Bladsye / Pages

Friday, March 7, 2014

T.T. Cloete - Karnaval en Lent (2014)



T.T. Cloete, Karnaval en Lent. Tafelberg, 2014. ISBN 978 0 624 06774 0. 160 bladsye
Resensent: Joan Hambidge

Tussen soma en pleroma

Om op die vooraand van jou negentigste jaar ‘n bundel te skryf met die omvang van Karnaval en lent – gepubliseer deur Tafelberg – dwing bewondering af. Ons het hier die bekende aanslag van Cloete: die mens as komplekse wese. Enersyds banaal, andersyds gelowig. Hierdie tematiek van die karnaval, die oordrewe uitspattigheid versus die besinning, loop regdeur die digter se oeuvre. Die digter se erotiese verse oor Marilyn Monroe (onder andere begelei met Dante) en sy aangrypende lykdigte is alreeds ’n aanduiding hiervan. Die karnavaleske aktiveer ook Bakhtin se teorieë. Cloete is teen wil en dank ’n intellektuele digter, ofskoon sy gedigte uiters gewild is by gewone lesers.

Cloete was nog altyd die digter van die jukstaposisie, die saamplaas van die oënskynlik teenstrydige, alles gemaak deur God, “die geniale Onbemande Krag” (“hutspot”, 64).

Die bundeltitel speel in op Pieter Brueghel de Oude se skildery, Die geveg tussen Karnaval en Lent (1569):


Die gesprek met Job, die breek van die potte (wat Harold Bloom se The breaking of the vessels uit 1982 aktiveer), die San Andreasfout, kwinkwang (“die baksel”, 65) word teenoor die wetenskaplike ontdekkings geplaas soos “96% donkerte” (68).

Die digter lewer ook sy kritiek op die mens se verafgoding van die onsublieme subliemes soos Lady Di, Elvis, Michael Jackson en die “bieberkoors” van ons tyd (“ploeg”, 76). In wese ploeg ons met die “Gans Andere” se kalwers.

Lesers bekend met Cloete se digkuns sal ook die selfgesprek kan sien. 

Een van die bekendste aspekte van Cloete se digkuns is die satire. In die bundel Jukstaposisie (1982) is daar ‘n satiriese vers oor Peter Sellers. In hierdie bundel is daar ‘n gedig wat heet:”god lees koerant nadenkend” (81), ‘n lang, uitgesponne vers waarin die mens se selfbedrog aan die kaak gestel word:

foto van Dawkins voor rooi Londense bus
in swart geverf
“there is no god so enjoy life”

(85)

Die vermetele Dawkins is al op sy plek deur Terry Eagleton gesit oor sy meerderwaardige en verkeerde aannames oor die geskiedenis van die kerk (“Lunging, Flailing, Mispunching”).

In die afdeling “Antroposeen” – wat verduidelik word as die informele geologies chronologiese term vir die bewyse en impak van menslike aktiwiteit op die aarde se ekosisteem – handel oor die digter se belangstelling in die wetenskap. Hier sien ‘n mens die vermoë van die digter om tegelykertyd te dink en dig soos in die gedig “modern times    suurbekom” (96) waar Charlie Chaplin simbool word van die modern mens se uitgelewerdheid aan die staalwêreld wat hy geskep het. Dieselfde geld “straffelose leunstoel-meedoeners” (107) waarin die digter skerp, satiries kyk na mense se vraatsug:

en voor hulle aan die slaap raak
smaaklik en gretig lees
aan die sondagverkragter se outobiografie

Trouens, die hele bundel kan gelees word rondom die gebruik van mond/anus/kos-metafore wat terugspeel op die skildery van Brueghel. Die menslike oordaad word in hierdie bundel aan die kaak(!) gestel. Ons is immers besig om post-post modern riskant te wees (“nieu-karnaval: sitstaking in londen of washington”, 110).

Die gedig “mi gruwelt” (119) speel uiteraard  in op Hadewijch se ervaring van die lewe as grillig. Daar is gedigte vir Adam Small en Mandela wat tipeer word in sy “gegote Afwesigheid”.

