gedraai word.


Allegories of reading dra die subtitel Figural language in Rousseau, Nietzsche, Rilke and Proust. Dit het in 1979 in New Haven verskyn by Yale University Press. Ek het hierdie boek gelees in die tagtigerjare en tydens ‘n wintersbesoek aan Yale (‘n wintersvakansie), het Barbara Johnson sy lesings waargeneem weens ongesteldheid. Dit was 1984. Ek het in hierdie tyd ook van Bloom, Hillis Miller en Hartman se lesings bygewoon en almal was vol lof vir die werk van De Man. Ek het toe sopas my eerste doktorsgraad oor dekonstruksie voltooi, en ek (her)lees vandag die De Man-teks vol merkies gemaak tydens my navorsing in hierdie tyd.

Nou goedskiks dertig jaar later tel ek De Man weer op en bedink die vlakke van lees: letterlik, die allegorie van lees. Tersaaklik is dit dat die skrywer De Man die metaforiek van binne/buite takel, met ander woorde, die leser staan buite die teks en die betekenis word binne-in die teks vasgevang met die leser wat alles moet “oopmaak”.

Na soveel jare voel hierdie leser dat ‘n mens ten spyte van die donker kant van die figuur De Man moet fokus op die uitsonderlike en komplekse teoretiese bydrae. En die onverkwiklike geskiedenis eerder moet verdring sodat dit nie in die pad staan van jou interpretasies nie. En as dit wéér na vore kom eerder moet besef hoe hierdie negatiewe verlede hom juis gedryf het tot komplekse vrae oor lees en skryf.

IV


De Man het telkens in sy tekste betekenis ontspoor (“dislocate”) en komplekse interpretasies gemaak van tekste.

In sy uitsonderlike lesing van Rilke (“Tropes”) skryf hy: Neither love nor the imagining power of the deepest nostalgias can overcome the essential barrenness of the self and of the world” (23).

Om die buite-inligting te verdring, is egter onmoontlik. Daar is geen buite-teks nie, het Derrida gewaarsku en tekste roep ander tekste en interpretasies op. 

V

Hierdie studie van De Man het my weer na Rilke geneem en na H.J. Pieterse se vertalings. Ek het in 2007 die volgende resensie vir Die Volksblad geskryf oor hierdie boek:


Rainer Maria Rilke. Duino-Elegieë. (Vertaal deur H.J. Pieterse). Protea Boekehuis, 2007. ISBN   978 1 86919 151 1.

Waarom verskyn daar in die jaar 2007 ‘n vertaling van Rilke beroemde Duino-Elegieë in Afrikaans? Om verskeie redes bly Rilke ‘n baken binne die letterkunde en sy invloed op die Afrikaanse digkuns is al deur D.J. Opperman aangestip in Digters van Dertig.

Die invloed van Rilke op Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers kan juis nou, na die vertaling van H.J. Pieterse, opnuut beskou word. As voorste Simbolistiese digter word hy steeds as ‘n baken beskou binne die Europese digkuns. 

Sowel Henning Pieterse as Protea moet lof toegeswaai word vir die vertaling en publikasie van hierdie moeilike, dog belangwekkende teks. Dit is ‘n belangrike teks vir die navorser wat die invloed van Rilke op die Afrikaanse digkuns wil karteer en wat iets meer van die Simbolisme wil begryp. (Ek het ‘n vroeër weergawe van die teks gesien en ‘n minimale inset gelewer.)

Geen vertaler wat sy sout werd is kan die probleme rondom vertalings ignoreer of pypkan nie. Pieterse verwys hier tereg na die uitsprake van Leon de Kock en Antjie Krog en hy imponeer met sy eie bydrae tot die kwessie.

Pieterse som sy siening van die vertaling soos volg op, naamlik ‘n sentripetale (na die Rilke-teks) en sentrifugale (na die Afrikaanse teks) spel wat dus tussen getrouheid en vryheid beweeg (p. 21).


