Izak de Vries. Kom
slag 'n bees. Tafelberg Uitgewers, 1998. ISBN: 0 624 03671 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Die M-Net-beurs vir kreatiewe skryfwerk het alreeds
beduidende talente opgelewer, soos Sonja Loots (Spoor en mag sy liewers weer skryf en haar rubriekies los), Jaco
Botha (In Drie Riviere), Tom Dreyer
(met sy baie mooi gedigte in Nuwe Stemme
1) en nou: Izak de Vries se Kom slag
'n bees met sy sterk Afrika-gerigtheid.
Nou was dit Peter Blum wat ons al daarop attent gemaak
het dat hierdie vasteland waarop ons boer een van waansin is. Tog het dit die
Afrikaanse letterkunde baie lank geneem om eintlik in Afrika aan te kom. Dit
was bykans altyd 'n blik van buite. Tog iets neerbuigends wanneer daar oor
swart kulture geskryf word. Of: 'n poging om dit immer te probeer vergelyk
in terme van 'n Westerse model; sonder
om die waarde van Afrika in sigself te begryp.
Nou is dit baie goed om by 'n jong skrywer soos De Vries
te sien hoe Afrika in al sy wansin en teenstrydighede losgemaak word. in die
onstellende openingsverhaal, “Hardloop”, word die implikasies van 'n muti-moord
behandel.
Vele verhale aktiveer 'n paranoïese wêreld van
oortreding, vergelding, weerwraak en onthou. Of selfmoord. In die ontstellende “Die
verlede lê nog voor” word die implikasies van die Waarheids- en
Versoeningskommissie bespreek in die gemoed van iemand wat vrees dat hý sal
moet getuig. Wat is waarheid? In 'n land, ironies genoeg, wat almal weet wat
die “waarheid” is.
Die uiters geroetineerde bestaan van die karakter, Jan
Coetzee, dui al op 'n toestand na aan breekpunt.
Dit is 'n bundel wat hom leen tot baie Jungiaanse
analises en verwysings na die primordiale. Dit gee ook dikwels 'n blik op die
skrynende ervaring - soos “Die blou rok” - waarin 'n verkragtingstoneel so
dwingend hanteer word dat dit 'n mens bybly. Die kind se aanneming - en die
moeder se opdrag dat sy nie moet skaam wees vir die Here nie - tref soos 'n
hamerhou. Dit is waarskynlik De Vries se grootste kwaliteit: die trefhou teen
die einde nadat die leser 'n gewelddadige ervaring (armoede, verkragting, geestelike
leed) gedistansieerd meemaak.
Izak de Vries is op sy beste as hy 'n
streng-konvensionele verhaal vertel. Die bundel word bemark as 'n bydrae tot
die postmodernistiese kortverhaal in Afrikaans. Dit is egter al so snuif getrap
en beter gedoen deur Koos Prinsloo, Abraham H. de Vries en Johann de Lange in Vreemder as fiksie, dat 'n mens nou al
wil sê: pastiche! paste tense!
Dit is net jammer dat De Vries probeer het om op Etienne
van Heerden se klassieke teks, “My Kubaan” te antwoord. “Ons Kubaan” val magistraal
plat en bewys dat 'n parodiese antwoord 'n misdoen in die skoene van die grotes
word as jy nie beter is as jou model nie. Miskien is hier iets van die student
wat sy mentor, Van Heerden (onder wie se leiding hy leer skryf het) wou
antwoord? 'n Verskuilde huldeblyk?
Die verhaal kon maar gerus uitgeval het.
In die geheel gesien, is dit 'n goeie bundel. Miskien is
daar nog te veel van eenselwige toon - maar dit is waarskynlik omdat die
skrywer nog te jonk is om verskillende stemme te kan skep.
Of daar moet darem meer geleef word (“Op die lewe”
probeer 'n ingewikkelde onderwerp gedistansieerd beskryf; maar die verteller is
te onervare) of in “Ons moet vir jou 'n bees slag” raak te self-bewus 'n
politieke dokument. Eerder dan “Die mooiste meisie” met sy verhulde
implikasies!
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]