Bladsye / Pages

Tuesday, February 19, 2013

Zaneli Muholi - Only half the picture (2006)



Zaneli Muholi. Only half the pictureMichael Stevenson, 2006. ISBN 0 620361 46 8.

Resensent: Joan Hambidge

Om gay/lesbies te wees, maak jou deel van ‘n marginale groep, ‘n subkultuur, ‘n onsiende bestaan, ‘n stereotiep. Van kleins af leer jy hoe dit is om anders te wees. Jy weet wat Van Wyk Louw bedoel het, toe hy geskryf het van pyn wat oop en buite bakens is.

In die VSA word daar geweldig baie navorsing gedoen oor die queer-kind en oor elke aspek van hierdie bestaan.

Die afgelope vyf-en-twintig jaar het die gay-mens – veral in die Afrikaanse letterkunde – van hom- en haarself laat hoor. Stephan Bouwer, Hennie Aucamp, Koos Prinsloo, Johann de Lange en ander het die pynbakens geskuif. Dikwels tot die chagrin van die establishment, wat lyk my, steeds nie die p-woord binne ‘n tekskonteks kan verteer nie as ‘n mens die verontwaardiging op die hetero-Antjie Krog se kragtige gedig in Verweerskrif moet ernstig opneem.

Maar hoe is dit om lesbies en swart te wees? Om dubbel-gemarginaliseer te wees?

Zanele Muholi se fotoboek Only half the picture word gepubliseer om  saam met die tentoonstelling beskikbaar te wees.

Verlede jaar reis ek deur Frans-Kanada en op die eerste dag, is daar ‘n lesbiese OpeDag in Toronto. Die vroue stap naak en halfgeklee deur die strate, vet, maer, mooi en lelik. Swart en wit.Vroue met kinders in waentjies. Die hele santekraam word hier aangetref met die boodskap: ons is hier.

Ek het eers na die foto’s gekyk en toe die tekste gelees.

Die foto’s in hierdie boek is behendig: dit vertel van al die fasette: die ID-krisis, ‘n swart vrou met ‘n dildo, twee swart vroue wat soen. Aangrypend is die foto van ‘n saaknommer (met ‘n datum, stempel en telefoonnommer) waarin verkragting aangemeld word. Twee sterk foto’s wys hoe dit lyk wanneer ‘n mens selfhaat oorleef het...

Waarskynlik sal kykers gru vir intimiteite wat ontbloot word, maar onthou die foto’s wil die kyker deur ál die taboe-landskappe neem.

Die bekende foto van die boomwortels wat soos ‘n vagina uitdy, is hier opgeneem (p. 54) en vroue word in al hul vleeslikheid liefdevol afgeneem. Die lesbiese lyf is nie altyd ‘n maer een nie, omdat die manlike “gaze” nie die liggaam in toom hou nie.

“Reclining figure” (p. 64) is uitgestal soos ‘n kunswerk en die kyker interpreteer dit onbewustelik as ‘n ironisering van Manet se “Olympia”. Vir wie lê sy sy so naak uitgestal, om Johann de Lange se gedig aan te pas.

Die insigryke voorwoord van Gabi Ngcobo van die Iziko museum help die kyker om foto’s in perspektief te plaas. Sy verwys na die betekenis van bloed (“touch my blood”) in straatlingo, die transgressie van politieke bakens (ja, dit is ‘n politieke posisie wat jy inneem wanneer jy openlik lesbies is) en in welke mate hierdie foto’s die afwesigheid van eens nóu uit die weg vee.

Dit wat op ‘n tyd nie moontlik was nie, kan nou gebeur. Natuurlik het groter opsigtelikheid sy nadele: viktimisasie is moontlik en van die foto’s wys op die taal van vernedering wat hierdie vroue moet/moes hanteer.

Die fotograaf is ‘n politieke aktivis en Ngcobo verwys na die “history of its representation as a body in exile from itself”.

Die boek is eweneens relevant vir die puik analises van o.m. Pumla Dineo Gqola.

Die belangrikste bydrae van hierdie boek is dat rassime en seksisme één word in die representasie, om met die voorwoord saam te praat. En dat die onbekende óópgemaak word: skokkend, pynlik, maar veral onthoubaar. Die pyn skryn dikwels op die foto’s.

Sy is al by geleentheid die Annie Leibovitz van Suid-Afrika genoem. (In die teks staan daar Leibowitz.)

Ek sou haar eerder ‘n vroulike Robert Mapplethorpe noem in die grensoorskrydende, woedende, passievolle aanklag-foto’s in ‘n radikalisering van estetika. Charlene Smith verwys na hierdie radikale estetika en dekonstruksie van gendernorme. Die taal van hierdie foto’s is sterk en welluidend.

Gaan kyk na die uitstalling en koop beslis die boek indien jy ‘n gendernavorser of –dosent is. Dis belangrik dat stemloses stemhebbend word en dat al die foto’s in ‘n gemeenskap ontwikkel word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]