Tussen 20 en 21 Januarie 1912 toe Rilke die prinses Marie von Thurn und Taxis-Hohenlohe by die Duino-kasteel besoek het, het hierdie gedigte hul beslag gekry. Dit is dan – volgens verskillende kommentare – geskryf tydens ‘n moeilike fase in die digter se lewe. Hy het selfs in hierdie tyd psigoanalitiese behandeling oorweeg en tydens ‘n wandeling langs die see, het die volgende woorde in hom opgekom:

Wer, wenn ich schriee, hörte mich denn aus der Engel Ordnungen?

Pieterse wys tereg in sy inleiding hoe Rilke getransformeer het van ‘n middelmatige tot ‘n uitmuntende digter van wêreldstatuur. Die eiesoortige struktuur van hierdie vorm word behandel en vir die speurende leser is daar relevante aantekeninge wat ‘n mens begelei by hierdie uitstekende vertaling.

Rilke se breidwilligheid om moeilike vrae te beantwoord, word vermeld.  Die relasie met Lou Andreas-Salomé word kortliks betrek. Pieterse wys daarop dat hierdie gedigte waarskynlik gelees kan word as selfterapie.

Die derde elegie het bepaalde Freudiaanse momente en een van die belangrikste bydraes van Pieterse se teks is dat hy die tydgenootlike aspek van hierdie teks beklemtoon. Hy situeer die elegieë en verwys na ander tekste waarvan Rilke direk of indirek kennis moes geneem het. En die Freudiaanse diskoers was ‘n uiters belangrike diskoers van die tyd. Dit moes vanselfsprekend die wyse waarop hy simbole geskep het, help bepaal het en ‘n tydsgees is immers, soos die Duitsers beweer, “In der Luft”.

Die kanttekinge getuig van deeglike besinning deur die Afrikaanse digter en navorser. Hy maak ons opnuut attent op die invloed van Rilke op Wilma Stockenström en ja, selfs op Breytenbach. (Natuurlik kan die effek van Rilke se poësie ondersoek word op Pieterse se eie oeuvre.)

Die strukture van die elegieë word bespreek en verskillende tydvakke waarin die gedigte hul beslag gekry het, word eweneens behandel.

En die vertalings self?

Pieterse vang die verinnerliking van die gedigte ten beste op:

Nêrens, geliefde, sal daar wêreld wees, as binne nie (p. 69).

En dan: 

Die tydsgees verskaf vir homself ruim voorraadskure vol krag, vormloos (p. 69).

Of ook:

Oorvloedige bestaan ontspring in my hart (p. 83).

Die negende elegie het besonder met my gepraat. 

‘n Mens kan die oorspronklike teks deurgaans vergelyk met die vertaling waarin die vertaler iets behou het – tereg – van die verhewe Rilke-aanslag.

Daar word insigryke kommentaar gelewer oor hierdie teks van transformasie. Vir die jong digter is daar belangrike leersame inligting oor die metriese patroon, wat bykans deurgaans in vyfvoetige jambes geskryf is. Die afwykings van die skema is egter nie genoegsaam nie en Pieterse verskaf die volende redes oor waarom ‘n mens dit as klassiek kan tipeer:

“Alhoewel daar dan nie sprake is van ‘n noukeurige navolging van die klassieke metrum nie, verskaf die dikwels voorkomende daktiliese metrum (as een van die vormgewende beginsels) tog die ‘gevoel’ dat mens hier met ‘n klassieke elegie te make het. Die metriese opbou van elke afsonderlike reël word ten slotte irrelevant, aangesien die struktuur van elke reël ook deur sy sintaktiese verbande met voorafgaande en daaropvolgende reëls bepaal word” (p. 15).

Uit so ‘n opmerking is dit duidelik dat die vertaler lank nagedink en geslyp het aan sy vertaling.

