Wessel Pretorius. die
seep kraak in die gastekamer. Bent
Uitgewers, 1999. ISBN 0 95841
Resensent: Joan
Hambidge
die seep kraak in die
gastekamer is 'n welkome bundel van
Wessel Pretorius. Orals op die internet is daar digters te lese (soos onder
meer op Praag se webblad of op Litnet)
wat waarskynlik nie in boekvorm gepubliseer sal kan word nie weens die
besuinigings van ons uitgewershuise.
Wessel Pretorius wat 'n handvol gawe verse geskryf het
en veral met Laatnagvrese en ander verse (1979) 'n merk gemaak het se jongste
bundel is uitgegee deur die onbekende Bent uitgewers.
Nou is dit nodig om miskien iets te skryf oor die
probleme rondom self-publikasie. In die sewentiger- en tagtigerjare het daar
waarskynlik te veel bundels verskyn, maar daar was ten minste “hekwagters”. Die
self-publikasie skep die opsigtelike probleem – minste vir hierdie kritikus –
van 'n gebrek aan kritiek en oordeel. Net soos 'n webblad van 'n onbekende
gedigte plaas wat nie op peil is nie; soos die geval is met met die jongste
tydskrif op die internet.
Miskien is dit omdat Wessel Pretorius al reeds
gepubliseer het dat vele van die klitsgrassies van die huishoudelike publikasie
ontglip word. (Behalwe vir die sketse). die
seep kraak in die gastekamer ('n
ironiese titel wat daarop dui dat die digter hom bevind in die gastekamer van
die huis der poësie?) bevat sogenaamde praatverse. Dit is gedigte wat eenvoudig
in aanbod is en op 'n aweregse manier aanmekaar gesit is. Loslittig dus met die
eerste oogopslag.
Die gevaar van die soort digkuns is dat dikwels vassteek
in die gewone segging (soos in die openingsvers “'n Droombestaan”), maar as dit
slaag, word die leser getref tussen die oë. Pretorius het nog altyd hom
uitgelaat oor die funksie van die digkuns en in hierdie bundel vind ons ook
blyke hiervan.
Daar is die vrees vir die bedreigende wêreld en
digterlik gesproke, is hierdie praatvers in opstand teen die
Opperman-voorskrifte (“Vir Phil”, p. 9). In 'n lykdig “Vir Louis (tel nr. 012
-34-1111) word die antwoordsmasjien ingespan om 'n nuwe metaforiese gegewe te
skep vir die soeke na oorblyfsels van 'n geliefde vriend. Want dikwels na die
dood, is die stem nog iewers op 'n band beskikbaar. Nou kan die vriend nie
terugbel nie en die digter wil weet: kort jy nog 'n konneksie?
Ten spyte dus van die vele ekstensies van die self, is
die dood steeds die groot stilmaker.
Ook uitstaande is “Die Brakpanman” (p. 27) waar
Pretorius sy vernuf wys:
Country & Western dreun oor die panne
want Danny is dood. hy het sy fighting clothes eenkeer
te veel aangetrek. Hy is steeds in die atmosfeer.
Steeds loop sy meisies met hulle voete in die dou.
(....)
“2000 sterre vir 'n techno-junkie” (p. 36) gee 'n
siniese blik op die digter se ervaring van homself. Hierdie skerp blik op die
self is waarin Pretorius uitmunt.
En die titel? Die seep kraak in die gastekamer (soos die
titel gedig lui) omdat die gaste nie meer opdaag nie. Hulle is dood en die
digter wag tevergeefs op hul besoek. Net soos sy tydgenootlike digters (Wilhelm
Knobel, Freda Plekker, Barnard Gilliland, Casper Schmidt, Pieter Claassens)
vergete is vir 'n nuwe geslag lesers en hierom besing word deur die lewende
digter, Wessel Pretorius.
Ook lekker is die beat-send ups (“In 1964 het jy uit die
bloute”) waarin die Kerouac-generasie se manier van skryf nageboots word. En
sterk die pynlike “Ma, die soet reuk van jou komende dood” (p. 83).
Mooi gedigte is hier te vinde, ja, maar 'n mens tog die
ferm redakteurshand wat klein foutjies kon uitstryk. Soos Pessoa i.p.v. Pesso.
Wat vir hierdie leser opvallend was, is hoe “ongekontamineer”
die digter steeds sy soort gedig bly skryf het ten spte van die 80er en 90er jare se meer intertekstuele
verse. Tog is hier ook 'n bewuswees van die belang van die skryfdaad wat
dikwels ironies betrag word. Louter plesier vir diegene wat hou van die “oop”
soort gedig.
Bestel die bundel direk van Bent uitgewers Posbus 11112
Queenswood 0121.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]