Gus Ferguson. The
best of Gus Ferguson: Stressed-Unstressed. Selected poems & drawings.
David Philip, 2000. ISBN: 0 86484 358 6.
Resensent: Joan
Hambidge
Gus Ferguson is 'n onverdrote bemarker van Engels
Suid-Afrikaanse poësie. Snailpress, Firfield
Press en Carapace poets word alles deur hom behartig. Eiehandig presteer hy
dit om die Engelse digkuns lewend(ig) te hou.
Sy cartoons(kursief) is ook wonderlik. Miskien nie so “af”
soos Gary Larson s'n nie, maar soms ook onvergeetlik: soos die een mier wat vir
die ander een sê:”My Oupa het vir Eugène Marais geken!”
Die digter word 'n “alert and inquiring poet” genoem in
David Philip se publisiteitstuk. Miskien 'n bietjie hooggestem, sou ek reken.
Plesierig is meer die woord wat by my opkom om hierdie aweregse digkuns te
beskrywe waar die aantrekkende vrou se omgekeerder striptease gade geslaan
word.
Sy speelse reeks oor slakke (“Go well, go shell!”) wys
op 'n soort vernuftigheid met woorde en “Shellancolia” is 'n gawe distigon.
Dit is verse wat dikwels 'n glimlag ontlok soos die
grappige “M.C. Koei” (p. 19) waar die polities korrekte dan “HippopotaMs.” is.
Die digter weet ook presies waar hy staan in die digkuns soos ons aflei uit “Light
verse at the end of the tunnel” (p. 40).
Sy aweregse humorsin blyk uit sy knap tankas en haikoes:
On the death of an old computer;
Ascii to Ascii,
Dos to Dos. (p. 59)
I believe that God
encrypted the universe
for fear of hackers. (p. 58)
Met sy slakverse en klein gedigte het Gus Ferguson 'n
markante bydrae gelewer tot die speelse vers in die Engels Suid-Afrikaanse
digkuns. Hy is Engels se A.G. Visser.
Dit is baie mooi deur David Philip uitgegee.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]