Bladsye / Pages

Monday, March 17, 2014

Die resepsie van Johann de Lange se Vaarwel, my effens bevlekte held



Vaarwel, my effens bevlekte held

Vaarwel, my effens bevlekte held is ‘n bundel waarin die digkuns as talige proses opnuut na vore kom en die tematiek van die homoseksuele bestaan ontgin word. Daar is natuurverse en ‘n gesprek met ander digters en vroeë verse. Steeds is daar verse oor bekende suicidaires en die tragiese lot van Ingrid Jonker en Marilyn Monroe word steeds ondersoek. ’n Ryk ontginning van die numineuse en die metafisika word in hierdie bundel aangetref met ‘n soeke na heel-wording (die mandala in Jungiaanse terme). Vervolgens word die vier belangrikste besprekings volledig geplaas (Versindaba, Litnet, Beeld en Tydskrif vir letterkunde).

Die volgende kodes word by ‘n herlees van belang:

1. die voorblad van Chris Diederichs wat heet Death of the inside warrior wat die aflegging van die ou self beklemtoon. Dit is dan so beskou ‘n bundel van individuasie en die twee figure op die voorblad is as't ware ‘n boksmaat, skermmaat in Louw se terme. Ego en alter-ego, maar ook nuwe, soberder digter teenoor die cruiser. ‘n Mens vind in hierdie bundel telkens verwysings na onttrekking en stilte wat in die volgende bundel, Stil punt van die aarde, vérder uitgewerk word.

2. die ars poetica of self-refleksiewe gedigte wat aandag gee aan taal (“Woorde is my kontinent, / & poësie is my republiek”, 9) word reeds in die programgedig “Woorde” aangetref. De Lange se soeke na die regte woord, word telkens deur lesers uitgewys. ‘n Gedig soos “Vismot” (11) word weer vanuit ‘n ander hoek beskou in Stil punt van die aarde in die vers “Insek”:

Nietig, maar in elke opsig volmaak,
gooi jy, hoe gering ook,
jou skadu,
‘n delikate fyn silhoeët,
onwesenlike klein kamee

tot die fynste detail afgewerk:
die spits skubbe op jou lyf,
jou geartikuleerde harnas
wat die lig vang
& soos olie op water iriseer.

Jy is ‘n stralende stippel.
‘n Kirliaanse korona.
Ek wou jou net o-so-ligweg
aanraak, maar verbrysel jou
onder my vingertop.

Onsigbaar vir my growwer oog
is die besonderhede van jou
verbryseling: net ‘n vuil strepie
sigbaar, klein soos ‘n cédille,
op die onbeskrewe vel papier.

(31)

Die dubbelloop-aksie tussen die twee bundels is nou vanuit ‘n agterna-perspektief opvallend. Daar is myns insiens eintlik sprake van ‘n triptiek tussen Vaarwel, my effens bevlekte held, Stil punt van die aarde en Algebra van nood aantoonbaar in die “ligte sirkels van algebra” (13).  Hierdie sirkelgang dui op die individuasie-proses of heelwording in die digter se gemoed. “Brueghel in Parow” (37) vind sy pendant in die voortreflike “Double exposure” (109) in die jongste bundel:

Double exposure

Oor wat wanskape is, of gruwelik
was die ou meesters wys. Hoe goed begryp hulle
die onmenslike weersin, die weerkaatsing
as een opkyk van sy foie gras vás
in ‘n gesig vasgedruk teen die glas;
of bejaardes wat verwilderd in tehuise lê
& wag & pleit vir die langbegeerde uitkoms.
Babas saamgesiamees, of sonder ledemate,
& kinders wat kaalkop & gedreineer glimlag
deur die chemo, tot viering van defekte gene.
Op TV paradeer skoonheidskoninginne
van alle ouderdomme oorryp & opgesmuk.
Op ‘n ander kanaal wag ‘n aasvoël aartsgeduldig
vir die kind met verhongering se grimas
om stadig op sy hurke te sit-sterf.
‘n Junkie bedel by verkeersligte,
skaam vir sy stigmas van die naald.

Op Zapruder se film, kyk
hoe al die kameras heel tydsaam
dog onkeerbaar wegkeer van die sluipskutter,
of ophou verfilm sekondes voor die raampie
wat die misterie sou ontrafel het. Die fokus
was elders, & dit was ‘n belangrike mislukking,
perfekte weer & fotograwe ten spyt.
Twee vliegtuie verdwyn vlammend in die Twin Towers
terwyl ‘n stad ontwaak onder gunstige weervoorspellings.
Die vrou wat uit haar juweelkissie iets kosbaars kies,
is te besig om te sien hoe ‘n man gekruisig
verby vaal verdiepings val.
Sy maak reg vir ‘n groot onthaal,
& grimeer rustig & met sorg
die gesig wat na haar terugstaar in die antieke spieël.

(109)

“Hand-held” (43) pleit om ‘n saamlees met “Jake van Londen” (53) in Stil punt van die aarde.

3. Die natuurverse is egter meer as natuurverse soos die vers “Binnehof” (19) dan ook aantoon. Die Vermeer-lig val die kamer binne “onberaam” en tog dwing die digter sy leser voortdurend om met ‘n spel van tekens te speel: Framing the sign soos Jonathan Culler dit definieer in sy studie (Basil Blackwell, 1988). Dat die leser semioties moet lees, word in ‘n vers soos “Duisendpoot” (24) beklemtoon met die “listige S” van die duisendpoot se lyf! Die teken as teiken, kan ‘n mens uitroep. Die speurende oog kyk na die hemelruim (die Niet & Al) met sy smal pupil. Voortdurend vind hy tekens wat hy ‘n verband bring met die oënskynlik teenstrydige. Alles word spieëlbeelde van mekaar (“Sneeureier”, 31).

4. die seksuele dimensie wat in “Platonies” - na aanleiding van Auden - gelees kan word as ‘n aflegging van liggaamlike uitbundigheid en ‘n oorgang na die metafisiese dimensie, bykans asof hierdie magistrale herdigting ‘n afskeid aan liggaamlikheid is.

5. herdigtings en intertekste is eweneens opvallend by ‘n her-lees van hierdie bundel wat op ‘n uiters gesofistikeerde wyse gelees kan word as ‘n digterlike bestekopname. “Alleenspraak by donkermaan” (35) maak ‘n kniebuiging na N.P. van Wyk Louw met die opsetlike beeld van die “digterlike maan”! “Afskryf” (82) heraktiveer die ou-ou obsessie met Ingrid Jonker wat regdeur die digkuns loop.

