Bladsye / Pages

Tuesday, March 26, 2013

John le Carré - Single & Single (1999)



John le Carré. Single & Single. Hodder and Stoughton, 1999. ISBN 9780340739006.

Resensent: Joan Hambidge

John le Carré se naam is sinoniem met die intelligente speurverhaal. The spy who came in from the cold speel 'n verregaande spel met die leser. Jy identifiseer met die hoofkarakter wat dan voor die leser doodgeskiet word. 'n Traumatiese ervaring wat 'n soort vertrouensbreuk veroorsaak tussen leser en verteller.

Die jongste toevoeging heet Single & Single, 'n kragtige Le Carré-roman wat opnuut imponeer met die ongelooflike storielyn en navorsing. Soos dat die Turke die menslikste teenoor hul gevangenis optree; 'n feit wat die verteller aflees uit die boeie wat gebruik word.

Ook word die leser met die intrapslag ingetrek in 'n gekonkel wat kophou kos. Maar Le Carré skeep nie sy karakters se emosies af nie. Soos by Georges Simenon is die karakters van vlees en bloed. Iets wat 'n mens by John Grisham 'n mindere mate vind, ofskoon sy stories vlot en slim verloop.

Single & Single (die naam van 'n prokureursfirma) is vintage Le Carré. Die roman ondersoek bedrog en neem die leser na vele eksotiese plekke. 'n Prokureur word doodgeskiet in Turkye. Waarom? (Die marteling en sy paniek word uiters oortuigend beskryf.)

'n Entertainer moet 'n groot bedrag geld in sy bankrekening verklaar. Daar word beslag gelê op'n Russiese vragskip in die Swart see. 'n Bekende Londense finansierder verdwyn. 'n Britse doeane-beampte word aangekla van bedrog en moord. Alles oënskynlik sake wat niks met mekaar te make het nie...

En?

'n Wipwaentjie van 'n roman (die vertaling vir rollercoaster) wat weer eens bewys dat daar min skrywers is op die gebied van die thriller wat by Le Carré kan kers vashou. Hy hou jou geboei. En hy gee tersaaklike inligting oor die wêreld van spioenasie: een waar 'n mens die beer in die oog moet skiet en nie in die pels nie, soos 'n karakter opmerk, want anders sal jou missie misluk.

Veral die Russiese wêreld, iets wat ek meen al duidelik 'n obsessie vir die outeur is, word goed beskryf. En 'n mens word opnuut onder die besef gebring van John le Carré se somber blik die mensdom. Die skrywer erken in 'n nawoord dat hy met vele kenners gepraat het om 'n rooi gesig te verhoed!  Selfs 'n Switserse banker moes raadgee - wat die belangrike kode van geheimhouding ten opsigte van bankinligting, 'n aanwysing vir die leser, verduidelik.  

Vir die liefhebber van spioenasie-intriges.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]