Bekende literêre figure word vereer – soos Johann de Lange en Heilna du Plooy:

soveel dekades nadat sy hier met ons is blý
daar iets wat jeugdig is
beminlik onvoltooi
in heilna du plooy (137)

en De Lange word beskryf as die “meester van die geometrie” (138).

Die digter se obsessie met die digkuns is uiteraard sigbaar:

ons skryf nie gedigte nie
hulle is ons

(“ons gewete”, 150)

En in die slotvers bely die digter hoe die woord, naamlik die gedig, die geveg tussen karnaval en lent in taal wil besweer (160).

In ‘n woord vooraf verduidelik die digter ook die simboliek van die bekende skildery.

Dit is ‘n bundel wat op meer as een vlak bewondering afdwing: laatwerk inderdaad, maar steeds geskryf met soveel beheer!

*

Die bundel opper verskeie leesmoontlikhede vir die leser. Mikhail Bakhktin se heteroglossia en die ondersoek na die Rabelaisiaanse moet betrek word en die opposisie tussen die groteske en karnivaleske. Ook Julia Kristeva se studie oor die abjekte is ‘n verdere leesmoontlikheid. Dit heet Powers of horror wat die Engelse denke in 1982 verander het oor die siening van die “abjekte”.

Cloete se kennis van letterkundige teorie is nie onbekend nie. Hy was (is) immers die redakteur van die Glossarium vir literêre terme.

Die simboliek van Vis (ichtus) en die gebruik van simbole in die bundel via Cirlot en De Vries is eweneens tersaaklik.

Verder is daar die gesprek met Dante (“Die onsigbare sprong”); “Kyk net, en stap aan.” Dante se bekende woorde toe hy in die Hel was en die digter wat in gesprek tree met Dante op verskeie maniere.

Marlies Taljard se insigryke onderhoud op die Versindaba verskaf eweneens insigryke kodes oor die siening van die religieuse en hoe die digter etikette wil vermy: Onderhoud met TT Cloete, Versindaba. Besoek 7 Maart 2014.

*


hierdie sigbare gedig

But if I write what my soul thinks,
then it will be visible,
and the words will be its body. – Helen Keller

hierdie gedig is geskryf
met die bloed van my are wat vinnige riviere
loop deur my ganse lyf tot in my oorlelle
(vlesige afkoellappies soos die olifant se ore)

– is geskryf met my worsige ingewande
se wurmkrulle
waar my maaltye van vandag wat kom uit die aarde
nog verwerk word en magies omgetoor word
tot harsings

– is geskryf met hormone en elektrochemiese polsings
in my kop waar woorde van gemaak word
en van woorde word raaiselagtige vleeslose
oordragte gemaak

met my kiestande en lippe
my vingernaels en hare
my snorbaard my tong
my adamsappel skryf ek

hierdie gedig is geskryf met die kilometers
vertakkings van my senustelsel

met my vel groot soos my vloermat
van koedoevel

die meer as 70% water van my liggaam
my hormone en testosteroon
geel gebeente vol grys murg
my ribbekas en kniekoppe
is vol mossiemusiek

om met die hart te skryf is sulke goedkoop
sulke smakelose cliché so ’n mistasting
dat ek dit kieskeurig soos my blindederm verswyg

hierdie gedig is geskryf met die vingerpunte
van my linkerhand
eintlik skryf mens met jou pols
maar myne is vol artritis aan my regterhand

– van my skedel af tot by my groottone
en voetsole is hierdie gedig geheimsinnig
geskryf in die mees ongryplike sublieme efemeros
van ’n pynlik gebakkelde lyf

(146)



Bronne:

Terry Eagleton. “Lunging, Flailing, Mispunching”. London Review of Books. Besoek: 7 Maart 2014

Marlies Taljard. 2014. “Onderhoud met TT Cloete”. Versindaba. Besoek 7 Maart 2014.