Bladsye / Pages

Tuesday, March 26, 2013

Susan Sontag - In America (2000)



Susan Sontag. In America. Jonathan Cape, 2000. ISBN: 0 224 04091 X.

Resensent: Joan Hambidge

Die grys streep deur die raafswart hare. Dit is Susan Sontag se kenteken wat helaas deur 'n slopende siekte uitgewis is. Die skrywer van Illness as metaphor en Aids and its metaphors se gesondheid is die afgelope jare erg geknou.

Tog skryf sy steeds en wat my betref is en bly Susan Sontag die belangrike essayis, die skrywer van analises oor pornografie en die betekenis van “camp”. Hoe hard Camille Paglia ookal probeer het om haar af te maai in “Sontag, Bloody Sontag” In Vamps & tramps kan die bydrae van Sontag nie ongeldig gemaak word nie. Sy is 'n kultuurikoon in die VSA. Hierom gebruik Woody Allen haar saam met Saul Bellow in sy film Zelig om kommentaar te lewer op 'n fiktiewe verkleurmannetjie. Van haar het die grote Roland Barthes gesê: “Ja, Susan altyd, altyd getrou.”

Sy het Barthes aan die VSA voorgstel en haar gestroopte, minimalistiese prosa herinner sterk aan RB se vroeë tekste.

Ook die studie oor fotografie - sy is immers Annie Liebovitz se vriendin - bly 'n mylpaal. Van haar is die mooiste foto's geneem: die jongste in Vanity fair plaas haar op 'n boot. Die wind waai stormsterk om metafories die lewenskrisis vas te vang.

Oor Sontag as romanskrywer was ek minder geesdriftig. Hier het Paglia gelyk. Dit is bloedlose, intellektuele konstruksies. The benefactor, Death kit en The Volcano lover kon ek gewoon nie klaarlees nie. Ook haar flirtasie met politieke kwessies - soos die opvoering Waiting on Godot in Sarajevo - het tereg die chagrin van Paglia op die hals gehaal met die stelling: genugtig, kon sy nie 'n play in Harlem opgevoer kry nie? (Terloops, Paglia sluit hierdie skreeusnaakse essay af met die stelling:”It's her party and she can cry if she wants to....”)

Die roman is in wese 'n analise van die rol van die toneelspeler as 'n selflose wese met 'n masker. Daar is waarskynlik min romans waarin die verhoog so gedissekteer word as in hierdie roman wat histories akkuraat is. Sontag se kennis as regisseur kom handig te pas en in die beskrywing van presies wat met 'n akteur gebeur, is haar analises vlymskerp.

Wat doen 'n vrou wanneer haar man haar verlaat en sy aleen gelaat word met 'n pasgebore kind? Wat is/was die rol van die teater binne die laat negentiende eeuse gemeenskap? Ook die invloed van die foto (en die ontwikkeling van die daguerrotipe) word ondersoek. Sontag het eweneens 'n studie hiervan gemaak in On photography.

Dit is 'n goeie roman, maar dit sal nie in almal se smaak val nie. Dit is eg-Sontags, met ander woorde, intellektueel en geskryf vir 'n beperkte mark. Jare gelede is haar woonstel in New York deur 'n brand verwoes en toe Ms. Sontag die nag in 'n hotel wou gaan rus, ontdek sy dat sy geen geld het nie.

Dit is waarskynlik steeds so. Maar vir die klein koterie wat sy skryf, is haar gehalte bo verdenking.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Insig geplaas.]