6. die beeldverse soos oor Wilde, Tsjaikofski en Uys Krige (o.a.) vind weer hul antwoorde in Stil punt van die aarde met onder andere verse oor Warhol, Pavarotti en Boerneef (o.a.) Die titel is immers ‘n huldeblyk aan een van Afrikaans se grootste beelddigters Johan van Wyk.

7. die lykdigte vir die gestorwe diere word in beide bundels tot ‘n hoogtepunt gevoer.

*

Hunkering se grein: Vaarwel, my effens bevlekte held
Joan Hambidge (Versindaba)

Kort na die verskyning van Weerlig van die ongeloof, ‘n besondere knap bundel met kwatryne en vierreëlige verse, verskyn daar ‘n bundel Vaarwel, my effens bevlekte held met ‘n besondere mooi omslag van Christiaan Diedericks “Death of the inside warrior”, wat reeds die toonaard van hierdie bundel aandui, te wete die aflegging van die ouer self, die cruising digter en die soektog na heelheid. Weerlig van die ongeloof is ‘n oorgangsbundel om tot ‘n beter begrip te kom van Vaarwel, my effens bevlekte held, kortliks dan ook iets oor die sogenaamde kwatrynbundel wat tussen Algebra van nood en die jongste bundel aflegging staan. “Vaarwel” dui op, finaliteit en hierdie titel speel in op ‘n reël van Johan van Wyk. “Bevlekte” aktiveer die vele verse van self-bevlekking, sover terug as Snel grys fantoom wat die gesprek met Van Wyk Louw aktiveer.

Johan van Wyk

Die bundeltitel verwys na ‘n gedig van Johan van Wyk:

Vader Vark

Vader Vark
het na die oorlog gegaan en Moeder
die riviersloepmaagd is in rosige stukke
gekruisig; daar is rommel op die dokke,
die flou aroma van spelende robbe
en die klank van sy horing
op soek na ‘n dooie nimf.
Vaarwel my effens bevlekte held.

In hierdie bundel word die programgedig ars poëties gerig en die digter posisioneer homself teen die oorrompelende digproses as ‘n kontinent. In “Taal” (10) word die gedig verbind aan die Pegasus-beeld waar die digter stoei met die onbuigsame woord, maar uiteindelik ten spyte van die onbuigsaamheid daarvan, steeds in die saal bly.

Gesprekke met bekende voorgangers (Marais, Cussons, Louw) word in “Vismot” (11) aan die orde gestel in ‘n soort aweregse ars poëtica. Wat hierdie bundel besonder interessant en opwindend maak, is die herskrywing van vorige gedigte (die programvers speel byvoorbeeld in op vorige verse oor die San Andreas-fout) en die hiermee gepaardgaande gesprek met digters wat ons ook al aangetref het soos Marais, Louw, Cussons en andere. Meer as ooit tevore, is die bewuswees van die digproses as ‘n talige proses:

Die digter is eweneens ‘n sonderlinge dier.
Uit sy vrugbare penpunt kom voort:
vlugte, blou seereise & aardse sange,
galeie & oorloë. Sy skryf is ‘n gier
na roem, of seks, hy laat ander
aan sy pen ry, skryf uit wraak
of weerwraak, of om te plesier.
Hy los sy spore op papier.

(“Narwal”, 12)

Die “Leeuvis” (22) wat gesuspendeerd agter glas hang, is ‘n beeld vir die skryfproses: net soos wat die vis ‘n “onwesenlike watermerk” is, verplaas die gedig net soveel veerlig wit. Beide die leeuvis en die gedig is objekte wat getransformeer is: die vis is eers iets wat op ‘n niksvermoedende prooi wag; later lyk dit soos ‘n beskilderde objek. Die gedig spruit immers eers uit iets wat beleef is en dan beskryf word. Die begrip hologram is hier die kode vir die begryp van die gedig waar vis en gedig één word.

Benewens die skryfproses word die homo-erotiese tematiek ook ontgin, onder andere in die uitstekende vertaling van Auden se oorrompelende vers, hier getitel “Platonies” (59).  Ook die herdigting van Takahashi Mutsuo “Myself met ‘n motorfiets” (op Litnet) dra hierdie tematiek besonder helder oor. Die sterk natuurverse is eweneens weer deel van die tematiek. Dit is egter méér as ‘n blote natuurvers, omdat die natuurgegewe of landskap immer aan ‘n groter metafisika verbind word soos in die vers “Genade” (17):

Genade

Ek wou hom vinnig red
van die skroeiende lug,
smak hom neer & gryp ‘n mes
vir vinnig sny nét agter die kieu –
Maar my lem was stomp.
Nou staar die aluminiumfoelieoog
emosieloos & onbevrees –
die lyf spartel glibberig in my greep,
‘n silwer reënboog half verslyt,
& die mond gaap oop & toe
in geluidlose verwyt.

Hierdie vers met sy sterk epifaniese moment, aktiveer die digkuns van Sheila Cussons. Die gelykstelling van die vis se lyf as ‘n silwer reënboog, verbind die aardse met die metafisiese. Die vis is ook ichtus, simbool van die Christelike geloof. Die vis buite die water kan nie oorleef nie. Die spreker wou die vis red, maar word gedwing om hom dood te maak, juis omdat die vis buite die water blootgestel is. Die spreker is egter nie in staat om die vis vinnig dood te maak nie, omdat die lem van die mes stomp is. Iets wat die spreker in ‘n daad van genade wou uitvoer, lei egter tot ‘n (self)verwyt. Hierdie komplekse vers aktiveer verskillende aspekte van die menslike lewe: geloof, die verbintenis tussen lewe én dood en uiteindelik hoe die skryfproses ‘n tydsame proses is wat die spreker vasvang tussen verskillende dimensies. In “Duisendpoot” (24) word die metafisika van die biddende en vloekende duisendpoot ook ontgin. Die geslote sirkel of mandala beteken hy bid; wanneer hy wild krul of kartel beteken hy vloek God.

Die verwysing na beeldende kunstenaars (soos Rembrandt en Vermeer) maak die gegewe groter. In “Binnehof” (19) word die stilte en wit lig van Vermeer geaktiveer om volledige eensaamheid te vergestalt; in “Stillewe met tulp” (20) word met die helder kleure van die tulpe die kontras met die donkerder Rembrandt geaktiveer. Hierdie gedig benut die paradoks – iets waarin De Lange uitmunt: Weens die onafheid, die fout het die twee mekaar geliefdes mekaar lief.

