Pamela Jooste. Like
water in wild places. Random House, 2000. ISBN 0 385 60133 6.
Resensent: Joan
Hambidge
Wanneer 'n mens Kaapstad Internasionale lughawe verlaat,
is daar 'n kuriosum winkel met proteas, rooi wyn en biltong. Ook ander tipies
Suid-Afrikaanse simbole wat jy vir 'n buitelander kan saamneem om te
verduidelik: made in South Africa.
Dit is die oorweldigende gevoel wat by hierdie leser
opgekom het by die lees van Pamela Jooste se jongste roman Like water in wild places. 'n Bietjie Boesman-folklore, gemeng met
Afrikaanse patriargie. 'n Opstandige seun, 'n onderdanige vrou. Alles in 'n
potjiekos van tipies (Suid)-Afrikaanse clichés, en siedaar! Nog 'n roman uit
die pen van Pamela Jooste.
Die prosa is vlot. Seepglad soos die toneel wat sy
beskrywe waar die kinders bad en die vader die kind optel en ja, aanrand. Maar
dit is juis die probleem met hierdie roman: dit lees sonder enige weerstand sodat die vlotheid juis
die grootste belemmering word, ironies genoeg.
Daar is een oomblik wanneer 'n mens glo aan Pamela
Jooste se onbetwiste talent en dit is by die dood van die moeder. Die res is
voorspelbaar, patroonmatig soos die beskrywing van die ou boer, sy jong vrou en die donkie wat
doodgeskiet word (p. 200). Is dit 'n weergawe van egte folklore?
Of is die leser die buitelandse een wat die grappe en
verwysings nie ken nie? Die binnelandse leser helaas, is onbeindruk deur
hierdie truuks.
Is daar nog 'n land op aarde waar soveel romans aan ons
opgedoek word as “groot” en “belangrik” wat niks meer as populisties is nie?
Ons staan nog te na aan die vergrype van die vorige regime om 'n roman van
diepte op te lewer. Iets soos The reader
kan nou eers die volledige impak van die WO II registreer.
Maar nou ja. Die buitelanders wil dikwels 'n “maklike”
weergawe lees van 'n komplekse samelewing. Dit sal Pamela Jooste baat om 'n
bietjie asem te skep. Frieda and Min
was alreeds 'n dawerende mislukking. En dit is nodig dat sy haar talent
koester.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]