William Kowalski. Somewhere south of here. Transworld Publishers Ltd., 2001. ISBN 9780385602433.
Resensent: Joan
Hambidge
Kort op die hakke van Eddie's bastard verskyn Kowalski se
tweede roman: Somewhere South of Here en hoewel die kritiese vraagtekens
waarskynlik gemaak sal word oor die blitsige opvolg, is die tweede roman net so
'n leesbaar.
Miskien het die roman 'n bietjie aan digtheid en tekstuur
ingeboet, maar die styl en karaktertekening is goed dat die leser eenvoudig nie
die roman kan neersit nie. Billy - wat indertyd op sy oupa se voorstoep geland
het as 'n weggooi-kind - is in hierdie vertelling op soek na sy moeder. Hy
vertrek op 'n motorfiets en Robert Pirsig se klassieke roman Zen and the art of
motorcycle maintenance is kennelik 'n kortpad vir vele van die filosofiese
opmerkings wat die karakter maak.
Ook word Sante Fe in Nieu Mexiko goed beskryf en deurgaans
aandag gegee aan die kos- en milieu (wat die meeste van ons net via die Spur
ken). Hy ontmoet vir Eliza en haar eksentrieke dogter, Consuelo, 'n sangeres.
Natuurlik is Eliza sy verlore moeder, en ja, hy raak
verlief op Consuelo. Al die krisisse word opgelos, maar nie sonder 'n skeut pyn
en teleurstelling nie. Van die puikste tonele is ook die beskrywings van
karakters in die sirkus waarmee die verteller vir ons Billy se outsiderskap wil
beklemtoon.
Soos in die tipiese “quest”-roman is die karakter
uiteindelik wyser (met alles wat dit behels) en hierom is die slot enigsins
navrant:
“That night, I dreamed.
I was riding my bike along a desert highway, the wind
blowing my hair out behind me - it had never been cut at all. The sun loomed
before me on the horizon, as huge as though it was only a few miles away, but
its heat didn't burn. As I sped along the road I felt the wheels gently lift
from the cement of the highway, and the ground slowly dropped away; the I was
free of the bike...”
Dan sien hy ook homself wat transformeer. Hy word 'n “bird
creature, an eagle man” waarmee die skrywer dan die volledige proses van
heelwording voltrek in sy karakter. In die tarot staan daar 'n arend voor die
Heerser om sy gesag te beklemtoon. Die reis, werklik en spiritueel, is vir
Billy voltrek. “...and I knew that I was home again, that I had come to rest
while moving, that motion was rest, and that most of all it was good”(p. 291).
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]