Bladsye / Pages

Monday, February 25, 2013

Vladimir Nabokof: Deel I (2006)

Vladimir Nabokof (1899-1977), 3 November 1972. © Yousuf Karsh


Vladimir Nabokof: Deel I
Joan Hambidge

Ingrid Winterbach se jongste roman, Die boek van toeval en toeverlaat, is ‘n magistrale roman. Soos ‘n hotnotsgot op ‘n jazz-plaat draai hierdie roman op sy eie intertekste en inbuigings. ‘n Sirkelgang van belangrike tekste word hier opgeroep.

De Sade. Kafka. Henry James. Vladmir Nabokof. Thomas Pynchon. Etienne Leroux. Om die belangrikste name uit te sonder.

My volledige en uitgebreide resensie het verskyn op Litnet se Seminaarkameren kan ook elders op hierdie blog gelees word. Hierdie kantlyn wil die leser neem na ‘n belangrike interteks: Vladimir Nabokof.

Een van die belangrikste boeke in my besit, is Fredson Bowers se Vladimir Nabokov – Lectures on Literature – met ‘n inleiding van John Updike wat in 1980 verskyn het. ‘n Pragtige, stoetse hardeband wat toe ‘n skamele R30 en enkele sente gekos het.

‘n Goeie skrywer is ‘n goeie leser. Wat ‘n skrywer in sy/haar vrye tyd lees of bestudeer, verraai ‘n skryfgewoonte. Wie bestudeer Nabokof in hierdie lesingreeks?

Jane Austen se Mansfield Park, Charles Dickens se Bleak House, Gustave Flaubert se Madame Bovary, Robert Louis Stevenson se Dr Jekyll and Mr Hyde, Marcel Proust se “The Walk by Swanns’s Place” en Kafka se Metamorphosis.

Ek besit die volledige Nabokof. Selfs die humoristiese Pnin. Ek ken die meeste onderhoude wat met Nabokof gevoer is waar mevrou Nabokof bysit en die gang van die onderhoud bepaal. Sy het help vertaal aan sy belangrikste romans.

Nabakof word dikwels onthou om Lolita veral – wat o.a. magistraal deur Stanley Kubrick verfilm is met Shelley Winters, Peter Sellers en James Mason in die hoofrolle van die stadig-lopende rolprent van ‘n man se begeerte tot ‘n jong verleidster. (Die latere weergawe met Jeremy Irons banaliseer die gegewe.) Die roman handel egter oor meer: dit is ‘n vernietigende analise van die Amerikaanse kultuur en die soeke na sin binne ‘n materialistiese wêreld. 

In Peter Quennell se versamelstukke oor Nabokov, word daar vertel hoe die skrywer en sy vrou nie genoeg geld had om ‘n huis te kon bekostig in die VSA nie, maar telkens in hul huisoppas-ervarings gesoek het na die woning wat iets van hul Russiese afkoms sou weergee en die emigré-toestand sou verlig.

Die lesingreeks – is oor die 385 bladsye – met belangrike inligting van hoe Nabokof gelees en dus by implikasie geskryf het. Speurend, noukeurig, met ‘n oog vir elke besonderheid: hy teken ‘n kaart vir die reis in Ulysses.

In Nabokof se Pale fire word die leser onder die indruk gebring van die outeur se vermoë tot komposisie. Dieselfde geld Winterbach se jongste roman: alles beweeg in ‘n sirkelgang soos die kronkels van ‘n skulp, agtertoe, vorentoe, afhangende van hoe jy dit benader. Met elke wending, kom iets by. Word ‘n nuwe interpretasie op ‘n saak of kwessie gegee.  Jy is immers (waarskynlik) besig met ‘n roman-in-wording...

Die roman dwing die leser na die belangrikste pre- en modernistiese tekste in die letterkunde. Tekste wat geskryf is op belangrike oorgangstydperke in die letterkunde en wat ‘n nuwe moderigting of –denkrigting aankondig.

Wat hierdie boek uiters leersaam maak – vir die dosent veral dan! – is die eksamenvrae wat Nabokof opgestel het. Om dit sagkens te stel: ek dink min dosente (en studente) in die letterkunde sal hierdie vraestelle slaag.

Byvoorbeeld: "Discuss Flaubert’s use of the word “and”.

of

“What had Emma read? Name at least four works and their authors.”

of

“Why did Dickens need to give Esther three suitors (Guppy, Jarndyce and Woodcourt)?”

In die kleinste besonderheid is daar gelees en geanaliseer en in Nabokof se woorde:

“We are liable to miss the best of life if we do not know how to tingle, if we do not learn to hoist ourselves just a little higher than we generally are in order to sample the rarest and ripest fruit of art which human thought has to offer (p. 382).

Nabokof is gebore 1899. Sy familie was aristokrate en 1919 moes hy weens die politieke omstandighede in Rusland, na Engeland uitwyk. Hy het aan Cambridge studeer en daarna in Duitsland en Frankryk vertoef tot in 1940. Sy akademiese deurbrake het egter in die VSA gebeur toe hy aan Wellesley Kollege klasgegee het (1941 – 1948) en later aan die gesogte Cornell, te Ithaca (1948 – 1958). 

Met Lolita (1955) het hy ‘n internasionale deurbraak gemaak wat waarskynlik deur min skrywers geëwenaar is.


Bibliografie:

Peter Quennell se versameling van kundige essays deur ander: Vladimir Nabokov (William Morrow & Co., New York, 1980.)

Nabokov se Lectures on Literature (Wedenfeld and Nicolson, New York. 1980). Fredson Bowers het die teks versorg en die inleiding is behartig deur John Updike.


Na Deel II

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger, “Kantlyn” geplaas.]