Bladsye / Pages

Tuesday, February 19, 2013

Mike Nicol & Joanne Hichens - Out to score (2006)



Mike Nicol & Joanne Hichens. Out to score. Umuzi, 2006. ISBN 141 152 000 2 5.

Resensent: Joan Hambidge

Mike Nicol & Joanne Hichens se Out to score gebruik Kaapstad as die agtergrond vir hierdie kriminele roman. Crime fiction staan daar op die agterplat van hierdie boek, uitgegee deur Umuzi, met twee outeurs.

Mullet Mandes is ‘n voormalige polisieman wat nou PI is. Geweld, leuens, verraad – alles bekend aan hierdie sub-genre word in hierdie roman ondersoek. Daar is geen romantisering van die PI-bestaan nie. Dis nie ‘n Magnum wat rondrits in blink motors en knipoog vir die kamera/leser/kyker nie.

Dit is ‘n wêreld bekend aan Raymond Chandler-karakters: waar doodslag en psigopatiese optredes aan die orde van die dag is. Die hele herdefinisie van die sub-genre – met Carl Hiaasen se Striptease as voorbeeld – stel dis geweldige eise aan die skrywer(s) wat hom of haar in hierdie vaarwaters bevind.

Nicol is bekend aan ‘n bekroonde en ernstige outeur en nou waag hy ‘n hand aan die ‘gritty crime thriller’- met goeie gevolge. Die roman begin met die regte aanslag: Mullet wat vir die ‘new bird’ in sy lewe ‘n abalone-steak maak. Die leser word blitsvinnig ingelig oor presies wat dit is op bladsy 7.

Al die bekende noemers van hierdie roman is hier aanwesig: ‘n vinnige vertelpas, ‘n fokus op die leidrade wat gelaat word vir die speurende leser. Die gedrag en reaksie van hoofkarakter en newe-karakters op die gevaar waaraan hulle blootgestel word is uiteraard van die fokus van die roman. Hierom, soos bekend aan hierdie sub-genre, is daar altyd ‘n klein oomblik van menslikheid: die straatkind wat op die agterstoep tuisgaan, maar terselfdertyd homself ontbloot en dus weer speurder laat terugbeweeg op kilheid.

Nie om dowe neute nie word die begrip afrodisiak gebruik om hierdie bestaan te verduidelik.

Die roman is baie knap geskryf. Dis ‘racy’ en dit gee ‘n besonder negatiewe blik op die huidige samelewing waarin dwelms, haweloosheid, bedrog en ander donkerhede al hoe meer besig is om sy tol te eis. Wat vir die speurende leser eweneens lonend mag wees, is dat die stad se plattegrond duidelik beskryf word. ‘n Mens beweeg saam met die karakters na bekende restaurante en bakens.

As hierdie ‘n film was, sou dit ‘n PG-gradering gekry het weens die vuige taal en die sterk uitlatings. Hoe dan anders? By die lees van die roman het ek gedink aan Polanski se film Chinatown en opnuut besef dat goeie misdaadvertellings in staat is om die ‘underbelly’ van ‘n stad te koppel aan seksuele vergrype. Só beskou, lewer hierdie sub-genre sterk sosiale kommentaar. Dit is dikwels ‘n sub-genre waarop mense neersien; ofskoon ‘n karakter soos Maigret juis gespruit het uit die komplekse, wroetende psige van Georges Simenon, die ongekroonde speurverhaalskrywer neffens Agatha Christie.

Joanne Hichens, ‘n vriendin van Nicol en ‘n student van die UK se Kreatiewe Skryfwerk-afdeling het saam hierdie boek geskryf. Wie het wát gedoen?

Het die een die plot uitgewerk en die ander een die storie geskryf?

Mevrou Nabokof het dikwels tekste van haar beroemde man vertaal, maar waar word die grense getrek in hierdie soort kollaborasie?

Of is dit ‘n roman wat op verregaande wyse kommentaar lewer op Barthes en Foucault se siening van die sogenaamde “dood van die outeur”? Jerry Palmer se gesaghebbende studie oor hierdie sub-genre het vir altyd my leesbenadering (ten goede) beïnvloed. Hy wys op die patrone tussen skurk en held en in watter mate die karakters deur paranoïa beheer en saamgesnoer word.  En in welke mate “machismo” die vertelling beheer. (Gevoelige lesers sal verlief moet neem met vloekwoorde, kru seksbeskrywings en ‘n uitsiglose bestaan. 

Hierdie mense se morele struktuur is aan flarde. Die karakters het nie “a licence to kill nie”, maar is nietemin bewapen en die ‘held’ se meisie word in die Intensiewe Eenheid opgeneem – raai hoekom...

Miskien is Mike Nicol ons antwoord op Graham Greene, ‘n skrywer wat daarin kon slaag om ‘n ernstige roman uit hierdie sub-genre na vore te bring.

By Nicol nog nie heeltemal dieselfde struktuur of  aanslag nie, maar nietemin ‘n goeie leeservaring.

Bron:

Palmer, Jerry: Thrillers - Genesis and structure of a popular genre. Edward Arnold, Londen. 1978.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]