“Evolusie van die oog” (29) is ‘n sentrale vers in die bundel waar die blikhoek op die jeug en die verganklikheid van alles telkens onder die loep kom. Dit word deur sterk natuurbeelde gedra en in haikoe-agtige vers word die weerloosheid van alles weergegee:

Kroonden

Die kroonden lê omgeval
beenwit grynswit in die son.

(30)

Die vers “Mausoleum” (90) word tereg as ‘n visioen getipeer met die sterk toespelings op Cussons. Die gedigte raak nou afwerend; dit beskerm nie meer die spreker teen pyn of ellende nie.

Wat die verganklikheid van die liefde betref, waarskynlik een van die sterkste verse in die bundel, is die gedig “Brueghel in Parow” (37), wat inspeel op 9/11, en terselfdertyd praat met Auden se klassieke vers “Musée des Beaux Arts”: “About suffering they were never wrong, / The old masters”.  Hierteenoor staan die kragtige jeugherinnering in “Oom Niek” (39) en die “boetpsalms” van ‘n teisterende oom wat die spreker as volwassene nou ervaar en inspeel op die ander verse rondom skuld en verwyt. Die ouma word bykans ‘n mitiese figuur en sy word verbind aan die Kristeviaanse chora, daar waar digterlike taal skuilhou: die pre-simboliese of simbiotiese dimensie.

Vye
vir Joan

My ouma stuur my na ‘n boord
om vye te gaan pluk. My vingers
proef die skurwe vel, my tong
flikker oor iets ontwyk-

end soos ‘n woord,
of proe ek reeds die antidoot
van ‘n gedig? Die mandjie, soos ‘n lyf,
rus rond & kwesbaar in haar skoot.

(41)

Die minnaar (“My minnaar”, 44) word gekoppel aan die sterk Jeffrey Dahmer-verse uit vorige bundels waar die liefde gesien word as grieselig en veral in die skryfproses word die geliefde doodgemaak.

“Nóg die heuning nóg die by” (45) neem hierdie proses verder wanneer die spreker afreken met ‘n jeugdige persoon se ervarings van gay-wees met die klinkende en siniese slot:

Mooi om na te kyk, selfs te begeer, of atleties te gebruik.
Maar daai untravelled fuck sal jou immer bly ontwyk.

Die speurende leser sal vele intertekste kan uittorring wat deur die vaardige digter verskuil word.

Die seksuele is immer ‘n “republiek van begeerte”, “hunkering se grein”, soos die vers wat eindig op ‘n reël van Cussons dan ook aandui.

Marilyn Monroe kom weer onder die loep in ‘n vers, ironies beskryf as ‘n optelgedig, waar sy buite beeld (dus “off camera”) staan en nie die persona MM is nie. Hierdie vers rig dikwels ander verse in hul toevallige, dog skerp waarnemings. Alles is ook reeds geskryf in die digterlike oeuvre, maar elke vers keer terug na ou temas op ‘n nuwe wyse: inderdaad ‘n nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie. Portretverse bekend aan hierdie digterskap, word uitsonderlik uitgevoer in die gedig oor Uys Krige: “In memoriam: Uys Krige” (74), wat die Spaanse denk- en leefwêreld verder voer. Daar is eweneens verse oor Anne Frank en Tsjaikofski. Hiermee saam loop die religieuse stramien deur die bundel tot uitvoer gebring in verse soos “Die diensbaarheid van bome” (71), en “Google Golgota” (93).

West Washington Bridge

Die gedig oor John Berryman se selfmoord “Skielik skemer” (78) ondersoek die implikasies van selfmoord rondom uitdrukkings soos “water onder die brug” en “oor die muur”.

Skielik skemer
– What happen then, Mr Bones?
– I had a most marvellous   piece of luck. I died.
John Berryman

Hoe dikwels het jy nie deur jou kantoorvenster
na die brug gestaar nie. Gewonder of dit jou weg
kon vat. Soos Hart Crane oor die relings
van die ss. Orizaba & in sy vaar-
waters in. Hy het glo sterk & doelgerig wéggeswem,
sy skoene netjies op die dek.

Art Hitman, skryn-
werker op kampus het jou op die brugreling sien sit,
met ‘n streep weg & teen die grein,
voor jy sonder terugkyk vooroor gekantel het
om buite sig skipbreuk te ly, die grys beton te vlek.
Uitgeken net aan jou bril & ‘n blanko tjek.

Jou laaste gedig is sonder slot: ‘n eerste weergawe
van jou dood wat jy op jou lessenaar vir Kate wou los
om te lees. Ten slotte trek jy ‘n laag-
waterlyn daardeur & smyt dit in die snippermandjie vir Kate
om op af te kom. Maar toe was jy al oor die muur
& water onder die brug. Vaarwel, my effens bevlekte held.

Hierdie gedig aktiveer die titel van die bundel en so beskou, is Berryman (& die ampersand) ‘n sentrale vers in die bundel.

In die lang galery van selfmoordverse en verse wat handel oor die dood van bekende figure soos Eugène N. Marais, Ernst van Heerden en Koos Prinsloo, o.a. word die spreker in die vers volledig een met die onderwerp. Die toeval van Art Hitman, die skrynwerker wat die digter op die reling sien sit, beklemtoon hoe die digterlike prosedure dikwels op blote geluk en toeval berus. Hiermee saam is die digter ook besig met ‘n bewuste spel soos in die parodie op Jonker se “Bitterbessie dagbreek” in die gedig “afskryf” (82). (Deesdae moet toestemming verleen word wanneer gedigte gebruik en geparodieer word van Jonker, ‘n onhoudbare praktyk.) 

In die voorlaaste gedeelte word die religieuse en die primordiale aangespreek. In die manjifieke “Tzimtzum” (89) word al die motiewe in die bundel saamgesnoer in ‘n veelvlakkige vers: die religieuse, die seksuele, die aflegging van die self, die dood van die vader (wat soos ‘n swart draad deur die digkuns loop), ontdekkingsreise wat die wêreld verander het, ensomeer. Die moderne tegnologie word goed benut in “Google Golgota” en “Poste restante Auschwitz, 1945” (95). Die bundel sluit op persoonlike verlies, die aflegging van ‘n verhouding en die dood van katte, met die siniese konklusie in ‘n amper laaste vers (105):

Totdat niks oorbly nie

Totdat niks oorbly nie. Absoluut
niks. Net die naam van die nag
herhaal in ‘n somber slaap,

die omvattende nag in die leegte
& ‘n verdwaalde koorsboom
se eensame saluut.

