Bladsye / Pages

Sunday, March 2, 2014

Joan Hambidge - Kinders in vreemde lande

Pablo Picasso, Guernica
I

Op my vele reise neem ek altyd foto’s van jong kinders. Kinders sien jou presies vir wie of wat jy is. Hulle kyk regdeur jou en kan leuens of bedrog aanvoel. Nes diere.

Op my rekenaar is daar lieflike foto’s van jong kinders.

Een van ‘n dogtertjie geneem net buite Mombasa met grimering op haar gesiggie – deur my vriendin gedoen. 



Of haar ernstige broertjie wat op die gras staan met ‘n pen voor in sy hemp. Gaan hy dalk eendag ‘n skrywer word? By wie het hy so ‘n pen gesien? By die kelner wat ons bedien?



Of die klein mannetjie wat met sy bandana en sonbril op die kop staan in Hong Kong. En heel selfversekerd en astrant glimlag hy vir die fotograaf.



Of die twee mooi kleintjies in Phuket. Met sandaaltjies en ‘n teddiebeer op die T-hemp. Die seuntjie het ook twee plastiekarmbande aan. Ek onthou hoe ek en my suster as kinders vir ons armbande gemaak het met plastiekkrale wat my ma vir ons gekoop het.




Die seuntjie was kennelik iewers in ‘n bakleiery betrokke; daar is ‘n letsel op sy kop. Dalk ‘n skermutseling met ‘n sibbe?

Of het hy geval teen iets skerps?

Wanneer ‘n mens die foto verder ontleed, sien jy die vleis in die moeder se hand. Sy moet dus kook en vir hierdie kinders kosgee. Dit is nie ‘n duur snit nie, maar goedkoop vleis. Kookvleis. Vir ‘n bredie. Op daardie mark het ons rondgedwaal om bestanddele te koop vir ‘n kookkursus in die hotel. Wat ek suksesvol voltooi het!

Groente en hoendervleis. Om ‘n Thaise groenkerrie te maak.

Hierdie outjie sit in Zanzibar:




Roland Barthes maak in sy bekende studie Camera Lucida (1980) – geskryf na die dood van sy moeder – die onderskeiding tussen die punctum en studium van ‘n foto. Die punt wat die foto maak en die komposisie of studium.

So ons interpreteer ‘n foto om juis die punt of stelling wat dit maak, te begryp.

Susan Sontag in On Photograpy (1977) het weer beweer dat foto’s soos ‘n teregstelling is. En sy sou weet. Gelukkig is sý die verraad gespaar van naakfoto’s wat na haar dood op die internet rondsweef. Waarskynlik geneem deur haar voormalige lewensmaat, Annie Leibovitz.

II

Daar is twee kinderpsigoanaliste na wie ek by herhaling terugkeer; Melanie Klein en Alice Miller. Hoe pynlik dat Melanie Klein se dogter haar in die openbaar verwerp het. En Alice Miller se analise van Picasso se Guernica is absoluut briljant. Kyk, verduidelik sy: dit gaan nie net om die Spaanse Burgeroorlog nie. In wese is hierdie skildery ‘n primordiale interpretasie van iets wat die jonge Pablo gesien het. Driejaar oud in Málaga. Daar was ‘n aardbewing die nag toe sy sussie gebore is en hy het die perde sien gly in die strate. In die grot waar hulle weggekruip het, aanskou hy die geboorte van sy sussie.

Of Buster Keaton, die komediant wat uitdrukkingloos bly in al sy films, meen Miller, is so aangerand deur sy ouers dat hy moes leer om nooit emosie te wys nie! Hierom die uitdrukkinglose gesig waarvoor ons so lag…

The drama of being a child.

En ‘n mens moet terugkeer na jou jeug en alles weer diepgrondig ervaar, sodat jy kan herstel.

III

Eybers se klassieke vers “Twee kleuters in die Vondelpark” kom sterk in die herinnering.

Die seuntjie behoort tot die orde van die wiel, terwyl die meisie tot die orde van die instink, die verbeelding én die digkuns behoort.


Twee kleuters in die Vondelpark

Twee kleuters in die Vondelpark bly staan
’n klein oneindigheid lank hand-in-hand.

Smetloos geteken dryf die dubbelswaan:
gesplete hart van hals en dubbelhals,
geskulpte vlerk met dubbelvlerk teenaan,
geslote snawel dynserig vervals
met eenkant lug en water anderkant.

Versadig van die roerlose gesig
pluk hy – die seuntjie – plotseling aan haar hand
vir verdergaan, sleep haar tot ewewig
as sy nog strompelend omkyk na die swaan.

Verby die bome druis die straatrumoer.

Van skopfiets tot trapfiets gepromoveer,
bromfiets tot motor, sal hy konstateer
– die wiel sy ordeteken – dat hy lid
is van die kollektiewe Lilliput.

Maar sý sien webbe onderwater roer.

Miskien is dit die laaste dag van staar
en grondelose verwondering. Wat sou
hý, weerloos wordend, wees oor dertig jaar?
’n Saaklike barbaar, ’n fyn sadis,
’n doktrinêre Hollandse meneer?
En sý ’n druk slagvaardige mevrou
met ’n allure van dít-is-soos-dit-is?

Die swaan bly oor sy dubbelbeeld gekeer.

Die kinders in hierdie foto’s is miskien ook net vir hierdie kortstondige tyd as kinders in verwondering – voordat hulle grootmense gaan word: barbare, sadiste, ongevoelige mense wat vir niemand omgee nie…