Bladsye / Pages

Friday, April 19, 2013

Alfred Schaffer - Kom in, dit vries daar buite (Vertaal deur Daniel Hugo) (2013)



Alfred Schaffer. Kom in, dit vries daar buite. (Vertaal deur Daniel Hugo) Protea Boekehuis, 2013. ISBN 978 1 86919 912 8.

Resensent: Joan Hambidge


Die volgehoue gesprek met die Ander

Daniel Hugo is ‘n gesiene vertaler van Nederlandse digters. Vir my is Hugo en Johann de Lange se vertalings presies hoé ‘n goeie vertaling daar moet uitsien. Op sy Kaapse paragrawe, sy blog, illustreer De Lange die werkswyse van die goeie vertaler: vorm en inhoud word één. As die digter ‘n sonnet skryf, moet jy die gedig in die sonnetvorm behou. Daniel Hugo begryp hierdie werkswyse ook. Hy het vir ons Herman de Coninck, Gerrit Komrij, Rutger Kopland, o.a. vertaal (behalwe vir sy uitstekende prosa-vertalings) en nou het hy die jong, dog vaardige digter, in ‘n seleksie byeengebring. Hugo is self ‘n punteneurige digter, sterk ingestel op vormbeheer en sillabes, wat kennelik getel is.

As jong en veelbekroonde Nederlandse digter bevind Schaffer hom in Suid-Afrika. Hy het jare terug ‘n rubriek behartig in Die Burger oor ons digkuns en dikwels met ‘n blik-van-buite interessante, maar soms ook omstrede uitsprake gemaak oor die digkuns. Maar hierdie soort kontensie is goed vir polemiek en hou die digters op hulle tone.

Schaffer skryf ‘n besonder boeiende soort gedig. Hy spreek ‘n “jy” of ‘n tweedepersoon aan – ons, die lesers, word dan sáám met die intiem-aangesprokene, daardie jy.

Die gedigte word gekenmerk deur ‘n vreemde mengsel van gewone, alledaagse beelde wat dan vermeng word met die aweregse blik of onkant-beeld soos in “Exit muse” (95). In hierdie vers word die geliefde-as-muse gelykgestel aan die gedig: ”Eindproduk van breedvoerige sinne”. Die gedigte is dikwels verhulde ars poeticas of te wel, gedigte-oor-die-digproses, soos “Impasse” (93). Die assosiasies tussen ‘n afspraakboek, die lewe op Mars (gesien op televisie) en ‘n pelgrimstog aktiveer die spel tussen werklikheid en verbeelding. Ook in hierdie gedig is die leser (die jy!) nie altyd seker wanneer die oorgang presies gebeur het nie.

Die gedig “die tyd laat ons koud”, vir die vermoorde Lisbé Smuts, is hartgrypend.

Die slotwoorde:

“maar ek is nie meer dieselfde nie en ewemin is ek jy. En daar kom die verdriet” (67),

problematiseer die verhouding tussen die persone, een lewend; die ander een oorlede.

Beide is deur die proses verander; iets wat nooit weer reggestel kan word nie.

“A love supreme” (65) werk met die Hoofse liefde en hoe moderne liefdesgedigte te familiêr geword het. Hierdie slim toespeling maak die gedig besonder interessant.

Die leser wat die moderne Nederlandse digkuns ken, sal verdere toespelings en intertekste kan raaklees. Op die agterblad word daar verwys na die “oorrompelende direktheid” en hoe die digter taal in sy vreemdheid laat funksioneer. Dit is natuurlik die waarmerk van die ware digter: om die klip klipperiger te maak. ‘n Ander kritikus verwys na die “koel, observerende oppervlakte en daaronder ‘n borrelende emosionaliteit”. En dit is presies hoe dit is. Met elke lees, sien jy iets wat bedreig, ontstig, seermaak – jy word ingenooi van buite na binne. Van die koue, vriesende landskap na die ruimte van die gedig: “Voorbeeld van ‘n besluit” (37) illustreer al hierdie kwessies wat Michael Riffaterre in sy Semiotics of poetry (Methuen, 1978) beskou as die interpretant van die gedig. Daardie teken wat die teks se oppervlak-tekens dra en verduidelik. In elke gedig is daar so ‘n teken wat al die ander tekens dan “verhelder”.

“Die dagbreek stol in sigbaarheid” (53) illustreer dit:

“‘n Dik rooi spoor verklaar sy tog in minute of dae.”

Die digter is besonder verbeeldingryk en sy vermoë om paradoksale toestande saam te dig, is aanskoulik.

Daar is ‘n setfout: mesdom in plaas van mensdom (101)

Dit is ‘n belangrike bundel vir alle poësieliefhebbers.Die digter het in pas in 2000 gedebuteer met Zijn opkomst in de voorstad, maar al diep spore getrap in die landskap van die digkuns. Vir my is hy ‘n moderne Lucebert.

Die gesprek met die ander (die jy) en die ewige gesprek tussen Afrikaans en die oorspronklike teks, maak van hierdie bundel ‘n uitdaging vir die leser.

Kom gerus in, Alfred Schaffer. Dit vries nie hier by ons nie.

Die situasie teen sluitingstyd

In die vlak deel van die swembad blaas ‘n man
klein wolkies in die aandlug.
‘n Paar meter verder omhels ‘n seun en meisie mekaar
vir die eerste keer – hulle skuur saggies met hul onderlywe,
hulle wil dans in ‘n nagklub, liefs tot die volgende oggend,
onder water na mekaar toe swem
en mekaar vasgryp soos wat hulle dit eenkeer in ‘n film gesien het.
Of waai en roep na die intens starende man
wat lyk of hy hom skielik bedink en maak of hy
versigtig uit die swembad klim noudat die trappelende bene
van die twee verliefdes allerlei vorms begin aanneem
in die voortdurend bewegende water.


Narkose

Die koffers in die gang die kaste leeg die vensters toe
ek wil nou niks meer hê nie. Hoe lank was ek weg
dae weke ‘n sekonde. Ek is lief vir jou dwaal soos
‘n mantra deur my kop die maan ‘n erfstuk
so naby ek kan met albei hande daaraan raak.
Drie hoera’s vir hierdie weersien, vir die sirkuswiel
vas langs die see ingeplant, die neonvrolikheid my teddiebeer
wat ek in die skiettent gewen het met net een probeerslag.
Ek het die diertjie warm gehou onder my baadjie, ‘n gryns
op sy gesig gestik – as ek hom sou oopsny
en watte uitpeul by die maag die rug die kop, sal hy aanhou
lag, stil en stug. Die nag het my ingehaal op pad terug
die lampe langs die kusweg soos ‘n string pêrels
‘n genadige gids, ‘n felle lyn elektriese lig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]