Die bundel sluit met ‘n sirkelgang. Die slotvers neem die leser terug na die begin van die bundel, na die talige ontdekking en met die wete dat die digterlike ondersoek en bedryf uiteindelik die enigste sinvolle aksie is.

Vaarwel, my effens bevlekte held kan ook gelees word as ‘n bundel van individuasie of heelwording. Reeds die motto’s “Seeing is bereaving” van Judith Goldman en “A word is elegy to what it signifies” van Robert Hass sluit sterk aan by die verliestema in De Lange se werk. Maar die verlies of die afwesige geliefde/vader word nou met groter gelatenheid aanvaar en dit is asof die digter die taal, die republiek van woorde, met groter drif en beheer ontgin. In Jungiaanse terme is hier dan sprake van individuasie: die digter keer bykans afstandelik terug na dieselfde temas en kan dit nou volledig in die oog kyk. (Die voorblad aktiveer immers die opposisie tussen ‘n worstelende engel en demoon.) Die “steil paradokse”, soos dit in openingsgedig staan, kan bestyg word. Die foutlyne kan genavigeer en erken word; daar word nie weggeskram van die beperkinge en foute in die self nie. Die volgende gedig is volstrek ‘n vers van individuasie:

Cirque de soleil

Die Vitruviaanse man rol
verby in dubbelhoepels

& akrobate onder koepels
in veldun kostuums sweef

in halfspirale swaartekrag gevang.
Gimnaste met bepoeierde greep gryp

& los, & koorddansers elk met ‘n sweefstok
ballet ligvoets gebalanseerd

& alles tol binne die ligte
& ligte sirkels van die algebra.

(13)

In Agon – Towards a theory of revisionism (Oxford University Press, 1982) skryf Harold Bloom verder oor die angs van beïnvloeding. De Lange se werk vra vir ‘n analise via die heterodokse Gnostiek en sy gesprek met Van Wyk Louw en Cussons. ‘n Mens dink hier aan Bloom se lesing van Wallace Stevens:

It is the sibyl of the self,
The self as sibyl, whose diamond,
Whose chiefest embracing of all wealth
Is poverty, whose jewel found
At the exactest centre of the earth
Is need… (13, 14).

Daar is geen tekste nie, net uiteindelik die self. “Waar alles ook al begin, uiteindelik… word ‘n ou onskuld / opnuut aangeleer” skryf De Lange in die aflegging van die ouer, cruising self om tot self-insig te kom in hierdie boek van afskeid & vertrek.

Uiteindelik het daar balans in die gemoed van die digterlike spreker gekom en die “ligte sirkels van die algebra” is die nood nou afgelê.

Die sweefstokkunstenaar soos die nar

Die sweefstokkunstenaar soos die koord-
danser weet van tydsberekening
& van die swaartepunt se gryp
& los, dat die een knap by die ander hoort.

Ook die nar verstaan om ‘n grap
te maak of te vertel, vereis begrip
van spanning skep & skietgee
soos ‘n karwats of ‘n skoot wat klap.

(14)

Alles gaan nou om tydsberekening: ook die skryf van ‘n gedig eis van die digter die regte oomblik. Juis omdat alles in hierdie bundel in die teken van individuasie staan, is daar verse oor stillewes en etlike religieuse of spirituele verse. Gedigte waarin die numineuse na vore kom, is uiteraard bekend aan hierdie fase in ‘n digter se bestaan. Die sewe verskillende afdelingtitels aktiveer hierdie proses: Republiek van woorde, Wisseling, Hunkering se grein, In die vlees, Skielik skemer, Google Golgota, tot I resign myself to the dusk.

Dit is ‘n bundel wat waarskynlik vergelykings sal uitlok met Die algebra van nood, die groot bekroonde bundel. Dit sal ‘n saamlees oproep soos tussen Wordende naak en Nagsweet. Dit is ‘n bundel wat besondere aanspraak maak op die leser, emosioneel en intellektueel. Die religieuse tematiek (soos in “Google Golgota”, (93) en “Armageddon” (85) en die aangrypende “Die diensbaarheid van bome” op bladsy 71 waarin Jesus se liefde vir bome verironiseer word), liefdesverdriet en ontgogeling (“Totdat niks oorbly nie” (105) en die dood van geliefde diere; die besondere hantering van die paradoks en die ontginning van found poetry (soos in “Rust-mijn-ziel, ‘n droom” (99), die ontginning van drome en visioene, die gesprek met Harold Bloom (“Tzimtzun”, 89) en natuurlik Cussons en Van Wyk Louw (veral Alleenspraak) wys op die ryk geskakeerdheid van die bundel. Ter opsomming: Verskeie digters kom aan bod (Yeats, Auden, Theodor Roethke, Krige, Kafavis, Jonker…) en skilders soos Rembrandt en Vermeer, komponiste soos Paganini en Tsjaikofski word nuut bekyk. Marilyn Monroe, hoe dan anders?, word opnuut onder die soeklig geplaas. Imponerend is die sterk slotte en die inskryf op ‘n ander se wysie soos “Gedig wat eindig met ‘n reël van Cussons” (54).

Dit is ‘n fyn afgeronde bundel wat sterk aanspraak maak op sowel die emosie as intellek. Die algebra van nood word hier ‘n algebra van sekerheid.

Opmerklik is die kreatiewe stroom die afgelope tyd en wat eweneens vermelding verdien, is die besondere knap vertalings en herdigtings op die digter se blog: Kaapse paragrawe.

Moenie jou laat bluf nie. Selfs ‘n vinnige aantekening met die linkerhand is tegnies in beheer.

*

Johann de Lange: Vaarwel, my effens bevlekte held
Henning Pieterse (Beeld)

Vaarwel, my effens bevlekte held is Johann de Lange se tiende digbundel (Judasoog: ‘n keur hier uitgesluit) en volg knap op die hakke van Weerlig van die ongeloof (2011) en die Hertzogprys-bekroonde Die algebra van nood (2009).

