Bladsye / Pages

Thursday, March 27, 2014

Huldeblyk: Hennie Aucamp (1934 – 2014)

Hennie Aucamp (Foto: Edrea du Toit)

“Nogtans sal hy nooit van ons weggaan nie, hy sal deel word van die landskap wat ons liefhet, en mettertyd sal hy meer en meer by ons wees, pleks van minder en minder. Want die lewe word meteens helder na sy dood. Terwyl die mens nog leef, verhinder sy gestalte jou om hom duidelik te sien. Net sodra die liggaam weg is, kom die onvernietigbare gees na vore, en kom staan in alle helderte voor jou. Dan sien jy ook dat ons bestaan, van óns kant af gesien, ‘n ondeurdringbare raaisel is, ‘n newel in party opsigte, wat eers moet weggaan voordat ons tot sien kan kom. Die klein, vodsige bekleedsels van aardse struwel en trawal verdwyn meteens uit die gedagte en net die wesentlike bly oor. Daardie wesentlike maak die agtergeblewene sterk, omdat dit self die krag van ‘n hele lewe bevat.”

- Petra Müller, in ‘n brief aan E. Kotze aangehaal in Slag van die breekbrander


I  Enkelvlug

Op 20 Januarie het ek Hennie Aucamp die laaste keer gesien. By On the Rocks. ‘n Heerlike saamkuier en vrolike geskerts met akademiese vriende om sy verjaarsdag te vier. Daarna het ons ‘n paar keer telefonies gesels en my skatpligtigheid aan Aucamp mag ek nie onbetuig laat nie. In Die Burger van 22 Maart maak ek die volgende punte:

 1. Hy is waarskynlik die skrywer met die meeste fasette: kortverhaalskrywer, aforis, bloemleser, digter, dagboekhouer, kabarettis, liriekskrywer, resensent, Boesmankenner, kunskenner, genderteoretikus…

2. Hy het skrywers, veral gay-skrywers, geleer om sonder skroom oor hul ervarings te skryf;

3. In sy kortverhaalhandboek, Die blote storie (1986), leer hy jou veel van die tegnieke van skryf;

4. Die belangrikste raad wat ek ooit van hom ontvang het: jy moet eers ‘n ervaring emosioneel verwerk alvorens dit “werk” as verhaal of gedig;

5. Sy verlies binne ons letterkunde is enorm en Johann de Lange se Vreemder as fiksie (1996) belig hierdie kompleksiteit met die wete dat Prinsloo, Danie Botha et al. nie sou kon doen sonder Aucamp as baken nie;

6. Sy jongste digbundel Skulp het sopas verskyn by Protea.


II  Die lewe is ’n grenshotel

Met sy dood, beleef ons die einde van ‘n belangrike era. Daar is geen gay-skrywer wat nie iets aan Aucamp verskuldig is nie en hierdie belangrike aspek het Johann de Lange alreeds gekarteer in sy kortverhaalbundel Vreemder as fiksie (1996) met ‘n voorblad waar drie gesigte, Aucamp, Prinsloo en De Lange, een word. Aucamp se “Vir vier stemme” – opgeneem in sy bundel Volmink wat in 1982 verskyn het, is ‘n kragtoer. Gebaseer op ‘n werklike verhaal wat die skrywer vanuit vier perspektiewe vertel, word die tragiese dood van ‘n jong man weergegee en die aannames oor seksualiteit aan die kaak gestel. Die blote storie – met die sub-titel – ‘n werkboek vir kortverhaalskrywers gee die mentorkant van Aucamp weer. Hy deel wenke en hy plaas elke keer ‘n bepaalde tegniek binne die wêreldletterkunde. Waarskuwings soos dat die vertelling nooit verby sy slot moet beweeg nie, is bepaald belangrike raad vir elke skrywer.


Skulp (2014: Protea Boekhuis) dra die veelseggende motto:

Am I indifferent, then, to my own death? 
No, it’s not a matter of indifference, but
rather a kind of distance, a sort of
screen which is very difficult to
describe in words.

Amos Oz, Late Love


Rooi ontploffing

Die vrou van die oorkantste balkon
het iets roekeloos gedoen:
twee kleibakke gevul met malvas,
en dood met die lewe versoen.

(30)


Wenresep

Jan Pierewaaier, Jan Pierewiet 
hou min konserte en sing één lied.
Hou dit lig, raai hy aan, en dis genoeg:
’n klinkende naam en ’n volbloed-hit.

