Bladsye / Pages

Monday, February 4, 2013

Riana Scheepers - Katvoet (2009)



Riana Scheepers. KatvoetHuman & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 5107 8.

Resensent: Joan Hambidge

Riana Scheepers se Katvoet versoen haar twee benaderings tot die kortverhaal te wete, die ernstige, langer verhaal (soos Die ding in die vuur) en die meer populêre, anekdotiese verhaal (soos verteenwoordig onder andere in die Katriena-verhale). Eersgenoemde soort verhaal het haar gevestig as ‘n bestendige, belangrike vroueskrywer; laasgenoemde soort verhaal, met die werk wat sy gedoen het om geletterdheid te bevorder, het haar by gewone lesers uitgebring. Die melkweg het ‘n ster laat val is ‘n bundel plaasverhale het by vele lesers aanklank gevind wat o.a. ‘n spesiale toekenning gekry het van die Departement van Landbou.

Scheepers se verhale aktiveer eweneens die orale tradisie en vanuit ‘n meer feministiese perspektief aktiveer haar verhale fassinerende perspektiewe: die Dulle Griet-figuur, die wit vrou wat die Afrika-wêreld betree, die oopskryf van die vroulike liggaam (erotiek en seksualiteit) en dan vir my een van haar belangrikste temas is die ervaring van die primordiale, die psigiese of verbeeldingwêreld. Daar is dikwels ‘n belydenis dat die verteller glo in spoke en heldersiende is: hierdie magiese aanvoeling voed dan verhale waarin die uitkoms van die vertelling verby die gewone of reële strek soos in die sterk verhaal “Amulet teen die koue”.

In “Verskoning (2)” is Scheepers op haar beste: die beskrywing van twee, oënskynlik nie-verbandhoudende ervarings, naamlik die verskoning van ‘n dief en ‘n geliefde wat gesinkopeer word met die wrang, ironiese slot dat die rampokker se verskoning vir haar meer beduidend is as die liegende geliefde. Of die bekende “angel in die einde” wanneer die leser besef dat die man sy verkragte vrou beskerm teen die aanslae van haar psige en die gevoel van vasgekeerdheid in die aangrypende “Ry, en ry, ry”. Dikwels lewer die verhale politieke kommentaar op die samelewing van ongelykheid. Veral die werkersbestaan kom aan bod in vele verhale en daar is vertellinge oor die rol van die vrou as beskermer en raadgewer. Die anekdotiese kom ook aan bod soos in “Die skoolhoof luister” of “Riano”.
Vanselfsprekend aktiveer die kat-tematiek ook die wolf en meer spesifiek Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves, daardie Jungiaanse cantadora wat die genesing in die argetipiese verhaal vind. Scheepers sluit hierby aan:

“Voor haar staan ‘n teef, ‘n wolvin, ‘n glimmende roofdier wat groen na haar gluur” (156 uit “Katvoet”).

Die kat-tematiek word dikwels verbind aan die bo-natuurlike of die Onsienlike en in ‘n verhaal soos “Man in die tuin” word die slot dalk ‘n té geforseerde verbintenis met die Christus-figuur. Scheepers se vermoë om in die klein besonderheid in te beweeg, kom dikwels goed te pas: die klein vinjet waaier dan uit om simboliese betekenisse oor te dra. Ongelukkig is noemers soos Maria Callas of Mozart, o.a. te maklike kortpaaie om ‘n sekere ambience oor te dra.

Hierdie bundel versoen die twee pole in Scheepers se vertelkuns. Vir my is die twee uitstaande verhale: “Amulet teen die koue” en “Verskoning (2)” verhale wat hul vrou sal kan staan in bloemlesings.

Dit is die eerste kortverhaalbundel in tien jaar en my persoonlike gunstelinge bly die debuut en haar opvolger: Dulle Griet.

Die voorblad aktiveer die vrou-kat-tematiek in die bundel. Vir my gevoel is dit te fraai, maar die bundel gaan waarskynlik – soos die kort biografiese opsomming agter in getuig – by haar gevestigde lesers aanklank vind.

“Ons wat so gewoon leef” is ‘n slotteks waarin die versugting na die magiese verhaal, na dit wat on suit die alledaagse red. Onvergeetbaar is die vertelling van die ma wat in die boom sit en lees het vir ure aaneen.

In hierdie belydenis staan daar:

“Ons tree vreeslik beskaafd en ordentlik op.
Ons het sommer niks geword.
Ek dink wat my kleinkinders eendag sal kan vertel; van my, van ons wat so dood en gewoon leef.
Daar is nie een storie wat hulle met skrik en verwondering kan oorvertel nie.
Ek skaam my dood, 203).

Talle van die verhale het ‘n Isabel Allende-dimensie in die aansluiting van die bo-natuurlike en die besinging van die mag van die storie.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]