Die titel en die kragtige bandontwerp (‘n kunswerk van Christiaan Diedericks, “Death of the inside warrior”) roep die aflegging van aspekte van die self op. In “Skielik skemer” word die titel van toepassing gemaak op die digter John Berryman wat in 1972 selfmoord gepleeg het, maar dit word deurgetrek met betrekking tot die liriese subjek in verskeie verse en metonimies van toepassing gemaak op die korpus van De Lange se vorige bundels.


By wyse van kursoriese verwysings en aanhalings, tematiek en toonaard tree hierdie bundel tree in interaksie en gesprek met verskeie van De Lange se bundels. Daar is die immer aanwesige bemoeienis met die wóórd self; een van die bundelmotto’s is dié van Robert Hass: “A word is elegy to what it signifies”. Die eerste van sewe afdelings is getitel “Republiek van woorde” en in die eerste gedig lees ons: “Woorde is my kontinent,/& poësie is my republiek” (p 9). “Sneeureier” en “Waterbome” roep “Flaminke” uit die digter se debuut, Akwarelle van die dors, in herinnering; die fragment “Als een dar dolzinnig” (uit die gedig “Nóg die heuning nóg die by”) slaan ook op dié vermelde bundel se motto en in “Sunday morning coming down” word Wordende naak opgeroep. ‘n Band word gelê met Die algebra van nood in “Cirque du soleil”.

Reeds bekend uit vorige bundels is die gay-erotiese tematiek, kunsteoretiese besinnings oor die skryfdaad en poësie en verhelderende blikke op verskeie ikone uit die digterlike, musiek- en rolprentwêreld.

In die eerste afdeling is daar fyn gedigte oor woorde, taal en digterskap. Die tema van aflegging word versterk in die tweede afdeling, “Wisseling”. Hier staan die uitstekende “Leeuvis”, met sy simboliese toepassing op gedig-maak in die tweede deel van die gedig:
Leeuvis

2
Die leeuvis is ‘n stekelige vlot
van ryspapier beskilder
in roesbruin & loodglit
-  onwesenlike watermerk –
lid vir lid druk hy
teen die water terug
met sy soortlike gewig.
Die gedig woord vir woord
verplaas presies net sóveel
veerlig wit.  (p 22)

Daar is wel die aflegging van “lywe & leegtes/& die leegtes van lywe/wat my gebede & beddens vul” in “Alleenspraak by donkermaan, p 35” en die liriese subjek mag dalk meen “Ek’s nie langer jagtig nie” (“Nóg die heuning nóg die by”, p 46), maar die erotiese verse in afdeling III (“Hunkering se grein”) het dieselfde trefkrag as talle verse in Nagsweet, een van die digter se hoogtepunte. Reëele cruising word nou verplaas na kuberhokkies.

“Platonies” (Afdeling IV, “In die vlees”) is ‘n kragtige vertaling en verwerking van Auden se “A day for a lay” (latere titel: “The platonic blow”): “Dit was ‘n lentedag, net die dag vir ‘n lê ...” (p 59).

In afdeling V, “Skielik skemer”, is daar enkele mindere verse (gemeet teen die peil van die ander) soos “Suiwer Africana”, “Die diensbaarheid van bome” en “Ikone”. Ander gedigte in hierdie afdeling, soos “Pjotr Iljitsj Tsjaikofski”, “Oor die veiling van Wilde se liefdesbriewe”, “Skielik skemer”, die briljant speelse en spulse “Paganini se G-string” en “Temper”, sit weer die hoë standaard voort.

In “Google Golgotha”, die sesde afdeling, staan van die sterkste verse in die bundel. In die gelyknamige gedig word gespekuleer oor wat op die sosiale netwerke sou gebeur indien Christus vandag gekruisig sou word. “Mausoleum” werk met die droom-alchemie van ‘n Achterberg en in die uitstekende “Tzimtzum” (die Hebreeus-Kabbalistiese term vir God se sametrekking van lig om daarbinne ‘n heelal te skep) ontvou ‘n grootse kosmologiese gegewe, van mikro- tot makrovlak (kyk ook “Brandwind” en “My minnaar” vir soortgelyke kosmiese perspektiewe op die liefde.)

Die somber sewende afdeling heet “I resign myself to the dusk”. Verganklikheid, smart, dood en selfmoord – durende temas in De Lange se oeuvre – kom hier aan die bod. Die slotgedig, “Aandlied”, werk met die paradokse van hegting en ontbinding van alle elemente en loop uit op die slotstrofe: “Hoe ontheg ‘n hart hom van ‘n heelal/wat aanhou sê: Begin, begin, begin!” (p 107). Ook in hierdie afdeling is die pragtige “Rust-mijn-ziel, ‘n droom”:

vry na ‘n droom van Hennie Aucamp

Altyd weer dieselfde droom: winter, & nag
op die Stormberge. Ek is verlate, oud & dors getrek,
kom aan te voet waar Rust-mijn-ziel altoos wag.

Van die opstal is net ‘n murasie oor. Tolbos & sand
bied geen toeverlaat. Net die een vertrek
staan desolaat: die kombuis met ‘n lig wat brand.

Ma sit voor die swart stofie met sy krom pote op die teëls.
Die tafel staan gedek, & by my ou eetplek
is daar netjies ‘n stapeltjie pos met buitelandse seëls.

Ek gaan sit & in my hande lig ek hare, koud en kromgetrek,
& streel hulle of ek vir ‘n oorsig kon vergoed, of ‘n gebrek. (p 99).

Vaarwel my effens bevlekte held is op dieselfde hoë peil as Die algebra van nood. Hier is ‘n digter op die kruin van sy kragte, tegnies en vormlik, en ‘n liriese subjek wat sê: “Hier groei ek al taaier in verby-/gegane dinge vas, vermy einders/& smag al gisterend na die hier-&-nou” (“Berglandskappe” p 25).

*

Die woord leef in Vaarwel, my effens bevlekte held
Henning Snyman (Litnet, 23 Maart 2013)

Dit is duidelik dat Johann de Lange ‘n besonder geïnspireerde fase in sy digterlike loopbaan ervaar: na ‘n lang stilswye verskyn Die algebra van nood, wat ‘n Hertzogprys meebring, toe die kwatrynbundel Weerlig van die ongeloof, waarin die digter hom as ‘n meester van hierdie moeilike versvorm bewys, en nou Vaarwel, my effens bevlekte held. Tussendeur het daar ook nog ‘n keur van De Lange se gedigte verskyn onder die titel Judasoog. Die drie nuwe bundels saam met die gedigte wat vir Judasoog gekies is, is sekerlik ‘n studie wat wag om vorm te kry.

