Bladsye / Pages

Tuesday, February 19, 2013

Finuala Dowling - Doo-Wop Girls of The Universe (2006)



Finuala Dowling. Doo-Wop Girls of The Universe. Penguin, 2006. ISBN 978-0143025047.

Resensent: Joan Hambidge

Het jy al ‘n digbundel gelees wat jou deurentyd laat glimlag het? Nie die soort lag wat jy met ‘n Ogden Nash ervaar nie, maar die herkenbare lag van jy weet watter seerkry agter so ‘n gedig skuilhou. ‘n Mens dink aan die woord ‘poignant’ om die gedigte en indrukke van Finuala Dowling te beskryf in haar tweede bundel Doo-Wop Girls of the Universe.

Tereg is sy bekroon met die Ingrid Jonker- en die Sanlam-pryse vir haar eerstelingbundel: I flying.

Die tweede bundel het ‘n ligter, ironiese aanslag en kan inderdaad as tragi-komies beskou word. In die openingsgedig, “Straight men of Cape Town”, word die kondisie van die ewige soeke na liefde en vervulling beskryf. Die gedig eindig met ‘n ironiese ‘ensovoorts’ waarmee die digter implisiet dan wil aansluiting vind by die lang tradisie van die liefdesvers in Afrikaans. Die titelvers is die slotgedig: ‘n skerp waarneming oor die rol van die vrou wat altyd die agtergrondsmusiek verskaf, terwyl die man met die mikrofoon in die hand die aandag trek. Maar word jy die “doo-wop girl”, dan kry jy die aandag en die vryheid wat jou toekom.

Teenoor Antjie Krog se woedende ontleding van vrouwees en die melancholiese Anne Sexton, is hierdie verse “not sad, not terse”.  Alles word ‘n ironiese oog beloer, afstandelik dog terselfdertyd in beheer. Dit is by uitstek gedigte wat hulle leen tot voorlesing en wanneer ‘n mens Finuala Dowling die gedigte hoor voorlees het, kry dit ‘n sterker impak.
Die bundel bevat vier afdelings: 1 Peeling seaweed off our cleavages II Feeling of falling and fleeing III My family as asylum IV God knows I’m a writer.

Die bundel is ‘n absolute leesplesier wat dikwels werk met ‘n ontluisterende slot soos “On first meeting Shirley” waarin die vrees vir die professor debunk word met ‘n menslike versoek van Kossick: ‘n resep vir ‘n spinasie-tert! Of die suster se ligte beroerte belig word as ‘n impak op die outokratiese vinger (“My sister’s fingers”).  

Oor die skryfproses laat sy haar uit in ‘n vers waarin lesers se besorgdhede oor intimiteite (“Not writing”) of gewaagde temas (“The longest parenthesis”) stof tot nadenke èn gedig word. Die “repugnant odours” word verhul en simbolies weggesteek weens die aanwesigheid van die “anti-intimacy” polisie en ‘n mens dink onwillekeurig aan die beroering wat Krog te weeg gebring het met haar geil taal in Verweerskrif. Feministiese digkuns dekonstrueer dikwels die dekorum van wat “artistiek” aanvaarbaar is. En vroue-skrywers bly bewus van die leser wat oor die skouer loer en mag aanstoot neem. Hierom waarskynlik ‘n apologie aan ‘n ouer persoon soos uitgespreek in “The longest parenthesis”.

Die digter sien die familie as ‘n toevlugsoord (“Asylum”) en sy skryf insigryk oor die taalverbande van die twee ouers. Die spel met karakters in romans (onthou Dowling het ‘n baie goeie roman What poets need geskryf) in die vers “Loving novels” word ‘n verironisering van hoé mense (vroue)digters sien:

Now that I’ve published prose, which as everyone
   knows
is better than poetry – well, more noteworthy,
this makes me an author – well, not really an
    author,
but a woman author (p. 69)

Ek het besonder gehou van “Joni Mitchell now” (en dit roep onmiddellik Annie Leibovitz se portret in die herinnering) en “Past lives of my cars” gee ‘n speelse blik op die ontwikkeling van die digterlike persona. “Just a reflex” lewer snydende kommentaar op geweld en dat mans dikwels deur hul moeders gesanksioneer word om hul geliefdes te verniel. “The lime-green clasp” val vir my beslis onder die onthoubares.

Dit sal vir die ernstige leser ‘n interessante ervaring wees om die twee bundels langs mekaar te plaas. In die jongste een is daar méér spel, méér afstand en ironie. Die gedigte is beslis meer behendig en vlot, maar die vlotheid – bykans ‘n praat-aanslag in die verse – mag op die lange duur dalk negatief inwerk op die gehalte van die verse. Maar dis net ‘n tersyde oor ‘n baie aangrypende en goeie bundel.

Die sterk Britse digter John Stammers is tans een van my gunsteling-ontdekkings op die front van die digkuns met sy Panoramic Lounge-Bar waarin films, pop-kultuur, Freud, drome ensomeer inspeel op sy gedigte. Pop-verwysings is eweneens by Dowling aanwesig, maar minder duister of geënkripteer.

Well

When I am down my well,
the one with slippery black sides,
no toeholes, and only a pinhole
of light 3000 compass turns above,
I still describe myself as “fine”.

I am thinking of saying “well”
instead. Yes, I think in future
I will definitely reply, “I am well”.

“Well” is more accurate,
and more of a cry for help.

Die verse herinner aan Dorothy Parker se self-debunking-aanslag, maar dit is minder verbitterd of aserbies as by dáárdie ster van sinisme.

Daar is iets aan’t gebeure op die Engels-Suid-Afrikaanse digkuns front!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]