Bladsye / Pages

Sunday, April 13, 2014

D.J. Opperman: Man met flits

 D.J. Opperman, Foto deur Paul Alberts

Man met flits

In die klein wit kol
van my wete stol

bruin en skerp ’n klip
soos ’n bok wat skrik,

staan, vinnig weghol
uit die klein wit kol.

Aan ’n takkie hang
twee ogies wat bang

uit die klein wit skyn
van my flits verdwyn.

Oor waters wat glip
soek ek klip na klip

maar ’n duister land
bedreig my alkant.

D. J. Opperman

*

Hierdie gedig, opgeneem in Negester oor Ninevé (1947) is 'n uiters boeiende vers. Waaroor handel die gedig? Oor 'n man met 'n flits wat in die donker 'n bang diertjie sien en bedreig voel deur die donkerte (en die diertjie)?

Die gedig is egter meer as dit. Dit begin met "wete", met ander woorde, denke, wat vergelyk word met 'n bruin, skerp klip en 'n bok wat skrik en dan weghol.

Die denke is dus sowel 'n klip (stolling) as 'n vlugtende bok (beweging). Met die dieper blik van die flits is daar dan ook vrees. Met ander woorde: die denke stol en beweeg, maar daar is ook vrees ingebed in hierdie proses van waarneming. Die onbewuste ("oor waters wat glip") lei tot 'n soektog buite die kyker wat vastigheid behoef ("soek ek klip na klip"), maar bedreig word deur "'n duister land alkant". Hierdie bedreiging is dus die onbewuste (of droom of inspirasie) wat in die gedig vergestalt word.

In die gedig "Nagwaak by die ou man" staan daar in die slotreël:

die streke van die gees bly ongekaart.

'n Mens kan beide hierdie verse psigoanalities vertolk. In "Nagwaak by die ou man" word daar verwys na die "drif / wat deur die eeue veg".

Watter soort dier se twee ogies sien ons? Dalk 'n uil?

En die duister land? Dalk die politieke werklikheid wat die digter bedreig? Die onseker toekoms?

*
In C.G. Jung se On the nature of the psyche (Bollingen Series, Princeton University Press 1960) skryf hierdie psigoanalis boeiend oor die aard van die psige. Jung beweer: "If the unconscious can contain everything that is known to be a function of consciousness, then we are faced with the possibility that it too, like consciousness, possesses a subject, a sort of ego" (87).

Met hierdie uitspraak, kan 'n mens die gedig benader as 'n representasie van Opperman se onbewuste. Hy is die man met ('n) flits wat sy digterlike proses so blootlê. Jung skryf dan ook verder dat as ons die waarnemings wat in die onbewuste opgesluit lê, sou verdiskonteer, sou dit ons waarneming van die wêreld verander (en verbeter).

Die steuringe wat uit die onbewuste kom wat sig manifesteer in drome, fantasieë en komplekse, kan dan suksesvol geïntegreer word in ons bewuste.

Hierdie boeiende gesprek van (voor)wete en wete word aangrypend in hierdie gedig weergegee.

*

Frank Kermode in sy biblioteek

Frank Kermode sluit by hierdie gedagte aan in die hoofstuk "Divination" in sy An appetite for poetry - Essays in literary interpretation (Fontana Press, 1989). In die verskillende weergawes van tekste, skryf hy, kan 'n mens dikwels sien hoe die skrywer se intuïsie verander of hoe dit ontdek word (155). Tog, waarsku hy, hierdie proses van "waarsegging" moet ook as gevaarlik gesien word. Dit is 'n moeilike proses en niemand het die waarheid in pag nie.

Kermode wys ook op foute in tekste en hoe dit deur die jare nie reggestel word nie en lesers bly dan hul interpretasies op 'n verkeerde woord of weergawe baseer.

En, skryf hy, ons is "slow to pursue occulted senses, evidences of what is not immediately accessible. It is the mark of what I call a classic text that it will provide such evidence; if it were not so the action of time and the accumulation of interpretations would exhaust it or make it redundant" (171). Juis omdat daar altyd iets agterbly, kan ons bly lees en divineer. In 'n proses wat vir ewig duur.

Sonder wetenskap (lees: literatuurwetenskap) kan daar geen voorspelling wees nie; sonder hierdie intuitiewe lesings word die (literatuur)wetenskap vervelig...


En hierdie soort lesing is, as ek Kermode aanpas, 'n gawe. So gelees, dra Opperman se gedig verwysings na Jung en Kermode. En 'n ander leser mag uiteraard iets anders raaklees met sy of haar flits.