Don MacLennan. Of
women and some men. Firfield Poetry Press, . ISBN 1 875058 16 8.
Resensent: Joan Hambidge
Nou die dag sit ons in die teekamer en gesels oor Gary
Larson, daardie onoortroffe, nooit volprese kunstenaar-cum-digter. Kyk, Larson
kan 'n skets maak en dit van 'n onderskrif voorsien wat jou vir ewig en altyd
bybly. Ogden Nash se Moses!
Soos die wonderbaarlike een van die klein protozoa wat
ween op die bed en haar ouers wat troos:”Toemaar, daar is nog baie protozoa in
die see!” Of die een van die oubaas wat neffens sy ou koei staan en sê:”Ja,
gelukkig het jy nie malkoei-siekte nie”. Die volgende blokkie: Die koei skop
haar poot op en sê:”I am Napoleon Bonaparte!”
Gus Ferguson het ook al hierdie humor lieflik vir ons
gegee. Die een wat bybly: die mier wat sê dat sy Oupa het vir Eugène Marais
geken.
Don MacLennan was verbonde aan Rhodes Universiteit en is
'n bekende digter en toneelskrywer. Sy boek - voorsien van sketse -wil
waarskynlik poësie toegankliker maak vir die gewone leser. En 'n letterkunde
kan nie net ernstige poësie hê nie. Dit moet, dit moet absoluut ook die guitige, die speelse en die spulse bemark - of
voorwaarde dat dit goed is.
Nou wat is goed wanneer 'n mens sulke gedigte lees? Dit
moet kort wees - met 'n stelling wat jou bybly:
Women
Women question
logic and philosophy,
the abstractions men indulge in.
Yet they are quick enough
to spot a contradiction
or a lie.
The truth is their intelligence
is no different from ours -
it just keeps different hours. p. 4
Dit vra dan om saam gelees te word met die gedig “Men”:
We seem ineffectual
compared to women:
we do not ask to be
explored like continents;
do not invite new life;
have no healing power;
cannot make a place;
offer neither mystery
nor grace. (p.
6)
Soos dikwels die geval met hierdie soort vers waarin
Ogden Nash uitmunt, is dat ernstige kwessies op 'n bykans nonchalante manier
oorgedra word - soos dat my ma my geleer het hoé om 'n vuur aan te steek, maar
nooit vertel het hoe om dit te blus nie. Om hierdie rede is die bestes dan ook
die soort gedigte wat 'n “sting in the tail” het, soos “Some women are too good”(p.
12).
Om hierdie rede hou ek nogal “In the orange twilight”(p.
14) waar daar gemeen word dat 'n mens moet leer om lief te hê wanneer jy trou.
“If you loved me
you would marry me”
“If you married me
you would learn to love me”.
Die misterie van die vrou en die man se onvermoë om haar
te begryp kom in hierdie gedigte aan bod. Ook lekker skerp is “Portrait of a
lady”(p. 20) wat natuurlik (ha, ha) inspeel op Henry James se oer-ernstige
roman.
Die bundel sluit af met 'n navrante gedig oor die ouers.
Die bundel is voorsien van sketse deur George Coutouvidis wat homself beskryf
as 'n “post-modemist”. Dit is waarskynlik 'n boek wat 'n mooi geskenk sal maak.
'n Glimlag gaan ontlok. Dit kan bestel word van Firfield Poetry Press, 30
Firfield Road, Plumstead 7800.
Dit is natuurlik die uitgewershuis van Gus Ferguson wat
die Engelse poësie lewend(ig) hou. Sterk gerugte doen die rondte dat ons groot
Afrikaanse uitgewershuise voortaan slegs twee bundels per jaar kan publiseer.
Dit beteken dat die Afrikaanse letterkunde 'n
letterkunde van bekende name gaan word, omdat nuwe digters in alle
waarskynlikheid nie die geleentheid sal kry om 'n deurbraak te maak nie.
En die twee tydskrifte wat nou onlangs nuwe name daar
uit Pretoria vir ons aangebied het, is nog te wankelrig. Waar is die dae toe
die Suid-Afrikaanse letterkunde gebruis het met nuwe digters en nie net doof
geslaan is met die algehele stilte nie?
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Insig geplaas.]