As ‘n mens ‘n enkele tema by De Lange moet uitsonder – en dít is altyd gewaagd en omstrede – sou dit “die verkenning van die grense van die woord” kon wees. In navolging van veral die werk van Cussons en Van Wyk Louw, en in mindere mate Wilma Stockenström, is die skoonheid van ‘n enkele reël of die uitlig van ‘n bepaalde woord sentraal by De Lange. Hierdie digter werk met groot ontsag met ‘n woord, verken sy moontlikhede en bepaal met sorg die posisie van ‘n woord binne die sinskonteks. Breytenbach speel met woorde, soms selfs effe onverantwoordelik, maar De Lange gee aan die woord die mistiek en die musiek om dit in klank en betekenis te laat klink. ‘n Digter met minder geloof in die krag van die woord mag met woordspel tegnies verrassende effekte bereik, maar dit bly dikwels steek in daardie moment. By Johann de Lange leef die woord, subtiel en bedrieglik onopvallend.

Gelees teen die agtergrond van die talle eksplisiete erotiese en seksueel plat terme in sy werk, sou ‘n leser die vorige stelling wil kwalifiseer. Tog nie, want deur die gebruik van hierdie terme beklemtoon hy nie die sogenaamde skokkende dinge nie, maar bevry hy die plat term uit die gevangenskap van vulgariteit en gee daaraan sin binne die groter raamwerk van die gedig. De Lange is nie ‘n digter wat pervers wil wees nie; daarvoor is sy digkuns te getrou aan die woord en sy mistieke betekenis. Per slot van rekening: Is die “skokkende” woorde ooit regtig skokkend? Verkeerd geplaas, kan dit bloot vulgêre smaak beklemtoon.

Johann de Lange se gedigte getuig van integriteit. In die naam van literêre modes wat kom en gaan, kan geredeneer word dat ‘n literêre teks geen aanspraak hoef te maak op teks-integriteit nie. ‘n Werklik goeie teks sal egter sy integriteit behou, en ‘n digter wat sou aankondig dat sy of haar gedigte nie aan die eise van die woord en sy intrinsieke waarde getrou hoef te wees nie, skuil na alle waarskynlikheid agter ‘n (deursigtige) literêre vyeblaar. De Lange se verse oortuig die leser dat hy die modernste literêre teorieë ken, maar dat hy dit nie nodig vind om hierdie kennis in ‘n gedig te demonstreer nie. Die vryheid van die teoretiese dwingelandy, veral in sy latere bundels, is sekerlik een van die grootste bates van sy latere werk, kennelik so in die drie jongste bundels. De Lange se werk is steeds, met elke nuwe bundel, rigtinggewend, ook en veral vir jonger digters.

Die titel dui op afskeid neem en kan verder dui op ‘n ongelukkige verhouding wat tot ‘n einde gekom het. Genadiglik is hierdie digter nie daarop ingestel om persoonlike belewenisse sentraal te plaas in sy werk nie. Dus sou my interpretasie van die titel, saam met die pragtige omslagontwerp, lees as ‘n konstante proses van afskeid neem binne die self, en die bewussyn van die voortdurend wisselvallige rol van die muse. De Lange is “a poet's poet”, en die digkuns as gespreksgenoot, as die ruimte waarheen die ontnugterde en die kwesbare toevlug neem, as die hawe wat tydelike rus bied teen die rustelose branding van die kuns en die skeppingsdrang, dit word die sentrum van bestaan – ook in hierdie bundel.

Soos die titel van die eerste afdeling lui: woorde is ‘n republiek. Binne hierdie republiek heers die woord, en as die woord heers, is die mens en sy hele register van emosies die inwoners. In DJ Opperman se “Aardkloot” (Komas uit ‘n bamboesstok) “(hang) die aarde (vannag) ‘n groot deurskynende maan” en “die aarde hang, deursigtige grond”; in De Lange se “republiek van woorde” is die mens en sy doen en late ook deursigtig in die geweldig magiese krag van die woord. Die gedigte vertel van diere en plante, van die mens in sy kleinlikheid en sy erotiese drange, van kunstenaars en hulle werke en van die mens in patetiese oomblikke. Kunstenaar of straatmens, digter of die oom met vier bultige seuns wat die nefie se geslag met ‘n gierige greep vasgryp – almal is besig met groot of klein dinge. So ook is kunstenaars, gebaai in kunstenaar-ikoniteit, lustig en belustig, suiwer en walglik, pretensieus en eerlik, uiteindelik maar sterflike wesens en tydelik. Dit is hierdie kaleidoskoop van De Lange se gedigte wat tematiese eenhede ondermyn en wat ‘n saak teken uit eie reg:

Kroonden

Die kroonden lê omgeval
beenwit grynswit in die son.

Moenie hier allerlei betekenisse soek nie – lees die gegewe vir wat dit is en staan verwonderd oor hierdie toneel en oor die woord.

Die woorde in De Lange se werk “beteken” nie net nie, dit “be-teken”, en sodoende kom daar telkens nuwe betekenisse uit die verse. Die gedigte in hierdie bundel behou hulle afstand en is nie opdringerig nie, wil nie ontplof in die leser se gesig en gees nie. De Lange werk met kontraste, en die intense menslike drama van leef en sterf word afgewissel deur heerlike spot om aan te toon dat belangrikheid leef slegs in ‘n gemoed wat die eenvoud van bestaan nie wil begryp nie. Tog behou hierdie digter deernis met sy digterlike karakters en met die leser. Die sin vir ironie is altyd naby, soos dit die goeie digter betaam. Hierdie ironie in die bundel “renders the poet free”, in Kierkegaard se woorde, en, so skryf Etienne Leroux: “Daardie vryheid is die sine qua non vir skepping. Die gebondenheid word elke keer besweer; die slot wat die kettings bind, gaan magies oop.”

In Vaarwel, my effens bevlekte held is daar min aspekte van menswees, ook die seksualiteit, wat nie deur De Lange se skerp maar gevoelige digterlike lens in die mistiek van die woord vasgevang word nie. Die gedigte in hierdie merkwaardige bundel is meelewend én gedistansieerd, innig én kontrasterend, met humor én wrangheid, maar altyd is daar die woord: delikaat én kragtig.

