Salman Rushdie. The
ground beneath her feet. Jonathan Cape, 1999. ISBN 0-340-73897-9.
Resensent: Joan Hambidge
Dit is die verhaal van Vina Apsara, 'n geliefde sangeres
wat verdwyn in 'n aardbewing. Haar minnaar, Ormus Cama se soektog (op verskeie
vlakke) word ook in The ground beneath
her feet verbeeld. Dit word hulle storie, maar die gegewe speel ook in op
die verhaal van Orpheus en sy Eurydice se verbintenis wat verby die kenbare
lewe strek.
Hulle verhaal word nie direk bely nie, maar vertel deur
die wyse fotograaf Rai, 'n jeugvriend van Ormus. Die roman wil dan ook in sy
wye doekaanslag kommentaar lewer op die verskillende “waarhede” wat ons lewe
tans beheer: mitologie, die verbintenis tussen die Ooste en Weste, populêre en
hoë kultuur, modernisme en postmodernisme, leuen en waarheid, en les bes,
fiksie en werklikheid. Soos die flaptekskrywer tereg opmerk:”In short a tale of
love, death and rock'n'roll”.
Rushdie is waarskynlik die één skrywer op aarde wat 'n
groot prys moes betaal toe die Ajatolla nie wou glo dat daar 'n verskil tussen
feit en fiksie is nie! Hy is voëlvry verklaar en 'n mens kan dan ook nie anders
as om hierdie roman te lees as 'n indirekte kommentaar op 'n úiters onaangename
periode in sy lewe nie.
The Satanic verses sal waarskynlik altyd die roman bly waarteen hy gemeet
sou word, maar The ground beneath her
feet word nie om dowe neute nie opgehemel deur 'n ánder voorste kommentator
van al die verskillende strominge in ons (post)moderne wêreld, te wete Don
DeLillo. Hy noem Rushdie tereg die meester van metamorfose en hierdie roman wys
dat die skrywer juis deur middel van fiksie die fatwah kon oorleef.
Die roman lewer kommentaar op die verband tussen mag en
liefde en dat 'n mens eers by die verlies daarvan kan bepaal hoé 'n belangrike
uitwerking dit op jou lewe had. Rushdie hou 'n baie goeie vertelpas vol. 'n
Mens word nooit verveel nie (soos dit dan dikwels die geval is in lang romans).
Hy kies dan ook hoofstuk-titels om so à la die negentiende eeuse ouktoriële
roman die verhaal kripties op te som en onderbreek.
Toni Morrison verwys na die betowerende invloed wat die
taal op die leser het en Rushdie skryf 'n baie poëtiese Engels wat deurgaans
met Indiese sleng versier word.
Die tyd in afsondering het kennelik die skrywer baie
bewus gemaak van al die strominge wat dreig om ons almal te oorweldig. Ook
lewer die roman kommentaar op die funksie van geloof, die mistieke of
epifaniese ervaring wat 'n gewone ervaring kan ómtower.
Die hele gegewe is baie sterk ingegee deur die
spiritualiteit kenmerkend aan die einde van die millennium en Rushdie, soos DeLillo, se romans is vlymskerp
analises van sowel van die modes van ons tyd as die stand van die romankuns as
sodanig.
In hierdie verband is uitsprake soos op bladsy 154: ”We
leave home not only to make room for ourselves but to avoid the sight of our
elders running out of steam (...) Life's bruises demythologise us all. The
earth gapes. It can wait. There's plenty of time” of “If friendship is a fuel,
the supply of it is not endless” (bladsy 490) waarskynlik van Rushdie sélf wat die vertelling binnetree
soos 'n Thackary of 'n Dickens wat bekend was vir hul wyshede oor die wêreld
waarin hul geleef het.
Behalwe vir die kommentaar op musiek, word die
vertelling waargeneem deur 'n fotograaf. So word die roman dan ook tersaaklik
vir ons begrip van die elektroniese en fotografiese blik wat tans die woord
bedreig. En al hierdie media kan, soos die slot benadruk, 'n mens verewig.
In die afdeling “Vina Divina” erken die verteller dat sy
geen Callas of Sutherland was nie. Maar haar geheul met die pers - die feit dat
sy die private openbaar kon maak - het van haar tot 'n ster verhef en so is lae
kultuur verhef tot die hoë! En met haar tragiese dood is sy dan tot Godin
verklaar; nes 'n Marilyn Monroe. Rushdie via sy verteller lewer felle
kommentaar op skep van gode en in welke mate die populêre kultuur vergelykbaar
is met die mitologie.
Ook het die dood van Prinses Diana en die media-histerie
wat dit to gevolg gehad het Rushdie se waarnemings beïnvloed. Vina het kennelik
ook iets van Madonna.
Dit is 'n lánge kluif van 'n boek, maar 'n
wonderbaarlike leeservaring van 575 bladsye, en besonder keurig uitgegee deur
Jonathan Cape. Die roman bewys ten slotte dat die suksesvolle romanskrywer ook
'n knap teoretikus is. Dit kon 'n mens al seker van Flaubert gesê het met sy
wyse woorde dat die romanskrywer soos God orals aanwesig moet wees in sy
skepping, maar nêrens sigbaar nie.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]