Eddy van Vliet. ’n
Pleidooi vir die poësie. (Vertaal deur Heilna du Plooy). Protea Boekehuis,
1998. ISBN 0 620 22858 X.
Resensent: Joan
Hambidge
Ons leef in 'n wêreld waar die digter 'n agtergeblewene geword het. Oralsoor
is dit die tyd van die romanskrywer, van die vertelling. Kyk maar net hoé
bloedloos het ons Afrikaanse poësie geword.
Die ou bestendige name lewer dieselfde werk. Die jong
talente is of dood-stil of tokkel al hul metafore op die verhoë uit.
Self-gepubliseerde poësie-tydskrifte is tam. Oor die “gehalte” is daar ook nie
meer eenstemmigheid nie en die gebruis op die digterlike toneel het plek gemaak
vir 'n skouerophaling.
Heilna du Plooy se vertaling van Eddy van Vliet se Poëzie:
Een Pleidooi maak immers weer
die debat wakker. Van Vliet is 'n regsgeleerde en praktiseer tans as advokaat
in Antwerpen. Du Plooy is digter en akademikus en hierdie kombinasie
verduidelik haar belangstelling in die onderwerp.
In haar voorwoord skryf Du Plooy dat dit dan ook
interessante perspektiewe vir die leser oopmaak wanneer 'n digter oor sy/haar
eie werk kommentaar lewer. Om Van Vliet se elegante essay op te som in enkele
sinne, sal nie reg laat skied aan die bedoeling van hierdie teks nie.
Tog is daar 'n paar interessante stellings wat 'n mens
bybly: die digter kyk soos 'n kind na die werklikheid; sintuie word oopgestel;
vir hom/haar is die vlinder 'n dubbelgevoude liefdesbriefie op soek na die
adres van die blom (Jules Renard).
Die digter het volgens die man-in-die-straat nie kontak
met die werklikheid nie; nee, skryf Van Vliet, die digter het werklike kontak
in 'n lewe waar ons oorval word met te veel taal, te veel advertensies, te veel
sinnelose beelde. Die digter heraktiveer weer die betekenis van woorde se
oorsprong en maak die blik op die verdorwe werklikheid nuut.
Hy verwys ook na Enzensberger se beroemde ars poetica
van 1963 wat soos volg begin:
Moenie
odes leer nie my seun,
lees die
treinroosters: hulle is noukeuriger.
Rol die
seekaarte op, voordat dit te laat is.
Wees
waaksaam, moenie sing nie.
Daar kom
'n dag waarop hulle opnuut lyste
teen die
deure kom vasspyker
en die wat
nee sê op die bors sal merk (p. 13).
Daar word hiermee 'n ironiese blik op die funksie van
die digkuns gegee waarvan die nutswaarde nie herleibaar is tot 'n teken – $ – is
nie, maar iets is waarsonder ons nie durf bestaan nie.
Ook kan die digkuns nie die politieke werklikheid verander
nie; al was dit dan die eis van digters soos Pablo Neruda, Erich Fried, Jevgeni
Jevtoesjenko, Rafael Alberti, Hans Magnus Enzensberger, Bertold Brecht en
ander.
Die gedig transendeer die politieke werklikheid, omdat
dit praat met universele beginsels. Dit mag mense op 'n indirekte manier insig
gee in hul situasie, maar dit verander nie werklikheid op 'n direkte manier
nie. Ook wys Van Vliet daarop dat besinnings oor die digkuns dikwels tot
stom-vervelige herhalings kan lei. Sy Pleidooi
– gelewer voor nie-ingeligtes – wil juis die dromende denke verduidelik en
mense bewus maak van die feit dat hulle die kind (en hierby inbegrepe die
digter) in hulself doodgemaak het.
Dit was Lorca, onthou ek, wat so so 'n kreatiewe ouma
had. Selfs water wat kook is beeldend, metafories aan hom oorgedra. Hierom
waarskynlik dat hy tot selfs in sy laaste gedigte nooit die blik van die kind
afgesweer het nie.
Ek dink in hierdie verband aan sy breirympie - vertaal
deur Uys Krige en opgeneem in Spaanse
dans (Perskor, 1991, p. 41):
Mammie,
ek wil graag silwer wees.
My kind,
dan sal jy koud kry, ek is bevrees.
Mammie,
ag, was ek maar van goud gemaak.
My kind,
dan sou drie dieners oor jou waak.
Mammie,
ek sou 'n diamant wil word.
My kind,
dan slyp hulle jou mos klein en kort.
Mammie,
was ek maar ou Kleurklasie.
My kind,
dan kry jy snags skoon bewerasie.
Mammie,
was ek maar 'n waterval.
My kind,
jy sal verkluim...en val en val.
Mammie,
ek sou graag 'n vlam wil wees.
My kind,
dan kwyn jy...en dis klaar met Kees.
Mammie,
brei my in jou kussing in.
Dit, ja dit,
my skat,
ek gaan nou op die plek begin!
Die boek is voorsien van 'n goeie bibliografie en die
werklike bonus is 'n handvol goeie gedigte van Van Vliet self. In die lieflike “Verliefd” (p.
45) word die liefde soos volg tipeer:
Liefde
als een veelvoud van vergissingen.
Daar verskyn al hoe minder bundels in Afrikaans en
gerugte doen die rondte dat uitgewershuise voortaan net twee bundels per jaar gaan
publiseer. Mag daar tog steeds name wees wat hierdie toegevoude brief van
geslag na geslag sal dra.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Insig geplaas.]