(44)

Ek het op my blog oor verskeie aspekte van Aucamp geskryf (Hennie Aucamp 80)

Aucamp se belangrike bydrae tot ons digkuns mag veral nie onvermeld gelaat word nie. As behendige beoefenaar van veral die sonnet, moet ons hom huldig. Hittegolf, ‘n hoogtepunt in sy oeuvre, het in 2002 by Homeros verskyn en ek het soos volg oor hierdie bundel geskryf: 

Hittegolf (wulpse sonnette met ‘n nawoord) bevat ‘n hele aantal uiters bedrewe sonnette van die skrywer Hennie Aucamp. En oor die struktuur van die sonnet het Ronnie Belcher wel deeglik geskryf en ‘n mens sou ook jouself die vraag kon afvra: waarom vind ons soveel ‘gebreekte sonnette’ by digters uit die tagtigerjare?

Wat my eerder interesseer aan hierdie interessante versameling is die gebruik van die voetnoot/verklaring by elke gedig. Hoekom vind ‘n digter dit nodig om inligting by te sit? In L.S. van Leon Strydom word hierdie tegniek vermaaklik uitgebuit: die gedig word verironiseer deur die voetnoot.

Berlin von damals: nóg ‘n fiksie

Maskeer, soos alle skrywers pleeg te doen,
die I.D. van jou oermodel.
Ook Spender speel dié dobbelspel –
en List se naam word blink geboen

tot Lenz, esteet, in sy roman The Temple,
wat met sy foto’s stilweg stempel
die ganse Weimar-kavalkade
voor Sonnenuntergang – und Schade.

Maar Spender – “great big spender’ -
van name, mense en ‘n tyd –
moet jy jong Leavitt dit verwyt,

hom uitroep tot privaatheid-skender,
as hy jou in sý fiksie plaas?
Waarskynlik, ja. Want negatief, helaas.

Dan lui die voetnoot: “Die eerste weergawe van David Leavitt se boek, While England Sleeps (1993), is onttrek omdat die skrywer en digter, Stephen Spender, hom te ná gekom gevoel het. Beide Spender en Leavitt gebruik foto’s van die beroemde Herbert List as omslae: Spender vir The Temple (1988); Leavitt (saam met Mark Mitchell) vir die bloemlesing The Penguin Book of Gay Short Stories (1994).

Dosente leer studente dat voetnotas nodig is. Dit is om erkenning te gee of om iets te substansieer wat nie in die hoofargument genoem kan word nie, omdat dit ‘n breuk in die argument kan veroorsaak.

In Johann de Lange se Vreemder as fiksie word verhale ook van voetnotas voorsien. In Koos Prinsloo se Weifeling is daar endnotas…

Dit is dan eintlik ‘n ironiese gedig hierdie, want die ‘in’-leser herken hier ook ‘n persoonlike dilemma: naamlik hoé Aucamp destyds moes gevoel het toe Prinsloo sy privaatheid geskend het in ‘n verhaal “Portrait of the artist” (in 1993) en een wat De Lange behendig uitbrei in sy weergawe A portrait of the artist as a young dog” in die genoemde Vreemder as fiksie (1996). (Dalk het hy nie die ironie besef dat hy ook in verhale oor “bekendes” geskryf het nie?)

Mag ‘n mens oor (h)erkenbare figure skryf? Veral as die name nie blink gepoets word nie? Is alle skrywers nie maar wesentlik besig om oor hul eie lewens en ervarings te skryf nie? Is skrywers nie maar besig met ‘n Madame Tussauds van die woord nie?

Of die dramatis personae Spender/Leavitt, Aucamp/Prinsloo, Aucamp/De Lange is, maak nie saak nie. Die gegewe bly identies. Die toneel van die skrywer.

Die skrywer wat ‘n storie sal vertel ongeag die prys wat dit mag inhou.

Gedigte het ‘n voetnoot of endnoot. Een wat miskien nie altyd bekend is aan buite-lesers nie. Maar die ingeligtes, die twee (liefdes)- of (haat)partye ken dit. Die brose skoonheid van sonnette wat by Petrarca uitval in die oktaaf en sekstet. Verbeelding en werklikheid. Drif en ontnugtering. Alles glo te make dat toe hy Laura op 6 April in 1327 in ‘n kerkie in Avignon gesien het, is hy oorweldig deur die liefde.

Maar as Laura kon praat? Sy wat volgens Norman O. Brown die rede vir die Canzoniere was: die drif agter die gedigte?

