Bladsye / Pages

Tuesday, March 26, 2013

Philip Roth - I married a communist (1998)



Philip Roth. I married a communist. Random House, 1998. ISBN 0 224 05258 6.

Resensent: Joan Hambidge

Philip Roth het deur die jare bestendige werk as romanskrywer gelewer. Tog sal hy waarskynlik altyd onthou word vir die genoeglike Portnoy's complaint wat die verhaal vertel van 'n jong Joodse seun se ontdekking van seksualiteit en homself.

Sy jongste heet I married a communist, 'n lang uitgerekte roman wat klaarblyklik gelees moet word as 'n antwoord op sy vrou, die aktrise Claire Bloom se memoirs, Leaving a doll's house (1996).

Dit is dan ook 'n bittere stryd tussen die twee figure en toe die memoirs van Bloom indertyd gepubliseer is, het almal hul uitgespreek oor haar dwaasheid om hierdie vuil wasgoed in die openbaar te was.

Dit is ook goed om te weet dat hierdie soort “revenge between covers” nie net eie aan die Afrikaanse letterkunde is nie, maar ook in die Amerikaanse letterkunde afspeel.

Leaving a doll's house vertel van Roth se senuwee-ineenstorting en sy rusies met sy vrou. Dit het hy as verraad in die ergste graad beskou. Bloom onthul die donker en negatiewe kant van Roth se persoonlikheid, natuurlik tot die outeur se chagrin.

Daar is ook insinuasies dat Bloom haar memoirs gepubliseer het om finansiƫle redes aangesien haar eggenoot enigsins suinig was in sy onderhoud aan haar.

I married a communist – met die opsetlik omgekeerde buiteskut - is 'n fassinerende en hoogs leesbare roman. Dit gaan in op die na-oorlogse Amerika, en meer spesifiek, Newark, New Jersey. Die Levovs en die Ringolds en wat dit alles behels het om in Amerika teen die regering van die dag te wees. Hierom dat Steven Spielberg nie kon hande klap vir Elia Kazan nie.

Dit was harde, verraderlike tye. Of Mevrou Roth hiervan gaan hou? Net sy sal werklik kan bepaal waar en hoe sy seergemaak word, as sy haarself as Eve sien. Roth verdedig homself op bladsy 278:”Literature is not a primary reality but a kind of expensive upholstery to a sage himself so plumpy upholstered...”

As fiksie is dit 'n waardige toevoeging tot Roth se romankuns.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]