Allan Boesak. ...tot
sterwens toe (liefdesgedigte en tralies). Human & Rousseau, 2001. ISBN 0 7981 4207 3.
Resensent: Joan
Hambidge
Soms ja soms land daar 'n bundel op jou lessenaar wat jy
weet: hier het ek al die voorbeeldmateriaal vir studente van hoe om dit nie te
doen nie. En vir 'n kursus in die literatuurwetenskap: hoe om nie te lees nie.
Toe ons jonk was, het die ouer literatore gewaarsku teen
die sogenaamde "intentional" en "affective fallacy" in die
leesproses. Moenie luister na die bedoeling van die skrywer nie; en die effek
van die vers moet ook nie jou oordeel beinvloed nie. Die moderne benaderings
smaal hierop as "outyds", maar by gevalle soos Allan Boesak, is dit
waarskynlik raadsaam om na die teks net die teks te kyk.
Selfs 'n debat oor 'n besoek aan 'n skrywersaand kan nie
sonder emosie (en trane van Elias P. Nel) plaasvind nie. En daar word vergeet:
hy was ten tyde van sy uitnodiging nie 'n gearriveerde kreatiewe skrywer nie.
Ons moes egter ook die les leer: vir sommige mense is hy simbool wat bo kritiek
en kanttekening verhewe is, so help my die 'struggle'.
Om Human & Rousseau te vra waarom hierdie bundel
gepubliseer is, sal nie deug nie. Papier is geduldig. En ja, waarskynlik weet
meneer die-uitgewer-meneer-die-sakeman dat hierdie bundel sal verkoop.
"Love is blind; the neigbours ain't" is die
refrein wat deur die kop draai wanneer 'n mens hierdie bundel lees. Wat eerder
in die laai moes bly, word nou opgekalfater as gedigte. Net jammer die kritikus
is nie ook blind nie...
Dit was immers Auden wat mos gewaarsku het dat die
kritikus nie anders kan as om af te wys wanneer 'n reddelose vrot bundel voor
jou land nie. Maar die leser hou haar in. 'n Mens probeer dit net as gedigte
benader, maar dit werk nie as gedigte nie. Ook die foto's wat geplaas word,
aktiveer die buite-teks in Derrida se terme. 'n Mens kan nie die gedigte net as
'gedigte' lees nie.
Sontag se On photography en Barthes se Camera lucida word gebruik om die foto's te dekodeer. Die lesende
Boesak met die Bybel voor hom; 'n omhelsing van die geliefde wat later in die
verse die afwesige (en aanwesige) geliefde word; wandeling langs die see
(simbool van die onbewuste); en 'n soen van hartstog.
Woord en woord; woord en wederwoord; koord en akkoord?
Wat gebeur hier? Hoe kom dit dat hierdie gedigte
gepubliseer word, maar 'n jong talent word weggewys?
Ode aan Elna op Valentynsdag
My lief, kom wees my Valentyn
verlig my saggeryn
verruil die donker liefdesmart
vir vreugde in my hartseerhart.
Dit is 'n dag vir rosetjies
vir Annatjies van Kosetjies
maar selfs vir jappies soos ons
laat hierdie dag ons hartjies bons ...
(p. 11)
Inderdaad soos die digter bely: "my eie woorde maal
tot kaf" (p. 13). Wat die persoonlike geskiedenis of verontregting ookal
mag behels, dit is en bly swak gedigte.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]