Wat sou sy skryf? En dis hierdie intelligente spel wat Aucamp in sy reeks sonnette met die leser speel. Of dit is die agtergrond agter die teks wat hy via ander boeke bekend maak, of dit is ‘n bekende skildery of ets wat langs die sonnet staan gemaak word via ‘n verduideliking of kundige skets.

‘n Gedig soos “Pylvak”(p. 49) vra van die leser navorsing of belesenheid:

Waar begin volwassenheid by ‘n matinee-idool?
As hy ophou om sy hare en brouers te kleur
en jaarliks hom minder aan uitstulpings steur
en meewarig leer kyk na sy stuurse ou voël.

Die rolmodel hier is die filmakteur
wat sy image van vroeër dekonstrueer;
die Fransman Delon – geen spring chicken meer –
speel, wys en ironies, Casanova ontfleur.

Mastroianni is ‘n ander, en Josephson die Sweed,
wat hul ouderdom benut het, en hieruit kon skep
“ronde” karakters, wat jy nooit weer vergeet:
poefters en praalhanse; aftands, verlep;

maar elkeen ‘n mens, en hul oë sein deur,
uit ydel gesigte, ‘n fyn connoisseur.

Anders as die Vlugsout-rubriek en vinnige aforismes op Litnet is hierdie sonnette werklik uitstekend en goed afgewerk. Dit is gedigte wat tot in die fynste vesels afgewerk is en wat tegnies behaag.

Dit bevat ook ‘n kundige nawoord en ‘n flapteks van Johann de Lange wat ons terugneem na Aretino en Brecht se tekste. Aucamp se tekste bevat dikwels insigryke essays wat die leser van onnoembaar belangrike inligting voorsien. En hier is hy bepaald in die kol wanneer hy die skroomvalligheid rondom ruige taalgebruik in die letterkunde bespreek. Tereg wys hy op Krog se boesem-eerlike gedigte; ‘n mens behoort egter ook die baanbrekerswerk van Johann de Lange in Nagsweet te vermeld.

Hier speel Aucamp voortreflik met die struktuur van die Engelse sonnet.


III  Allersiele

Aucamp is ook aforis, skrywer van die kortsneller en die kwatryn. In sy pasverskene bundel Skulp staan daar ‘n paar lieflike kwatryne wat ek graag met my leser deel:

Die terugkeer

My verse kom skoorvoetend nader, 
asof hulle my oproep wantrou;
en ek pleit: Wees geduldig, veral nou,
al ooit gehoor van die Verlore Vader?

(7)


Bliksemsnel

Gister, eergister was hy heel en gesond 
en stal hom nakend ten toon;
maar toe slaan toe die Groot Onpartydige,
en nou is hy weg, onverskoon.

(46)

Party is tipies Aucamp snaaks:

Transvestiet

Sy stoppelbaard prik sy grimering 
en daar is swelsels onder sy oë,
maar die liggaamstaal en o! die ring!
bevestig sy alvermoë.

(38)

Hierdie leser sien in hierdie bundel ‘n afskeid aan die lewe. “Moet nooit bitter word nie,” het hy eenkeer gewaarsku, “want bitterheid maak jou onaangenaam vir ander mense, maar veral vir jouself.”

Ons moet nog nadink oor twee afgeskeepte tekste: Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoliete (1983) en Pluk die dag: aforismes en ander puntighede (1994).

Toe die digter en regisseur, Stephan Bouwer onverwags oorlede is, het Aucamp geskryf dat ons nog nie sy impak kan bepaal nie. Dieselfde geld Aucamp wat op soveel fronte ons letterkunde verryk het. Dis waarskynlik altyd moeilik om iemand so kort na sy dood “in te skat”, veral as sy oeuvre so groot was. Hy was ‘n ware gewer, op alle vlakke.  Dit is dan my hartseerwals.

Endnote:

1. Aucamp het die volgende pryse ontvang.

1970 – Tafelbergprys
1974 – W.A. Hofmeyrprys
1980 – ATKV-prys vir Drama
1996 – Recht Malan-prys
1982 – Hertzogprys
1987 – Fleur du Cap-toneelprys
2004 – ATKV-Prestigetoekenning
2004 – Fleur du Cap-teaterprys vir lewenswerk en bydrae tot teater
2004 – Afrikaans Onbeperk Kanna vir Lewensbydrae
2004 – LitNet se Mont du Toit Kelder-wyngedigtekompetisie
2006 – Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap

2. Op Versindaba se poësieblad kan die leser 'n groot gerf verse van Hennie Aucamp te lese kry (Versindaba » hennie aucamp. Besoek 23 Maart 2013).