Die gedig “Die diensbaarheid van bome” trek heelwat van hierdie eienskappe van die bundel saam:


Die diensbaarheid van bome

Gedenk Hom wat lief was vir bome,
vir die skrynende aromatiese klank
as die boom onder vaardige hande
sy natuur gedienstig aflê & tafel word,
of laaikas, rusbank met gewronge poot,
of stoel met ‘n steil rug om ‘n rug te stut.

Op sy laaste tog het die kruishout
Hom gedra, die stil olyf
het donkernag van sy smart
weggewring, & die dorings
van die wag-’n-bietjie of withaak
het sy woorde bloedwarm tuisgebring.

*

Vaarwel, my effens bevlekte held, deur Johann de Lange
Marthinus Beukes (Tydskrif vir Letterkunde 50(2) 2013)

Die openings- en slotgedig van Johann de Lange se keurig versorgde bundel Vaarwel, my effens bevlekte held verwoord ‘n kernspanning in sy digoeuvre, naamlik die saamvoeg en inpas van woorde ter wille van ‘n “vaste orde” teenoor die uitmekaartorring en onthegting van samehang(e). In hierdie elfde bundel van De Lange bevestig hy sy verdiende en gekanoniseerde posisie in die Afrikaanse digkuns, in besonder vanweë ‘n volgehoue sigbaarmaking van verhoudinge tussen mens en kosmos; mens en medemens; besit en verlies; broosheid/verganklikheid/verwonding teenoor herstel en heelmaking.

‘n Bepaalde gesprek word deur die bundeltitel gesuggereer. Met die slotverse, “Die einde” (104), “Totdat niks oorbly nie” (105) en “Aandlied” (107), bevestig die spreker sy groetwoord aan die “bevlekte held(e)”. Meer nog is die keuse van Walt Whitman se “I resign myself to the dusk” (uit “The Sleepers”) bekragtiging van die deerniswekkende motief van “bevlekking”:

“Double yourself and receive me darkness,
 receive me and my lover too, he will not let me go without him.

I roll myself upon you as upon a bed, I resign myself to the dusk.”

Eensaamheid, verdriet, verlies en sterfte is maar enkele aspekte van dié bestaansnood. In “Aandlied” word die skoonheid én angs van en vir sterfte, maar óók ontstaan verwoord. (Terloops: die eggostem van Wilma Stockenström is aanwesig in dié gedig. Uit haar bundel, Van vergetelheid en van glans, is die eenmaligheid van die menslike bestaan in die volgende woorde, geskoei op Rilke se Duino-elegieë, só geformuleer:

“Dit is genoeg om te gelewe het, een maal,
een maal in eenmaligheid van chromosome
 … te kan dink: ek was eenmaal”.)

As slotgedig is “Aandlied” besonder gemerk— finaliteit is dus komposisioneel maar
ook inhoudelik vooropgestel:

Eendag, al weerstrewiger vlees & been
ruisende bloed & rats sinaps,
tong wat teëstribbel & troos,

gaan die haglike samehang
van selle & die eensame eenmaligheid
van DNS ophou saambestaan,

& wat my ineengeweef
gehou het, & my salwend in my brein
laat leef het, na alle uithoeke

van hierdie aarde vervreemd
raak, & hierdie hand met pen
sy greep op taal verloor
& los raak van alle woord & sin.
Wie sal in die nag my uitasem
hoor? Wie sal onthou?

Dis amper middernag.
Wanneer daag die dag
waar ek áls verloor wat ek bemin?

Hoe ontheg ‘n hart hom van ‘n heelal
wat aanhou sê: Begin, begin, begin!

Op ‘n byna koloniserende wyse proklameer die digter: “Woorde is my kontinent, & poësie is my republiek” (“Woorde” 9) om die waarde van die digterlike woord en die “heersersmag” oor hierdie domein te verwoord. In die “Republiek van woorde” is die pen(punt) die instrument van die digter om kaart en transport “afkleimend” te verwoord. Helaas anders as die narwal is die digter met sy penpuntmerke priemend maar ook skeppend. Hier is nog eens ‘n element van tweeledigheid of ambivalensie wat ‘n opwindende kreatiewe spanning in De Lange se poësie daarstel.

Binne die konstruksie van sewe afdelings is die voortstu vanaf besitterskap en verkenning van die landskap in gedigte oor diere, landskappe en mense die afskeidsverse wat die broosheid van die menslike liggaam en psige byna tasbaar verken. In ‘n digoeuvre waarin versgesprekke inter- en intratekstueel voorkom, is die obsessiewe bewuswees van tydelike besit en verganklikheid kwellend aanwesig. (Die intertekstuele verwysing na gedigte oor bome is “Die diensbaarheid van bome” [71] en “Ikone” [73].) As motivering geld De Lange se bundelvoorblaaie wat méér is as illustrasiemateriaal.

Die “ontkleedans” van Battis, Mason, Cussons tot Diedericks vertel ‘n lewensverhaal van die spreker. “Wordende naak(t)” as “verkenning vir onsself” (51) soos die “Death of the inside warrior” van Diedericks sekuur die spreker se skeppings- en oorlewingspanning illustreer, staan geteken in die lig van verlies, leegheid, maar tog ook die nalaat van “sy spore op papier” (12; vergelyk die motto by dié gedig: “The notion of emptiness generates passion.”).
Dood, woorde as nalatenskap, of orgasme(s), is die “grein van hunkering” en hieruit is poësiedie neerslag. Sterflikheid, hetsy selfmoord soos in die geval van John Berryman (“Skielik skemer”, 78), “Selfmoord van ‘n priester” (106) of die digter se rouverse oor sy geliefde katte (102– 103), laat die volgende woorde soveel aangrypender klink. Die leser kan die afskeidswoorde van die bundeltitel in samehang lees as ‘n afstropingsdaad of aflegging om soosvolg te verklaar:

Eers as ek aflê
áls wat ménslik aan my is,
kan ek verlig & veerlig weet
ons is suiwer siel … (“Brahmaan”, 103)

Afdeling 2 van die bundel stel ‘n definitiewe konflik tussen besitterskap en verlies op die voorgrond. Teen die agtergrond van groei, wording en natuurlike seisoenswisseling is die spreker se gelykstelling aan bestaanseenmaligheid soos volg in die gelyknamige gedig van die afdeling, naamlik “Wisseling” (26), in die slotversreël gestel:

Die eeukaktus blom glo eers na ‘n honderd jaar
& net één maal, ‘n noeste geel kroon. Stoot
‘n loper uit & maak tydsaam vir sterwe klaar.

