Bladsye / Pages

Saturday, March 16, 2013

Achmat Dangor - Bitter fruit (2001)



Achmat Dangor. Bitter fruit. Kwela, 2001. ISBN 0 7957 0097 0.

Resensent: Joan Hambidge

Bitter fruit is 'n hoogs leesbare en onderhoudende roman. Die gegewe is die effek wat die 'struggle' op mense in hierdie land gehad en meer spesifiek, die uitwerking van 'n verkragting op die psige van Lydia, die eggenoot van Silas Ali, 'n voormalige politieke aktivis.

Hy is tans werksaam by die WVK en op 'n Sondagoggend loop hy toevallig vas in Luitenant du Boise, die verkragter van sy vrou. Wat dan ontvou, is nie alleen die bloedige geskiedenis van hierdie land en ons troebele apartheidsverlede nie, maar ook die effek wat so 'n ongevraagde seksuele uitwerking op 'n mens se psige het. Dangor is 'n fyn beskrywer van genderpolitiek: lesbiese verhoudings, bloedskande, 'n ongevraagde swangerskap beskryf het met soveel krag dat 'n mens eenvoudig meegesleur word deur die vertelling.

Verkragting word inderdaad 'n swaar gelade metafoor vir die verlede, maar omdat die skrywer sy simboliek so kragtig en terselfdertyd, delikaat hanteer, word dit nie banaal nie.

Al die donker areas van die menslike psige met betreffende tot seksuele skuld word in hierdie roman ondersoek. Die sondes van die vaders word oorgedra na die kinders en die spirituele wysheid van die roman - onder meer die verwysing na die Sufisme - maak die roman se interpretasievlakke wyer. Hiermee wil die outeur waarskynlik insinueer dat skuld en bevryding 'n karmatiese proses is.

Madame Bovary, Cavafy, Camus se Die buitestaander is deel van die ryk literĂªre intertekste wat op 'n briljante wyse die komplekse politieke, sosiale en religieuse dimensies van die Suid-Afrikaanse samelewing ontgin.  Dit is 'n roman wat ek op Sondag begin lees het en wees gewaarsku: dit maak 'n mens uiters melancholies juis omdat Dangor die bitter vrug afskil tot in die laaste pit.

Die roman funksioneer ook soos 'n speurverhaal en wanneer die verskillende kodes van bloedskendige verhoudings, wraak en weerwraak getrek word, is die einde goed voorberei en verlossend vir sowel vir een van die hoofkarakters as vir die leser. ('n Leser wat waarskynlik nie krities staan teenoor die ou-Suid-Afrika nie, gaan nie so 'n katarsis ervaar nie.)

Daar is ook 'n handige glossarium vir die nie-Afrikaanse leser.

Die verskillende kulturele verwysings behoort veral vir die nie- Suid-Afrikaanse leser openbarend te wees oor presies hoe kompleks ons samelewing is.

Hamba kahle, Achmat Dangor! Dit is 'n slim pakkende roman wat gerus met Nadine Gordimer se laaste roman gelees kan word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]