Dit is ‘n uiters belangrike vertaling en vir die ernstige leser van die digkuns ‘n absolute moet.  Wie sou kan sorg vir ‘n vertaling van Baudelaire? Ons het immers herdigtings van Rimbaud en Verlaine, en toespelings in Breytenbach se poësie. Wat van Stefan George? Of Mallarmé?

VI

In 2014 lees ek De Man weer en dit neem my na Rilke en natuurlik, na die vertalings van Rilke. Gebore in 1875 in Praag woon hy militêre skool by. Daar is etlike sentrale figure in hierdie digter se lewe: Lou Andreas-Salomé - bekend veral om haar verbintenis met Nietzsche, Rodin en die prinses Marie von Thurn und Taxis-Hohenlohe. Lou Andreas-Salomé vertolk sowel die rol van geliefde as kritiese leser en begeleier. In 1905 word hy vir 'n paar maande lank sekretaris vir Rodin. Dit is egter die verhouding met die prinses Marie von Thurn und Taxis-Hohenlohe en 'n besoek aan die kasteel by Duino (naby Triëst) meebring, wat soos Pieterse uitwys, op 12 Januarie 1912 lei tot die tot standkoming van die beroemde verse na 'n lang stilte. Die impak van WOI het die voltooiing van die verse vertraag, en hy voltooi die elegieë eers in 1922. 


Lou Andreas-Salomé het psigoanalise aanbeveel, maar Rilke sien die skryf van gedigte as 'n vorm van selfterapie. 

Een van die tersaaklike aspekte wat Pieterse uitwys, is dat Rilke in 1913 'n psigoanalise kongres in München bygewoon het saam met Lou Andreas-Salomé. Die derde elegie wat dan ook bekend staan as die sogenaamde "atavistiese" of psigoanalitiese elegie, is begin in 1912 in Duino en voltooi in 1913 in Parys ná die ontmoeting met Freud. 


Freud se belangrike werk, te wete Die interpretasie van drome het reeds in 1900 verskyn en het 'n geweldige impak op die denke van die tyd gehad. 

Hierdie leser benader die derde elegie as 'n droomtoestand waarin seksuele begeerte beskryf word op 'n konkrete manier. Ook die gebruik van die begrip "verberg", aktiveer die konsep van repressie of verdringing, 'n sentrale Freudiaanse konsep. Daar word ook verwys na oorsagtige drome waarin die akteurs of figure in die digterlike onbewuste optree. Die "innerlike wildernis is 'n duidelike verwysing na Freud wat die metafoor van die onbewuste in Die interpretasie van drome sien as 'n wildernis.

Dieselfde geld die klanklose landskap (p. 47) wat eweneens 'n toespeling op Freud is. Hierdie derde elegie eindig met 'n ellips, 'n gebrokenheid waarmee Rilke dus die onvermoë om hierdie simbole-wêreld werklik onder woorde te bring.

In 'n brief aan Hulewicz - vertaal deur Pieterse - gee Rilke sleutels vir die leser om hierdie briljante elegieë te begryp. 

In die Elegieë blyk bevestiging van die lewe en die dood een en dieselfde te wees (p. 93).

Die dood word gesien as 'n keersy van die lewe met die wete dat die bloed van die grootste kringloop vloei deur beide. Verder in die brief skryf hy dat ons alles moet verinnerlik: Ons is die bye van die onsigbare (p. 94).

En: ons vergaar hartstogtelik die heuning van die sigbare, om dit op te gaar in die groot goue korf van die Onsigbare ...

En hierdie sleutels gee weer vir die leser 'n ander siening van die dubbel-bestaan van Paul de Man wie se innerlike wildernis tot voortreflike lesings van onder andere Rilke aanleiding gegee het.

Die biografie oor De Man na sy dood het Rilke en H.J. Pieterse se werk oor Rilke weer lewend gemaak.

Inderdaad 'n allegorie van lees.

April 2014