Verkenning van die self én die ander (in watter gestalte ook al — geliefde, natuurelement, ander digters of skrywers en kunstenaars) word deur die oog van die waarnemer-spreker ge- (re)konstrueer. Die oog, kameralens wat stipstaar en ‘n besondere fokus ontsluit, is in die derde afdeling van die bundel, “Hunkering se grein”, die onderwerp van die gedigte. (Hierdie gegewe kan wyer gelees word teen die metafoor van die “judasoog” se visie.) “DIEVX DV STADE 2007” (48), “The loneliness of the longdistance shooter” (50) asook “Gedig wat eindig met ‘n reël van Cussons” (54), verwoord die lens se onderwerp wat hier die gestalte van manlike skoonheid is. Die waarnemer se oog is ‘n (af)kyk van die sportfigure se naakwording, ‘n aspek wat in afdeling IV, “In die vlees” met die sologedig “Platonies” (‘n herdigting van Auden se vers, “The Platonic Blow”) die fokus word (59–63).


Die waarnemer se oog wat die toenemende verval, verlies of verwisseling opteken, is
in afdeling V, “Skielik skemer” verwoord. Die randfigure wat in hierdie gedigte aanwesig is, staan voorop in De Lange se vergestalting van die versteurde of bevlekte karakters— byna “buite beeld” (om die titel van die optelgedig oor Marilyn Monroe hier buite konteks aan te haal). In versnellende ritme teken De Lange die eenkantfigure in hierdie afdeling wat voortstu in “Google Golgota” en “I resign myself to the dusk”. Marilyn Monroe, Christus van die houtkruis (“Die diensbaarheid van bome”, “Ikone” en “Google Golgota”), Uys Krige, Tsjaikofski, Oscar Wilde, Ingrid Jonker en Paganini is onder ander die “bevlekte helde” wat in die beeld van Cellini (“Temper”) se Perseus & Medusa “oorleef”. (Terloops: Chris Diedericks se skildery wat as voorbladillustrasie gebruik is, is ‘n raak tekening van die (voort)durende konflik in Vaarwel, my effens bevlekte held.) Met die slot van die gedig “Agterhuis” (75) som De Lange die waarde nie alleen van Anne Frank op nie, maar van die gekwelde figure wat in sy gedigte “oorleef […]/ & in woorde wering soek,/ & rug teen rug […] dig versreël” word. Die digter verleen dúúr aan die bevlekte figure om “nóg ‘n wyle langer te luier as ikoon” (“Temper” 81). Insgelyks het die digter met Vaarwel, my effens bevlekte held ten spyte van die dominante gegewe van verganklikheid, vermindering deur verlies en aflegging of nietigheid, ‘n nalatenskap van “spore op papier” (12), of “ingebed in […] onthou” soos dit staan in die gedig “Alleenspraak by donkermaan” (35):

my in trou & ontrou
vashou, of by die gloed
van ‘n digterlike maan
met die brons beloftes
van bloed nogmaals kul:

julle laat ek een-een gaan
want my woorde lê beenwit
waar die lug te dun vir liefde
& wyn tussen bedrywe vergaan.

My aanhaling is moontlik buite konteks gaan haal, maar gelees teen die agtergrond van die tema van aflegging, is die slotstrofe bevestiging van die spreker se ewewigsoeke tussen verlies en behoud. ‘n Verdere aspek waardeur De Lange in hierdie vers in die besonder verstegnies “ingebed” bly (afgesien van die inter- en intratekstuele diskoers met “Stil lewe by donkermaan” (28) én Van Wyk Louw se bundeltitel Alleenspraak.) is die chiasme in versreëls drie en vier:

Snags by donkermaan
lê ek ingebed in die onthou
van lywe & leegtes
               X
& die leegtes van lywe
wat my gebede & beddens vul

In ‘n sekere sin is die digter getrou aan die imperatief waarmee die aangehaalde gedeelte uit Whitman se gedig “The Sleepers” (vergelyk die slim spel met die intimiteitsverband tussen slaap, “ingebed” en “beddens”), afdeling sewe as motto inlei: “Double yourself and receive me darkness.” Donkerte kan as sinoniem met leegte en verlies gelees word. Op dieselfde wyse “snoer” De Lange betekeniselemente saam. Die spreker in “My minnaar” (44) sluit die gedig só af om die kwingkwangbeweging tussen intimiteit en verlies te stel:


my minnaar is gesoog
in die spiraal-arm van ‘n melkweg
my minnaar is uitgeslinger
in my arms deur sterrestelsels
omdat hy my liefhet
ontvou alle geheime voor my
& sy naam ontsluit
die snoere van konstellasies.

Só kan die leser versverbande uitwys tussen die diergestaltes in die bundel. In die eerste twee afdelings van die bundel figureer diere om ‘n besondere netwerk te skep en as ’t ware te dien as vertroostingsamulet teen die menslike element van verlies en dood. Die diere is nie alleen aantreklike en veraanskoulike gedigonderwerpe nie, maar De Lange kaats die mens teen die dier om laasgenoemde se (r)evolusionêre entelegensie te demonstreer, byvoorbeeld die narwal (12), doringduiweltjie (21), leeuvis (22), duisendpoot (24) of die sneeureier (31). Daarteenoor is die mens byna minuskuul onopsigtelik soos De Lange in “Stil lewe by donkermaan” (28) skryf:

Roerloos onder ’n donkermaan
in ’n roeiboot op die naat van my rug
wieg ek in die middel van ’n dam,
die smal pupil van ’n kat se oog.

Bo my tussen Niet & Al die melkweg
soos ’n motgevrete hangmat wat knus
die boot, die dam, & en my sonnevleg
saam met droom-oog visse sus.

De Lange se digkuns is berekend en beredeneerd — ’n konstruksie met tekstuur waarin “woord vir woord/ […] presies net sóveel veerlig wit [verplaas]” (22). Poësie is dus met reg die digter se republiek waarin die leser behoedsaam, maar ook met verwondering die woord soos ’n kontinent binnetree. Dit is ’n reis van verryking —verse wat ek graag weer en weer sal wil lees. Vir my een van die belangrikste eise van geslaagde poësie.